Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Donderslag
Donderslag
Donderslag
Ebook647 pages9 hours

Donderslag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wanneer Sean Courtney, die held van Witwatersrand, van ’n lang jagtog terugkom, loop hy hom vas in die geweld van die Anglo-Boereoorlog, sy broer Garrick se afgunstige haat, ’n volgende geslag kinders wat moeilikheid vir die Courtney-familie voorspel, en – bowenal – Ruth Friedman.
Ruth slaan sy voete skoon onder hom uit. Vurig, jonk en… ’n ander man se vrou. Boonop raak haar man Sean se boesemvriend en beskermling in die oorlog! Die magte van die noodlot voer Sean telkens van hoop tot wanhoop, na oomblikke van glorie en oomblikke van verslaentheid. Deur elke uitdaging dra sy selfgeloof, sy krag en sy ysere wil hom.
Daar is die plaas wat hy probeer vestig; sy seun Dirk se kommerwekkende swakhede; sy wedywering met sy voormalige swaer en nou Boeregeneraal Jan Paulus le Roux; die komplekse verhouding met sy buite-egtelike seun, Michael; sy broer Garrick wat hom links en regs beduiwel; die weerspannige Ruth; en Storm, die dogter wat in hulle ongeoorloofde passie verwek is…
Met ’n paar perfek geplaaste karakters, voer Wilbur Smith die leser meesterlik tot midde-in die Anglo-Boereoorlog se aksie, van beroemde veldslae tot tipiese kleiner skermutselings. Teen die agtergrond van hierdie groot stryd tussen volke, voer Sean ’n persoonlike stryd om oorlewing, om ’n toekoms vir hom en sy geliefdes te bou, en om geluk te vind saam met die vrou vir wie hy lief is.
LanguageAfrikaans
PublisherAdamastor
Release dateNov 1, 2015
ISBN9780795707551
Donderslag
Author

Wilbur Smith

Described by Stephen King as “the best historical novelist,” WILBUR SMITH made his debut in 1964 with When the Lion Feeds and has since sold more than 125 million copies of his books worldwide and been translated into twenty-six different languages. Born in Central Africa in 1933, he now lives in London.

Related to Donderslag

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Donderslag

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Donderslag - Wilbur Smith

    Hierdie boek is vir my vrou

    MOKHINISO

    die beste ding wat ooit met my gebeur het

    1

    Vier jaar van rondry in die gramadoelas waar daar geen paaie is nie, het die waens verniel. ’n Hele paar van die wielspeke en disselbome is met rofweg gekapte hout vervang, die seile is al soveel keer gelap dat die oorspronklike materiaal skaars te siene is en die spanne is uitgedun van agttien tot tien osse elk, deur roofdiere en siekte afgemaai. Maar op hierdie gehawende waens is vyfhonderd olifante se tande; tien ton ivoor – die opbrengs van Sean Courtney se geweer – wat hy vir bykans vyftienduisend goue ponde gaan omruil sodra hy in Pretoria aankom.

    Sean is weer ’n ryk man. Sy klere is gevlek en hang los aan sy lyf, sommerso wild en wakker gelap; sy stewels se bokante is byna deurgeslyt en die sole met rou buffelleer reggemaak; ’n groot ongeknipte baard hang op sy bors en sy bos swart hare krul tot in sy nek, waar dit met ’n stomp skêr net bo sy baadjiekraag happerig afgesny is. Maar ondanks sy voorkoms is hy ryk – in ivoor, asook goud wat vir hom in Volkskas Bank in Pretoria se kluise gehou word.

    Op ’n hoogte langs die pad sit hy op sy perd en hou sy waens se rustige ploetergang dop. Dis nou tyd vir die plaas, dink hy ingenome. Hy is sewe-en-dertig jaar oud, nie meer ’n jong man nie, en dis tyd om die plaas te koop. Hy weet watter een hy wil hê en hy weet presies waar hy die opstal gaan bou – naby die platorand, sodat hy saans op die wye stoep oor die vlakte kan sit en uittuur na die Tugela toe in die blou verte.

    Môre vroeg is ons in Pretoria. Die stem langs hom onderbreek sy dagdroom. Sean versit in die saal en kyk af na die Zoeloe wat langs die perd hurk.

    Dit was ’n goeie jag, Mbejane.

    Nkosi, ons het baie olifante geskiet. Mbejane knik en Sean merk vir die eerste keer die silwer in sy hare. Ook nie meer ’n jong man nie.

    En baie ver gereis, gaan Sean voort.

    Mbejane knik ernstig, hy stem saam.

    ’n Man raak moeg van die rondtrekkery, sug Sean hardop. Daar kom ’n tyd dat jy daarna verlang om twee nagte op dieselfde plek te slaap.

    En om jou vroue te hoor sing terwyl hulle in die landerye werk, vat Mbejane dit verder. En om jou vee teen sononder in die kraal in te sien kom, met jou seuns wat hulle aanjaag.

    Daai tyd het vir ons albei gekom, my vriend. Ons gaan terug Ladyburg toe.

    Toe Mbejane opstaan, ratel sy spiese teen sy skild van rou leer, spiere speel onder die swart satyn van sy vel en hy kyk glimlaggend op na Sean. Dis die ene wit tande, stralend, daardie glimlag. Sean moet meedoen en hulle grinnik vir mekaar soos twee klein seuntjies wat iets stouts aangevang het.

    As ons die osse druk, kan ons vannag nog in Pretoria wees, nkosi.

    Kom ons probeer, moedig Sean hom aan en laat sy perd teen die helling af loop om by die optog aan te sluit.

    Terwyl die waens stadig in die wit gloed van die oggend aangesukkel kom, kom daar ’n beroering aan die agterkant en dit versprei met die ry langs – die honde blaf en die bediendes moedig die ruiter aan wat by hulle verbyjaag na die optog se voorpunt toe. Hy lê vorentoe in die saal, spoor die ponie met sy elmboë en knieë aan. Sy hoed hang aan die riempie om sy nek en sy swart hare waai in die wind.

    Daai kleintjie brul harder as die leeu wat sy pa is, brom Mbejane, maar sy uitdrukking is liefdevol terwyl hy kyk hoe die ruiter by die voorste wa kom en die ponie op sy agterpote intrek.

