Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Eet reg: Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet
Eet reg: Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet
Eet reg: Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet
Ebook387 pages5 hours

Eet reg: Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Vetsug neem skokwekkend toe. Die oorsaak lê deels by emosionele eet, wat in die kinderjare aangeleer word wanneer ons kos gebruik as beloning of straf, of om liefde te wys. Dié gebruike programmeer ’n kind se brein só dat hy of sy later, in moeilike tye na kos gryp om beter te voel. 'Eet reg' is propvol raad wat jou en jou kinders vir altyd van emosionele eet kan bevry. Voed jou gesin optimaal, leer jou kinders om lekker én gesond te eet, en eet self reg – lewenslank!
LanguageAfrikaans
Release dateMay 1, 2016
ISBN9780798171281
Eet reg: Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet
Author

Zelda Ackerman

Zelda Ackerman is ’n geregistreerde dieetkundige met ’n passie vir kindervoeding. Sy is ’n gereelde medewerker van 'Baba en Kleuter' en die stigter van Family First Nutrition Pty (Ltd).

Related to Eet reg

Related ebooks

Related articles

Reviews for Eet reg

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Eet reg - Zelda Ackerman

    Eet reg

    Bevry jouself en jou kinders van emosionele eet

    ZELDA ACKERMAN

    Geregistreerde Dieetkundige SA

    Human & Rousseau

    Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Eet reg mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Hierdie boek word opgedra aan elke kind wat oorgewig is, asook my lieflingkinders: Yannis, Divan en Carissa. Ek is skatryk met julle in my lewe!

    VOORWOORD

    Anatomy is destiny. Hierdie bekende uitspraak deur Sigmund Freud dien as konstante herinnering dat jy nie in jou liggaam woon nie, maar dat jy jou liggaam is en dat jou liggaam jy is. In dié boek verduidelik Zelda Ackerman in verstaanbare terme hoe betekenisvol Freud se stelling eintlik is. Sy maak tereg die punt dat ouers minstens in ’n sekere opsig hul kinders se toekoms kan bepaal deur hulle te leer dat kos en liefde niks met mekaar te doen het nie. Jy sal uiteindelik teësinnig toegee en met Zelda saamstem: Lekkers, tertjies en talle ander kossoorte wat as sosiaal aanvaarbare bewyse van omgee en liefde beskou word, is bykans deur die bank skadelik, al is dit hoe goed bedoel.

    Eet reg kan daarom in ’n mate as ’n praktiese handleiding gesien word – een waarvan elke ouer kennis behoort te neem. Zelda neem die leser op ’n tog: van die beginstadium waar kos en emosies met mekaar vervleg word, tot al die stappe wat emosionele eet kan voorkom én oorkom. Die praktiese wenke en voorstelle sal van onskatbare hulp vir ouers van babas, kleuters en tieners wees, maar daar is ook meer as genoeg praktiese advies vir volwassenes.

    Gesien uit ’n gedragswetenskaplike oogpunt, word dit al duideliker dat ons emosies, waarnemings en optrede verweef is met ons fisiologie. Emosionele geluk het veel meer te doen met biologie as wat die meeste mense besef, en dit wat ons van jongs af eet, is baie nou daarmee verweef.

    Hierdie is nie nog ’n dieetboek nie. Inteendeel, Zelda Ackerman wys op ’n informele, ontspanne manier waarom die meeste diëte juis nie werk nie. Lees dus Eet reg en bevry jou kind van emosionele eet en alles wat daarmee gepaard gaan.

    Louis Awerbuck

    Kliniese Sielkundige

    INLEIDING

    My kinders is my hart se punt. Net voor ek saans gaan slaap, loer ek eers in by hul kamers om te sien of hulle nie te warm of te koud kry nie. Wanneer ek hulle so in hul bedjies sien, wil ek hulle net styf vashou en soen. In dié oomblikke wel ’n klomp emosies in my op: onbeskryflike dankbaarheid, geweldige trots en ’n diep tevredenheid. Ek wens ek kan die tyd stadiger laat aanstap sodat ek die vreugde van ma-wees kan rek. Ek wil saam stories lees wanneer hulle vroegoggend by my in die bed inkruip; ek wil hulle kielie, ópkuier en saam met hulle skaterlag.

