Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Struisvoël
Struisvoël
Struisvoël
Ebook387 pages4 hours

Struisvoël

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Op die plaas Vrede van die Blanckenbergs, langs die Gamkarivier in die Klein-Karoo, spoel drie kinders op 16 Desember 1880 soos opdrifsels uit twee verbondsriviere saam.
Drie struisvoëls wat in vloedwater voortdryf, langnekmaste sonder seil . . .
Klein-Sarel, wat bedags in die volstruiskamp namens sy ma vloek en sy pa tot toorn verwek.
Victoria, van geboorte af niemandskind op ’n ander se land.
En Marja, oud genoeg om te weet die hel kan enige tyd, enige plek wees.
’n Leeftyd later kan sy nog die presiese datum onthou. Dit was die dag nadat haar pa sy plaas afgeteken het. Die dag ná haar veertiende verjaarsdag. Die dag van die afloop van ’n vloed en die begin van ’n noodlottige nuwe verloop, soos wanneer strome in ’n groter poel saamvloei, ineenloop, ’n oomblik rus, en dan onstuitbaar aanstorm see toe.

’n Merkwaardige debuut wat teen die agtergrond van die opbloei en ineenstorting van Oudtshoorn se goue volstruisveer-era, enduit boei en verras.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 1, 2015
ISBN9780624075592
Struisvoël
Author

Johan Fourie

Johan Fourie is ’n psigiater wat op George praktiseer. Hy is getroud en het drie kinders. Sy plaas in die Gamka-valley gee hom groot plesier.

Related to Struisvoël

Related ebooks

Related articles

Reviews for Struisvoël

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Struisvoël - Johan Fourie

    STRUISVOËL

    Johan Fourie

    Tafelberg

    Vir Johanna, Christine, Grieta en Klein-Johan (wat al groter as sy pa is)

    HOOFSTUK 1

    Dit was in die kombuis waar hulle die eerste keer saamgekom het. Saamgevoeg, sou mens kon sê – drie kinders, drie bestanddele van ’n resep vir ’n goddelike poets. En Vrede, die plaas daar in die kom van die Gamkarivier, was die maat wat hulle lewens sou afmeet.

    Deur die venster het die rye langpopuliere vinger na bo gewys, ongeag die seisoen. Verder weg die Swartberg, waar die wolke sulke bankies-bankies maak. Miskien sou dit reën, miskien sou die Here hulle seën. Oor die agterdeur die rooi van die voetheuwels na Oudtshoorn se kant toe, ’n kleur wat herinner het aan vuur, dat alles nog mag vergaan.

    Aan die einde van als kon Marja nog die presiese datum van hulle ontmoeting onthou: 16 Desember 1880. Dit was die dag nadat haar pa sy plaas afgeteken het. Nadat hy dood is. Dit was die dag ná haar veertiende verjaarsdag. Die dag van die afloop van ’n vloed.

    Die oggend voor al hierdie dinge was sy nog van die ander twee geskei soos die wit van die geel van ’n eier – van Victoria, omrede sy swart was, en Klein-Sarel was ’n seun. Maar toe sê haar pa sy moet saam met hom oorloop Vrede toe, na die Blanckenbergs toe. En sy het geweet wat daar wag. Sy het geweet van die koevert in sy baadjie se binnesak. Toe sy kla dat die warm sand haar voete brand, of hulle nie maar kon omdraai nie, het haar pa haar ’n rukkie op sy voete laat staan.

    Op Vrede het niemand hulle binnegenooi nie. Ou-Sarel Blanckenberg het net met sy kierie na die stoep beduie, en Ralie Blanckenberg het op haar oorspanne manier gesê: Kom, kom sit tog, Fourietjie, sit, Kind. ’Skuus net, ma’ onthou dissie oom se stoel daai, nè Kindjie-kind?

