Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids
Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids
Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids
Ebook663 pages5 hours

Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In dié omvattende gids gesels suster Lilian oor wat op jou wag van die oomblik dat jou swangerkap bevestig is, totdat jou peuter op sy eie in die gang af waggel. Die vrae wat alle nuwe ouers kwel word eerlik en met begrip beantwoord, en met praktiese raad aangevul. Suster Lilian, Suid-Afrika se bekendste babasorgkenner, het meer as dertig jaar ervaring, en haar raad is gerusstellend dog realisties. Talle kwessies – van jou keuses vir die bevalling, die pa se rol, kinderkwale en siektes, nagvoedings en slapelose nagte, tot hoe werkende ouers hul lewe makliker kan maak – word met gesag en deernis bespreek.
LanguageAfrikaans
Release dateFeb 1, 2016
ISBN9780798171434
Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids
Author

Lilian Paramor

Lilian Paramor (known as Sister Lilian) holds a B.Nursing degree from the University of Stellenbosch and is a qualified and registered nurse and midwife. She is also a qualified reflexologist and a natural health practitioner with 30 years’ experience, and is South Africa’s leading pregnancy and parenting advisor. She is well-known in both the maternity professional world as well as in the parenting community in South Africa. Her trademarks are her compassion, credibility and innovation. She further believes strongly in the approach of ‘first do no harm’ and has operated under the slogan with nature, knowledge and experience throughout her career. She is the author of several books.

Read more from Lilian Paramor

Related to Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids

Related ebooks

Related articles

Reviews for Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Suster Lilian Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor

    Suster Lilian

    Omvattende

    swangerskap-,

    geboorte- en

    ouerskapgids

    Human & Rousseau

    Die uitleg in hierdie digitale uitgawe van Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe.

    Hoewel alles moontlik gedoen is om te verseker dat die aanbevole prosedures en behandelings in hierdie boek betroubaar en veilig is, aanvaar die outeur en uitgewer geen verantwoordelikheid vir enige skade voortspruitend uit die outeur se raad nie. Daarbenewens is die aanbevelings nie bedoel as alternatief vir gereelde besoeke aan professionele gesondheidsorgverskaffers nie.

    Inleiding

    ’n Rustige ma, wat seker is van haarself, is die ruggraat van ’n gelukkige huis.

    Ek glo (en sê dit vir alle verwagtende vroue) dat dit allerbelangrik is om van alle kwellinge en emosionele bagasie ontslae te raak wanneer jy verwag sodat jy ontspanne is en die swangerskap, geboorte en jou baba ten volle kan geniet. Ek glo ook dat die eenvoudigste aanpassings ’n reuseverskil kan maak. Elke ma is geregtig daarop om dit te geniet om ma te wees, net soos dit elke pa se reg is om pa-wees te geniet.

    Daarom bied dié boek dit wat ek glo die noodsaaklikste feite is asook menings en wenke wat jou sal help om ouerskap te geniet. Dit is nie nodig om ’n lywige handleiding te raadpleeg nie, want jy het reeds die nodige kennis en weet instinktief wat om te doen. Ek beskou myself bloot as ’n fasiliteerder wat help om dié aangebore vermoëns en intuïsie te ontsluit. Daar is ook afdelings met die nodige inligting oor swangerskap, geboorte en kind grootmaak omdat dit onlosmaaklik deel is van ouerskap. Die een fase loop oor in die ander en daarom is dit goed om by die begin te begin.

    Natuurlik sal daar uitdagings wees. Soms sal dit ’n haakplekkie wees en soms ’n berg wat oorkom moet word. Geen ouer kom ooit skotvry daarvan af nie en dit is belangrik om te onthou dat elke dag, selfs die heel moeilikste, altyd tot ’n einde kom en dat elke gelukkige oomblik julle altyd sal bybly. Behou dus jou fokus, vertrou Moeder Natuur en moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.

    Elke ma, pa, baba en kind wat ek in my lewe en in my loopbaan teëgekom het, leef op die bladsye van hierdie boek en ek dra dit op aan elkeen van hulle.

    Ek wens jou alle voorspoed toe op jou pad as ouer!

    Suster Lilian

    AFDELING 1: Swangerskap

    HOOFSTUK 1: IS JY GEREED VIR SWANGERSKAP?

