Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Ebook790 pages2 hours

Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is ’n versamelbundel van die gewildste en bekendste liefdesgedigte in Afrikaans. Die bundel volg op Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte wat oorspronklik in 1986 verskyn het en in 1992, 2001 en 2010 bygewerk en heruitgegee is. Hierdie bundel word weereens saamgestel deur digter Fanie Olivier en is opnuut bygewerk. Die bundel bevat nie slegs gedigte uit die kanon nie, maar nou ook verse wat sedert 2010 verskyn het. Die digters in Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte sluit in: Boerneef, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Lina Spies, Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Daniel Hugo en Philip de Vos. ’n Toeganklike bundel, perfek vir Valentynsdag.
LanguageAfrikaans
Release dateJan 1, 2016
ISBN9780798170413
Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Author

Fanie Olivier

Fanie Olivier is in 1949 in Pretoria gebore. Hy verwerf ’n MA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch (1972), die graad Litt Drs in Literatuurteorie aan die Universiteit van Utrecht en die graad D Litt aan die Universiteit van Potchefstroom. Hy is professor in Afrikaans aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole.

Related to Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte - Fanie Olivier

    Die Heel Mooiste Afrikaanse

    Liefdesgedigte

    Vyfde, uitgebreide uitgawe

    Saamgestel deur

    FANIE OLIVIER

    HUMAN & ROUSSEAU

    Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.

    Vooraf

    Wie kan my sê van die liefde? / Waaraan sal ek hom herken? sing Coenie de Villiers in Die liefde.

    Dit was toentertyd juis I.D. du Plessis wat sy lesers vermaan het dat die liefde ’n duisend vorme kan aanneem en teen hierdie agtergrond probeer ’n mens ’n verteenwoordigende keuse doen van iets wat moontlik die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte genoem sou kon word.

    Soms is die versoeking groot om ook ander liefdes te betrek: vir kinders (soos Uys Krige se Swaels bo die kamp of Tom Gouws se hartspens), vir katte en honde, of ’n perd sonder weerga. En natuurlik die wêreld van die mistiek, waarin die godsfiguur in die gedaante van die beminde passievol tussen ons kom woon.

    En kan vertalings ook aanspraak maak? Cas Vos uit die Grieks? Of Hennie van Coller uit die Nederlandse erfgoed? Is dinge uit ander tye en ander tale inderdaad deel van iets wat mens as Afrikaanse liefdesgedigte sou beskou?

    Dis dapperdwaas, die hele praktyk!

    Hoe verantwoord jy ooit jou keuse en hoe verdedig jy jou teen diegene (digters en lesers) wat ongelukkig voel oor gedigte wat weggelaat is? En hoe ­gemaak rondom uitgangspunte wat amper dertig jaar gelede die begin van Die mooi­ste Afrikaanse liefdesgedigte bepaal het?

    Terwyl ek hier in die Poëziecentrum onder De Torenke in Gent, België sit en lees (dankbaar vir die wonderlike Afrikaanse poësieversameling wat hier te vinde is), loer ek vinnig in die ander rakke. Daar is meer as dertig bloemlesings liefdesgedigte en nog vyftien stewiges rondom Seksualiteit

    By die huis het ek nog ’n dosyn of wat ander, want mens moet nie ligtelik met die liefde omgaan nie!

    Baie van hierdie bloemlesings het omvattende inleidings, dikwels ingegee deur die wyse waarop die gedigte aangebied word. Dit is veral ter sake waar die samestellers die gedigte tematies organiseer: aanvange, eerste liefdes, afstande en oorrompelings, afskeide, spyt, hartstog, huwelik en bedrog, skeiding, afsterwes, dood en herinnering.

    Ander kere word die gedigte volgens die digters, alfabeties, opgeneem. Dan sal die samesteller waarsku oor wat weggelaat is, of daarop wys dat gedigte van ’n spesifieke digter oor ’n tydperk van veertig of vyftig jaar strek.