    Marja het haar verwonder aan hoe die antie haar hande so vinnig soos haar woorde teen mekaar vryf, asof sy taai deeg wou afvee. Sy onthou hoe haar pa met sy rug teen die muur gaan sit het, toe sy stoel effens vorentoe geskuif het sodat sy agter hom kon staan. Sy onthou die antie se stoel wat huis-in kyk. Die oom se stoel van waar hy alles kon sien – sý berg, sý rivier, sý landerye.

    Onder in die volstruiskamp, ’n ent van die stoep af, het Klein-Sarel sy sê vir die volstruise gesê soos net hý kon. En sy pa het oor sy seun begin praat, soos net hý kon.

    Nou hoor nou net ’n bietjie daar. Hoor hoe vloek so ’n donnerse klein bliksempie weer vandag. Nee kyk, ek sê vir jou, Fourietjie, mý God het daai klong nie geskape nie.

    Heeltyd wat haar man so oor hulle seun praat, sit Ralie met haar rug na die lande gekeer. Sy kyk stip na die muur, asof haar huis sal verdwyn as sy haar blik ’n oomblik daarvan weghaal. Tog weet sy goed wat agter haar gebeur, dat daar tussen haar seun en die kwaai volstruismannetjie net ’n doringtak is. Nes sy ook weet van Victoria, die swart dogter wat maar altyd net so skuins agter Klein-Sarel bly. Kort-kort, wanneer sy dit waag om in haar blink ruite agter toe te loer, koes sy saam met die kinders vir die lang toonnael.

    Ou-Sarel bly praat. Die donnertjie se gemors van ’n klong het mos nie ore aan sy kop nie. Hoor mos g’n stuk as ’n mens met hom mooipraat nie. En daai kli’meid suig soos ’n bosluis aan hom vas. Nee wat, ek sê vir jou, Buurman, ek weet nie meer van vandag se kinders nie. Jy kan ook maar bly wees jy’t net dié meisiekind.

    Ou-Sarel draai skielik reguit na Marja. Waar sy agter haar pa se stoel staan, voel sy hoe haar wange warm word. Sy kyk weg, eers op na die berg, dan af op haar pa se kaalkop. Sy wag dat hy sy gewone sê sê oor die oom se vloekery: dat mens vloekwoorde nie kan verklein nie, al sit jy hoeveel tjie-tjies by, God hoor fyn. Dan sal die oom sê: ja, maar hy is ook maar net ’n mens, en God het die mens tog mos maar méns gemaak. En haar pa sal sug: ou swaer, ou swaer . . . En die antie sal sê: elke sonde het sy eie taal; die Here God verstaan ’n ieder en ’n elk, klein of groot, mens moet jou woorde tel, goed én kwaad, en wil hulle koffie hê? Dan sal die oom dalk wegkyk van haar.

    Maar al wat vandag van dié verwagte gesprek kom, is haar pa wat sê: Ai-ai, Swaer. Ai-ai.

    Marja wonder of die ander ook hoor hoe haar pa deesdae praat, asof daar weerskante van elk van sy woorde kommas rus. Asof hy heeltyd die woorde in sy mond afmeet, hulle weeg, te lig bevind en hulle dan eerder insluk as uitspoeg. Hy stem nooit meer met hulle saam oor iets nie, verskil van niemand nie. Sy voel skielik lus om met haar hand oor haar pa se kop te vryf, om die woorde by sy mond uit te vryf, soos ’n mens ’n baba se winde uitvryf. Sy wil hê hy moet vir Klein-Sarel opkom, soos hy nog altyd gedoen het. Of ten minste dan vir God. Sy mis haar ma, haar ma wat nooit stilbly nie, vir g’n niks en niemand nie. Dit voel of sy gaan huil. En sy wil nie. Dis dan haar verjaarsdag.

    Marja sug. Op dieselfde oomblik haal Ou-Sarel diep asem, en dit voel vir haar asof hy net vir haar gewag het, dat hy haar uitgeblase asem opsuig, dit vir hom vat om daarmee verder oor sy seun te spoeg.

    Nee kyk, Buurman, ek sê vir jou, ou Vuurhoutjie, as ek vandag daai klong van my se tong in die hande kry, ruk ek sy harslag deur sy vuil bek uit.