    HOOFSTUK 2: JOU BABA SE VOORGEBOORTELIKE ONTWIKKELING

    HOOFSTUK 3: JOU KOSKAS

    HOOFSTUK 4: OEFENING

    HOOFSTUK 5: JOU GEDAGTES, GEES EN GEMOED

    HOOFSTUK 6: JOU VEL, VOORKOMS EN ANDER KWELLINGE

    HOOFSTUK 7: JOU GESONDHEID

    HOOFSTUK 8: ERNSTIGE TOESTANDE

    HOOFSTUK 9: PRAKTIESE SAKE

    HOOFSTUK 10: SWANGERSKAP UIT DIE AANSTAANDE PA SE OOGPUNT

    HOOFSTUK 11: ’N PAAR BELANGRIKE EN INTERESSANTE FEITE

    HOOFSTUK 1

    Is jy gereed vir swangerskap?

    Deur behoorlik voor te berei vir bevrugting, swangerskap en ouerskap is die beste manier om jou en jou baba se gesondheid en voortgesette welstand te verseker. Dit is iets wat vroue en hul lewensmaats by die dag duideliker besef.

    FISIEKE EN EMOSIONELE VOORBEREIDING

    Sonder om doekies om te draai: Moenie kanse waag met dinge waaroor jy nie beheer het nie. Jy is immers verantwoordelik vir ’n splinternuwe lewe. Om die grootste kans op sukses te hê, is hierdie drie dinge nodig:

    1.’n Gesonde liggaam

    Die ideaal is dat jy reeds voor jy swanger raak, tyd aan jou dieet en oefening afstaan sodat jy blakend gesond is. ’n Gesonde, aktiewe leefstyl voor, gedurende en ná swangerskap sal die hele proses en jou ervaring daarvan baie aangenamer en makliker maak. Gesonde voeding is sonder twyfel die grondslag vir ’n gesonde liggaam. Dit is doodgewoon nie aanvaarbaar om gedurig die maklike uitweg te kies wat jou dieet gedurende swangerskap betref nie. Dit is nie meer net jou gesondheid wat daardeur geraak word nie. Dit beïnvloed ook hoe moeilik of maklik jou swangerskap is. Doen ook die moeite om te leer wat sekere simptome of ongemak veroorsaak en hoe om dit op natuurlike wyse te verlig. Dit sal ook help om jou swangerskap te vergemaklik.

    2.’n Gesonde gees

    Hoewel jy dalk maklik swanger geraak het, moet jy weet waarom jy ’n kind wil hê en bewus wees van die groot verantwoordelikheid wat dit op jou gaan plaas. Die nege maande voor ’n baba se geboorte bied ’n besonderse geleentheid om jou emosioneel voor te berei, iets waaruit nie net jou kinders nie maar ook jou kleinkinders en hul kinders sal voordeel trek. ’n Positiewe ingesteldheid is net so belangrik soos om die mense om jou en die mensdom in die geheel in gedagte te hou.

    3.’n Gesonde verhouding

    ’n Baba kan nie ’n huwelik of verhouding red nie, maar dit is nogtans verstommend om te sien hoeveel paartjies hoop dat ’n kind hul sukkelende verhouding sal red. Ja, ’n kind kan die beste in jou na vore bring, maar ’n kind kan selde ’n diep skeur permanent genees. Voor jy dus besluit om ’n ouer te word, moet jy eerlik wees met jouself: Is enige van die probleme tussen julle ernstig en langdurig? Is daar onderlinge respek vir mekaar? Deel julle ’n wye verskeidenheid belangstellings en vriende of doen elkeen sy eie ding? Ondersteun jy jou maat se ambisies, en vice versa?

    IS OUDERDOM ’N FAKTOR?

    Daar is voor- en nadele verbonde aan elke ouderdom en persoonlike situasie wanneer iemand beplan om ’n baba te hê. Hoewel dit ’n persoonlike besluit is, is dit een wat goed oorweeg moet word. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou:

    •As jy ouer is, is jy emosioneel meer volwasse en daarom beter toegerus om die goeie en slegte tye te hanteer. Daarteenoor is iemand wat jonger is ook jonger van gees en meer optimisties.

    •Ouerskap verg geduld, deursettingsvermoë en volharding, dinge wat jonger paartjies dalk nog nie ontwikkel het nie. Jonger ouers is egter meer lewenslustig en speel meer met hul kinders, iets wat ook baie belangrik is.

    •Ouer paartjies het dikwels minder finansiële kwellings. Om ’n baba te hê is nie goedkoop nie, maar dit is ook nie nodig om baie geld op ’n kind uit te gee nie. Dit gaan eerder oor die ekstra spanning wat geldprobleme in ’n huishouding veroorsaak. Rykdom is egter ook nie ’n waarborg vir geluk nie.

