Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Versamelde poësie
Versamelde poësie
Versamelde poësie
Ebook589 pages2 hours

Versamelde poësie

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

"As ’n mens Diederik Johannes Opperman (1914-1985) se poësie met dié van die Dertigers vergelyk, is dit opvallend dat hy van die begin af ’n veel minder belydende inslag toon en veel meer oopgestel is vir die Suid-Afrikaanse werklikheid in sy verskillende geledinge. Daarby groei sy poësie, ten spyte van hierdie aardsheid en konkreetheid, uit tot ’n stryd tussen die hemelse en aardse, tusssen die goeie en die bose en tussen orde en chaos, ’n gegewe waarmee die taak van die kunstenaar ten nouste saamhang. In vergelyking met Dertig is die poësie van Opperman veel afgekapter en kantiger en toon sy werk ’n radikale breuk met die “mooi” woord. ’n Mens sien dit in die formuleagtigheid en geslotenheid van die vers, die aanwending van die kortsluitende metafoor en die verruiming van die poëtiese woordeskat."

J.C. Kannemeyer
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 1, 2015
ISBN9780624075875
Versamelde poësie
Author

D.J. Opperman

Diederik Johannes (D.J.) Opperman is op 29 September 1914 op ’n plaas naby Dundee in KwaZulu-Natal gebore. Hy gaan skool op Estcourt en Vryheid. Hy verwerf ’n MA-graad in 1935 aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg en sy doktorsgraad in 1953 aan die Universiteit van Kaapstad. Hy gee skool in Pietermaritzburg en Johannesburg en is van 1946 tot 1948 ’n joernalis by Die Huisgenoot in Kaapstad, en gee vir 10 jaar klas aan die Universiteit van Kaapstad. D.J. Opperman is van 1960 tot 1979 ’n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In dié tyd is hy in beheer van die beroemde Letterkundige Laboratorium. D.J. Opperman het in 1981 ’n beroerte gehad en sterf op 22 September 1985 op Stellenbosch. D.J. Opperman, een van die bekendste Afrikaanse digters, se debuut-digbundel, Heilige beeste, verskyn in 1945 en word in 1947 met die Hertzogprys vir poësie bekroon. Hy ontvang daarna nog drie keer die Hertzogprys: Periandros van Korinthe (vir drama, 1956), Voëlvry (vir drama, 1969) en Komas uit ’n bamboesstok (vir poësie, 1980). Hy ontvang ook die CNA-, WA Hofmeyr- en Louis Luyt-pryse vir Komas uit ’n bamboesstok. Opperman was ook bekend as samesteller van bloemlesings en die bekendste voorbeelde hiervan is Groot Verseboek (die eerste een het in 1956 verskyn) en Kleuterverseboek. In 2000 verskyn die bundel Sonklong oor Afrika waaraan hy ten tyde van sy dood gewerk het

Read more from D.J. Opperman

Related to Versamelde poësie

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Versamelde poësie

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Versamelde poësie - D.J. Opperman

    DJ Opperman

    versamelde poësie

    Tafelberg / Human & Rousseau

    Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Versamelde poësie mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

    Verantwoording

    Hierdie uitgawe van D.J. Opperman se Versamelde poësie bevat al die gedigte wat hy in sy nege afsonderlike digbundels gepubliseer het: Heilige beeste (1945), Negester oor Ninevé (1947), Joernaal van Jorik (1949), Engel uit die klip (1950), Blom en baaierd (1956), Dolosse (1963), Kuns-mis (1964), Edms. Bpk. (1970) en Komas uit ’n bamboesstok (1979). Werk wat by sy heengaan onafgerond was en vroeëre gedigte wat hy wel voltooi het maar nie vir publikasie vrygestel het nie, is nie vir hierdie bundel in aanmerking geneem nie.

    Omdat Opperman by die herdruk van sy bundels soms geringe wysigings in sy werk aangebring het, is daar met die vasstelling van die teks vir die huidige uitgawe deurgaans gesteun op die laaste uitgawe van ’n betrokke bundel waaraan hy self ’n hand gelê het. Daarom is daar ook rekening gehou met Astrak (1960), die bloemlesing wat hy uit sy eie werk saamgestel het en self redaksioneel versorg het. In die geval van Joernaal van Jorik is gebruik gemaak van die teks wat in Die galeie van Jorik (1979) voorkom, ’n teks waaroor die digter self nog ’n oog laat gaan het.