    Marja wil die oom waarsku dat hy sy woorde behoort te tel. Hy kan mos nie vir haar pa so staan en Vuurhoutjie hier en Vuurhoutjie daar nie, haar ma sal dit nie toelaat nie. Haar ma sê altyd net sý, Fourietjie se wettige binne-gemeenskap-van-goedere-vrou, mag hom so noem. Net sý mag hom aansteek, en net sý mag hom met een asemstoot uitblaas.

    Marja wens haar ma het saamgekom. Ma weet altyd wat om vir mense te sê, dink sy. Ma sou nie so bedees soos antie Ralie hier gesit het nie. Sy sou die oom stilgemaak het oor sy seun. Ma sê altyd: Kinders is die mensdom se hoop. Mens kyk nie na kinders deur ’n vergrootglas nie, vergroot nie klein foutjies nie. Ma sê ’n mens pas jou kinders op soos ’n suikersieke, anners val hulle later soos gangreentoontjies van jou af.

    Mens se kind bly mos maar jou kind, nè? En die duiwel issie duiwel. Kinners kry ook maar partykeers pos uit die hel, sê Ralie uit die bloute, en Marja wonder of sy gedagtes kan lees. Sy koes half toe die antie opstaan en dit lyk of sy mik om haar oor die kop te vryf. Daar’s goeters wat kinners nie behoort te verstaan nie; ek ga’ maak nog koffie, sê Ralie en loop kombuis toe, koponderstebo. Vir Marja klink dit kompleet of sy vir iets om verskoning vra.

    Met die antie nie daar nie kan Marja na niks anders kyk as die natgeswete koevert, wat haar pa nou in sy hand vashou nie. Toe sy dit nie meer kan hou nie, vat sy dit by hom en sit dit met ’n vinnige beweging voor Ou-Sarel op die koffietafeltjie neer, asof sy dit weggooi.

    Sy staan nou langs en effens vóór haar pa, leun styf teen hom aan. Maar al sê Fourie oor en oor dankie – dankie, my kind, dankie – voel dit nie vir haar asof sy vir hom iets gedoen het nie. Dit voel nie asof sy hom troos nie, ook nie of hy haar troos nie. Niks voel vandag asof dit regtig gebeur nie.

    Daar op die tafeltjie, voor die oom, lê hulle plaas op ’n stukkie papier. Hier trek haar kop en haar voete tou met haar lyf. Haar kop is hoog teen die veranda se dak. Haar voete voel swaar, asof hulle diep in die stoep insink. Miskien word ’n mens te groot vir jou skoene as jy veertien is, dink Marja. Maar dan vloek Klein-Sarel weer iets allervreesliks onder in die kamp en sy krimp ineen. Binne-in haar skiet iets soos ’n rekkie. Dit voel asof haar lyf haar kop gaan insluk, haar voete haar wind gaan uitskop. Sy hoor hoe Klein-Sarel op die dogter skree.

    Pasop! Pasop daar! Jy’s bliksemswil net in die pad.

    Almal praat altyd net van die kli’meid. Marja kan nie onthou of sy al ooit haar naam gehoor het nie. Sy wonder wat sal gebeur as Klein-Sarel die doringtak laat val. Is volstruise soos honde? Honde storm mos altyd eerste op die werksmense af. Sy het die oom al hoor sê honde ruik kleur.

    Toe Ralie agter hulle praat, is dit asof sy nooit weg was nie. As my kind maar net kon vergeet wat by sy mond uitkom en kon onthou wat daar moet in. Ralie sug swaar en gaan sit weer op haar stoel. Eet mos net kale-kale brood, die kind, nie eens ’n ertappel, en dis mos niks.

    Niks nié, Antie, wil Marja sê. Nie eens ’n ertappel nié! Sy moet op haar onderlip byt om Ralie nie reg te help nie. Sy weet die grootmense sal dink sy het nie respek nie. Sy verstaan nie hoekom party goed haar so vreeslik kwaad maak nie. Wat maak ’n nie en nog ’n nie tog nou saak? Nie is niks nie, nie is niks nié, probeer sy haarself oortuig.