    •Ouer paartjies wat gewoond is aan hul onafhanklikheid kan sukkel om aan te pas en 24 uur per dag aan diens te wees. Jongmense is meer aanpasbaar en kan daarom ’n baba fluit-fluit by hul lewe laat inskakel.

    •Terwyl ouer paartjies reeds baie van die dinge gedoen het wat hulle wou doen, sal jy, as jy op ’n jong ouderdom kinders het, nog jonk genoeg wees om dié dinge te geniet wanneer jou kinders groot is.

    IS JY GEREED VIR BABA NOMMER TWEE?

    Wanneer jy en jou gesin gereed is vir ’n tweede baba sal van jul persoonlike omstandighede afhang, maar hier is drie algemene faktore om in gedagte te hou:

    1.Ouderdomsverskille

    Daar is geen reëls ten opsigte van die ouderdomsverskil tussen kinders nie en groot en klein verskille kom elk met sy eie voor- en nadele. Wanneer jy lank wag, sal dit beteken dat jy al die harde werk wat met ’n baba gepaardgaan, van voor af sal moet doen, maar dit maak dit weer makliker omdat jy nie twee kleintjies gelyk moet grootmaak nie. As die twee minder as ’n jaar uit mekaar gebore is, gaan jy vir ’n tyd lank baie besig wees en sal jy baie hulp nodig hê, maar wanneer dit verby is, is al die babadinge agter die rug.

    2.Persoonlike omstandighede

    Jy moet uit die aard van die saak besluit of jy nog ’n kind – en tyd weg van die werk – kan bekostig. As jou eersgeborene gesondheids- of gedragsprobleme het, sal ’n tweede baba kort op sy hakke nog groter druk op julle plaas.

    3.Praktiese oorwegings

    Dit is gewoonlik makliker om twee kinders groot te maak omdat hulle gou met mekaar sal begin speel en jou ’n blaaskans gee. Kinders wat boeties en sussies het, leer ook om te deel, geskille uit die weg te ruim en ander te respekteer. Dit is onvermydelik dat die oudste kind ’n bietjie jaloers sal wees wanneer die nuwe baba sy opwagting maak. Begrip en geduld sal jou deur dié fase help. Dit is belangrik om hom nie onder druk te plaas om groot te wees nie – hy is ook nog ’n baba.

    DIE TOPVYF MOENIES TYDENS SWANGERSKAP

    Om te verseker dat jou baba so gesond moontlik is, is daar vyf dinge wat jy moet vermy terwyl jy swanger is. Trouens, dit is belangrik om dit reeds wanneer jy beplan om swanger te word, toe te pas omdat die eerste paar weke van swangerskap deurslaggewend is vir ’n baba se ontwikkeling.

    1.Alkohol, rook en dwelmmiddels Hoewel jou liggaam dalk dié middels kan verwerk, kan jou baba s’n dit nie doen nie. Dit sal sy groei en gesondheid benadeel en kan hom later vatbaar maak vir verslawing. Wees dus eerder bang Jan en vermy dit geheel en al.

    2.Kossoorte Vermy enige kos waarvoor iemand in jou nabye familie allergies is, produkte wat rou eier bevat, soesji (groentesoesji is in die haak), halfgaar vleis en sagte, beleë kaas. Sommige gifstowwe kan jou baba deur die plasenta bereik en ’n dieet wat baie allergiewekkende voedsel bevat, kan ná geboorte allergiesimptome by ’n baba aanwakker.

    3.Skoonheidsprodukte Naellak, haarkleursel en lyfrome is van die produkte wat soms chemikalieë bevat en liefs deur swanger vroue vermy moet word, veral in die eerste trimester. Moet onder geen omstandighede ’n sonbed gebruik nie – jou baba kan oorverhit.

    4.Medisyne Raadpleeg jou apteker of dokter voor jy medikasie neem waaroor jy twyfel. Daar is baie soorte wat nie getoets is om te bepaal of dit veilig is vir swanger vroue nie.

    5.Onnodige stres Sit agteroor, ontspan en dink aan jou groeiende baba. Wees rustig en geniet die klein dingetjies in die lewe. Dit sal die bevalling makliker maak en sorg dat jou baba rustiger en ontspanne is.

    HOOFSTUK 2

    Jou baba se voorgeboortelike ontwikkeling

    Dit is opwindend om jou baba se groei voor geboorte dop te hou, maar dit is net so wonderlik om te weet dat ’n wonderwerk besig is om binnein jou te gebeur. Hier is ’n kort oorsig van elke trimester.