    Met hierdie poging om so naby as moontlik aan die finale wil van die digter te kom, was alle onsekerheid egter nie uit die weg geruim nie. Opperman het in sy vroeë poësie, veral in Heilige beeste, dikwels die verboë vorm van die adjektief gebruik, ook waar die taal dit nie gebied nie: skrale oes (Misoes), donkere gange (Môre-uur), vele liefdes (Bede), skone val (Hooft), skrale plaat stapelia (Phoenix), verre/biesies en skelle houe (Donker­lied) e.d.m. Hierdie vorme is in die tweede druk van Heilige beeste (1947) gehandhaaf en dergelike gevalle kom ook voor in Negester oor Ninevé, maar later het die digter heel bewus afskeid geneem van die swak uitgange wat hy as ’n dertiger-res in sy poësie beskou het. Dit is bv. duidelik te sien in van die gedigte uit die eerste twee bundels wat in Astrak opgeneem is. Nagbloei se ryke bron en kale skouer het in die bloemlesing ryk bron en kaal skouer geword, terwyl strakke/skoonheid en donkere gang uit Mijn herte met luste ghevaen strak/skoon­heid en donker gang geword het. In Nagedagtenis aan my vader is kleine wonder tot klein wonder gewysig, en in William Blake het late/nagte laat/nagte geword ten spyte van die feit dat die verandering die rym geaffekteer het. Om enkele voorbeelde uit Negester oor Ninevé te noem: In Nagwaak by die ou man is strenge blik tot streng blik gewysig, terwyl in Mont-aux-Sources geile slaap tot geil slaap verander is.

    Die vraag is nou of dit nie as ’n vingerwysing behoort te dien nie. Bestaan daar nie genoeg rede om vroeë gedigte wat nie in Astrak opgeneem is, dienooreenkomstig te wysig nie? Na wik en weeg is besluit om Astrak-wysiginge te handhaaf in die gedigte wat in die bloemlesing staan, maar om die wysiginge nie redaksioneel oor te dra op verse wat nie in Astrak opgeneem is nie. Verskillende oorwegings het hier gegeld waarvan een die feit is dat daar in Astrak verboë vorme oorgebly het wat nie deur die digter weggewerk is nie. Dit is dus duidelik dat Opperman in dié verband nie bloot resepmatig opgetree het nie.

    By die vasstelling van die teks moes ook aandag gegee word aan sekere afwykings van die aanvaarde skryfkonvensie wat meermale by Opperman voorkom. Eerstens is daar sy gebruik om die besitlike voornaamwoord, wanneer dit op God of Christus dui, dikwels met ’n hoofletter te skryf, terwyl dergelike voornaamwoorde gewoon­lik met ’n kleinletter geskryf word. So kry ons bv. U arbeiders (Kontrak), Christus en Sy sterwe (Rodar en Yrsa), U daggeel lig en U heelal (Na die myninstorting), Sy kruis (Dertiende dissipel), Sy kramptrekke (Vincent van Gogh) e.d.m. Die feit dat Opperman, in weerwil van die konvensie, tot in sy latere poësie dié praktyk volgehou het (vgl. bv. opofferinge van Sy werk in Nooi, na Sy bruid toe kom in Troumars en My gevange volk in Paddas), dui daarop dat hy goeie rede moet gehad het om die hoofletter te gebruik. Moontlik wou hy op dié manier die goddelikheid en die goddelike besit benadruk, en langs dié weg kan misverstande natuurlik ook uitgeskakel word. Opperman se skryfwyse in dié verband word dus gehandhaaf.