    Daar is net een woord wat al hierdie emosies, wense en begeertes opsom: liefde. Liefde is die basis van familie, vriendskappe en die hele samelewing. Almal se grootste begeerte is dat iemand ons sal liefhê en om iemand te hê vir wie ons kan lief wees.

    Een van my man, Christo, se groot liefdes is die natuur. Dit is waar hy ontspan, in die tuin oor ’n koppie koffie. Naweke stap ons graag met die kinders by ’n dam of natuurreservaat en vang vis of hou piekniek. Soms baljaar hulle op die ingewing van die oomblik in die vlak water en is dit omtrent ’n storie om die nat lyfies sonder handdoeke en droë klere by die huis te kry!

    Christo groet weinig sonder ’n steggie in die hand ná ons by vriende gekuier het. Eers wanneer ons terug by die huis is en die plantjie al die nodige versorging gekry het, kry ek weer aandag. Selfs wanneer ek slaai maak, kry ek opdrag om die soetrissies se saadjies te bêre omdat hy dit wil plant.

    Wat my veral fassineer terwyl ek hom dophou waar hy met ’n plantjie en ’n grafie in die tuin staan, is dat hy dikwels twee skaduweetjies bykry, sodat daar nou drie is wat ’n saailing verplant, ’n boompie wat wild opgeskiet het in ’n potjie plant of ’n bossie uit die groentetuin trek.

    Ons oudste seun, Yannis, en Divan, sy jonger boetie, is net soos hul pa. As Yannis ’n papajaboompie in die tuin sien opkom, lig hy ons almal onmiddellik in dat dit syne is voor hy die boompie uithaal en versigtig maar selfversekerd in ’n potjie plant. Dan versorg hy dit tot dit groot genoeg is om op die regte plek uit te plant. Wanneer ek pampoen of papaja sny, kom hy aangehardloop met ’n bakkie om die pitte te red. Hy droog hulle dan om in sy groentetuin te plant. Hy is baie trots op die groot papajaboom in sy tuin. Hy het op drie reeds die name van omtrent 15 bome in ons tuin in Pretoria geken en kon ook ’n klomp voëlspesies uitken.

    Hierdie storie, wat ek so baie deur die kombuisvenster sien afspeel, het my iets laat besef: My man het nooit vir ons seuns geleer om lief te wees vir die natuur nie; hy het nooit vir hulle gesê dat dit belangrik is om bome se name te ken of dat hulle saadjies moet versamel en plant nie. Hy het eenvoudig gedoen waarvan hy hou en sy passie uitgeleef. Hulle het dit gesien en hul pa spontaan begin na-aap.

    ’n Paar maande gelede het ons ’n klompie hoenders aangeskaf sodat ons eiers kan hê. Ons het hulle eers in ’n hoenderhok aangehou, maar na baie mooivra loop hulle nou vrylik in die tuin rond. As jy nie hoenders ken nie, sal jy dalk verbaas wees om te hoor dat hoenders ewe lief is vir tuinmaak – of moet ek sê tuin-breek? Hulle skrop al die mooi grondbedekkers uit, vreet die nuwe wingerdblaartjies (wat Christo elke oggend met sorg tel) en oes die rooiste pikantrissies vir middagete. Jy kan net dink hoe Christo voel oor ons geveerde vriende wat ek aangeskaf het om ’n lekker plaasgevoel te skep! As hy per ongeluk sien hoe een ’n pragtige ryp rooi pikantrissie afpluk, maak hy geen geheim van sy gevoelens nie. Trouens, almal binne ’n omtrek van 500 m moet hoor hoe ongelukkig hy is. Daarom was dit glad nie vreemd toe die seuns nou die dag in hul boomhuis wou klim om hul boogskietvernuf op die hoenders te toets nie.

    Dit is dinge soos dié wat wys hoe kinders leer. Wanneer ons ons kinders iets belangriks wil leer, soos hoe om konflik te hanteer, liefde te betoon, te vergewe of gesond te eet en aktief te wees, is een van die beste maniere deur die regte voorbeeld te stel. Ons moet dit self doen. Dit tref my telkens hoe ek myself, my man of ’n oupa of ouma sien in klein dingetjies wat my kinders sê of doen. Of ons daarvan hou of nie, kinders boots na wat hulle sien. Wanneer hulle klein is, doen hulle veral nie wat ons sê nie – hulle doen wat ons doen.

