Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die muur van die pes
Die muur van die pes
Die muur van die pes
Ebook596 pages14 hours

Die muur van die pes

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Een van die ergste vorms van die Swart Dood in die 14de eeu het sy slagoffers binne vyf dae uitgewis. Maar dat daar ander, subtiele, moderne en ewe dodelike vorme bestaan van die Pes wat in die donker wandel, ontdek die bruin Kaapse meisie Andrea Malgas gedurende die vyf dae wat sy ná ’n jarelange verblyf in Europa in Provence deurbring.
Sy staan tussen twee mans: Paul, die welvarende, middeljarige blanke esteet wat haar al die gerief en sekuriteit van ’n lewe in Europa aanbied; en Mandla, die jong swart aktivis wat haar opnuut blootstel aan die gevaarlike teenwoordigheid van Afrika, waarvan sy haar so lank al vry gewaan het. Onder andere moet sy besluit of “vryheid” ook mag beteken dat jy kan klaarkom sonder die land, die samelewing, die mense wat jou gevorm het.
Op soek na lokaliteite vir Paul se film oor die Swart Dood kom Andrea en Mandla uit by die oorblyfsels van ’n Muur van die Pes wat eeue gelede gebou is om die plaag te probeer keer. Vir haar is dit die kulminasie van al die baie mure waardeur sy in haar lewe voorgekeer is en wat mense apart van mekaar probeer hou: mure tussen ras en ras, tussen generasie en generasie, tussen man en vrou, tussen hede en herinnering, tussen werklikheid en droom, uiteindelik tussen lewe en dood. Wat sy egter ontdek in die skokkende ontknoping van ’n lewe, herleef in vyf dae, is nie iets negatiefs nie, maar die ontroerende besef dat mure ook afgebreek kan word.
In die laaste instansie is dit die skrywer Paul wat in een van die oorspronklikste verteltegnieke wat nog in ’n roman gebruik is, antwoorde moet gee op die baie vrae wat die verhaal se opset bepaal. Wat daardie antwoorde is, en of hy daarby uitkom, kan die lesers eers aflei wanneer hy die hele sirkel van die roman voltooi het.
Die muur van die pes, wat in baie opsigte ’n bedoelde tweeluik met Kennis van die aand vorm, is ’n ryker en ryper werk as enigiets want André P. Brink nog geskryf het.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 16, 2016
ISBN9780798173124
Die muur van die pes
Author

André P. Brink

André P. Brink was een van die veelsydigste figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal en hy is met o.m. die Hertzog- en die WA Hofmeyr-prys bekroon. Brink is op 6 Februarie 2015 oorlede.

Read more from André P. Brink

Related to Die muur van die pes

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die muur van die pes

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die muur van die pes - André P. Brink

    DIE MUUR VAN DIE PES

    ROMAN

    André P. Brink

    Human & Rousseau

    Vir

    NANNA

    omdat jy daar is

    Al wat ek sê, is dat daar op hierdie aarde pestilensies en

    slagoffers is, en dat mens so ver as moontlik moet

    weier om by die pes gereken te word

    ALBERT CAMUS (LA PESTE)

    Die Pes . . . is die openbaring, die voorstelling, die veruiterliking

    van ’n diep latente wreedheid waardeur al die

    perverse moontlikhede van die gees in ’n

    enkeling of ’n volk gelokaliseer word

    ANTONIN ARTAUD (LE THÉÂTRE ET SON DOUBLE)

    Om dié redes . . . is ’n verskeidenheid vrese en drogbeelde geskep

    in die gemoedere van diegene wat bly lewe het, en byna

    almal van hulle het een-en-dieselfde boosaardige

    besluit geneem, naamlik om die siekes en al

    hul besittings te vermy en sodoende

    hul eie heil te probeer verseker

    GIOVANNI BOCCACCIO (DECAMERONE)

    Whither will you go, and what will you do? I would as willingly

    go away as you, if I knew whither. But . . . here we were born,

    and here we must die

    DANIEL DEFOE (A JOURNAL OF THE PLAGUE YEAR)

    But, in the last analysis, the most noticeable feature of the

    Black Death was not that some escaped but that

    everyone was to some extent involved and

    paid the price of involvement

    PHILIP ZIEGLER (THE BLACK DEATH)

    DEEL EEN

    . . . daaraan is ’n mens binne vyf dae dood

    GUY DE CHAULIAC, lyfarts van Pous Clemens VI

    in Avignon, ten tyde van die Swart Dood, 1348

    EERSTE DAG

    Omdat ek daar was. (Soveel reise word in een reis gereis.) Omdat ek al eerder blootgestel was aan dié soort lig wat van nuuts af oor my gebreek het die dag toe ek, ná my rond-en-bont-trekkery in die klein wit Renault wat Paul my gegee het, die Rhône oorgesteek het na Avignon se bruin mure. Nie dat die vorige blootstellings my gekondisioneer of selfs voorberei het nie. Mens leer mos nie, ná die eerste keer, ’n nuwe plek ooit weer van binne af ken nie: jy kry jou nooit heeltemal in hom ingeleef nie. Daarom die onvergenoegdheid, en selfs dit verdof deur gewoonte, dat jy nooit eintlik êrens uitkom nie, ook nooit eintlik loskom nie. Op reis. Op soek. Op vlug? Boetie: Wat neuk jy so, Andrea? As jy eenmaal ’n jeuk in jou gat het, dan vat jy dit saam waar jy ook al gaan, al is dit maan toe. Vir my was dit maklik so ver soos die maan, dié Provence. Verder van Distrik Ses af sou mens seker nie kon kom nie. Die jeuk het saamgetrek. En wat ek nog altyd nie wis nie, was: Is dit oor die kleur, oor die bruin waarmee my lyf geslaan is, die bruin waarvoor Brian so lief was, en nou weer Paul, en waarby alles begin het? Of oor ek vrou is? Of oor iets wat ek in my self het, oor wat my ék maak, Andrea Malgas?

    Terug na dieselfde landskappe, oor en oor. Soos liefhê, het Paul lui en speels geterg, die nag tussen die ou klipmure van die auberge: Daar’s mos dié wat sê dat al mens se later liefdes net variasies en herhalings van die eerste is. Nie dat jy dit al sou agtergekom het nie – jy’s nog te jonk.

    Volgende April word ek dertig.

    Wie herhaal ek vir jou?

    Jy is die uitsondering wat my weer nuut laat begin het. Dit was toe dat hy so onverwags gesê het, spotliggies in sy groenerige oë: Jy weet, geld is deesdae so min werd, mens kan maar net sowel vir liefde trou. Hoe lyk dit?