    Dit lyk of Ralie wil opspring, op die daad vir haar seun wil kos wegbring. Kyk dan tog net daar, onse kind, die ene senings. Sy kyk na haar man. Vir Marja klink dit amper asof sy pleit.

    Ou-Sarel brom net. Ag, Vrou, sit tog nou stil. Jy bekommer jou verniet. Daai klong van jou is ’n taai klein naai.

    Marja kyk af na haar skoenpunte. Sy voel hoe haar gesig weer warm word. Sy wens sy kon agter haar pa se stoel wegkruip. Sy weet wat naai is. Sy onthou hoe sy eers gedink het dis Engels, toe haar ma eenkeer in ’n konsert ’n gedig moes opsê: The end is nigh.

    Nee kyk, ou meisiekind, met daardie klong van ons sal jy jou storie moet ken. Oom sweer vandag vir jou op die antie se lewe: ’n Kraai het die klein bliksempie gebring en hom langs die pad kant en klaar geleer. Toe hy ’n baba was, het hy al gehuil soos een wat vloek.

    Ou-Sarel lag so gie-gie-gie en maak ’n vuis voor sy neus, asof hy wil nies. Met sy ander hand tel hy eindelik die koevert op.

    Marja weet wat nou gebeur. Sy weet wat in die brief staan. Sy weet dat hier nou meer gebeur as wat op daardie klam stukkie papier geskryf is. Haar ma en pa stry al dae aaneen daaroor. Haar pa sê haar ma is verniet so bly Sarel Blanckenberg wil koop; besef sy dan nie haar dogter gaan saam met die grond nie? Haar ma sê dit kon erger gewees het: Die Blanckenbergs is dalk streng met hulle vroue, maar kaalgat is hulle nie, en Klein-Sarel is ’n mooi seun; wil hy dan eendag lelike kleinkinders hê?

    Al kyk Marja steeds stip na haar voete, verbeel sy haar sy voel Ou-Sarel se oë op haar. Sy dink aan die dag van die veiling, aan hoe hy na die beeste gekyk en vir hom die mooiste vers uitgesoek het. Sy druk haar kniekoppe styf teen mekaar en draai haar heupe skuins, weg van hom, waag dit eers om op te kyk wanneer sy hom in ’n ander rigting hoor praat.

    Marja volg Ou-Sarel se blik oor die werf, af tot by die volstruiskamp en verder, verby sy seun, tot doer by die rivier, daar waar hulle plaas aan die ander kant lê, die plaas wat saam met die brief in die koevert nou syne gaan word, en sy probeer die bewe in haar pa se hand stil druk.

    Onder in die land vloek Klein-Sarel nog eenstryk deur: Kak! Jou slap kák van ’n donnerse voël!

    En Ou-Sarel begin van voor af: Nou hoor nou net ’n bietjie daar.

    En haar pa sug: Ja, Swaer.

    En Ralie sê: Swaar, ja.

    Marja weet haar pa sug oor sy plaas nie meer sy plaas is nie, oor Vrede se nuwe dam, wat sy water weggekeer het. Sy wonder of haar pa weet dat die mense hom Swaar Fourietjie noem, nie Swaer, soos hy seker dink nie. Swáár, soos antie Ralie sê.

    Marja skrik. Sê nou sy sê al hierdie dinge wat sommerso by haar opkom, hardop? Om haar gedagtes te keer, begin sy Ou-Sarel se volstruise tel. As daar iets is om te tel, voel sy altyd rustiger.

    Op veertig wonder Marja of die oom weet dat die mense oor hom ook skinder. By die veiling het sy iemand hoor sê hy is mal om met hierdie voëls te wil boer. ’n Antie het vir haar ma gesê volstruisvleis het ’n wildheid wat ’n hele hand vol naeltjies nie eens kan afkook nie. In daardie klein koppie is daar niks plek vir verstand nie, nie eens ’n afval om van te praat nie. Haar ma het gegril. Die ou velletjies is ook so klein en vol knoppe, lyk asof die bosluise hulle voos gebyt het. En ag, die ou veertjies. Hoeveel stoffers het ’n mens dan nou nodig? Die goed vrek ook sommer vir niks, het ’n oom gesê. Skop mekaar vrek. Ou-Sarel moet oppas, hulle skop hom ook nog vrek.