    Kos is net so belangrik soos liefde en ons kan nie daarsonder leef nie. Wanneer kos skaars is, beraam mense planne en tree instink in. As dit moet, sal ons enigiets eet, selfs wurms en sprinkane. Ons basiese drang na kos verseker dat ons liggame al die voedingstowwe kry wat dit nodig het om te funksioneer.

    In die oertyd moes mense jag en hul kos in die natuur vind. Deesdae lyk die prentjie anders en is ons gewoond daaraan om net die yskas oop te maak wanneer ons wil eet. Kos is in baie huise in oorvloed beskikbaar en is nie meer net ’n manier om ons liggame te voed nie; dit word ook gebruik om in emosionele behoeftes te voorsien. ’n Behoefte aan beloning, byvoorbeeld, of aan vermaak of ontspanning kan iemand laat eet. Kos word gebruik om verveling te verlig, as ontsnapping aan ’n onhoudbare situasie of as troos. Dit word selfs gebruik om te spog, iemand te beïndruk en liefde te betoon. Kos word deesdae algemeen gebruik om ’n emosionele leemte te vul of iets wat ons emosioneel uitdaag, te ontwyk.

    Daarmee saam het gewigsprobleme ’n geweldige impak oral in die wêreld. Ek sien baie mense by my praktyk wat kom hulp soek omdat hulle nie oortollige gewig kan afskud nie. Tydskrifte, koerante, reklameborde, die televisie, radio en internet is oorlaai met advertensies vir gewigsverliesprodukte of -programme wat vinnige, blywende resultate belowe. Omtrent almal probeer jaar in en jaar uit om gewig te verloor, gewoonlik met behulp van ’n dieet – en jaar na jaar ry hul gewig wipplank soos wat hulle moed verloor en dan weer met nuwe geesdrif begin, en weer moed verloor en weer begin. Diëte werk juis nie; navorsing wys dat voedselbeperkings mense meer laat eet. Die rede waarom die meeste diëte nie werk nie is juis omdat dit jou kosinname probeer beperk.

    Gewigsprobleme was in die verlede iets waaroor volwassenes bekommerd was. Deesdae is dit nie net tieners wat besorg is oor die grootte van hul jeans nie, selfs sewejariges klim soggens op die skaal of is bang dat hulle gaan vet word as hulle dalk te veel eet. Ek sien daagliks hoe mense sukkel om die nodige aanpassings te maak sodat hulle die ekstra gewig eens en vir altyd kan afskud, selfs al weet hulle wat nodig is. Om die waarheid te sê, baie van die mense wat my kom spreek, weet reeds wat hulle behoort te eet en wat nie. Tog doen hulle dit nie.

    Waarom is selfs die beste dieet nie ’n waarborg dat iemand gewig gaan verloor en dit nooit weer gaan optel nie? Omdat mense nie net eet wanneer hul liggame ’n behoefte aan kos het nie. Daar is nog ’n faktor wat mense kan laat eet – soms bewustelik, ander kere so subtiel dat hulle dit skaars besef: hul emosies. As moedeloosheid, spanning, hartseer, frustrasie, verveling of woede kop uitsteek, word die dieet teen die yskas waarskynlik in die asblik gegooi nog voor jy o, koek kan sê en die koskas geplunder om hulle te laat beter voel.

    Mense se ingesteldheid, verwagtinge en uitkyk op die lewe word grotendeels in die vroeë kinderjare vasgelê omdat jong kinders nog nie logiese en bewuste wesens is nie. Hulle is in dié stadium ontvanklik vir allerhande invloede. Die voeding wat iemand in die eerste duisend dae vanaf bevrugting tot met sy tweede verjaardag kry, het ’n groot impak op sy gesondheid as kind en volwassene. Navorsing toon dat die eerste vyf jaar in ’n kind se lewe deurslaggewend is ten opsigte van die vorming van gesonde eetgewoontes. Sommige aspekte van eetgedrag wat verbind word met fiemies en oorgewig ontstaan in die kinderjare en bly betreklik konstant tot volwassenheid. Dan probeer ons om veranderinge te maak, maar wanneer dit sukkel, keer ons terug na die programmering en patroon wat jare gelede vasgelê is. Die eetgewoontes wat ons as kind aanleer, is so diep ingeprent dat dit dekades later baie moeilik is om daarvan af te sien. Dit is geen wonder diëte faal nie!