    Dit was ook hier in Provence gewees, Juliemaand, in die hoogsomer. Waar ek nou terug was, maar nou in die stiller, harder landskappe van die laatherfs.

    Ek wis nog nie, toe ek uiteindelik die Rhône oorsteek, dat ek net vyf dae tot my beskikking sou hê nie. Ek het juis gedag dat ek die tyd sou kon afskud; dat dit so grensloos sou wees soos die ruimte van die suide. (God: daardie ánder suide!) En ek het bowendien gedag ek sou alleen wees – dit was die hele bedoeling van die uitvlug – want ek wis toe mos nog nie van Mandla wat agterna sou kom nie.

    Wat bestem so ’n reis? Toeval, louter toeval? Maar wat nou na toeval lyk, lyk later anders: skakel op skakel. As hulle Brian en my nie lank gelede daardie nag . . . As hy my nie, toe alles agter die rug was (agter die rug? ooit?), juis Provence toe gebring het om my voete te vind nie . . . As ek nie in Parys by Frank gaan aanklop het nie . . . As Frank nie die aand so bitter teen my sin vir Paul ook oorgenooi het nie . . . As ons nie vier jaar later die paar dae na die Loirevallei moes gaan nie . . . As ons nie die somer na Provence toe gekom het op die spoor van sy filmteks oor die Swart Dood nie . . . As Mandla nie dié vyf dae . . .

    Verbrande hout. En wat brand, maak seer. Hoekom hoef ek my hoegenaamd verplig te voel om te antwoord? Is dit dan denkbaar dat mens se lewe die antwoord op ’n vraag kan wees – wat wie gestel het?

    Maar Paul het mos gesê: Lewe, lewe jy vorentoe: die verstaan loop agteruit. Ek het gedag dis maar deel van sy man-manier van dink. Nou wonder ek. Wat op ’n gegewe oomblik gebeur, lê dalk al jare in mens se bloed en wag. Jy’t altyd geglo jy is gesond. Maar op ’n dag, sommer een aand as jy uit die bad klim en toevallig voor ’n spieël vassteek en verbaas, verlief, na jouself, nakend, kyk, dan ontdek jy die buil in jou lies.

    (Sou dit kon wees wat jy gedink het? Mens moet maar veronderstel. Seker kan jy nie wees nie: om te prakseer, te ontwerp, te raai, te verbeel, is iets van ’n troos, ’n bietjie selfbemoediging, desnoods ’n geloofsdaad, maar nog nie feit of sekerheid nie. Tog het ek geen ander keuse nie: ek kan maar net probeer. Moet. Vergewe my by voorbaat. Moet my in godsnaam nie ook in ’n storie verander nie, het jy gesê.)

    Toe ek weg is van my klein dakwoonstel in die Rue Bonaparte – hoe lank? seker goed ’n week voor hierdie vyf dae in Provence: van duur of tyd was ek my die ruk werklik nie bewus nie – het ek geen bedoeling gehad om van die beplande roete af te dwaal nie. Paul was die nag (natuurlik) by my gewees; hy het my vroemôre al, toe ek nog half deur die slaap was, met sy liefkosing gewek. Ek het hom laat begaan, my oorgelewer aan sy vaardigheid: ’n man met ervaring en littekens, wat ver gereis het – deur vele vroue – en dit nou kon bekostig om te vertoef, nie soos ’n jongere gebonde aan die arrogante kortstondigheid van ’n ereksie nie; seker van wat hy doen en wil en kan, teer tot in sy drif – en tog, in die snik wanneer hy klaarkom, die verbasende weerloosheid van ’n seun wat hom nog aan die liggaam kan verwonder. Hy het my weer toegemaak en in die bed laat bly terwyl hy ontbyt maak. Oor my dye die louerige, taaierige saad wat uitdrup, die hartseer van verlies: die skerp pyn van so dikwels deesdae, dat dit nié so moet eindig nie, maar ’n kind in my moet word. Natuurlik kan ons ’n kind hê, Andrea. Maar ons moet eers trou. ’n Kind het die sekuriteit nodig. Maar Paul, is jy seker ’n kind sal nie vir jou lastig wees nie? Joune is al getroud. Ek wil by jóú ’n kind hê, Andrea. Dis waarom – Ek het hom met ’n vinger op sy mond stilgemaak: Gee my eers dié kans in Provence om te besluit. Daarna sal ek jou sê. Sou selfs hy besef het hóé dringend ek deesdae daaraan dink? Vroeër – nog in die Kaap, jongmeisie – het ek dit eenvoudig aanvaar: nie net dat ek kinders sou hê nie, maar sommer baie. Nou, skielik, was ek amper dertig, en nou was dit nié meer vanselfsprekend nie. Ek sou moes gou maak as ek nog wou. ’n Bewuste besluit neem. Of my anders moes leer versoen met ’n onverwagse leegte wat gaan duur, en waarteen ek by voorbaat in opstand was.

    Deur die oop kamerdeur kon ek hom sien waar hy besig is in die kombuis: die wondbaarheid van sy wit smal boude; die rug nog bruinerig van die somer, maar een van die dae sou dit weer heeltemal verbleik wees. ’n Aanmaning van grys in die weligheid van sy hare. Maar die liggaam nog jeugdig. Al die kwaaiheid en erbarming daarvan het ek geken; moes ’n oomblik selfs sluk aan ’n soet, sagte hartseer (Móét ek regtig nou weggaan?!) en die waai van ’n arm oor my oë buig om te konsentreer op die loute wat uit my eb. (Wanneer sal ek jou weer sien? Wanneer sal dit weer so wees?)

    Is die brood vars genoeg? Ek kan uitgaan en gaan croissants kry.

    Nee. Kom liewer terug na my toe.

    Moenie my weer verlei nie. Jy moet klaarmaak. Jy het ’n lang pad voor.

    Terwyl ek regmaak – stort, aantrek, my tyd neem met grimeer – het ek agtergekom dat hy, soos altyd, ongeduldig raak. Selfs Brian het my draaiery net met moeite verdra. Dié manlike haas om klaar te maak, om die dag in te trek: soveel kilometer na die bestemming, soveel uur, tyd is belangrik. Mý skeel dit min. Ek weet ek oordryf dit. Maar ek het tydsaamheid nodig in die môre: ronddool in my donkerrooi kamerjas (Paul se keuse), hier vat, daar los, iets optel en weer laat val, soek na iets wat verlê is, ’n laai regpak, onthou van iets in ’n handsak en dit gaan omkeer, en dan grimeer, en daarvan vergeet en eers ’n ruk sit en staar of dink. Om alles wat in die loop van die nag losgetorring is, weer gerangskik te kry. Daarsonder het ek nie houvas op myself nie en bly die dag ’n bedreiging.