    Op negentig onthou sy hoe Mister Katz eendag, toe sy weer so oor die volstruise se onbruikbaarheid aangaan, vir haar ma sê: Og, miesies Fourie, ek dink, ja, ek dink ek weet, dit was mos Moses wat gesê het die volstruis is dalk boonop ’n onreine dier.

    Haar ma het die Jood betig, omrede hy van alles altyd so oortuig is, maar wanneer dit kom by wat in sy Bybel staan, altyd so onseker. Mister Katz, skáám jy vir jou. ’n Mens moet jou God van binne én buite ken, Mister. Die Bybel is nie ’n volstruiseier wat jy net af en toe uitskud nie. Toe sy hom klaar vermaan het, het haar ma Mister Katz se baadjie liggies op die skouers afgestof, asof sy hom daardeur sy onkunde wou verskoon.

    Marja onthou hoe lank dit haar geneem het om daarna die Bybel deur te werk. Nêrens het Moses gesê die volstruis is ’n onreine dier nie. Job het wel gedink volstruise is dom.

    By honderd, klaar getel, sug sy saam met haar pa. Hel, my kind, sê hy vir haar, vandag is dit warmer as in Die Hel én die hel.

    Anders as toe sy klein was, wonder Marja nie meer oor dié dubbele hel waarvan haar pa so graag praat nie. In die hoofletter-Hel, daardie diep kloof aan Prins Albert se kant van die berg, was sy al. Sy luister hoe die grootmense oor die droogte praat, die swaarkry, die afgesonderdheid, die introuery, die gebreklikheid, en sy verstaan. Op veertien is sy oud genoeg om ook van die ander hel te weet: dié hel wat enige tyd, enige plek, enigiets kan wees, selfs ’n stukkie papier in ’n klam koevert, of ’n nie wat nie kom nie.

    Marja onthou steeds die eerste nie waarvoor sy gewag het. Sy dink haar beheptheid met woorde het daardie nag begin. Sy was nog klein, klein genoeg om by haar ma-hulle in die kamer te slaap. Sy onthou haar pa se stem. Hy het vir haar ma gevra of hy maar mag. Mag hy wat? het sy gewonder. Toe hoor sy hom blaas en blaas, sjoe, maar dis warm. En haar ma sê dis warmer as die hel, kry tog nou klaar, en sssjt, moenie die kind wákker maak! Daar. Net daar het die weggelate nie die eerste keer op haar gespring. Nie, nie, nie, nie . . . Moenie die kind wakker maak nié. Daar, weet sy, het haar stryd met woorde begin. Met baie woorde. Nie net met nie nie.

    Marja verstaan dis nie net die hitte wat haar pa so baie sweet met sy sakdoek laat afvee nie. Sy is op die punt om te vra of sy vir hom die sakdoek onder die tenk se kraan kan gaan natmaak, toe Ou-Sarel direk met haar praat.

    Nee kyk, ou kinta, as jou pa dink Die Hel is erg, het hy nog niks gesien nie. Ek sê vir jou, ánderkant Die Hel, daar lyk dit nog tien maal erger.

    Ou-Sarel is die enigste een van hulle wat al verder as Die Hel was, en hy weet dit goed. Verder as die Klein-Karoo se koppies en berge, tot diep in die Groot-Karoo, tot by Drie Susters was hy al.

    In die Groot-Karoo, vertel hy, is daar minder as niks. Net kale vlaktes.

    Toe hy stilbly, wonder Marja of die oom verwag sy moet iets sê oor dié niks, wat tog sekerlik ook iets is. Sy maak haar mond oop – amper sê sy iets verkeerds vir ’n grootmens! Maar genadiglik spring die antie haar voor.