    Nog ’n skryfafwyking is te sien in Opperman se gebruik van ’n koppelteken in gevalle waar die konvensionele skryftaal dit nie nodig ag nie. Baie voorbeelde hiervan kom veral in sy vroeër werk voor: half-oop rose (Bouquet) (in teenstelling bv. met halfoop oë in Blom van die baaierd), nuut-herrese en wind-bewoë in Hooft, visse blink-pens na die son in Wandeling, swart-bont bulle in Shaka, wolk-wit visioene in In die landskap, kors-droë klippe in Legende van die drenkelinge, vlamme-swaarde in Legende van die drie versoekinge, lampe-skyn in Debuut, sterre-boë in Walvis. Ook in Joernaal van Jorik: bamboes-eilande, sterre-stringe, bruin-groen.

    Maar ook hier is daar, uitgaande van die standpunt dat die gebruik van koppeltekens aksentuering en moontlik selfs fyn betekenis­nuanses in die spel kan bring, nie in Opperman se gebruik ingegryp nie. Slegs in enkele gevalle waar dit bloot gaan om die spelling en dit geen artistieke implikasies kan hê nie, is die nodige wysiginge aangebring: saksofoon word saxofoon (Stadsnag), croton­blare word krotonblare (Drif), randjie word rantjie (Shaka), thalidomide word talidomide (Gedagtes by ’n sarko­faag), Coca Cola word Coca-Cola (Amerika in Europa).

    Waar estetiese waardes moontlik in die spel kan kom, is die digter se afwykende spelling egter behou: weeldrig en poeltjie in Shaka, slymrig in Legende van die drenkelinge, salpetrig in Ou knol, verby gekom in My stokperdjie kry vlerke, mors dood in Seremonie van die naelstring en by geroep in Tot siens.

    ’n Rigtinggewende prinsipe was dus deurgaans die eerbiediging van die digter se wens (sover as wat dit vasstelbaar was), selfs in gevalle waar hy van die aanvaarde skryfkonvensie afgewyk het. Dit het meegebring dat slegs in enkele onvermydelike gevalle ’n redaksionele ingreep oorweeg is.

    A P Grové (1987)

    Heilige beeste

    1945

    Vir Marié

    Heilige beeste

    Dit is my laaste besit

    wat ek bedags langs die Taka verdedig

    en snags in die kraal tussen kiepersol en klip:

    hulle wat wei

    waar die hadida in die noorsboom wag

    bo peule, miershoop en gras;

    hulle wat afhanklik is

    van die bul wat die sand krap

    en die reuk van die koei nog vat;

    hulle wat afstam

    van kuddes deur dansende impi’s omring

    in die koningskrale van Senzangakona en Dingaan;

    hulle my drie drifte:

    die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees

    oor die kraal tussen kiepersol en klip.

    I

    Kontrak

    U het die wêreld oopgeskiet

    tot grot en gramadoela;

    toe die blaar en riet,

    U arbeiders, gestuur; wortels

    wat nederig werk, die mier

    wat stokkies dra

    en beitelpunt van die rivier.

    U droom met dinamiet

    en laat aan arbeiders

    die besonderhede en verdriet.

    Sarkofaag

    Vas teen die stad rys bruingekerf

    met ’n groen kuifie bo, die halwe berg

    waar honderde bandiete

    agter skoorstene van fabrieke

    jare al met koekepan en pik

    hul dieper ingrawe in skuinstes klip;

    en om hul uit klein vensters van die stad

    kyk klerke dag vir dag met huiwering na die gat.

    Stadsnag

    Op deuntjies van die saxofoon verdwyn

    die siel se kommer, stryd en ongeloof,

    en waar die stringe liggies troostend skyn,

    bied ons ’n nagtelike vrees die hoof.

    Saans in die stad as elke siel so pyn,

    word dit aan Mefistofeles beloof

    as hy ons net jong vrouens of ou wyn

    wil gee om ons ’n rukkie te verdoof.

    Maar tot die na-nag is ons dan verdoem

    om tussen die geslote deur en muur

    te lê, met alle stryd net uitgestel

    tot nou, tot ’n erkenning, onverbloem,

    tot hierdie wakkerlê om uur na uur

    koorsig die klanke van ’n klok te tel.

    Stad in die mis

    Met gespanne spier

    loop ek deur die mis

    want om my sluip ’n dier

    onder wit duisternis;

    ek hoor hom knor en in oop mote

    waggel sy pilare-pote

    en sy kantelende rug metaal;

    op hoeke van die strate blink

    sy oë bloedbelope,

    en met sy hap sluit staal op staal.