    Hy verfoes ook elke perd wat hy ry se bek. Sean se stemtoon is so bars soos Mbejane s’n, maar daar is dieselfde liefdevolle uitdrukking in sy oë toe hy kyk hoe sy seun ’n springbok se bruingestreepte lyf van die saalknop af lossny en in die pad langs die wa laat val. Twee van die wadrywers haas hulle om dit op te tel, en Dirk Courtney skop sy ponie in die lies en galop tot waar Sean en Mbejane langs die pad wag.

    Net een? vra Sean toe Dirk die ponie intrek en omdraai om langs hulle in te val.

    O nee, ek het drie gekry – drie met drie skote. Die manne bring die ander. Ewe rustig, asof dit doodnatuurlik is dat hy op nege jaar vleis vir die hele geselskap voorsien. Dirk sit gemaklik in die saal, die teuels in een hand en die ander hand op sy heup, ’n weerspieëling van sy pa se liggaamshouding.

    Terwyl hy gluur om sy trots en liefde te verberg, bekyk Sean sy seun onderlangs. Sy gesig is byna onbetaamlik mooi – die onskuldige oë en die vlekkelose vel hoort eerder by ’n meisie. Die son pik dieprooi glanspunte uit die donker bos krulhare, sy oë is wydgeplaas en omring deur lang wimpers, met sy voorkop se delikate lyn daarbo. Sy oë is smaraggroen en sy vel goud en daar is robyne in sy hare – ’n gesig wat deur ’n juwelier geskep is. Dan kyk Sean na die mond en ervaar ’n tikkie ongemak. Die mond is te groot, die lippe te wyd en sag. Die vorm is verkeerd – asof dit op die punt is om nukkerig of selfbejammerend te wees.

    Ons maak vandag ’n voldag se trek, Dirk. G’n uitspan voordat ons in Pretoria is nie. Ry terug en gaan sê vir die drywers.

    Stuur vir Mbejane. Hy doen niks nie.

    Ek het gesê jy moet gaan.

    Agge nee, Pa! Ek het al vandag genoeg gedoen.

    Gaan, magtig! raas Sean onnodig heftig.

    Ek het dan nou net eers teruggekom, dis nie regverdig dat … begin Dirk, maar Sean laat hom nie klaarmaak nie.

    Elke keer as ek jou iets vra, praat jy teë. Maak soos ek sê. Hulle kyk mekaar in die oë; Sean aan ’t gluur en Dirk verwytend, nukkerig. Sean herken die uitdrukking en sug. Dit gaan seker weer wil teen wil wees – een van die konfrontasies wat al hoe meer gereeld plaasvind. Sal hierdie een soos die ander eindig? Moet hy die neerlaag aanvaar en weer die sambok inlê? Wanneer was die laaste keer – twee weke gelede? – toe hy vir Dirk aangespreek het oor ’n kleinigheid, iets oor hoe hy na sy ponie kyk. Dirk het dikbek gestaan totdat Sean klaar gepraat het, en toe sommer weggeloop tussen die waens in. Sean het nie verder daaraan gedink nie, hy was besig om met Mbejane te praat toe daar skielik ’n tjank van pyn uit die laer opgeklink het en hy hom soontoe moes haas.

    Dirk het in die middel van die kring waens gestaan. Sy gesig was rooi van woede, en voor sy voete het een van die babahondjies se klein lyfie gelê en ruk terwyl hy sulke fyn tjankies gee, sy ribbes gebreek en ingeduik van Dirk se skop.

    In blinde woede het Sean vir Dirk bygedam, maar selfs in sy ontsteltenis het hy ’n stuk tou gebruik en nie die geniepsige seekoeisambok met sy dun punt nie. Toe het hy Dirk na sy wa toe gestuur.

    Teen middagete het hy hom laat roep en op ’n verskoning aangedring. Sonder om te huil, met sy lippe en kakebeen styf gespan, het Dirk geweier.

    Sean het hom weer geslaan, met die tou, maar hierdie keer gevoelloos, nie uit woede nie. Dirk het nie ingegee nie.

    Uiteindelik was Sean so desperaat dat hy die sambok ingelê het. Vir tien swiepende houe wat elkeen met ’n venynige klap oor sy boude geëindig het, het Dirk stil gelê onder die sweep. Sy lyf het met elke hou effens geruk, maar hy het geen geluid gemaak nie, en Sean het hom geslaan met ’n naar gevoel op sy eie maag en die sweet van skaamte en skuld wat in sy oë loop. Hy het die sambok meganies geswaai met sy vingers om die handvatsel geklem, sy mond vol slymerige spoeg en selfhaat.

    Toe Dirk uiteindelik skree, het Sean die sambok laat val, teruggesteier teen die wa se kant en uitasem daar gestaan en hyg terwyl hy moes veg teen die naarheid wat suur in sy keel opstoot.

    Dirk het weer en weer geskree, en Sean het hom gaan omhels en teen sy bors vasgedruk.

    Ek’s jammer, Pa! Ek is jammer. Ek sal dit nooit weer doen nie, ek belowe. Ek is lief vir Pa, die liefste van alles en ek sal dit nooit weer doen nie, het Dirk gehuil en hulle het aan mekaar vasgeklou.

    Vir dae daarna het nie een van die bediendes vir Sean geglimlag of met hom gepraat buiten om bevele te erken nie. Want daar is nie een van hulle, insluitend Mbejane, wat nie sou steel en verneuk en lieg om te verseker dat Dirk Courtney als kry wat hy wil hê, presies wanneer hy dit wil hê nie. Hulle kan enigiemand haat wat hom dit verbied, selfs vir Sean.

    Dit was twee weke gelede. En nou, dink Sean terwyl hy na daardie lelike mond kyk, gaan ons die hele ding weer oordoen?

    Dan glimlag Dirk skielik. Dis een van daardie bui-veranderinge wat Sean nogal verwar, want as Dirk glimlag, kom sy mond reg. Dis onweerstaanbaar.

    Ek sal dit doen, Pa. Opgewek, asof hy dit vrywillig doen, spoor hy die ponie aan en ry terug na die waens toe.