    Jy vergeet, ou man, Prins Albert het tog darem mos olywe.

    Ou-Sarel spoeg tot in antie Ralie se malvabos.

    ’n Lang ruk sê nie een van hulle iets nie. Hulle sit net só en kyk oor die werf. Kyk vir die berg. Marja dink daaraan dat sy nog nooit iemand iets goeds oor olywe hoor sê het nie. Self het sy nog nooit eens aan een geproe nie. Haar ma sê ’n olyf is slegter as die slegste sleg. Sy probeer onthou wat die slegste ding was wat sy al geproe het, maar vandag dink haar kop net aan soetgoed. As Ma onthou . . . Dalk bak sy nou ’n verjaarsdagkoek.

    In omtrent elke gesprek in dié halfwoestyn is daar ’n mikstokwoord wat die stilte breek, sê Marja se ma altyd. Dié keer kom dit eerste uit haar pa se mond. Droogte soos vanjaar s’n behoort g’n mens of dier te aanskou nie. Wie sou nou kon dink mens kan verlang na ou meide met knopkieries?

    Marja sien die trekkie om haar pa se mond. ’n Oomblik dink sy hy gaan glimlag, maar dan is dit weg. Sy weet nie hoe sy hom vandag kan help nie.

    Dis asof Ralie die nood op haar stoep aanvoel. Kyk, doer, sien julle? Die wolkies maak klaar sulke bankies-bankies oor die berg, sekerlik kom dit nog reën vandag, maar laat ek eers nog koffie gaan haal, dalk is daar nog ’n stukkie melktert oor. Ko’ ons gaan kyk, kom, Kindjie-kind, kom jy saam? Dis asof Ralie hulle met haar langasemsinne probeer troos.

    In die kombuis vra Ralie of sy ’n snytjie brood wil eet, maar Marja kry geen dooie woord uit nie. Sy onthou die oggend, sy en haar pa en ma aan die kombuistafel. Toe haar pa bid en dankie sê vir hulle daaglikse brood . . . Sy sien in haar gedagtes hoe haar ma sy koffiebeker van die tafel klap.

    Bróód! Watse brood? Pleks jy lig jou gát en loop soek wérk!

    Haar pa het afgekyk, sag gepraat. Ma-Ria. Ma-Ria, jou kind. Dink aan die kind. Dié kind.

    Marja het gewag dat hy kind nog ’n keer moet sê. Nog ’n kind sou die getal ewe maak. Dalk selfs . . . die kind verjaar. Maar haar ma was klaar weer besig om haar in die sideboard te spieël.

    Al doen Ma-Ria dit ook tien keer op ’n dag, Marja bly haar verwonder aan dié ritueel van haar ma. Vanoggend het sy langer as gewoonlik bly kyk: hoe haar ma haar kop na die spieël toe draai en haar hare skud tot haar kuif oor die helfte van haar gesig val, nes ’n windwolk oor die berg. Sy het na haar ma gekyk, daar voor haar, en toe na haar ma in die spieël. Ma het twee gesigte – en al twee is half, het sy gedink, en toe om vergifnis gebid. Tien keer.

    Ralie het klaar elkeen se melk en suiker in die koppies afgemeet. Marja moet net roer en die koffie aangee. Sy gee haar pa s’n laaste, wag dat hy sy gewone dankie – dankie, my kind, dankie – moet sê. Dat hy moet sê: Kind, jy is darem maar jou pá se kind.

    Toe hulle ander klaar gedrink het, sit haar pa nog net so met die koppie op sy skoot. En toe dit eindelik vir Marja lyk of hy gaan proe, blaas hy net, asof dit nog warm is. Hy vee oor sy oë en sê die koffie maak vandag baie damp, dalk omdat dit so droog is. Hy gooi ’n bietjie in sy piering uit en blaas. Blaas weer. Marja kyk hoe die bruin vloeistof in haar pa se piering golfies maak, soos die water in die oom se dam as die wind waai. Dan hou hy die piering na haar uit. Sy drink, soos toe sy klein was. Sy drink die kabbelings weg. Tot alles op is. Totdat net hulle oë oor die rand van die piering oor is.