    Andrea, ek wil jou nie aanjaag nie, maar –

    Dis tog nie so ver Avignon toe nie.

    Sewehonderd kilometer! Ek wil nie hê jy moet donkeraand eers daar aankom nie.

    Ek het my skouers opgetrek.

    Kan ek solank jou tas toegord?

    Ja. Nee, ek moet nog kyk watter skoene –

    Dit was ons laaste môre; hy wou dit nie vertroebel deur openlik ergerlik te raak nie, maar hy het swaar gekry, en ek het dit met ’n tikkie moedswilligheid effens uitgerek. Eers skuins voor elf is ek weg; in die truspieëltjie het hy nog bly wuif. Wanneer ek hom oor ’n week of drie weer sien, sou dit dan alles duidelik en besluit wees?

    Selfs toe ek by die Porte d’Orléans op ’n impuls besluit om die pad na Orléans te kies in plaas van in die autoroute du sud in te swenk, was dit nog nie met die bedoeling om af te wyk van die program nie. Ek wóú Provence toe. Dit was nie net Paul en die regisseur wat wou hê dat ek voorlopig lokaliteite vir die film moes gaan ondersoek nie (Avignon, natuurlik; ook Apt; en die gebergte van die Vaucluse): dit was ek self wat wou weg, en wat juis soontoe wou gaan. Omdat ons die somer die paar weke daar was; omdat ek agt jaar tevore met Brian daar was. Terug: want wat Paul my gevra het (so terloops en lig, sy mond halfoop teen my bors; die skielike hoendervleis wat die bruin toppie, toe ek afkyk, teen sy lippe laat verstywe) het alles gewek wat soveel jare lank so gerusstellend slapend was, so ontersake geword het.

    Hoogstens ’n effense ompad, het ek gedink. Met deernis. Om deur die Loirevallei af te ry eerder as met die autoroute, terug deur die wêreld van rivier en wingerde en kastele waar Paul my die eerste naweek heen geneem het toe dit tussen ons begin het. ’n Klein gebaar van piëteit (oor die manier waarop hy my die môre gewek het, oor sy bedagsaamheid: tot en met die hotel wat hy by voorbaat in Avignon bespreek het), om my voor te berei op ’n besluit wat dalk reeds geneem was en wat deur aanraking met destyds se eerste ontdekking van ’n ons bevestig kon word. Want wat anders sou ek werklik, as ek nugter was, as ek hart en hoof moes gehoorsaam, kon besluit as om vir hom ja te sê? Soveel wat ons saam leer deel het, werk en ontspanning; die vertroudheid van ons liggame met mekaar; die geborgenheid van saamwees; die seël op ’n toekoms; ’n kind. Natuurlik sou ek na hom toe terugkom met já; natuurlik. Maar eers het ek die kort onttrekking nodig gehad.

    Toe het ek tog nie by die Loire uitgekom nie; nie eens by Orléans nie. Waar die pad kort anderkant Orly vurk – Orléans links; Chartres regs – het ek die eerste keer afgewyk. En dié keer was dit ’n bewuste besluit. Dit sou my vertraag: ek sou nie meer die aand Avignon haal nie. Maar het dit vir enigiemand saak gemaak of ek vandag daar kom, of môre, of oormôre? – my tyd was nou my eie, die program wat Paul vir my uitgewerk het, was net bedoel om reëlings vir my te vergemaklik. Volg gerus jou eie kop as jy eers daar is, het hy self gesê. Enige plek of aardigheid wat jy raakloop wat ons vir die film kan gebruik – jy weet waarna ons op soek is.

    Net, Chartres het met die film niks te doene gehad nie. Juis daarom. Soos drie jaar tevore, net ná ek die tyding gekry het van Ma se dood, het die naam skielik iets in my laat uitstippel wat vir my self nog nie duidelik was nie. Die Loire was ’n maklike, hanteerbare beginpunt. Chartres was meer prekêr; nie ’n begin nie, maar ’n deurgang tot verder, gevaarliker beginne wat ek dalk eerder met rus moes gelaat het. Destyds ná Ma se dood, was dit Paul wat aangedring het dat ek ’n paar dae weggaan, en by die reisagent het ek heeltemal impulsief op Chartres besluit. (’n Brosjure oor die katedraal; foto’s van die vensters.) Ek is met ’n bus soontoe, een van ’n groep; maar ek het alleen agtergebly, tot die luidkeelse ergernis van die toerleier wat nie sy skape wou laat afdwaal nie. Ek dink dit was drie dae wat ek toe daar gebly het, in ’n goedkoop hooltjie nie ver van die katedraal nie, teen die onderkant van die heuwel. Weeluise snags. Uitgedryf, deur die klein straatjies. Reën en reën. Die vreeslike verlange huis toe. Dit was die eerste keer ná Londen dat ek weer daaraan toegegee het. Die dae gesit en omhuil in die katedraal, net half bewus van toeristetroppe wat verbykom. Droefgeestige lig buite, maar genoeg om te flonker in die vensters. Dit was daardie rooi en blou, daardie blou veral, wat ek nou weer nodig gehad het: nodig, soos jou liggaam op ’n gegewe oomblik weet dat jy nou behoefte het aan vars vrugte, aan vitamines, aan kuisheid of hartstog. Van die oomblik af dat ek die kruispad verby is, het die drang na die katedraal soos ’n honger in my gegroei. Ongelooflik ver, oor die bruin glooiings van die stoppellande, die twee onpaar torings, ongemaklik in hul asimmetrie, steurend, nodig. Woorde wat uit my kinderdae uit skielik teruggekom het. Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is – en ek het nie eens gewéét ek is vermoeid of belas nie! Ek dag ek is vervuld en tevrede, aangepas, gelukkig, met ’n goeie en uitdagende werk, met die liefde van ’n man op wie ek kan reken, ’n versekerde toekoms.