    Parmantige klein klits! brom Sean ter wille van Mbejane, maar in die stilligheid wonder hy oor sy eie skuld aan die toedrag van sake. Hy het die seun grootgemaak met ’n wa as sy tuiste en die veld as sy skool, tussen ’n klomp volwasse mans oor wie hy, as sy onweerlegbare geboortereg, gesag het.

    Sedert sy ma vyf jaar gelede dood is, het hy nie die sagte invloed van ’n vrou geken nie. Geen wonder hy is so wild nie.

    Sean probeer om nie aan Dirk se ma te dink nie. Daar is ook skuld; skuld waarmee hy eers met die verloop van jare vrede gemaak het. Nou is sy dood, daar is niks te wen deur homself te martel nie. Die donkerte dreig om sy goeie luim van ’n paar minute gelede te verdring en hy stoot dit van hom af weg, raps die perd se nek met die los stuk teuels en stuur die dier met die pad langs – suidwaarts na die lae lyn heuwels op die horison; suid na Pretoria.

    Dirk is ’n wildewragtig. Maar as ons eers in Ladyburg is, sal hy regkom, troos Sean homself. Hulle sal sy nonsens uitboender in die skool, en ek sal maniere inboender by die huis. Nee, hy sal regkom.

    Daardie aand, 3 Desember 1899, lei Sean sy waens teen die heuwels af en slaan langs die Apiesrivier kamp op. Nadat hulle geëet het, stuur Sean vir Dirk bed toe in sy wa. Dan klim hy die heuwels alleen uit en kyk terug oor die landskap na die noorde toe. Dis silwergrys in die maanlig, strek stil en onmeetbaar die verte in. Dit was die ou lewe. Meteens draai hy sy rug daarop en loop af na die stadsligte toe wat in die vallei onder hom wink.

    2

    Daar is die oggend weer moeilikheid toe hy vir Dirk aansê om by die waens te bly, en Sean is befoeterd teen die tyd dat hy die brug oor die Apiesrivier oorsteek stad toe. Langs hom draf Mbejane om by die perd by te hou.

    Diep ingedagte draai Sean in Kerkstraat in, voordat hy die ongewone bedrywigheid om hom raaksien. ’n Groep ruiters dwing hom om sy perd na die kant van die straat toe te stuur. Sean kyk belangstellend terwyl hulle verbyry.

    Burgers in ’n bont mengelmoes van tuisgemaakte en gekoopte klere ry in ’n formasie wat ’n mens seker met ’n bietjie verbeelding sou kon aansien vir ’n kolonne van viere. Maar wat Sean se nuuskierigheid prikkel, is hoe baie van hulle daar is … goeie hemel! Daar moet minstens tweeduisend wees, van seuns tot grysbaarde, elkeen belaai met bandeliere en ammunisie, en langs elke linkerknie steek ’n Mauser-agterlaaier se kolf uit sy skede. Met kombersrolle aan die saals gebind en klaterende waterbottels en kookgerei, kom hulle verby. Een ding is duidelik – dis ’n oorlogskommando dié.

    Van die sypaadjie af roep vroue en ’n paar mans.

    Als van die beste, hoor! Skiet raak!

    Kom gou terug.

    Die burgers lag en roep antwoorde uit. Sean buk af na ’n meisie toe wat langs sy perd staan. Sy wuif met ’n rooi serp en glimlag, maar Sean merk dat haar wimpers vol trane is, soos dou op grashalms.

    Waarheen gaan hulle? Sean moet hard praat om bo die rumoer gehoor te word.

    Sy kyk op en die beweging laat ’n traan losglip; dit loop teen haar wang af, drup van haar ken af en maak ’n nat kolletjie op haar bloes.

    Na die trein toe, natuurlik.

    Die trein? Watter trein?

    Kyk, hier kom die kanonne.

    Verbyster kyk Sean na die kanonne wat verbyrammel, twee van hulle. Artilleriste in blou uniforms met goue omboorsel sit styf en regop op die waens, en die perde beur vorentoe om die kanonne se geweldige gewig te trek. Hoë wiele wat met staal beslaan is en glinsterende brons in die sluitstukke steek af teen die kanonlope se somber grys.

    Wel, slaat my dood! sê Sean. Dan draai hy opgewerk om na die meisie toe en gryp haar aan die skouer. Waarheen gaan hulle? Waarheen?

    Meneer! Sy glip uit sy greep uit.

    Asseblief, ek is jammer, sê my tog net, roep Sean agter haar aan toe sy in die skare verdwyn.

    Hy sit nog ’n minuut of wat verward, dan begin sy brein weer werk.

    Dit is dus oorlog. Maar waar en teen wie?

    Geen stamopstand sal tog die mobilisering van soveel man regverdig nie. Daardie kanonne is die modernste wapens wat Sean hom kan indink.

    Nee, dis die witman se oorlog.

    Teen die Oranje-Vrystaat? Onmoontlik, hulle is broeders.

    Dan teen die Britte? Die gedagte skok hom. En tog – en tog, vyf jaar gelede was daar sulke gerugte. Dit het voorheen gebeur. Hy onthou 1895, en die Jameson-inval. Enigiets kon gebeur het in die jare wat hy van die beskawing afgesny was – en nou het hy hom doodonskuldig hierin kom vasloop.

    Hy neem vinnig sy posisie in oënskou. Hy is Brits. Gebore in Natal onder die Union Jack. Hy lyk soos ’n burger, praat soos een, ry soos een; hy is in Afrika gebore en het dit nooit verlaat nie – maar tegnies gesproke is hy ewe veel ’n Engelsman as iemand wat in die hartjie van Londen gebore is.

    Sê nou net dis ’n oorlog tussen die Republiek en Brittanje, en sê nou die Boere vang hom – wat sal hulle dan met hom doen?

    Beslag lê op sy waens en ivoor, dis vir seker. Hom in die tronk gooi, of dalk as spioen skiet!

    Ek moet spore maak, prewel hy, en sê dan aan Mbejane: Komaan, terug na die waens toe, nou dadelik. Voordat hy nog by die brug is, verander hy egter van gedagte. Hy moet eers seker maak wat aangaan. Daar is net een persoon na wie toe hy kan gaan, en hy sal die kans moet waag.

    Mbejane, gaan terug kamp toe. Kry vir nkosana Dirk en hou hom daar, selfs al moet jy hom vasbind. Moenie met enigiemand praat nie en moenie dat Dirk met enigiemand praat nie, jou lewe hang daarvan af. Het jy dit so?