    Vyfuur

    Teen vensters gryp geel strooi van reën,

    die dakke kwyn tot malvas lig,

    en met die skemer oor die strate

    skuif die moeë duisendpoot terug,

    wentel en wentel die wêreld uit

    deur verdiepings, die eerste, die tweede . . .

    tot hy homself in eie duister sluit.

    Vakansiebrief

    Voor my in ’n mispel kras

    drie kraaie; my dae verdwyn

    in stiltes soos kwartels in lang gras.

    Vanoggend toe ek erdwurms soek,

    raak ek oor ’n fossiel verstrooid

    soos oor ’n bladsy uit ’n muf dagboek.

    ’n Ou meid lê langs haar skerm, die wange

    weggesak, haar oë reën en sand

    in holtes van ’n maalklip opgevang.

    Die berg se donker lies, vars spore

    van die likkewaan en kuttels van ’n bok

    roer iets in my van lank tevore;

    maar die tarentaal sit stom

    op haar nes vol eiers – my hart broei

    oor die stad: glas, sink, beton.

    Reën in die Bosveld

    Lang maande lê die reënboog

    in ’n miershoopgat gekrul,

    blink en nat soos ’n voël se oog.

    En winternagte as die steenuil fluit,

    blaas ’n wit os op die rivier

    dik mis teen riete en die walle uit . . .

    Maar een middag bulk hy in die poort, swaai boos

    sy horings oor die klowe,

    en uit ’n miershoop vlieg die voël omhoog.

    Stelsel

    KLEINBOER

    Vroeg Saterdag as die koekoekhaan kraai,

    sing ek bo-op my karretjie gelaai

    met wortels en koolkoppe; maar swyg

    met bitter haat as ek saans huis toe draai.

    MISOES

    As ek die skrale oes van uitgedorste

    goue dae sien, treur ek oor vermorste

    krag en tyd, en soek vergeefs vergoeding

    teen jou diepbewoë borste.

    NAGGELUID

    Deur my gebed, diep uit die nag se nok

    hoor ek die hart van die heelal: ’n klok

    wat tik en tik, afsydig tik,

    en my gebed verbitter tot ’n wrok.

    HAEL

    Wat baat gebede, arbeid en gesaai

    waar groter stelsels oor die enkeling draai?

    My goedversorgde koringland word deur

    die wit koeëls van ’n hemel afgemaai.

    GROOT GETY

    Dit is die bitterheid as my gevoel

    geminag word: die groot gety wat spoel,

    en haat en liefde uitklots, het behalwe

    eb en vloed miskien geen ander doel.

    Boer

    Hy stap van soggens vroeg

    agter vier osse

    en die ploeg,

    om aarde, son en wind

    en reën in mielies

    te verbind;

    in ryke saad waaruit

    fabriek en stad en

    nasie spruit.

    Kronieke

    WITVLAG

    Hul het die hand, die vredeshand gevra

    en wapens neergelê, soveel verdra,

    want elkeen dog dat hy en hy alleen

    onder sy hemp ’n koue slagmes dra.

    KINDERS VAN VYANDE

    Waar ons tesaam die ewighede raak

    kom daardie hinderende sterfbedspraak

    van vadere: "My seun, ek sien in jou

    manwording nader my misgunde wraak."

    BROEI

    Hul het met lis my plaas van my gevat,

    my adel weggeneem en in die stad

    stink krotte en vuil werk aan my gegee:

    fabrieke, klerewas en hardepad.

    ROOIDAG

    Nou is ek nog verkoper van koerante

    maar eendag sal ek een woord skree na alle kante

    om my ontnome erfenis te kry –

    veel meer as goud en diamante.

    MASSA

    As enkelinge toon ons groot genade

    aan die vyand, maar as massa op parade

    stoot ongekende magte ons tesaam

    tot wraak en gruweldade.

    GEBED

    Wat kan ons anders doen, o God,

    want in ons is daar ook ’n stuwing tot

    vrywees en ’n eergevoel? Wat anders

    na die vernedering en spot?