    Die buitensporige skaal van die gebou bokant die heuwel beswerm van huise en geboutjies. Selfs met die gedwonge opruiming van ’n moderne tyd het iets oorgebly van wat dit in die Middeleeue moet gewees het – ’n onhebbelike deurmekaarspul van woonplekke wat eenvoudig soos skulpe op rotse aanmekaar gegroei en gekors en geklonter het. En dan, daarbo, in al sy massiwiteit tog so lig, die katedraal met sy twee arms hemel toe. Hoe swaar om te glo dat daardie dom die bouwerk en prestasie was van die einste mense wat in die rotterny van huisies daaronder saamgekoek het. Ek kon my voorstel hoe hulle in oorlogstyd of pestilensietyd in daardie ver donker eeue uitkoms sou gesoek het in die katedraal: hoe hulle uit die meerkatnes sou aangestrompel het, deur die smerigheid van afvalwater en nagvuil en gemors, om binne dié hoë mure beskerming te kry teen wát daar ook al buitekant dreig. Destyds se God was g’n abstraksie nie. Sy vloek was so reëel soos Sy straf. In Sy gebou was daar veiligheid. Vyande, lanse, soldate, selfs buskruit, siekte, plae, alles is uitgehou deur dié magtige mure. Kom na My toe.

    Nou was ek weer daar. In koel keisteenstraatjies het ek uitgeloop – ek het opsetlik ver stilgehou, al was die dag troebel – om my in die stadjie in te week voor ek in die katedraal inkom. Bang om weer in destyds se hartseer vas te loop? Terwyl iets in my ook daarna gesmag het. Hier en daar trossies mense op straat. ’n Paar swart nonne; dogtertjies met rooi kouse. ’n Onverwagte oopgesnyde oranje ryp pampoen in ’n groentestalletjie. Winkelvensters met boeke, met kosware, wyn, klerasie. ’n Draai met ’n trappiespad langs: met die terugkyk ’n skielike vergesig oor die stad en mistige heuwels. ’n Koue vlagie motreën. Toe die katedraal. Die hele bouwerk van my hartseer. Verkrummelde grys mure, plek-plek swart van die nat, die beelde bo die boogdeure, verrinneweerde heiliges met duiwels en konings aan hul voete.

    Ek het binnekant gaan sit, dowwerig daarvan bewus dat ek honger is, dat ek nooit die middag gedink het aan eet nie. Maar tóé was daar ’n heel ander honger in my; en net die brandende kleure van die glasvensters, het ek desperaat in my derms gevoel, kon dit stil. Die banke roerloos in hul rye. Eenkant teen die muur het ek gaan sit, uit die pad van die mense wat partykeer verbygekom het; donker ruimte tussen hulle en my. Die sybeuk soos ’n bomelaan voor my uit, weg in die diepskemer. Ver voor, ’n skare kerse, dun en regop, lank en kort, aan die brand.

    My gedagtes het ek vryelik laat loop. Ek kan nie nou meer agterhaal waar hulle oral was nie. Dit was ook nie dink in die gewone sin van die woord nie. Ek het my net oorgegee aan die loop van alles in my wat wou beweeg. Ek weet dit het my op een tydstip getref hoe onvanpas ek eintlik daar was. ’n Bruinmeisie van die Kaap hier in die katedraal van Chartres. Daar moet véél gebeur het om my hier te laat beland. Vir die eerste keer van Ma se dood af het ek – nee, nie nou weer terugverlang nie: net weer geweet van iets wat verby is. Buitenkantstraat se kerk, vlak oorkant Caledonplein se polisiestasie. Die lang afstap soontoe, Sondagmôrens, want Ouma het nooit iets misgeloop nie. Die outydse traliewerk van die galery en die koor se afskorting. Die swaar balke bo. Varklelies voor die preekstoel. Die hartstogtelike singery, Ouma los bo almal uit. Die liefde van God, die genade van Onse Here Jesus Christus, en die troosvolle gemeenskap van die Heilige Gees. Die dominee se arms in die lug, sodat die tossels aan sy toga swaai, en hy lyk asof hy werklik die gesag het om liefde, genade en troos te belowe. Tot ons weer ontmoet. Ek met my hare ingedraai in lokke, Ma se trots. My bene swaai-swaai, swart skoene, wit gebreide sokkietjies, tot dit te flink gaan en ek die bank voor raak skop en van Ma ’n vermanende stamp kry. Almal van ons in die bank op ’n ry. Oupa-en-ouma, hy klein en soetjies met sy mond vol onpas tande, suinig met sy laaste bietjie lewe, sy groot en lywig, met ’n seemeeu se woedende oog op alles wat om haar aangaan. Haar twee susters, Ant Joey en Ant Myriam, altyd in die buurt, altyd mekaar en Ouma aan ’t dophou vir tekens van die Einde. Ma met die hoedjie wat die kapsel nie te veel bedek nie, want Ma is hairdresser en moet haar nering adverteer; dit ís mooi hare wat sy het, en wat ek van haar geërf het, ure en ure se naweekswerk. Boet Arie, as hy die dag af het van die hotel in Hermanus waar hy waiter is, sy hare middelpaadjie gekam soos ’n oopgeslane boek, die snorretjie Brylcreem gesmeer dat jy dit banke ver kan ruik. My sus Maggie, twee jaar ouer as ek en baie sediger, toegestrik tot onder haar ken; al haar klere kosprys van Garlicks waar sy werk. Dan ek. Neffens my, tensy hy weer rebels sy eie koers gekry het, want in die kerk kom hy teësinnig, Boetie met die halfmasbaadjiemoue en die kwaai keep tussen die oë. Ouboet Sonny en sy familie ook as hulle op kuier is, maar hy hou skool in Oudtshoorn en dis ver. (En hy mag natuurlik ook nie oë wys as ons pa by die huis is nie, want hy’s Ma se skandekind.) My pa, nee. Nie Dedda nie. Die dan en wan dat hy van die see af by die huis is, en dis selde en onvoorspelbaar, hou hy Ma ook uit die kerk uit, want dan het hy te veel om in te haal.

    Dis wat ek dié dag in Chartres gekom kry het. Ná die eerste diep bevrediging van die vensters wat in die donker gloei, dié brutale beelde van ’n kaler kerk, mense wat ek lank uit my uitgehou het, dinge waarvan ek my al losgedink het. En op die duur het ek my, tot my eie verstomming, tussen die katedraal se swaar mure ingehok gevoel en geloop, meer vertroebel as wat ek binnegekom het. Hoe moes ek dit begryp? Van al daardie banale herinneringe was ek tog al lank bevry: Brian het my vir goed weggeneem en Ma se dood het dit bevestig.

    Vir goed. Dalk was dit waarby dit gelê het. Want dit was nooit regtig, nooit heeltemal, vir goed nie. Al het ek self miskien so gedink. (Net: ek wou agt jaar lank – behalwe net die keer toe Ma dood is – nooit eens daaroor probéér dink nie.)