    Ek verstaan, nkosi.

    En toe begin Sean, op die oog af ’n burger nes al die ander, stadig sy weg baan deur die skare en die drukte van waens na ’n algemene handelaar toe aan die bopunt van die stad, naby die stasie.

    Sedert Sean dit laas gesien het, is die bord bo die ingang nuutgeverf in rooi en goud: I. Goldberg. Invoer en Uitvoer. Handelaar in Mynmasjinerie. Groothandel en Kleinhandel. Koopagent: goud, edelstene, velle, ivoor en natuurlike produkte.

    Ondanks die oorlog, of dalk juis daarom, is meneer Goldberg se plek baie bedrywig. Die winkel is volgepak en Sean dwaal ongemerk tussen die klante deur, stilweg op soek na die eienaar.

    Hy kry hom waar hy ’n sak koffiebone verkoop aan ’n man wat kennelik sy bedenkinge oor die gehalte het. Die gesprek oor die gehalte van meneer Goldberg se koffiebone teenoor dié van sy mededinger oorkant die straat raak later gekompliseerd en tegnies.

    Sean leun teen ’n rak vol handelsware, stop sy pyp en kry dit aan die gang terwyl hy wag en vir meneer Goldberg in aksie dophou. Die man moes ’n advokaat gewees het, sy argument is genoeg om eers vir Sean en uiteindelik ook die klant te oortuig. Laasgenoemde betaal, tel die sak op sy skouer en loop brom-brom by die winkel uit terwyl meneer Goldberg hom natgesweet en rooi in die gesig agternakyk, ingenome met sy prestasie.

    Jy’t niks gewig verloor nie, Izzy, groet Sean hom.

    Goldberg kyk oor sy goudraambrilletjie na hom, begin onseker glimlag en dan herken hy vir Sean. Hy knip sy oë van skok, skud sy kop so vinnig dat sy kieste dril wanneer hy vir Sean wys om agter hom aan te kom na die kantoor toe. Sean volg hom.

    Is jy mal, meneer Courtney? Goldberg wag hom ontstoke in. As hulle jou vang …

    Luister, Izzy, ek het gisteraand eers hier aangekom. Ek het vier jaar laas met ’n wit man gepraat. Wat de hel gaan hier aan?

    Jy’t nie gehoor nie?

    Nee, magtig, ek het nie.

    Dis oorlog, meneer Courtney.

    Dit kan ek sien. Maar waar? Teen wie?

    Op al die grense – Natal, die Kaap.

    Teen?

    Die Britse Ryk. Goldberg skud sy kop asof hy sy eie woorde nie kan glo nie. Ons het so wragtig die hele Britse Ryk aangevat.

    Ons? vra Sean skerp.

    Die Transvaalse Republiek en die Oranje-Vrystaat. Ons het al klaar groot oorwinnings behaal – Ladysmith word beleër, Kimberley, Mafeking …

    En jy is een van die ‘ons’ waarvan jy praat?

    Ek is hier gebore, in Pretoria. Ek is ’n burger.

    En gaan jy my verklap?

    Natuurlik nie. Jy’s al jare lank ’n goeie klant van my.

    Dankie, Izzy. Kyk, ek moet hier wegkom so gou ek kan.

    Dit sal wys wees.

    Wat van my geld in Volkskas, kan ek dit daar uitkry?

    Izzy skud sy kop meewarig. Hulle het alle vyande se rekeninge gevries.

    Verdomp! Godsverdomme! vloek Sean bitter, en sê dan: Izzy, ek het twintig waens en tien ton ivoor net hier buite die dorp – stel jy belang?

    Hoeveel?

    Tienduisend vir die hele spul: osse, waens, ivoor – als.

    Dit sal onpatrioties wees, meneer Courtney, besluit Goldberg, blykbaar teësinnig, om met die vyand handel te dryf. In elk geval, ek het net jou woord dat dit tien ton is.

    Hel, Izzy, ek is nie die Britse leër nie – daai hoop is maklik twintigduisend pond werd.

    Jy wil hê ek moet dit sommerso koop, sonder dat ek dit eens gesien het, voetstoots? Nou ja, dan gee ek jou vierduisend, in goud.

    Sewe.

    Vier-en-’n-half.

    Jou blikskottel.

    Vier-en-’n-half.

    Nee, te hel met jou. Vyf! sis Sean.

    Vyf?

    Vyf!

    Nou goed dan, vyf.

    Dankie, Izzy.

    Plesier, meneer Courtney.

    Sean verduidelik haastig waar sy laer staan.

    Jy kan iemand stuur om dit te gaan haal. Sodra dit donker is, vat ek die pad na die Natalgrens toe.

    Bly van die paaie af en vermy die spoorlyn. Joubert het dertigduisend man in Noord-Natal, rondom Ladysmith en met die Tugela langs. Goldberg gaan na die kluis toe en haal vyf klein seilsakkies daaruit. Wil jy tel?

    Jy’t my vertrou, ek vertrou jou. Tot siens, Izzy. Sean laat val die swaar sakkies voor by sy hemp in en laat hulle teen sy lyfband sit.

    Alles van die beste, meneer Courtney.

    3

    Teen die tyd dat Sean sy bediendes klaar betaal het, is daar twee ure se daglig oor. Hy stoot die klein hopie ponde oor die wa se afgeslane agterklap na die laaste man toe en gaan dan deur die komplekse afskeidsritueel – die bladskud en handeklap, die herhaling van formele frases – dan staan hy uit sy stoel uit op en kyk in die kring rond. Hulle hurk geduldig, hou hom met strak gesigte dop, maar tog sien hy daarin die weerspieëling van sy eie hartseer oor die afskeid. Dis manne met wie hy saamgeleef het en baie swaar tye deurgemaak het. Dis nie maklik om hulle nou te verlaat nie.

    Dis verby, sê hy.

    Yebo, dis verby, stem hulle in ’n koor saam, maar niemand roer nie.

    Gaan nou, magtig.

    Stadig staan een van hulle op en vat sy bondeltjie besittings bymekaar: ’n karos, twee assegaaie, ’n ou hemp wat Sean vir hom gegee het. Hy balanseer die bondel op sy kop en kyk na Sean. Nkosi! sê hy en lig sy vuis in ’n saluut.