    DIE EERSTE TRIMESTER

    Die eerste trimester duur vanaf bevrugting tot 12 weke en dit is wanneer ’n baba die meeste ontwikkel. Hier is enkele hoogtepunte:

    •In die eerste maand ná bevrugting word ’n baba 10 000 keer groter as die oorspronklike sperm en eiersel. Dit is die tydperk waarin ’n mens vinniger groei as ooit.

    •Rondom week 4 het die tros selle ’n binneste en buitenste groep gevorm. Die binneste groep gaan in jou kleinding ontwikkel terwyl die buitenste een die plasenta gaan vorm.

    •Teen week 6 sal jou baba sigbaar wees tydens ’n ultraklankskandering en sal jy kan hoor hoe sy piepklein hartjie van sowat 2 mm klop.

    •Teen week 8 het die grootste organe gevorm en funksioneer hulle reeds op ’n eenvoudige wyse. In dié stadium is jou baba ’n volledig gevormde mens, selfs al is hy nog net so groot soos ’n appelkoos. In die agtste week sal die oë, neus en lippe begin vorm.

    •Vingernaels begin op 11 weke ontwikkel en teen die einde van die eerste trimester sal al die organe en stelsels wat ’n pasgebore baba nodig het, gevorm wees.

    •Jou perfekte dog tingerige baba sal vanaf week 12 amniotiese vloeistof in die baarmoeder begin drink; hy of sy sal sowat 8 cm lank wees en 45 g weeg aan die einde van dié uiters belangrike trimester.

    DIE TWEEDE TRIMESTER

    Die tweede trimester van swangerskap strek van week 13 tot week 28 en word dikwels die wittebroodfase genoem omdat die meeste vroue in dié tydperk baie goed voel. Hier is enkele hoogtepunte:

    •Teen die einde van week 14 spog jou baba reeds met sy unieke stel vingerafdrukke en sy voetafdrukke vorm in week 15. Hy gaan ook dan begin reageer wanneer jy ’n helder lig op jou maag skyn.

    •Teen week 16 sal ’n ultraklankskandering wys of dit ’n seuntjie of dogtertjie is en twee weke daarna behoort jy te kan waarneem wanneer jou baba slaap of wakker word.

    •Teen week 20 kan ’n baba jou hartklop en asemhaling hoor, selfs jou maag as dit grom, en moontlik bewegings maak wanneer hy jou stem hoor. Dit gebeur gewoonlik rondom week 22, maar dit is moontlik dat dit vroeër waarneembaar word.

    •Teen die einde van die sesde maand sal jou baba begin om sy oë te knip wanneer ’n skielike harde geluid hom skrikmaak.

    •In week 28, die laaste week van die tweede trimester, sal jou baba begin om tussen reuke en soet en suur smake te onderskei.

    •Aan die einde van week 28 weeg ’n baba gewoonlik 1,1 kg of dalk ’n raps meer en is hy 34 cm lank. Sy bewegings is energiek en indien jy nou sou geboorte skenk, sal hy dalk self kan asemhaal, selfs al is sy longe nog baie onderontwikkel.

    DIE DERDE TRIMESTER

    Week 29 lui die begin van die derde en finale trimester van swangerskap in en jy sal waarskynlik begin om ongemakliker te voel. Dit is ’n belangrike fase om te verseker dat jou baba een honderd persent gereed is vir die geboorteproses en die lewe buite die baarmoeder. Kom ons kyk na ’n paar hoogtepunte:

    •Aan die begin van die derde trimester weeg ’n baba ongeveer 1,2 kg.

    •Teen week 32 begin vetlae onder sy vel vorm. Dit sorg dat hy mooi mollig is wanneer hy gebore word en nie verrimpeld nie. Die vet hou hom ook warm buite die baarmoeder.

    •Op week 35 groei ’n baba se brein steeds vinnig en gaan dit nog ’n hele ruk teen dié tempo ontwikkel.

    •Selfs in hierdie laaste paar weke groei ’n baba steeds en word hy al meer volwasse namate die laaste afrondingswerk plaasvind.

    •Vanaf week 37 kan ’n baba enige oomblik sy opwagting maak, maar tensy daar ’n mediese rede is, is dit beter om te wag dat die kraamproses natuurlik begin. Wees geduldig – jy gaan jou baba sommer een van die dae in jou arms hou!

    •’n Baba trek nou die skaal op ongeveer 2,9 kg en kan selfs swaarder wees. Sy skelet begin nou om te verhard.