    Só het dit destyds vir my gelyk: ek was verlos, ek kon van voor af begin lewe, eers in Londen, daarna in Frankryk. Met genoeg om aan die gang te bly. Met die mans wat ek wou hê of kon veel (en ook ander, soms; maar mens leer die slag om van hulle ontslae te raak of hulle kortstondig te akkommodeer). Toe, naderhand, met Paul. En dit was seker vanselfsprekend dat hy vroeër of later sou vra wat hy die nag in Eygalières se auberge gevra het. Niks onvoorspelbaars daaromtrent nie. ’n Logiese keuse – ja; nee – wat wel mens se toekoms bepaal, maar jou nie uit jou steë hoef te ruk nie. Behalwe net dit, wat ek daar in Provence al aangevoel het die nag toe Paul my gevra het, en wat ek van toe af in my bly dra het soos die gewig van ’n kind, en wat my uiteindelik dié middag in Chartres vasgekeer het: as ons trou, is my lewe vir goed beslis. Dan moet ek hier bly: dan kan ek nie weer terug nie.

    Ek wóú nog nooit weer teruggaan nie, nie vir een uur in die jare wat verby was nie: nie eens wanneer ek swaar gekry het of bitter of teleurgesteld of moedeloos was of my hart uitgehuil het nie. Nie weer terug nie, nooit weer nie: nie soontoe nie. Ek was daar uit, Suid-Afrika was die naam van ’n slegte gewete, ’n bedreiging in my slaap; dit was verby. Verby. Maar noudat Paul wou trou, het dit iets wat vanself gebeur het, onder die druk van ’n bewuste besluit geplaas. Sê ek ja, sou ons waarskynlik saam gelukkig wees. Maar één ding was uitgeslote: die keuse. Dan mág ons nie weer terug nie, hy so min as ek. Hy wit; ek bruin. En om so skielik te ontdek dat jy nie mág doen wat jy in ieder geval nie wóú doen nie, verander iets van belang. Dis anders. Dis heeltemal anders. Ek het nooit die minste begeerte gevoel om terug te gaan nie; selfs briewe het ek lankal nie meer beantwoord nie, en meestal mense vermy wat daarvandaan kom, omdat ek my van dit alles losgemaak het. Maar sonder dat dit ooit nodig was om daaroor te dink, was dit tog heeltyd móóntlik om terug te gaan – as ek sou wou. Trou met Paul – en dan nie meer nie. Dan mag ek nie meer nie. Ek was taamlik seker van myself. Maar Paul? As hy dalk eendag, om watter rede ook, sou wou terug? Hy wat deesdae al meer behep raak met sy Hugenote-oorspronge: as hy ook in Suid-Afrika wil gaan wortels opspoor? Natuurlik sal hy alleen kan gaan, as hy wil. Nes ek. Maar nie saam nie. Of dan, goed, met spesiale toestemming, ’n permit, ’n papier wat bevestig dat ons uitsonderings is, afwykendes in hulle samelewing, soos parapleë of monsters met twee koppe of vyf bene. En dit sal ons albei teëhou. Dit sal die gegewene wees van wat ons bind: van wat ons later mag begin grief. Die stil verwyt wat in ’n paar oë opbou, sonder om dit ooit te sê: Kyk wat ek alles om jou onthalwe prysgegee het. Dit hoef nie eens werklik te gebeur nie: enigeen van ons hoef dit maar net omtrent die ander te vermoed, te vrees – nie vandag of môre nie, sekerlik nie, maar oor ’n jaar, oor vyf jaar, oor twintig: as mens begin oud word, as jy dalk vreemder begin voel waar jy is en terug wil na jou eie, wat dit ook al mag wees. Sien ek dáárvoor kans? Dié stadige erosie, die uitkalwer van ’n verhouding wat jou vernaamste verweer teen die lewe was, die knaende agterdog of verwyt?

    In Parys was ek taamlik seker, en ook die middag en die lang nag in Chartres (want ek moes daar oorbly, dit was toe al te laat om veel verder te kom), dat ek Paul wou hê, die res van my lewe saam met hom wou slyt. Maar sou ek oor ’n jaar nog heeltemal so seker wees? Het ek genoeg geloof gehad daarvoor?

    Dis wat ek in Provence wou gaan soek. Dis wat my uit wans uit soontoe aangepor het, maar sonder dat ek dit regtig met myself wou uitpraat. En noudat ek dit wel geweet het, het ek skielik bedug gevoel, bang om by ’n bestemming aan te kom, bang vir die finaliteit van ’n keuse wat te veel mag behels.

    Daarom het ek van die volgende môre af geen vooraf bepaalde roete meer gevolg nie. Moet my ook nie nou vra om dit op ’n kaart uit te wys nie. Ek weet nie. Ek het nooit die Michelin oopgemaak nie. Dit, saam met die adres van die hotel in Avignon, het in die paneelkissie bly lê terwyl ek my in die tamaai Franse binneland ingewerp het soos ’n blindelingse duiker. Onderwaters: dis die enigste woord waaraan ek kan dink wat die bestaan van daardie – hoeveel? – dae kan vat.

    Partykeer neem Brian haar na Onrus en maak haar touwys met onderwaterduik in die rotspoele. Hy is deeglik en versigtig, sy halsoorkop. Van kleins af is sy al versot op die see, haar pa se gebied. (Ons Malgasse is seevoëls, mos.) Brian het meer ontsag vir die water. Eers van die pad af die omgewing bespied. Doodseker maak daar is geen verdwaalde hengelaar of wandelaar naby nie. Altyd die vrees om saam gesien te word. Die Here weet hoe maklik ’n enkele nuuskierige ’n storie kan aandra. Die angs wat mens snags laat regop skrik en wat jou tot in jou wakkerte bybly. (Maar my Here, Andrea, die man is dan wit!) Daarom is dit net weeksdae dat hulle dit waag, en selfs dit min genoeg, wanneer daar af en toe ’n kosbare kansie is om weg te kom. Die motor tussen die melkhout wegsteek. Skrikkerig oor die stukkie oopte na die rotse. En dan die poele, die lang diep sloepe tussen die riwwe met laagwater, met duikbril en snorkel. Eers hoesend en proesend, en bly-verskrik oor die roggelende geluid van haar eie asem in haar ore; tot hy haar leer om haar daaraan te wen. Die induik, asof jy in ’n droom induik. Sy droom so dikwels sy vlieg. Hele nagte lank vlieg sy, onbereikbaar vir almal wat haar soek en bedreig. En dié duik is presies net so: ’n sweef oor bergriwwe, met groot landskappe – valleie en golwings en reekse wat onder jou oopgaan, ’n inbeweeg in ’n hele wêreld wat volgens ander wette as joune ingerig is. Skole vis wat verbykom, wonderlike kleure, die wieg van anemone in water, hele rotswande vol groeisels. Jy swewe daaroor, jy swewe deur die hele ruimte, en vis en krap en mossel en kreef aanvaar jou vraagloos, swenk skaars uit vir jou. Die stil ekstase van ’n heeltemal nuwe soort bestaan.