    Nonga, antwoord Sean. Die man draai weg en loop uit die laer uit.

    Nkosi!

    Hlubi.

    Nkosi!

    Zama.

    Dis ’n ererol van lojaliteit – Sean sê hulle name vir die laaste keer, en een-een verlaat hulle die laer. Sean staan en kyk hoe hulle in die skemer wegloop. Nie een van hulle kyk om nie en geen twee van hulle loop saam nie. Dis oor en verby.

    Afgemat draai Sean terug na die laer toe. Die perde is gereed – drie met saals, twee pakperde.

    Ons eet eers, Mbejane.

    Die kos is gereed, nkosi. Hlubi het gekook voordat hy weg is.

    Komaan, Dirk. Aandete.

    Tydens die maal is Dirk al een wat praat. Hy klets vrolik, opgewonde oor hierdie nuwe avontuur, terwyl Sean en Mbejane Hlubi se bredie instop sonder om dit eens te proe.

    Iewers in die toenemende donker huil ’n jakkals – ’n eensame klank op die aandwind, nommerpas vir ’n mens se gemoedstemming as jy jou vriende en ’n fortuin verloor het.

    Dis tyd. Sean wikkel in sy skaapvelbaadjie in en knoop hom toe terwyl hy die vuur toeskop, maar skielik steek hy vas en staan met sy kop skuins soos hy luister. Daar is ’n nuwe geluid op die wind.

    Perde, bevestig Mbejane.

    Gou, Mbejane, my geweer. Die Zoeloe spring op, hol na die perde toe en trek Sean se geweer uit die skede uit.

    Uit die lig uit en bly stil, beveel Sean terwyl hy vir Dirk in die skadu’s tussen die waens in boender. Hy gryp die geweer by Mbejane, werk ’n patroon in die sluitstuk in en die drie van hulle sit gebukkend en wag.

    Klippies knars en skuif onder hoewe, en daar is die sagte geluid van ’n tak wat uit die pad gestoot word.

    Net een, fluister Mbejane. ’n Pakperd runnik sag en word dadelik uit die donker beantwoord. Dan stilte, ’n lang stilte wat oplaas deur die gerinkel van saaltuig verbreek word toe die ruiter afklim.

    Dan sien Sean hom: ’n skraal figuur wat langsaam uit die donker te voorskyn kom. Hy hou sy geweer op die aankomeling gerig. Daar is iets buitengewoon aan die manier waarop die vreemdeling beweeg – grasieus, maar met ’n swaai in die heupe, lang bene soos ’n vulletjie – en Sean weet hy is jonk … baie jonk, te oordeel aan sy lengte.

    Verlig kom Sean orent en hou die figuur dop wat onseker by die vuur vassteek en in die donkerte in tuur. Die seun dra ’n mus wat tot oor sy ore kom en sy baadjie is van ’n duur, heuningkleurige seemsleer. Sy rybroek is pragtig gesny en pas styf om sy boude. Sean besluit sy agterstewe is te groot en uit proporsie met die klein voete in gepoleerde Engelse jagstewels. ’n Regte laventelhaan, en daar is afkeer in Sean se stem toe hy uitroep: Bly net waar jy is, ou maat. Wat maak jy hier?

    Die effek van Sean se bevel is onverwags. Die seun spring, die blink stewels se sole lig maklik ses duim van die grond af en toe hy weer land, kyk hy na Sean.

    Praat jong, ek het nie heelnag tyd nie.

    Die seun maak sy mond oop, en weer toe, lek sy lippe en praat: Ek het gehoor jy gaan Natal toe. Die stem is laag en hees.

    Wie’t jou dit vertel?

    My oom.

    Wie’s jou oom? vra Sean.

    Isaac Goldberg.

    Sean probeer die nuwe inligting inneem en tussendeur bekyk hy die gesig voor hom. Skoongeskeer, bleek, groot donker oë en ’n mond gemaak vir lag wat nou bangerig pruil.

    En as dit so is? vra Sean.

    Ek wil saamgaan.

    Vergeet daarvan. Klim terug op jou perd en gaan huis toe.

    Ek sal betaal – ek sal jou goed betaal.

    Is dit die stem of liggaamshouding? wonder Sean. Daar is iets baie eienaardig omtrent die klong. Hy staan met ’n plat leerbeursie wat hy in albei hande voor sy heupe hou – ’n verdedigende houding, asof hy iets beskerm. Wat?

    En skielik weet Sean wat dit is.

    Haal af jou mus, beveel hy.

    Nee.

    Haal af.

    Die seun huiwer nog ’n oomblik … dan, in ’n byna opstandige gebaar, ruk hy die mus af en twee dik vlegsels, glinsterend in die vuurlig, val byna tot by sy middel uit en verander hom in ’n oogwink van ’n opgeskote seun in ’n asemrowende vrou.

    Hoewel hy dit geraai het, is Sean onvoorbereid vir die skok van hierdie onthulling. Dis nie soseer haar skoonheid nie, eerder haar uitrusting wat hom verbyster. Nog nooit in sy hele lewe het Sean ’n vrou in ’n langbroek gesien nie, en nou is sy asem skoon weggeslaan. ’n Langbroek, onse genade! Sy kan omtrent net sowel kaal wees van die middel af ondertoe – selfs dít sou minder onbetaamlik wees.

    Tweehonderd pond … Sy kom nader, bied die beursie aan. Met elke tree span die broek se materiaal oor haar dye en Sean dwing sy skuldige oë op na haar gesig toe.

    Hou jou geld, meisie.

    Haar oë is grys, rookgrys. Tweehonderd nou, en nog soveel as ons in Natal aankom.

    Ek stel nie belang nie. Maar hy stel tog belang, daardie sagte lippe het begin bewe.

    Hoeveel dan? Maak jou prys.

    Kyk, meisie, ek lei nie ’n bliksemse optog nie. Daar is al klaar drie van ons, en een is ’n kind. Daar lê ’n harde rit voor ons, baie myle, en derduisende Boere tussenin. Ons kanse is al klaar skraal genoeg. Nog iemand in die geselskap, en dit nogal ’n vrou, maak dit so te sê onmoontlik. Ek wil nie jou geld hê nie, al wat ek wil hê is om my seun in veiligheid te bring. Gaan huis toe en wag tot die oorlog oor is – dit sal nie lank vat nie.