    •Groei vind steeds vinnig plaas en aan die einde van week 38 weeg ’n baba gewoonlik sowat 3,1 kg en kan hy 48 cm tot 50 cm lank wees.

    •Teen week 39 het sy hare al heelwat gegroei en kan dit tot 4,6 cm lank wees. Sy vel is nou ook oraloor gevoelig.

    •Teoreties loop swangerskap in week 40 ten einde, maar as dit jou eerste bevalling is, sal dit glad nie vreemd wees as dit nog ’n week of twee duur nie. Dit is raadsaam om Moeder Natuur haar gang te laat gaan terwyl jy en jou ginekoloog seker maak dat jou baba steeds gereeld in die baarmoeder beweeg. Dit is ’n teken dat alles in die haak is.

    •Aan die einde van week 40 weeg babas gemiddeld tussen 3,2 kg en 3,8 kg en is hulle gemiddeld sowat 50 cm lank.

    •Eerste swangerskappe kom meestal spontaan tot ’n einde tussen week 40 en 42.

    Is dit nie ongelooflik nie?

    ’n Eiersel het ’n omtrek van 0,8 mm en ’n spermsel is 0,05 mm lank. Wanneer dié twee piepklein selletjies saamsmelt, vorm dit ’n allerpragtige baba wat meer as 3 kg weeg!

    HOOFSTUK 3

    Jou koskas

    Moenie dink dit is net jy wat verward raak oor wat jy moet en nie moet eet wanneer jy verwag nie. Elkeen het ander raad, hetsy die media, gesondheidskenners of familie en vriende wat altyd met die beste bedoeling in die wêreld wil raad gee. Dít terwyl ’n gesonde eetprogram nie veronderstel is om moeilik te wees nie. ’n Gesonde dieet is per slot van sake die natuurlike teenvoeter vir kwale en siektes, bou jou energievlakke op en verseker gesonde groei en ontwikkeling.

    BASIESE BEGINSELS VAN VOEDING

    Alle swanger vroue moet een ding in gedagte hou: Ontspan! Daarmee wil ek nie sê dat jy na hartelus net wat jy wil kan eet of dat jy alle raad kan ignoreer nie. Dit beteken liewer dat jy moet staatmaak op die twee betroubaarste en slimste vennote wat daar is. Dit is jou natuurlike instinkte en Moeder Natuur se oorvloedige spens.

    Die basiese riglyne vir gesond eet is kortweg gestel as volg:

    •Eet meer plantkosse Plantkosse sluit vrugte, groente, peulgroente, neute, sade en grane in. Dit moet die grootste deel van jou dieet vorm en moet verkieslik nie verwerk wees, preserveermiddels of kleurstowwe bevat of geneties gemodifiseer wees nie. As dit organies is of uit jou eie groentetuin kom, des te beter.

    •Eet minder vleis en suiwel Nie net is daar ’n verband tussen ’n dieet wat grotendeels uit vleis en suiwel bestaan en ’n verhoogde vatbaarheid vir siektes nie, die diere word ook dikwels grootgemaak met behulp van antibiotika en sintetiese hormone, wat dan uiteindelik in jou gestel beland. In die slagpale skei diere groot hoeveelhede adrenalien en kortisol af en dié hormone bly in die vleis. Dit kan ’n nadelige invloed op swanger vroue en geboortehormone hê. Dit is ook nie waar dat jy koeimelk nodig het sodat jou baba ’n gesonde skelet kan ontwikkel en om jou tande sterk en gesond te hou nie. Wanneer jy diereprodukte eet, moet dit sover moontlik van medikasievrye, vrylopende en organiese diere afkomstig wees.

    •Kies kos met al die kleure van die reënboog Mense skep instinktief kosse met verskillende kleure in. Dit is juis die natuur se manier om te verseker dat jy al die voedingstowwe kry wat jou liggaam nodig het. Eet dus gerus met jou oë!

    •Eenvoudiger is beter Dit is nie nodig dat elke maaltyd die perfekte balans van kossoorte en voedingstowwe bevat nie. Jy moet net genoeg van alles in die loop van die dag of selfs week eet. Moet ook nie te veel bestanddele in een gereg gebruik nie. Dit sal jou spysvertering belemmer.

    •Moenie vir twee eet nie Laat jou eetlus jou lei wat porsies betref. Die belangrikste is dat jy gesonde kos eet. Baie verwagtende vroue verkies om meer gereeld kleiner maaltye te eet om hulle heeldag energie te gee sonder dat hulle ongemaklik voel.