    En as jy eindelik uitasem uitkom, struikelval jy oor die klippe. Nou is jy amper onwennig in wat altyd jou gewone wêreld was. Voorlopig hoort jy nie meer mooi nie. Jy dra nou ander drome, ander werklikhede agter jou oë saam. Jou voete voel onvas, geluide is anders, skerper, dreigender.

    ’n Donker begeerte dryf jou van nou af altyd terug na daardie ander onderwaterwêreld toe. En tog kan jy ook nooit, natuurlik, daar blý nie. Jy is daar net, hoogstens, ’n in-kyker, ’n in-dringer. Want jy bly verbonde aan die vereistes van jou longe, aan lug. Jy’s anders. Jy’s nie behoorlik van daar nie. Jy moet terug duskant toe. Jy moet hartseer, altyd, terug na waar jy vandaan kom, al hoort jy ook dáár nie meer behoorlik nie.

    Swerwe deur die groot Franse binneland het des te meer ’n onderwaterse gevoel gehad vanweë die weer: ’n paar kort kere, ja, het die son effens uitgekom; maar meestal was dit betrokke en koel, soms reënerig of mistig met ’n fyn dowwigheid wat buitelyne uitveeg en alles versag en wasig maak. Die vloeibare lyne en massas van heuwels, groot donker bosse waar die herfs in woed, golwinge, die hange van berge. Van hoofpaaie het ek weggebly. En die oomblik as mens uitwyk uit dié bedrywige are, verlaat jy die gewone wêreld van beplanning, berekenbare tyd en afstand, reëlmaat, skedules. Om jou gaan die groot land oop, groen en bebos, vogtig, vertroulik, onvoorwaardelik. Stadjies, dorpe, gehuggies. Die stugge swart klipdakke van Auvergne, huise soos nonne, rûens teen die lig gekeer, skouers opgetrek. Meer dofwit, meer roesrooi soos jy suider gaan. Dorpies in die oksels van berge; kastele en murasies op die ruglyne langs. Outydse skutmure nou verbrokkel en oopgegooi aan wind en weer; klein vinnige akkedissies in die splete. Eetplekke langs die pad, wanneer honger jou herinner aan die liggaam. Skemerige binnekante, rooigeruite tafeldoeke, watertrane teen die ruite; en ’n knusheid binne, families met honde, wat hul kos – Ma se resep, Ouma s’n, Oumagrootjie s’n, jaloers bewaar – met jou deel; kraffies van die landswyn; klein erdekoppies baie warm koffie. Af en toe ’n gewisselde woordjie, ’n kort gesprek met die gesette eienaar (groot wit voorskoot aan; aartjies oor die neus; ’n vis se oë) of sy vrou (hare rooi gekleur maar die swart punte al lankal uitgegroei; sensuele donker oë; ’n seedier se gladde bewegings; pantoffels): En waar kom Mademoiselle vandaan? (Loer na die ringvinger om te vergewis.) Suid-Afrika – altyd effens huiwerig, jy weet nooit seker wat die reaksie gaan wees nie. So ver? Maar hoe praat Mademoiselle dan Frans so vlot? Ek woon darem al agt jaar hier. In dié weer verlang mens seker terug? – daar by julle skyn die son mos altyd.

    Terug? Hoe moet ek sê dat jy my sal glo? Ek kan nooit weer ’n voet daar sit nie, Monsieur.

    En dan weer vort, deur die onderwaterse groen land met sy riwwe en donker groeisels en sy beskermende nat.

    Partykeer het ek my afgesluit van die groot mistige wêreld buite en my oorgegee aan ’n ander soort water: musiek. Al die kassette wat Paul saamgegee het. Vivaldi. Chopin. Bowenal Mozart. Hy was net so versot op Mozart as Brian destyds. Hulle het my bekeer. Maar ek kon darem nie heeltyd net na Mozart luister nie. My eie bande het ek ook saamgesmokkel, dié wat Paul so teen die mure kon uitjaag. Kan ek help dat dít my musiek was, is? – folk, rock, reggae. Bob Marley. Peter Tosh. The Police. Leonard Cohen. Jethro Tull. Linda Ronstadt. Die verste wat Paul, beminlik uit die oue doos, wou toegee, was Françoise Hardy, Joan Baez, of dalk Jacques Brel. By hom was ek afgesny van die musiek in my bloed. Op dié reis kon ek my oorgee aan my eie – met sporadiese toegewings, liefderyk, aan sy Mozart – terwyl ek voortbeweeg deur die heuwels en woude van die Dordogne, van Auvergne, van naamlose streke afgesonderd van die grootpad.

    Hotelletjies snags: nie altyd so maklik nie, want baie se luike was al toe ná die seisoen. Hulle was nie meer reisigers so diep in Oktober te wagte nie. Swaar nat nagte. Dowwe bedlampies wat lig soos stof uitskud oor gewigtige meubels en die donker patrone van muurpapier. Gestut teen ’n groot vierkantige kussing (want die Franse worsrol het ek nog nooit aan gewoon geraak nie) het ek gesit en los en vas aantekeninge maak in die klein groen notaboekie wat ek in Chartres gekoop het: sommer invalle, herinneringe, opmerkings, om op dié manier ’n greep te behou op die vloeibaarheid van die dae. So nie, het ek pligsgetrou gesit en lees deur wat Paul saamgegee het. Die amper-finale teks van sy draaiboek. Boeke, pamflette en fotokopieë oor die Swart Dood en later pestilensies in Provence. Makabere leesstof, seker. En tog het dit die afgelope jare eintlik deel van ons verhouding geword. Hy’t die idee vir sy verhaal al in sy kop gehad die heel eerste keer toe ek hom ontmoet het, toe ek nog by die skilder, by Frank, ingewoon het, in Parys.

    En vir wat wil die man my so danig ontmoet?

    Dis nie hy wat gevra het nie, Andrea. Dis ék wat hom genooi het.

    Om te?

    Hy’s ’n Suid-Afrikaner.

    Frank, jy weet ek stel nie daarin belang om Suid-Afrikaners te ontmoet nie.