    Ek gaan Natal toe.

    Nou goed dan. Doen wat jy wil … maar nie saam met ons nie. Sean kan homself nie langer vertrou om daardie grys oë se aantrekkingskrag te weerstaan nie, en hy wend hom tot Mbejane. Perde, snou hy en loop van haar af weg. Sy staan en hou hom stil dop terwyl hulle opklim, maar sy stribbel nie teë nie. Van waar Sean uit die saal uit op haar afkyk, lyk sy baie klein en alleen.

    Ek is jammer, sê hy bars. Wees nou verstandig en gaan huis toe. Haastig draai hy om en sit op ’n draffie af, die nag in.

    Die hele nag ry hulle, ooswaarts deur die oop, maanverligte veld. Eenkeer ry hulle by ’n donker opstal verby en ’n hond blaf. Hulle mik ’n ruk lank weg en draai eers later weer ooswaarts, sorg dat die Suiderkruis aan hulle regterkant bly. Toe Dirk in die saal aan die slaap raak en omkantel, vang Sean hom voor hy val, trek hom oor op sy skoot en hou hom vir die res van die nag vas.

    Voor sonop bereik hulle ’n klomp bosse langs ’n stroom, kniehalter die perde en slaan kamp op. Mbejane kry die ketel oor ’n klein, goedgeskermde vuur aan die kook en Sean rol vir Dirk, nog vas aan die slaap, in sy komberse toe. Net toe kom die meisie in die kamp ingery en spring van haar perd af.

    Ek het julle twee keer amper verloor. Sy lag en haal die hoed af. Ek het my yskoud geskrik. Sy skud die glansende vlegsels los. Koffie! O, wonderlik, ek’s vrek van die honger.

    Dreigend kom Sean op die been en gluur haar met gebalde vuiste aan, maar sy steur haar aan niks, kniehalter eers haar perd voordat sy ag slaan op Sean.

    Vergeet maar van goeie maniere, sit gerus, sê sy, en sy glimlag so onnutsig vir hom, boots sy houding so presies na met haar hande op daardie verloklike heupe dat Sean eenvoudig moet glimlag. Hy probeer dit keer, want hy weet dis ’n teken van oorgawe, maar sy poging is so onsuksesvol dat sy vrolik lag.

    Hoe’s jou kookvernuf? vra hy.

    So-so.

    Jy beter iets daaraan doen, want van nou af werk jy vir die saamry.

    Later, toe hy haar kos vir die eerste keer proe, erken hy teësinnig: Nie sleg nie, onder die omstandighede. En hy mop die oorskiet met ’n broodkorsie op.

    Moet dit net nie oordoen nie. Sy bedank hom, sleep haar kombersrol in die skaduwee in, rol dit oop, trek haar stewels uit, wikkel haar tone en gaan lê met ’n behaaglike sug.

    Sean gaan maak sy eie bed, doelbewus só dat hy haar ongesiens kan dophou onderdeur die hoed wat op sy gesig lê.

    Hy word teen die middag wakker en sien sy slaap met een wang in haar oop hand, haar wimpers inmekaar gevleg en ’n paar los, donker lokke oor haar gesig, wat in die stil hitte van die dag klam van die sweet en bloesend is. Hy kyk vir ’n lang tyd na haar, voordat hy saggies opstaan en oorstap na sy saalsakke toe. Toe hy afstap water toe, vat hy sy plat seil-wassakkie saam met hom, die orige broek wat nie te veel gelap of gevlek is nie, en ’n skoon syhemp.

    ’n Ruk later sit hy op ’n klip langs die water, kaal en skoongeskrop, en bekyk hy sy gesig in die gepoleerde staalspieël.

    ’n Groot werk. Hy sug en begin knip aan die groot bos baard wat drie jaar laas ’n skêr gesien het.

    Teen sononder, selfbewus soos ’n meisie in haar eerste partytjierok, loop Sean terug na die kamp toe. Hulle is almal wakker. Dirk en die meisie sit saam op haar kombers, so verdiep in hulle gesprek dat nie een van hulle hom sien aankom nie.

    Mbejane is besig by die vuur. Hy steier agtertoe en bekyk Sean van kop tot tone sonder om verdere emosie te wys.

    Ons beter eet en aan die gang kom.

    Dirk en die meisie kyk op. Haar oë vernou eers, raak dan weer wyer, verwonderd.

    Dirk gaap hom aan, en waag dan: Pa se baard is heel snaaks. En die meisie probeer met alle mag haar lag inhou.

    Kry jy jou komberse opgerol, ou seun.

    Sean probeer Dirk van die onderwerp af kry, maar soos ’n bulhond bly Dirk vasbyt. En hoekom dra Pa Pa se beste klere?

    4

    Hulle drie ry langs mekaar in die donker, Dirk in die middel, terwyl Mbejane agterna kom met die pakperde. Die landskap styg en daal onder hulle soos die golwe van ’n eindelose see, en die manier waarop die gras in die nagwind beweeg, laat dit nog meer na branders lyk. Die koppies waarby hulle verbyry, is eilande in die see, en die jakkalse se gehuil die stemme van seevoëls.

    Hou ons nie te ver oos nie? Die meisie verbreek die stilte, haar stem meng met die wind se sagte geruis.

    Met goeie rede, antwoord Sean. Ek wil die Drakensberg se stert oorsteek ver van die Boeremag af wat by Ladysmith en die spoorlyn is. En hy kyk bo-oor Dirk se kop na haar. Sy ry met haar gesig opgehef na die hemel.

    Ken jy die sterre? vra hy.

    Bietjie.

    Ek ook. Ek ken hulle almal, sê Dirk en wys na die suide toe. Dis die Suiderkruis met die aanwysers, en dis Orion met sy swaard in sy gordel, en daar loop die Melkweg.

    Vertel my van ’n paar ander, versoek die meisie.

    Die res is sommer gewoon, hulle tel nie. Hulle het nie eens name nie.

    O, maar hulle het, en die meeste van hulle het ’n storie ook.