    Bloedrivier, 1938

    Bo kleur en tyd

    vlam hierdie môre

    oop in ewigheid.

    En teen ’n rooie daeraad

    sing wit-gerokte kore

    oor ’n volk

    nou in herdenkingsdaad

    opnuut gebore.

    En eenkant teen ’n helling peins

    ’n Zoeloe

    oor ’n ryk reeds lank verlore.

    II

    Môre-uur

    Uit watter duisternis het ek ontwaak

    nou dat die lig

    my oë seermaak

    en die eerste kier soos ’n late vuurvlieg

    tussen verwarde brame loswieg?

    nou dat die drome in my

    sku teruggly

    soos slange,

    terug na die oop monde

    van donkere gange?

    Bede

    My hart deur vele liefdes reeds verwarm

    kom nou na jou so uiters arm

    aan geloof, maar met die klein gebed

    dat jy my van ’n voorgevoelde ondergang sal red,

    dat jy na al die droom-vervreemde en verbroude,

    aan my ’n skoner drif sal gee; en met die bloue

    weerlig van jou liefde en jou toorn keer

    my na die stilte van gedagte weer.

    Naaldekoker

    Ek is die grys skrik

    wat soek tussen biesie en klip

    na water, soek na my beeld in jou

    met die trillende spel tussen vlug

    en skielike self-aanskou.

    Bouquet

    Ek stuur aan jou

    ’n ruiker rose

    in fyn papier gevou;

    dit gee aan my ’n eindelose

    kalm gevoel;

    want na gisteraand voel ek miskien

    sal jy my nie vandag wil sien.

    Ek stuur aan jou

    die vlekkelose

    half-oop rose.

    Rodar en Yrsa

    Rodar, die trotse, het met elke lied,

    of diertjie wat hy vang langs bos of bult,

    Yrsa sy heidenhart ru aangebied

    sonder ’n mededinger ooit te duld.

    Maar tog het hierdie liefde haar gekwel . . .

    tot sy een aand toe Thor deur takke ruis,

    as ’n bekeerde skugter hom vertel

    van Christus en Sy sterwe aan ’n kruis.

    Vol agterdog het hy wild opgespring:

    Ek deel my liefde nie, en met die spies

    onmagtig teen dié vyand haar gedwing

    om hom óf die Gekruisigde te kies.

    Toe gaan hy eensaam weer sy eie gang

    en snikkend het sy snags na hom verlang.

    Voorwinter

    Ek mis jou losgestorte hare teen

    my hals in hierdie kwynende seisoen;

    ek weet vereensaam in die nag alleen

    hoeveel ek nog vertrouelik wou doen.

    As strakgespanne palmvingers tril

    en bome nie meer blad of bloeisel dra,

    maar alles kaal word en die nagte kil

    dan brand in my die rooi poinsettia.

    Hooft

    Sy verse het met swier en groot getal

    maar ook kunsmatig soos ’n parkfontein

    se waters oopgeruis tot skone val

    van ewewig en klank en kleur en lyn.

    Die druppels het geblink soos blou kristal

    waarin die lig van Griek en die Romein

    se nuut-herrese son uit verre dal

    ’n rooi deur die versproeide woorde skyn.

    Veel woorde het hy so gestort – al was

    dit soms met waan, weet ek dit moes gebeur

    omdat my denke ook verskole hou

    onder die vorm, deursigtig soms soos glas,

    onder die wind-bewoë waters deur

    altyd die sku gestalte van ’n vrou.

    Verlange

    Hoe langsaam is die aande sonder jou

    as alles in die stiltes doelloos lyk

    en ek uiteindelik ’n boek oopvou

    maar ure na dieselfde woorde kyk,

    totdat ek weet wanneer ek so alleen

    verskeie beelde uit myself opwek,

    voer siel en siel bo alle skeiding heen

    tog soms ’n woordelose tweegesprek.

    Van al my vriende in die stad verskuil

    en hulle samekomste luid en leeg,

    word ek ’n eensaam afgeslote kuil

    wat net in dieptes van myself beweeg,

    want jou afwesigheid is meer vir my

    as al die vreugdes

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1