    Met die vorige uitgawe het ons besluit om al die gedigte net chronologies (volgens die jaar van publikasie van die bundel waaruit die gedigte gehaal is) aan te bied. Dit bly voorlopig ’n unieke kenmerk van hierdie versameling en gee aan die bundel iets besonders.

    Daardeur word die leser die vryheid gegun om self verbande te trek, groepe­rings te maak, digters se werk self te gaan soek en te ontdek binne ’n konteks wat dalk verrassend sou word.

    Om daarmee te help, verskyn daar agter in die bloemlesing ’n lys van digters wie se gedigte opgeneem is en die bladsye waar hierdie gedigte verskyn. Maar dis vir agterna, want die vreugde van lees is baie belangriker as netjiese vakkies.

    Literatore sou miskien kon hoop op teoretiese opmerkings. Oor waar en wanneer die sonnet oorheers, wat die funksie van die kwatryn is om te help dat die gedig die emosies temper en of daar iets te sê is oor langer of korter gedigte teen die maatskaplike, politieke of ekonomiese agtergrond.

    Toe Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte in 1986 die eerste keer verskyn het, was daar 160 gedigte en 59 digters opgeneem oor ’n tydperk van net oor die 100 jaar. Binne dertig jaar het dit verdubbel: hierdie vyfde, uitgebreide weergawe het 397 gedigte van 118 digters, waarvan 18 vir die eerste keer staanplek kry. Dis duidelik dat ons darem nie opgehou het om lief te hê en daaroor te skryf nie . . .

    Maar dis genoeg, sê John Donne: For God’s sake hold your tongue and let me love.

    Mits dese!

    mits dese wil ek vir jou sê

    hoe diep my liefde vir jou lê

    BOERNEEF

    1873

    1873Dopper Joris en sy seiltjie (PULVERMACHER)

    Onder ’n boompie by die watersloot

    sit Spekie met haar Joris te vry:

    Hy praat van koperledekante

    en ’n skimmelhings wat sy sal ry.

    Hy sê dat sy oorlede paatjie

    hom duisend hamels en ’n ram

    – ’n opregte Franse ram – gegee het,

    en ’n woonhuis by die middeldam.

    ’n Wa en ’n span met soetveld-osse

    – ’n spikkelspan. En hulle trek tog, reg!

    En hul bulk, ja, nes die ware duiwel,

    nes die wind trek hulle van die staanplek weg!

    En twee sterke koperhoepel-emmers

    het oorlede paatjie ook gegee,

    en ’n ring wat maatjie opgetel het

    toe paatjie siek was by die see.

    En ’n borsspeld vol met rooie klippies,

    en ’n horssweep met ’n koperknop,

    en ’n teepot met drie silwere voetjies

    en die deksel het ’n duif daarop.

    En ’n klok en dertien riempiestoele,

    ’n bulsak en ’n ledekant,

    twee ingelegde geelhouttafels,

    en ’n prentjie met die plae van Egipteland.

    En nog een spul met romlary,

    ’n kar op vere en ’n fariseen,

    en ’n Bybel wat maatjie eens gekog het

    van die smous Aaron Oepel Behn.

    Maar tog makeer ek nog een ding;

    dit maak my, Spekie, siek van smart;

    My wa is sonder buiteseiltjie!

    Wil jy my seiltjie wees, my hart?

    1925

    1925Rosa Rosarum (A.G. VISSER)

    Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

    Duist’re geheime vertrou aan die nag;

    Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

    Drome en liefde die lang somerdag.

    Kom in die soel someraande en luister

    – Wanneer die nagwind hul drome verklaar –

    Na die veelvuldige blommegefluister,

    Bloesem en bloeisel en blad altegaar!

    Kom waar die lelie – die blanke, die reine –

    Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,

    Blou miosotis – die slanke, die kleine –

    Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.

    Kom as die maanblom – wit sy en satyne –

    As ’n vorstinne verskyn in haar prag

    Onder die wierook van roos en jasmyne –

    Skoonste juweel op die bors van die nag!

    Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

    Open die lotus haar heilige kelk,

    Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –

    As sy in glorie van songloed verwelk.

    Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange

    Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;

    Saans koer die tortel sy lied van verlange

    Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.

    Kom in die aand en geniet van haar geure:

    Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;

    Kom in die môre en kies van haar kleure:

    Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

    Kom as dit skitter van dou-diamante,

    Rosa Rosarum, in my Paradys,

    Dat ek my blomme, my bome, my plante,

    Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

    1931

    1931Haelwit gestapelde wolke (TOON VAN DEN HEEVER)

    Die haelwit gestapelde wolke,

    Paleis deur die winde gebou!

    Hoe sou ek hul heimnis vertolke?

    En saggies dit fluister vir jou?

    Verguld steek die domme nog witter

    Af teen die velde van blou,

    Soos jou oë, en perlemoer skitter

    Soos dou.

    Sal ek fluister? Ons ryk in die weste

    Word van sieraad ontbloot;

    Die winde verstrooi nou ons veste –

    Selfs wysheid moet dood;

    Maar wyl lippe op lippe kan bewe,

    Bied my jou mond, Lief, bied nou,

    Eer ons gloed, eer ons hartstog begewe,

    Soos paleise deur winde gebou.

    1932

    1932(C. LOUIS LEIPOLDT)

    Wys my die plek waar ons saam gestaan het,

    Eens, toe jy myne was –

    Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het,

    Vroeër, toe jy myne was.

    Kyk, dis dieselfde; die silwer see

    Blink in die sonskyn, soos lang verlee

    Dit eenmaal geblink het, ’n welkomsgroet

    Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

    Wys my die plek waar ons saam gekniel het,

    Eens, toe jy myne was –

    Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het,

    Vroeër, toe jy myne was.

    Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou,

    Lag soos voorheen op my en op jou;

    Dit skitter nog altyd ’n welkomsgroet

    Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

    Wys my die plek waar ons saam geloop het,

    Eens, toe jy myne was –

    Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het,

    Vroeër, toe jy myne was.

    Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra,

    Wie van ons twee moet die meeste dra?

    Jy wat vergeet het – of ek wat boet

    Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?

    1932(C. LOUIS LEIPOLDT)

    Kom gee vir my polfyntjie,

    Dit maak nie saak nie wat,

    Die kleinste, nietigste lyntjie

    Waardeer ek as ’n skat.

    Koop waar jy wil, by smouse,

    Penswinkeltjies, net wat

    Jy kry in Krismiskouse –

    Dit bly vir my ’n skat.

    Net iets wat jy as joue

    Betrag het, gee my dit –

    Ek neem dit aan as goue

    Gesteente tot besit.

    En as jy eenmaal sterwe,

    Dan pryk dit nog by my,

    Gegee meer as geërwe,

    As liefdeblyk gekry.

    1934

    1934Ek het jou liewer . . . (W.E.G. LOUW)

    Ek het jou liewer as wind of die water,

    liewer as suiwer sonlig en see;

    ek het jou lief met die wonderkrag

    wat die hart van ’n mens aan mens kan gee.

    Wat skeel dit my dan of ek treurig is,

    en so moedersiel-alleen?

    Jou stem is om my soos die wind,

    bleek en sag van reën.

    1934Stil aand (W.E.G. LOUW)

    Vanaand het ek weer so verlang,

    in grondelose vrees

    van eie gryse eensaamheid,

    dat jy by my moet wees,

    dat ek die wye koeltes van

    jou stem om my kan voel,

    soos die rimp’ling van die somerreën

    vervlugtig oor my spoel.

    En toe ek deur die duister wind

    wat oor my huisie waai,

    die knip hoor lig, het heel my hart

    in vreugde opgelaai . . .

    Nou sit ons voor die vuur en speel

    die vlamlig deur ons hare . . .

    Laag waai die reënwind buite deur

    die afgevalle blare.