    Dit sal dus meer sinvol wees om ons energie, tyd en geld te bestee om te keer dat komende geslagte oorgewig is. Die fokus van dié boek is dus deurgaans op voorkoming. Die meeste ouers wil graag hê dat hul kinders ’n beter toekoms het as wat hulle gehad het. Een van die verstommende dinge omtrent ouers is dat hulle dikwels meer vir hul kinders doen as vir hulself. Hulle sal dus makliker en meer geredelik aanpassings maak ter wille van ’n kind se gesondheid as hul eie. Wanneer dit gebeur, baat die ouers terselfdertyd.

    Met hierdie boek – en by Family First Nutrition – wil ons mense help om dié aanpassing te maak en te verseker dat kinders so geprogrammeer word dat hul eetgewoontes vir die res van hul lewe hul gesondheid sal bevorder.

    Dit is glad nie my bedoeling om enigiemand attent te maak op nog ’n aspek van ouerskap waar jy jou sokkies moet optrek nie. (Daar is genoeg ander bronne wat dit vir ons doen.) Ek wil eerder een deeltjie van jou kind se grootwordproses uitlig waar klein aanpassings sy gesondheid lewenslank kan bevoordeel – en dit is hoe jy hom voed en wat hy eet van geboorte tot sewejarige ouderdom.

    Ek het hierdie boek dus geskryf vir elke ouer, grootouer, onderwyser, afrigter, mediese personeellid en volwassene wat na kinders en veral babas en kleuters omsien. Ek nooi jou om saam met my te kyk watter eenvoudige veranderings ons kan maak aan die manier waarop ons ons kinders voed sodat hulle ’n gesonde gewig kan handhaaf en nie ’n lewenslange stryd met die badkamerskaal voer nie.

    Wanneer jy dié boek klaar gelees het, behoort jy ’n beter begrip te hê van die volgende:

    •hoe emosionele eet by kinders ontstaan en hoe ons dit kan voorkom;

    •hoe ons eksterne eet by kinders kan voorkom;

    •hoe om emosionele eet en ander nadelige eetgewoontes in jou eie lewe te oorkom;

    •hoe om jou kind te leer om negatiewe emosies op gepaste wyse te hanteer;

    •hoe om die gunstigste omgewing by die huis te skep vir die voorkoming van emosionele eet en oorgewig;

    •hoe om jou gesin optimaal te voed;

    •hoe om jou kind te leer om lief te wees vir gesonde kos, en

    •hoe om ’n kind wat reeds oorgewig is, te hanteer.

    1

    VOEDING EN EMOSIES

    Klein Annie se eerste asemteug is ’n wonderwerk! Op daardie oomblik word ’n ma, Tersia, en pa, Johan, gebore. Hulle kyk dankbaar na mekaar en lag opgewonde. Hulle weet alte goed watter groot verantwoordelikheid op hulle wag om hierdie piepklein mensie te versorg en groot te maak.

    In talle opsigte is Annie nog ’n leë boek. Sy het ’n paar aangebore instinkte en reflekse wat haar sal help oorleef, maar sy het geen idee hoe om die wêreld te benader nie. Sy is ontvanklik vir enige invloed, van watter aard en van wie ook al. Dit maak die verantwoordelikheid wat op Johan en Tersia se skouers rus, nog groter.

    Voedsel en veiligheid is twee van haar mees basiese behoeftes. Aanraking en spesifiek die nabyheid van haar ma, die persoon aan wie se liggaam sy tot op dié punt van haar bestaan verbind was, is net so belangrik. Kontak, liggaamlik sowel as emosioneel, is belangriker vir ’n baba as wat mense dikwels besef. Babas wat goed genoeg gevoed word, maar nie liefde en aandag ontvang nie, toon ’n agterstand ten opsigte van hul ontwikkeling.