    Dis ook seker nie nodig om hulle soos die pes te vermy nie. Wat probeer jy bewys? En aan wie?

    Hier’s oorgenoeg ander mense op die partytjie om my besig te hou.

    Maar ek het hom klaar belowe om jou aan hom te kom voorstel.

    Omdat ek nie met jou wil slaap nie, wil jy my nou uitveil aan jou vriende?

    Jy kan so onredelik wees, Andrea. Frank lig sy hande effens radeloos; maar hy moet by voorbaat besef dat verset haar net nydiger sal maak. Ek het jou die afgelope twee jaar tog al aan baie mense hier in Parys voorgestel. Party van hulle het goeie vriende geword. (’n Ietwat verbitterde skimp op die argitek Stéphane, op Henri by Binnelandse Sake?) En Paul Joubert – jy moet tog weet – is iets van ’n ‘naam’. Selfs as jy dit teen Suid-Afrikaners het: hy woon al hoeveel jare hier. Hy’s nie meer aansteeklik nie.

    Hulle word onderbreek. ’n Vreemdeling kom by die klein deurmekaar kombuisie in.

    Praat van die duiwel,sê Frank. Paul – Andrea. Hy hou hom gereed om hom uit die voete te maak.

    Andrea grinnik skielik. Aan my regterhand – aan my linkerhand, sê sy. Waar’s die bokshandskoene?

    Die lang skraal man bekyk haar, benieud. Hy moet hom bewus wees van die uitdaging in haar regopheid, die baie-donker oë, verderig uitmekaar, die iets-Oosters in hul langwerpigheid na buite.

    Jy lyk soos ’n gipsy, sê hy.

    Nou staan sy hóm en weeg: rolnektrui, ferweelbroek, uitgetrapte Hush Puppies, en die pyp nog in die hoek van sy mond.

    Jy lyk maar oes, sê sy. Ek dag jy’s ’n celebrity. Of is dit aansit?

    Sy sal in elk geval nie by jou slaap nie, Paul, sê Frank (uiteindelik sy kans om bietjie wraak te neem?). Sy’t klaar daarteen besluit. Hy trek vir haar skewebek voor hy uitloop: En Paul het klaar ’n meisie. So julle is altwee veilig. Van die deur af: Moet nou net nie heelaand in ’n hoekie eenkant bly sit en stories uitruil oor die ver verlore land nie.

    Wat toe, sekerlik teen albei se voornemens in, presies is wat later die aand gebeur, ná hy haar bietjie beskimmeld, selfs bietjie verleë, ’n drankie aangebied het. (Andrea: Jy kon seker ’n oorspronkliker opening uitgedink het. Maar goed, bring vir my rooiwyn.)

    Staande voor die venster – gordyne oop; albei rame ontgrendel en wyd oopgeswaai oor die aand se straatgeluide in die Rue Mouffetard buite – met hul wynglase in die hand. Teen die oorkantse muur, stawels van Frank se skilderye, die meeste rugkant voor; die reuk van verf en lynolie.

    Die stad het sy eie ruik, sê Paul. Hy leun half uit. Het jy al agtergekom?

    Dis maar die mark se ruik, sê sy. Die verlepte koolkoppe en wortels en uie en mossels en vis van vanmôre.

    Ek praat nie daarvan nie. Ek ruik klip. En jy? Nêrens anders ruik dit presies so nie: klip wat geskuur is deur aanraking met mense, oor eeue. Voete, asems, spoeg, pie. Liggame. Klip wat so ingeleef is soos ou klere. Kom, ruik self.

    Jy’s ook een van dié, sê sy. Alles wat oud is, is vir jou mooi.

    (Sou hy flink wou terugkap: Jý’s vir my mooi? Dan is dit tot sy eie voordeel dat hy hom betyds bedink.)

    Ons Suid-Afrika het nooit so geruik nie, dring hy aan.

    Jou Suid-Afrika en myne, sê sy spits, was nooit dieselfde nie.

    Hy vermy dié bewuste uitdaging. Dit bly een van die skerpste dinge wat ek onthou, druk hy deur. Ek verlang nie maklik nie, maar dít . . . As mens voor ’n oop venster sit en skryf in die aand. Die groot motte, die torre wat inkom. Die krieke wat jy buite hoor. En die ruik: daar’s gras daarin, gekneusde gras, maar ook stoppels. Jy ruik mied, jy ruik kaf al is daar g’n plaas of koring naby nie. Die wind, as hy roer, bring vir jou iets wat soos stof in jou neusgate kriewel. Maar dit ís nie stof nie. Dis Afrika. Jy raak dit so gewoond, jy kom dit naderhand nie eens meer agter nie. Eers as jy weg is. Veral as jy lank weg is.

    In die Kaap was dit ’n ander ruik, sê sy vinnig, weerleggend. See. Die kleinhuisie agter in die jaart. ’n Visserigheid.

    En die Berg, sê hy.

    Mens ruik g’n die Berg nie.

    O ja, jy ruik die Berg. Swaar. Groot. Jy kom nie van hom weg nie. Hy’s daardie selfde ruik wat ek van gepraat het. Met iets tussen ’n glimlag en ’n frons: Miskien het jy hom net nog nooit geruik nie.

    Natuurlik het ek hom geruik!

    En toe moet sy lag, en hy ook, oor wat sy moes toegee. Maar agter die lag – eers soveel later sal sy hom genoeg vertrou om hom daarvan te vertel – die skerpte van ’n herinnering so heftig dat dit soos lus haar ingewande laat saamtrek. ’n Aanmaning van geboorte. Iets wat sy lank – hoe lank? net meer as drie jaar – in bedwang kon hou, maar nou nie meer nie.

    Haar Kaap: Distrik Ses se huise, die een op die ander. Die klein agterplasies. Wasgoed. Die nabyheid van mense, altyd, oral. Mouille Point se mishoring snags, as die wind reg is. Die nat winters, die sagte aanhoureën, die groen van die deurweekte hange, die kroondenne teen die Berg se skof. Kerrievis. Smoorsnoek. Tamatiebredie. Soetpatats. Die kinders wat die berg in gaan om dennepitte te loop soek. Kruie op die Parade. Nuwejaar met die trein Kalkbaai toe: swem in die hawe, want die witmense het mos die strande oorgeneem. Cowboyflieks in die Gem in Woodstock, of die Globe onder in Sir Lowrystraat. – Wegbly van die Avalon en die British en die Star, want daar hang die Killers en die Jesters en die Dynamite Kids uit. – Die goeie geweldige wind van die somer. Pinksterbiduur. Haar Ouma se breiwerk, dag in, dag uit: vreemde lang voorwerpe wat onvoorspelbaar onder haar knobbelhande vorm aanneem. Ouma wat bý is met geboorte en troue en dood in die buurt. Haar pa se luidrugtige tuiskomste. Haar ma aan die hare was of krul. Maggie wat iedere naweek met ’n nuwe idee van sonde by die huis aankom. Boetie met sy geheimsinnige maters stad in; saans sommer deur die vensters as die oumense al lê. (Net sý weet: sy’s sy oë en ore, sy moet kywie hou.) Boet Arie wat so te koop loop met al die fensie mense wat hy in Hermanus op die job ontmoet. Ouboet Sonny wat net so dan en wan kom kuier en vir Ma geld in die hand stop waarvan Dedda nooit mag weet nie. Kaap, Kaap!