    Kry pa se kind nie ook warm nie?

    Marja skud haar kop. Sy gaan staan weer styf teen hom. Pa. Kyk. Die wolke. Hulle pak saam, fluister sy. Hulle lyk te swaar vir die berg.

    Dis te laat vir reën, sê Fourie, maar dit klink asof hy meer met homself as met Marja praat. Hy sug swaar. Dan tel hy die pen op wat Ou-Sarel langs die stuk papier en potjie ink op die tafeltjie neergesit het. Stadig maak hy sy kruisie. Nou is ek ’n wit kaffer, sê hy en sit die pen neer.

    Fourie lag verleë. Niemand lag saam nie, tog bly die trek om sy mond. Net Marja weet dat haar pa aan haar ma dink. Dis goed hy is nou een, het haar ma die oggend gesê. Laat hy ’n slag voel hoe sý nog al die jare in sy huis voel.

    Marja wens sy kon vir haar pa sy naam geskryf het. Sy kyk van die een gesig na die ander. Sy wonder hoeveel soorte stiltes ’n mens kry. Die oom lyk vir haar soos altyd. Die antie lyk vir haar soos altyd, asof sy blymoedig op slegte tyding wag. Maar haar pa lyk anders. Sy kyk vinnig weg. Sy wil nie na hom kyk nie. Sy wil nie sien wat sy hier styf langs hom voel nie. Sy hele lyf bewe.

    Ou-Sarel vou die brief stadig op en sit dit in sy hempsak. Miskien . . . Tja, ons sal maar sien, sê hy.

    Ek is verby miskién, verby sién, Buurman. Ek kán nie meer nie. Plant ek mielies, dan oes ek stinkolie. Plant ek koring, oes ek salvation-erte. Tot die tarentale roep al ‘bankrot, bankrot’!

    Jy’t net God se seën gekort, Fourie, dis al. En dan praat ek van die Oubaas s’n. Boer is nie vir kinders nie. Maar dalk . . . Laat ons kyk.

    Wat wil die oom tog sê? Marja wonder, maar sy kan dit nie vra nie. Sy gee ’n tree vorentoe sodat sy half tussen hom en haar pa staan. Maar sy voel aan die ruk in haar pa se lyf dit help nie.

    Ou-Sarel begin weer spog en beduie. Kyk daar. Sien jy, Niggie? Hier by oom is selfs die kiesieblare so geil die koeie bars amper van –

    Heretjie tog, Sarel! val Ralie hom in die rede. Sil jy nou die Here se Seun se seën ter wil’ van kiesieblare gaan staan en verbybid. Genadetjie tog, ou man.

    Marja wil vir Ralie ondersteun. Sy dink daaraan om te sê: Toemaar, Antie, laat die oom maar praat. Van te geil eet, gooi ’n mens op, soos Pa altyd sê. Maar daar kom geen woord by haar mond uit nie. Haar ore sing. Kan woorde ’n mens se ore só vol maak dat jou kop daarvan bars? wonder sy. Dit voel asof die woorde wat nie uitkom nie, klonte in haar keel maak. Dit voel asof sy wurg. Ma se woorde is soos koeëls. Pa koes vir haar woorde. Ek behoort woorde te haat. Tog hou ek van woorde, dink sy verbaas.

    Genadetjie tog wát, Vrou? Ek vra g’n stuk niemand om genade nie. Dit weet jy.

    Die genade van onse Here Jesus Christus.

    Nee wat, ou Ralie. Tussen leeu en lam hou ek my eerder maar op met die leeu; dit sê ek nog altyd. My Bybel sê duidelik vir my God is ’n verterende vuur. Die genade wat julle Jesus-mense verwag, is skone kasaterwater. ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand; dit sê ek julle vandag. Dis hoe dit nog altyd was, hier op Vrede, en dis hoe dit altyd sal wees. Ek het van niemand al ooit genade ontvang nie. Wil dit ook nie hê nie. Nie verniet nie. Iemand wat genade gee, wil altyd iets terughê. Hou jy jou maar liewers by die pampoenskil wat jy alewig daar in die kombuis tot groenboonbredie probeer omkook, Ralie. Mý Bybel maak ek toe by Maleagi.