    Daar is ’n pouse. Dirk is nou in ’n moeilike posisie: hy moet óf erken hy weet nie – en Dirk se trots laat hom dit nie toe nie – óf hy moet die kans laat verbygaan om ’n paar lekker stories te hoor. Al is sy trots ook hoe groot, sy lus na stories is groter.

    Vertel my ’n paar.

    Jy sien daardie klompie daar onder daardie helder een? Hulle is die Sewe Susters. Wel, eens op ’n tyd …

    Binne minute is Dirk heel meegevoer. Hierdie stories is selfs beter as Mbejane s’n, seker omdat hulle nuut is, terwyl hy Mbejane se hele verhaleskat uit sy kop uit kan opsê. Soos ’n valk kom hy neer op elke ongeloofbare wending.

    Maar hoekom skiet hulle nie sommer die ou heks nie?

    In daardie dae het hulle nie gewere gehad nie.

    Hulle kon ’n pyl en boog gebruik het.

    Jy kan nie ’n heks met ’n pyl en boog doodmaak nie. Die pyl gaan net – psst – dwarsdeur haar sonder om haar seer te maak.

    So waar as vet! Dis regtig indrukwekkend, maar voordat hy dit aanvaar, vind Dirk dit nodig om ’n kundige se raad in te roep. Hy vra vir Mbejane, vertaal die probleem in Zoeloe. Toe hy hoor dat Mbejane met die meisie saamstem, is Dirk oortuig, want Mbejane is welbekend vir sy kennis van die bonatuurlike.

    Daardie nag raak Dirk nie in die saal aan die slaap nie. Toe hulle voordag kamp, is die meisie se stem skoon hees gepraat, maar sy het Dirk geheel en al verower en vir Sean amper ook.

    Die hele nag lank, terwyl hy na haar stem luister en die sagte laggies waarmee sy die stories besprinkel, voel Sean hoedat die saad wat met hul eerste ontmoeting geplant is in sy binneste ontkiem en begin groei. Hy begeer die vrou só dat hy skoon die kluts kwytraak in haar teenwoordigheid. Verskeie kere in die nag probeer hy aan die gesprek deelneem, maar telkens maak Dirk sy bydraes minagtend af, gretig om weer na die meisie te luister. Teen die oggend se koers besef hy dat hy jaloers is op sy eie seun, jaloers op die aandag wat Dirk kry en waarna hy wat Sean is so hunker.

    Terwyl hulle ná ontbyt koffie drink, op hulle komberse onder ’n klompie seringbome, merk Sean op: Jy het nog nie vir ons gesê wat jou naam is nie.

    En natuurlik is dit Dirk wat antwoord. Sy het vir my gesê. Jou naam is mos Ruth, of hoe?

    Dis reg, Dirk.

    Met moeite onderdruk Sean die redelose woede wat in hom opwel. Toe hy praat, verklap sy stem niks daarvan nie. Ons het genoeg van jou gehoor vir een nag, ou seun. Gaan lê nou, maak jou oë en mond toe, en hou dit so.

    Ek is nie vaak nie, Pa.

    Maak soos ek sê. Sean staan op en loop met lang treë uit die kamp uit. Hy klim die klein koppie bo hulle. Dis nou heeltemal lig en hy bespied die veld alkant toe, tot op die horison. Daar is geen teken van mense of huise nie. Hy klim weer af en vroetel met die perde se kniehalters voordat hy na die seringbome toe terugkeer.

    Ten spyte van al sy teëpratery is Dirk soos ’n klein hondjie opgekrul, en van die vuur se kant af, onder ’n hoop komberse uit, kom Mbejane se onmiskenbare gesnork. Ruth lê ’n entjie van hulle af, met ’n kombers oor haar bene en haar oë toe, en die voorkant van haar hemp styg en daal op ’n manier wat Sean twee goeie redes gee om nie te slaap nie. Hy lê op sy een elmboog gestut en gee sy oë en verbeelding vrye teuels.

    In die afgelope vier jaar het hy nooit ’n wit vrou gesien nie; vier jaar sonder die klank van ’n vrou se stem of die troos van haar lyf. Aan die begin het dit hom gepla – die rusteloosheid, die redelose neerslagtigheid, die skielike woedeuitbarstings. Maar gaandeweg in die lang dae van jag en ry, met die eindelose stryd teen droogte en storms, teen gediertes en die elemente, het hy sy lyf onder beheer gebring. Vroue het onwerklik geraak, vae spooksels wat hom net in die nag gepla het sodat hy woel en sweet en in sy slaap uitroep totdat die natuur hom verligting gee en die spooksels vir ’n ruk verdwyn, besig om hul kragte vir hul volgende besoek op te bou.

    Dis geen spooksel wat nou langs hom lê nie. Hy sou sy hand kon uitsteek en die sagte dons op haar wang streel en die warm, sysagte vel voel.

    Sy maak haar oë oop – hulle is melkerig grys van die slaap, en fokus stadig totdat sy sien hoe deurdringend hy na haar kyk.

    Oor wat sy in sy oë sien, haal sy haar hand onder die komberse uit en strek dit na hom toe uit. Haar ryhandskoene is af. Vir die eerste keer merk hy die dun goue ring om haar vierde vinger.

    Ek sien, mompel hy sag, en sê dan in protes: Maar jy is te jonk … te jonk om getroud te wees.

    Ek is twee-en-twintig.

    Jou man … waar is hy? Miskien is die swerkater dood, sy laaste hoop.

    Ek gaan nou na hom toe. Toe dit lyk of oorlog gaan uitbreek, is hy Natal toe, Durban toe, om ’n werk te kry en vir ons daar huis op te sit. Ek was veronderstel om hom te volg, maar die oorlog het gouer gekom as wat ons gedink het. Ek was vasgekeer.

    Ek sien. Ek is besig om jou na ’n ander man toe te vat, dink Sean bitter, en stel dit in ander woorde: Hy sit dus in Durban en wag dat jy jou eie pad deur die linies vind.

    Hy is in die Natalse leër. Hy het verlede week ’n boodskap deurgekry na my toe. Hy wou hê ek moet in Johannesburg bly totdat die Britte die stad inneem. Hy sê met so ’n groot mag sal hulle binne drie maande in Johannesburg wees.

    Hoekom het jy toe nie gewag nie?