    •Sny bymiddels liefs heeltemal uit Dit beteken dat jy so min moontlik verwerkte, verfynde kos moet inneem. Vrugte is per slot van rekening Moeder Natuur se perfekte kitskos en net die ding as jy peuselrig voel.

    •Dit sal nie skade doen as jy af en toe toegee aan die versoeking nie As jy die meeste van die tyd gesond eet, sal jou liggaam en jou baba dit kan verwerk wanneer jy jouself die dag ’n bietjie bederf. Wees egter eerlik met jouself en probeer om minstens 80% van die tyd gesond te eet.

    •Moenie baie vloeistof met etenstyd inneem nie Te veel vloeistof verdun die ensiembevattende maagsappe en belemmer spysvertering sodat jou liggaam nie die kos optimaal sal kan benut nie. Die kanse is ook goed dat jy las van winde en krampe sal hê.

    •Moenie vas nie Dit is nie raadsaam om in enige fase van swangerskap te vas nie. Dit is nie goed vir jou of jou baba nie. Die meeste gelowe wat vereis dat volgelinge soms vas, maak voorsiening vir gedeeltelike onthouding. Mense wat vas loop gevaar om onstabiele bloedsuikervlakke, lighoofdigheid en lae bloeddruk te ontwikkel of om te dehidreer.

    Superkosse vir twee

    As jy hierdie sewe kossoorte regdeur jou swangerskap by jou dieet insluit en saam met genoeg vars vrugte en groente van ’n groot genoeg verskeidenheid eet, is die kanse goed dat jy en jou baba blakend gesond sal wees.

    1.Dadels bevat noodsaaklike vetsure, verskaf energie en stabiliseer bloedsuikervlakke.

    2.Avokado’s bevat talle noodsaaklike voedingstowwe asook noodsaaklike vetsure en bevorder doeltreffende spysvertering.

    3.Kokosneute bou jou liggaam se immuunstelsel en help om jou sirkulasiestelsel in stand te hou.

    4.Pomelo’s reguleer en beheer die drang na kos.

    5.Enige soort bone bevat proteïene, yster, vesel, foliensuur en kalsium.

    6.Groen groentes bevat foliensuur en kalsium.

    7.Goeie heuning (nie te veel nie) het ’n antibakteriese werking.

    Oppas: Groeiende baba aan boord!

    Sekere kosse word verbind met ’n groter kans op ’n allergiese reaksie, giftige bakterieë of oormatige ongemak in swanger vroue en dit sal wys wees om hierdie ses kosse te vermy of minstens te verminder:

    1.Kos met ’n allergierisiko soos suiwelprodukte, verwerkte graanprodukte (brood, pasta, koek en beskuitjies), skulpvis, eiers en grondboontjies

    2.Eksotiese sampioene, uie en knoffel

    3.Neute – die probleem is eintlik ou of galsterige neute of die preserveermiddels daarin

    4.Vleis- en suiwelpatee

    5.Bloukaas en beleë sagte kase

    6.Gedroogde vleisprodukte soos biltong

    GESOND EN GEHIDREER

    Water vervul ’n lewensnoodsaaklike rol in die liggaam. Dit vervoer voedingstowwe en suurstof na alle liggaamsdele en voer afval uit die liggaam. Dit reguleer liggaamstemperatuur, beskerm en smeer gewrigte en hou mukusmembrane vogtig. Sonder genoeg water sal jy vinnig dehidreer, wat lei tot talle probleme soos hardlywigheid, verwarring, verlaagde energievlakke, swak proteïenopname en spieragteruitgang.

    Jou ontwikkelende baba se eerste tuiste is ’n sak water. Hoewel dehidrasie nie al is wat daartoe kan lei dat daar te min amniowater is nie, kan kwaai dehidrasie veroorsaak dat daar te min is vir jou baba om na wense te groei.

    Om regdeur jou swangerskap goed gehidreer te bly, moet jy na jou liggaam luister en ag slaan op tekens dat jy dors is of ’n punt daarvan maak om tussen 1,5 en 2 liter skoon water en gesonde drankies per dag te drink. Dit is maklik: Drink vyf glase water en drie koppies rooibos- of groentee of iets anders wat gesond is.

    Onthou om nie baie water of sap saam met ’n maaltyd te drink nie. Die vloeistof verdun die maagsappe en maak spysvertering minder doeltreffend. Let gerus op die volgende:

    •Die liggaamlike siklus sorg dat die uitskeidingsproses vroeg soggens plaasvind. Drink daarom ’n beker warm water vroeg in die oggend as jou spysvertering traag is en eet kos met ’n hoë voginhoud vir ontbyt, byvoorbeeld die meeste soorte vrugte, om die nier- en dermfunksionering te stimuleer.