    Ou-Sarel bly ’n oomblik stil, asof hy wil hoor of sy vrou gaan teëpraat. Dan draai hy weer na sy buurman. Fourietjie, jy sal met my saamstem vandag . . . Ek sê altyd vir die vrou, ek stuur niemand na g’n niemand toe nie. Nuwe Testament-sendelinge bring meer onheilighede terug as wat hulle heiligheid uitdra. Ek hoor hulle wil nou glad sendingwerk onder die Jode gaan doen! Waar’t jy nou al só iets gehoor? Dis mos nou soos om ’n boer te wil bekeer tot sy plaas! Die Jode is tog mos maar God se ou volk en klaar. En ons is God se nuwe volk.

    Marja sien hoe Ralie se mond oop- en toegaan, soos wanneer haar ma rookkringe blaas. Maar God het tog sy Seun –

    Van onder uit die land vloek Klein-Sarel haar tjoepstil.

    Marja sien hoe Ralie by die aanhoor van elke vloek haar kop ’n entjie verder laat sak. Miskien kry ’n mens se lyf ook droogte, dink sy. Dan verlep jou nek en verwelk jou kop. Sy is skielik dors. Dalk moet sy ’n bekertjie water vra.

    Selfs Ou-Sarel kug-kug eers. So van volkere gepraat, sê hy dan. Ek het al baiekeer gedink . . . Daar is my volk hier op die land . . . Maar my volk is nie my volk nie. Hulle is my mense, maar nie mý mense nie. Tog moet ek die land deel.

    Gewoonlik lag hy self die lekkerste vir sy sêgoed, maar nou klink Ou-Sarel se laggie vir Marja effens verleë. Wanneer die antie sag aan sy arm vat, sien Marja hoe die oom se gesig ook verander. Sy is nie seker wat hier gebeur nie, maar Marja hoor die andersheid in sy stem toe hy sê: Ou vrou, ek sal dat Klein-Sarel vir jou die mooiste pampoen gaan uitsoek. Niemand kook hom soos jy nie. Skil en al. Jy moet net sê . . .

    Ewe min verstaan Marja die skielike andersheid in die antie. Sy kyk haar man ’n oomblik vas in die oë, en nou is haar stem klokhelder en rustig. Dis reg so, my man. As jy wil, sal ek dit môre spesiaal-spesiaal vir jou kook.

    ’n Oomblik is dit of alles rustig word.

    Dalk is die volstruise nou eindelik waar Klein-Sarel hulle wil hê, dink Marja. Die rook uit die mans se pype ruik vir haar lekker. Dit laat haar wonder hoe die rook ruik wat nou daar agter die laning langpopuliere uit die skoorstene van die werksmense se huise trek, wat hulle daar vir middagete kook. Haar oë draai ook na die bult hier vlak by hulle, waar agter sy weet die alleenhuisie staan.

    Die huis agter die bult was die swart vrou s’n. Marja weet dit, want almal sê sy spook daar. ’n Oomblik lank verbeel sy haar sy sien daar ook ’n dun vliesie rook opstyg. Sy wil vir haar pa vra of hy dit ook sien, maar die oom praat al weer, en toe sy weer kyk, is dit weg.

    "Vrede is voorwaar net ’n groot canfruit-bottel," sê Ou-Sarel.

    Marja voel hoe sy haar vererg. Het Oom al gesien hoe ’n canfruit-bottel breek? wil sy vir hom vra. Al weer canfruit en vla, het haar pa een Sondag gesê. En toe hulle weer sien, gooi haar ma die canfruit-bottel fyn en flenters op die vloer. Nou is dit nie meer vir haar lekker om na die boorde te kyk nie. Al die appelkose, okkerneute, amandels, pruime,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1