    Die meeste soogdiere se kleintjies is met geboorte reeds in staat om na hulself om te sien, maar nie die mens s’n nie. Dit neem mensbabas minstens ses maande voordat hulle begin leer om self te eet. Trouens, Johan en Tersia moet vir minstens ses jaar ’n bord kos voor Annie neersit met etenstyd; eers daarna sal sy ’n klein bietjie meer vir haarself kan begin doen.

    Haar taalvaardigheid sal ongeveer twee jaar neem om genoeg te ontwikkel dat sy eenvoudige vrae kan beantwoord en haar behoeftes kan kommunikeer. Vir minstens die eerste jaar van haar lewe gaan Annie haar ma vertel dat sy iets wil hê of nodig het deur te huil. Maar sy gaan nie net huil wanneer sy kos of liefde nodig het nie. Sy gaan huil wanneer iets seer is, byvoorbeeld wanneer haar magie pyn. Sy gaan huil as haar doek vuil is of as sy winde het en ongemaklik voel. Sy gaan huil wanneer sy te warm of koud kry, of as sy vaak, alleen, bang of verveeld is. Annie se trane is dus ’n teken van ’n liggaamlike behoefte (aan kos, klere, ’n skoon doek of slaap) of ’n emosionele behoefte (vertroosting, liefde of die nabyheid van haar ma).

    Johan en Tersia wil graag hê dat hul baba eendag ’n gesonde, selfversekerde persoon moet word en daarom het hulle reeds voor haar geboorte besluit om dadelik te reageer wanneer sy begin huil. Noudat sy daar is, besef hulle dat hulle nie altyd weet hoe om te reageer nie.

    Hulle moet eers leer om Annie se liggaamstaal en verskillende maniere van huil te interpreteer. Annie is hul eerste baba en dit is dus moeiliker. Wanneer Tersia seker is dat dit ’n nat doek is wat pla, huil Annie steeds ná Tersia haar doek omgeruil het. Dan breek sy ’n groot wind op en hou op met huil. Wanneer sy weer huil, vryf Tersia dus haar ruggie, maar dit help niks. Wanneer Annie aan die slaap raak, besef  Tersia dat sy eintlik moeg was. Dié raaiery het Tersia kort voor lank mismoedig. Sy kan net nie reg raai nie!

    Namate Annie grootword, word haar seine duideliker en leer Tersia haar goed ken. Dit word al makliker om tussen hongerhuil,  vaakhuil en seerhuil te onderskei. Tersia het patrone in Annie se gedrag opgemerk wat haar gehelp het om te bepaal wat verkeerd is en wat nodig is.

    Johan was egter minder betrokke by Annie se versorging en het steeds gesukkel om haar seine te lees. Wanneer hy Annie opgepas het sodat Tersia ’n blaaskansie kan kry, het hy nie geweet wat om te doen nie. Toe Tersia en ’n vriendin ’n dag by ’n spa gaan deurbring het, was hy raadop. Annie het aanmekaar gehuil en hy wou nie vir Tersia pla nie. Naderhand het Johan sy ma gebel om raad te vra. Sy het voorgestel dat hy haar ’n bottel melk gee, selfs al was dit nog nie tyd vir haar volgende bottel nie. Dit het gewerk! Annie het ’n bietjie gedrink en aan die slaap geraak.

    Johan was so verlig dat hy elke keer wanneer hy haar moes oppas, ’n bottel melk byderhand gehou het. As Annie geval en seergekry het, het ’n bottel melk die trane vinnig laat opdroog. As sy moeg was of haar ma wou hê, het die bottel haar gekalmeer. As sy in die kar of winkel moeilik was, of as sy hom gepla het terwyl hy besig was om ’n dringende e-pos te beantwoord, het hy haar bottel gaan haal. Wat ook al die probleem, ’n bottel melk het dit opgelos.

    Johan en Annie se werksverpligtinge het stelselmatig verander en hy het al hoe meer na Annie begin omsien. So het sy al meer melk gekry. Toe sy twee was, het sy steeds vier groot bottels per dag gedrink.

    In ’n stadium het Annie siek geword en die pediater het haar vir bloedtoetse gestuur. Sy was baie bang. Die toetse was baie seer en traumaties vir so ’n klein dogtertjie. Gelukkig het die suster haar ’n stokkielekker gegee om te help teen die pyn, en ná die tyd het

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1