    •Roer ’n bietjie garingboomstroop (agave) of -poeier by jou gesonde tee in as jy angstig of oorstuur voel. Soet smake kan help om angstigheid te verlig en jou ekstra energie gee.

    •Volgens Chinese en Ajurvediese geneeskunde help bitter smake om die geheue te verbeter. As jy dus sukkel met pregnesia, kan ’n koppie rooibostee sonder suiker en melk twee keer per dag dalk help.

    •As jy twyfel of die water by jou huis skoon is, kan jy ’n tuisfiltreerstelsel of ’n waterbottel met ’n ingeboude filter gebruik of die water eers kook.

    •Hou ’n bottel water, rooibosystee of ’n ander gesonde drankie byderhand om te sorg dat jy heeldag gehidreer en koel genoeg is.

    Water is die enigste vloeistof wat lewensnoodsaaklik vir die mens is. Sekere soorte kruietee (met water gemaak) is natuurlik ’n lekkerder manier om jou genoegsaam gehidreer te hou, maar daar is drankies wat jy liefs moet uitsny. Hier is ’n lysie:

    ✗Vermy alle alkohol aangesien daar nie bewyse is dat enige alkoholinname veilig is nie.

    ✗Probeer om nie meer as een koppie koffie per dag te drink nie en maak seker dat dit goeie koffie is. Dit sluit die meeste soorte kitskoffie uit.

    ✗Beperk kruietees tot nie meer as drie redelike flou koppies per dag nie. Dit kan in jou liggaam opbou en sommige soorte veroorsaak ongemak tydens swangerskap of hou ander gevare in.

    ✗Gaskoeldrank is vol kafeïen en het dikwels ook ’n onaanvaarbaar hoë suikerinhoud. Kunsmatige versoeters in dieetdrankies is dikwels ook skadelik vir jou en jou baba.

    ✗Kommersiële vrugtestap word dikwels nie van regte vrugte gemaak nie en kan ook baie ongesonde preserveermiddels en hope suiker bevat.

    ✗Vars vrugtesap is gesond mits jy dit nie oordoen nie. Wanneer vrugte versap word, word die suiker daarin, fruktose, baie vinnig vrygestel en kan dit die suikervlakke in jou bloedstroom die hoogte laat inskiet. Eet liewer ’n vars vrug; die fruktose word dan aansienlik stadiger vrygestel.

    NOODSAAKLIKE VOEDINGSTOWWE

    Die volgende afdeling is veral gemik op diegene wat op hul verstand eerder as hul instink staatmaak ten opsigte van gesonde voeding. Swanger vroue word oor die algemeen aangeraai om goeie, betroubare aanvullings te neem, maar dit is belangrik om te weet dat voldoende hoeveelhede van talle voedingstowwe wat noodsaaklik is vir ’n gesonde swangerskap, in plantkosse aanwesig is. Jy kan hierdie ses belangrike voedingstowwe uit die regte plantkosse kry:

    ✓Yster word aangetref in groen groente, vrugte, neute, sade, rosyntjies en avokado’s.

    ✓Foliensuur kom voor in groen groente, avokado’s, spanspek, winterspanspek, pomelo’s, nartjies, pere, aarbeie, amandels, haselneute en sonneblomsaad.

    ✓Kalsium is te kry in vye, appelliefies, avokado’s, dadels, druiwe, koejawels, kiwivrugte, suurlemoene, mango’s, spanspek, lemoene, papaja, pere, turksvye, neute en sade.

    ✓Magnesium word aangetref in sade, piesangs en neute.

    ✓Vitamien A kom voor in rooi, oranje en groen groente en helderkleurige vrugte soos mango’s. (Let wel dat jy versigtig moet wees om te veel vitamien A in te neem in die vorm van aanvullings, maar dit is veilig en noodsaaklik om te sorg dat jy dit uit jou dieet kry.)

    ✓Sink word aangetref in neute, sade, peule, soja en grane.

    Voedingstowwe onder die vergrootglas

    Mense wil toenemend meer weet van die kos wat hulle eet en die voedingswaarde daarvan. Maar moet asseblief nie elke happie ooranaliseer nie! As jy meestal gesond eet en baie vars groente en vrugte inneem, is die kanse goed dat jou dieet gebalanseerd – en gesond – is. As jy swanger is, is dit egter goed om meer uit te vind omtrent verskillende makro- en mikrovoedingstowwe en die belangrikste minerale.