    1934Naglied (W.E.G. LOUW)

    Is jy vannag, lief, stil aan ’t slaap,

    koel in die klare

    silwer spoeling van die maanlig

    deur die krulle van jou hare?

    Met die rustige deining van jou asem

    soos ’n kind s’n, innig-warm,

    die rooi bloeisels van jou borste

    teen die ronding van jou arm?

    En ek alleen hier in die koue

    met my bitter ou verlange,

    met die silte seewind soos ’n lanfer

    teen die bleekheid van my wange,

    sal één uurtjie voor jou venster

    eerbiediglik bly staan,

    vóór ek weer teen die seewind

    met my stil trane gaan.

    1935

    1935Rooidag (N.P. VAN WYK LOUW)

    Rooidag, rooidag,

    wat bring jy?

    Ek weet nie waarom

    voel ek so bly;

    my hart die klop,

    en dit voel vir my,

    sowaar, sowaar,

    vandag kom hy.

    1935Waarmee, lief . . . (N.P. VAN WYK LOUW)

    Waarmee, lief,

    sal ’k jou vergelyk?

    Met geen van die blomme,

    die roos, of die aandblom

    wat stil en allenig

    staan deur die nag.

    Ek weet net, as ek

    ontwaak in die môre,

    geur voor my venster

    die room-geel roos;

    en stil in die nag,

    soos iemand wat aandblomme

    pluk in die skemerte,

    pluk ek vir jou, lief,

    wit blomme van drome.

    1935Kom vannag in my drome (N.P. VAN WYK LOUW)

    Kom vannag in my drome

    as dit donker is en stil;

    reik my jou hand deur die drome,

    en ons sal dwaal waar ons wil.

    Kom, in die sterreduister

    sal ek jou siel erken;

    soos elke nag in die duister

    sal ek jou oë ken.

    Soos rook sal ons siele sweef

    steil deur die sterrenag,

    bo oor die donker berge,

    bo oor die donker nag.

    Bo oor blydskap en liefde

    wat hierdie wêreld ken,

    sal ons in roerlose straling

    die ewige skoonheid ken,

    die skoonheid wat ons ’n oomblik

    sien flikker en vergaan

    tussen die donker dinge

    waardeur ons lewes gaan

    met ewig-stille weemoed

    en halwe herinnering

    van iets wat was, en nog swewe

    oor ons herinnering;

    van iets wat ons nooit kan kry nie,

    van iets wat ons nie kan sien,

    die hart van droom en verlange,

    dié sal ons siele sien,

    lief, as jy kom in my drome,

    kom in die sterrenag,

    en ons twee dwaal deur die drome

    bo oor die donker nag.

    1935Ek het jou lief (N.P. VAN WYK LOUW)

    Ek het jou lief net om die blanke lede

    wat swel van wellus soos die druif van sap,

    die ligrooi bloeisels van jou jonge borste,

    die terging van die lente in jou stap.

    En as jy oud is, sal jy dan ook só wees:

    flou oë, en gerimpel, geel en grys,

    sonder begeerte of begeerlikheid –

    om dorre bene dorre vel en vleis?

    Sal ek jou dan verag en jy vir my,

    en al ons helder liefde goedkoop lyk?

    die lewe so sy spel met ons ook speel,

    en op ons voorkop ook sy teken pryk?

    1935Nagrit (N.P. VAN WYK LOUW)

    Wind deur my hare,

    sterre oor my kop,

    ry ek die veld deur

    wild op galop.

    Donker die slote;

    skaduwees skuil

    swart in die riete,

    vaal oor die kuil.

    Vonke oor die klippe,

    dowwer oor die sand;

    wie dink aan struikel

    in liefde se land!

    1935Dat alle liefde (N.P. VAN WYK LOUW)

    Dat alle liefde moet verlore gaan

    en wegwaai in die wye lug,

    waar hierdie dooie ster sy norse vlug

    neem deur die stiltes van sy baan –

    dit is die vrees, dit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1