    Onder die oop venster gaan sy en Paul later op die vloer sit, agter ’n groot leunstoel (’n tamaai groen fluweelbeklede sitplek uit ’n trein van seker tagtig jaar gelede; Frank het dit by Kremlin-Bicêtre se vlooimark gekoop), soos hans kinders wat vrypostig speel: Wys my joune; ek jou myne. Die Rue Mouffetard buite ontersake, die partytjiegangers uitgeslote.

    Woon jy regtig al so lank in Parys? Frank sê so.

    Oktobermaand dertien jaar. Het jy agtergekom? – mense onthou altyd presies die maand waarin hulle hier aangeland het.

    Ek het voorverlede jaar gekom. Februarie.

    En jy is van plan om aan te bly?

    Natuurlik. Ek kan mos nie – Sy praat nie klaar nie; wil nie; verkwalik hom dat hy haar byna oorreed het om dit uit te lap.

    Foei, my familie kon my dit nooit vergewe nie, sê hy, asof hy niks agtergekom het nie. Sulke stoereboere. Pa predikant. Ek moet jou betyds waarsku! As dit nie vir my roekelose tante was nie, het ek dalk in sy voetspore gevolg. Die ander het almal gedink sy is gewoon mal.

    Sy laat hom begaan. Omdat sy pratery dit onnodig maak dat sý hoef op te diep wat sy nie wil nie; ook omdat sy, tot haar eie verbasing seker, dit geniet om te luister. (Julle is altwee veilig.) En hy vertel maar aan, ’n bedaarde vaarwater van woorde met af en toe ’n kabbeling van sinisme of komiek.

    Van sy pa, dominee op ’n droë dorpie in die binneland. Griekwaland-Wes. ’n Pastorie met ’n groen dak, met ’n solder; ’n watersloot tussen die huis en die wit kerk. ’n Broer en ’n suster, altwee baie jare ouer; die laatlammetjie word maar allenig groot, en effens sieklik daarby, ’n borskwaal, sodat hy nie veel met maats omgaan nie (speletjies, darem, met die sersant se dogter, Elise; as hulle natgesweet van tennis terugkom), en hom meestal terugtrek met sy boeke. Voor-op-die-wa, reken die onderwysers, veral as hy alewig beter weet. Die vertroue en simpatie van party. Die matesis-onderwyser, wie se mooi jong stadsvroutjie weggeloop het met die apteker, kind by die pa gelos. (Moet nooit jou hart aan ’n vrou verloor nie, Paul, hoor wat ek vir jou sê. Die goed het nie hart nie. Weet jy hoekom? Oor jy nie ’n hart uit ’n ribbebeen kan maak nie.) Die taalonderwyser wat hom laat lees en lees en lees; wat sy skryfpogings deurkyk en kommentaar lewer, en skaaf en aanmoedig. Daarteenoor Pa en Ma: ag, sonde, sonde. Verootmoedig jou liewer voor die Here, my kind. Familievakansies in die Boland: Pa ’n Joubert, Ma ’n Roux: mens moet darem in aanraking bly met jou bakerplek en nie versleg in die binneland nie. Ons voorvaders het vir hul geloof gevlug, my kind. Ons moet dit behou. Asof die binneland tog maar wilderig gebly het, net die Kaap sy Hugenotevroomheid behou het.

    Andrea: Jisses, dan het hulle nooit die Kaap geken nie. Nie soos ek hom geken het nie.

    En dan die tante wat kom kuier. Sy peetma, tante Katrien (mettertyd Cathérine), wat glo by sy doop was, maar kort daarna Frankryk toe, en daar gebly het, ’n Fransman getrou het, nie eens ’n Katoliek nie maar ’n a-te-is, het jy mooi gehoor en onthou jy wat Openbaringe sê? – glo skatryk en alles geword het, die duiwel sorg vir sy kinders. Dat só ’n eier in die nes van die Jouberts moes uitbroei. God-die-Vader, ons verootmoedig ons op onse knieë, aan die voetbank van U voete. Paul is veertien, en tante Katrien (ekskuus, Cathérine) kom kuier. Kan skaars nog Afrikaans praat. Nou skielik weduwee, as mens haar ooit kan glo. Alles wat moontlik is, word gedoen om te verhoed dat tante Katrien deurdruk met haar kuierplan: ons sal eerder self seshonderd myl Kaap toe ry vir ’n week, so die Here wil. Maar die Here wil nie, en tante Cathérine wil nie, en daar kom sy aangesit, met die taxi van Kimberley se lughawe af, honderd myl ver. Egte leerkoffers. ’n New Look-uitrusting (want die Oorlog is net-net verby), ’n kapsel wat mens na jou asem laat snak, en God, die parfuum! Paul word met sy eerste wet dream wakker met die geur van daardie Franse parfuum in sy neus. Verslinger vir die res van sy lewe. Op nat drome én parfuum.

    Die pogings om tante Cathérine weg te steek vir die Susters van die gemeente; en – om ander redes – vir die Broeders. Maar sy verseg om onder ’n maatemmer verberg te word. (Sodat Paul se pa die eerste die beste beroep daarná aanvaar; toevallig Boland toe. Die Here voorsien.) Lang wandelinge in die stowwerige veld, die seunskind en sy byderwetse tante, so bloedjonk nog en – haha – weduwee. (G’n teken van rou nie.) Van wêreldletterkunde vertel sy hom. Van Louvre en Orangerie. By die eerste die beste geleentheid neem sy hom, op ’n Saterdag, saam Kimberley toe en belaai hom met boeke. Rodin. Lautrec. Degas. ’n Tweede wet dream word eiehandig afgeweer. Pa preek oor Ohóliba en Ma moet met sal volatile gelawe word.

    Nog weke, maande – uiteindelik jare

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1