    Makrovoedingstowwe is proteïene, koolhidrate en vette, en dit is nodig om dié drie in die regte verhoudings in te neem om gesond te bly. Daarvoor moet jy die volgende kosse eet, selfs as jy nie swanger is nie. Nommer een is die belangrikste en moet die grootste deel van jou dieet vorm, terwyl nommer agt die minste belangrik is.

    1.Rou, heel vrugte Jy kan soveel vrugte eet as wat jy wil mits dit in seisoen en ryp is. Dit moet ook verkieslik rou wees. Wissel soet en suur vrugte af vir optimale spysvertering.

    2.Rou slaai Eet ’n mengelslaai as voorgereg by elke maaltyd of maak dit jou hoofmaal om jou inname van ongesonde kos te verminder en jou liggaam ’n vitamien- en mineraalhupstoot te gee.

    3.Groente Kook groente liggies of stoom dit om die meeste voedingstowwe te behou.

    4.Peule en bone Ertjies, lensies, kekerertjies en die meeste boonsoorte is ’n goeie bron van proteïen, maar moenie geneties gemodifiseer wees nie.

    5.Grane Dit moet so onverwerk moontlik wees sodat die suiker daarin so stadig as moontlik vrygestel word om volgehoue energie te verseker in plaas daarvan om jou bloedsuiker ongesond hoog op te jaag. Dit is graankosse met ’n lae glikemiese indeks. Graankosse sonder enige chemiese bymiddels is ook verkieslik. Daar is ’n wye verskeidenheid soos gort, manna, rog, koring, sorghum, mielies en bruin- of volgraanrys om van te kies.

    6.Rooivleis, pluimvee, vis en eier Eet minder van dié proteïene terwyl jy swanger is en kies waar moontlik vrylopende produkte wat nie sintetiese hormone bevat nie. Bly ook liefs weg van verwerkte vleis wat bymiddels bevat.

    7.Suiwel Verlaag ook die hoeveelheid suiwelprodukte soos melk, kaas, jogurt, karringmelk en room in jou dieet en kyk uit vir produkte wat nie enige hormone, kunsmatige versoeters, kleurstowwe en preserveermiddels bevat nie.

    8.Vette en olies Beperk jou inname van vette en olies, maar moet dit nie heeltemal uitsny nie. Dit is belangrik dat dit goeie, suiwer koudgeparste olies is.

    Mikrovoedingstowwe is vitamiene en minerale wat die liggaam in klein hoeveelhede nodig het ten einde gesond te ontwikkel en te funksioneer. ’n Tekort aan dié spoorelemente kan ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak. Dit kom in klein maar voldoende hoeveelhede in sekere kosse voor.

    Enkele belangrike vitamiene:

    •Vitamien A is nodig om essensiële vetsure te kan verteer en die spysverteringskanaal, longe en mukusmembrane gesond te hou. Wees versigtig om nie te veel in te neem nie; dit word met geboortedefekte geassosieer. (Sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ‘n lys van kosse wat vitamien A bevat.)

    •Vitamien B2 is nodig vir energiemetabolisme, met ander woorde om voedingstowwe in energie om te skakel, en vir die gesonde groei en ontwikkeling van sekere liggaamsweefsels vir jou en jou baba. Dit kom in peule, neute, groen groente, heelgraankos, suiwel en eiers voor.

    •Vitamien B6 is nodig vir die vorming en groei van nuwe liggaamsweefsel in jou en jou baba en is ’n teenvoeter vir naarheid. Dit kom voor in heelgraankos, suiwel, eiers en maer vleis.

    •Vitamien B12 is nodig vir die normale verdeling van rooibloedselle en ’n tekort sal tot bloedarmoede lei. Dit kom voor in organiese vrugte en groente (wat nie met chemikalieë gewas is nie), maer vleis, hoender, kalkoen, suiwel en eiers.

    •Foliensuur is nodig vir die gesonde ontwikkeling van jou baba se neuraalbuis waaruit die brein en senustelsel weer ontwikkel. (Sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ‘n lys van kosse wat foliensuur bevat.)

    Enkele belangrike minerale:

    •Yster hou liggaamsweefsel sterk, verseker dat die liggaam genoeg suurstof opneem en bied beskerming teen infeksie. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat yster bevat.)

    •Kalsium bou gesonde spiere, vel, bene en tande en help om eklampsie en kardiovaskulêre siektes te voorkom. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat kalsium

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1