    Sy haal haar skouers op. Geduld is nou maar eenmaal nie in my aard nie. Onnutsigheid flikker weer in haar oë. In elk geval, ek het gedog dit sal pret wees om weg te vlug – dis so ondraaglik vervelig in Johannesburg.

    Het jy hom lief? vra Sean skielik.

    Die vraag verbaas haar en die glimlag verdwyn van haar lippe af. Hy is my man.

    Dit beantwoord nie my vraag nie.

    Jy het g’n reg om so ’n vraag te vra nie. Nou is sy kwaad.

    Jy moet my sê.

    Het jy jou vrou lief? kap sy terug.

    Ek het haar liefgehad, ja. Sy is al vyf jaar dood.

    Haar woede flikker en verdof so vinnig soos wat dit ontvlam het. O, ek is jammer. Ek het nie geweet nie.

    Vergeet dit. Vergeet ek het gevra.

    Ja, dis beter so. Ons het lelik begin kleitrap. Haar hand met die ring is steeds in sy rigting uitgesteek, op ’n mat van dooie blare. Hy steek sy hand uit en lig hare op. Dis ’n klein handjie.

    Meneer Courtney, Sean, dis beter as … ons moenie … Ek dink ons moet liefs nou probeer slaap. En sy trek haar hand terug en rol weg van hom af.

    Die wind maak hulle in die middel van die middag wakker. Dit kom aangedruis uit die ooste, vee die gras plat en skud die takke bo hulle koppe.

    Sean kyk in die lug op terwyl die wind sy hemp laat flap en sy baard laat fladder. Hy leun vorentoe daarteen, toring so skielik bo Ruth uit dat sy meteens besef hoe groot hy is. Hy lyk soos die god van storms, met lang, sterk bene ’n ent uitmekaar geplant en die spiere op sy bors en arms duidelik sigbaar onder sy hemp se wit materiaal.

    Dit raak bewolk, roep Sean bo die wind se gedruis. Daar sal vannag g’n maanlig wees nie.

    Sy staan op en ’n skielike windvlaag ruk haar van balans af. Sy steier teen hom vas en sy arms sluit om haar. Vir ’n oomblik is sy teen sy bors aangedruk, kan sy die lenige veerkragtigheid van sy lyf voel, sy manlike reuk in haar neus. Dis vir albei van hulle ’n skok, hierdie onverwagte intieme kontak, en toe sy wegbreek, is haar grys oë wyd oop van vrees oor die beroering wat sy in haar binneste voel.

    Ek is jammer, fluister sy. Dit was ’n ongeluk. En die wind gryp haar hare en laat dit in ’n donker warreling oor haar gesig dans.

    Ons moet opsaal en ry in die daglig wat nog oor is, besluit Sean. Ons sal nie vannag kan ry nie.

    Die wolke kom op die wind aangerol, sprei uit, verander van vorm en sak laer af aarde toe – wolke met die kleur van rook en kneusings, swaar van die reën wat hulle bring. Die nag kom vroeg. Steeds druis die wind en stamp-stamp teen hulle in die skemerte.

    Die wind sal oor ’n uur of so gaan lê, en dan kom die reën. Ons moet skuiling soek voor dit te donker word.

    Anderkant ’n koppie kry hulle ’n klip-oorhang en laai hul goed daar af. Terwyl Sean houtpenne in die grond inkap en die perde se leirieme daaraan vasmaak om te keer dat hulle in die storm wegdwaal, sny Mbejane gras en pak ’n matras daarvan op die klipvloer onder die oorhang.

    In hulle oliejasse toegedraai, sit en eet hulle biltong en koue mieliebrood. Daarna onttrek Mbejane stil-stil na die skuiling se verste punt en kruip onder sy komberse in. Hy het die vermoë om dadelik en diep aan die slaap te raak, selfs onder die moeilikste omstandighede.

    Nou toe, ou seun. Bed toe met jou.

    Mag ek net … begin Dirk sy gewone teëpratery.

    Nee, jy mag nie.

    Ek sal vir jou sing, bied Ruth aan.

    Vir wat? Dirk is verwonderd.

    ’n Slaapliedjie … het niemand nog vir jou ’n slaapliedjie gesing nie?

    Nee. Maar Dirk se belangstelling is geprikkel. Wat gaan jy sing?

    Klim eers in die bed.

    Langs Sean in die donker, baie bewus van sy grootte en sy skouer wat aan hare raak, sing Ruth met die wind se dreuning as begeleiding. Eers Afrikaanse volksliedjies: Nooi, nooi en Jannie met die hoepelbeen. Dan ander ou gunstelinge soos Vader Jakob. Haar stem beteken vir elkeen van hulle iets.

    Die klank daarvan maak vir Mbejane wakker en herinner hom aan die wind in die Zoeloelandse koppies en die jong meisies wat met oestyd in die landerye sing. Dit maak hom bly dat hy huis toe gaan.

    Vir Dirk is dit die stem van die ma wat hy skaars geken het. ’n Vertroostende geluid, en sommer gou is hy aan die slaap.

    Moenie ophou nie, fluister Sean.

    Dan sing sy vir hom alleen. ’n Liefdeslied van tweeduisend jaar gelede, vervul met haar mense se lyding, maar ook met vreugde. Die wind gaan lê terwyl sy sing en haar stem raak saam met dit stil, totdat net die oorweldigende nagstilte oorbly.

    Die storm bars los. Die eerste donderslag kom en die weerlig vurk blou gekartel deur die wolke. Dirk maak ’n kermgeluidjie, maar hy bly slaap.

    In die strak blou lig sien Sean dat Ruth se wange nat is van die trane en toe die donkerte hulle weer omsluit, begin sy teen hom bewe. Hy reik uit na haar toe en sy klou aan hom vas, klein en warm teen sy bors, en hy kan die sout van haar trane op sy lippe proe.

    Sean, nee, ons moenie.

    Maar hy tel haar op en hou haar dwars voor sy bors en loop in die nag in. Die weerlig slaan weer en verlig die landskap verbysterend helder, sodat hy die perde kan sien waar hulle kop omlaag staan, en die koppie bo hulle se skerp buitelyn.

    Die eerste reëndruppels spat teen sy skouers en in sy gesig. Die reën is warm en hy dra vir Ruth verder. Dan is die nag vol reën, ’n allesomvattende pêrelwit mistigheid in die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1