Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

1795
1795
1795
Ebook685 pages14 hours

1795

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

William van Reede van Oudshoorn is ’n goewerneur se seun, met ’n belangrike plek in die Kaapse regering. Sy lewe is ordelik, aangenaam, welgesteld, met sy woning, Saasveld, ’n paar goeie vriende en sy groeiende kosmopolitiese dorpie. Toe bring die see hom iets wat hy lank ontbeer het: die liefde van ’n vrou. Maar in die winter van 1795 breek storms oor die land, waarin William veel verloor wat hy gedink het syne was. Behalwe sy volgehoue verset teen verraad en vreemde oorheersing. Dan Sleigh eindig sy skrywersloopbaan, wat in Eilande met die pionierstyd begin het, in 1795 met die Kaap se laaste maande onder die Kompanjiesvlag – ’n onvergeetlik unieke herskepping van ’n verbygegane era, subtiel relevant vir vandag se uitdagings aan die suidpunt van Afrika.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 6, 2016
ISBN9780624073314
1795
Author

Dan Sleigh

Dan Sleigh is in 1938 op die plaas Geelbeksfontein aan die Weskus gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Vredenburg en sluit by die Vloot aan. Hy behaal in 1987 sy doktorsgraad in geskiedenis aan die US. In 2001 wen hy die Sanlam/Insig/Tafelberg-romanwedstryd vir Eilande, wat ook etlike ander pryse ontvang. 1795 is volgens hom sy laaste roman.

Read more from Dan Sleigh

Related to 1795

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for 1795

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    1795 - Dan Sleigh

    D. Sleigh

    Tafelberg

    Ruin hath taught me thus to ruminate

    That Time will come and take my love away.

    Sonnet LXIV                  Shakespeare, 1609

    Aanteekeningen betreffende verschillende ambtenaren aan de Kaap

    William Ferdinand van Reede van Oudshoorn, lidt der Regeering

    mitsgaders praesident van Commissarissen uit de Rade van Justitie

    en administrateur van ’s Comps. graan magasynen. Een warme aanhanger

    van de teegenswoordige Constitutie, die met al zyn magt de Engelschen

    heeft tragt te weeren, en des weegens ook verscheyde onaangenaamheden

    heeft moeten ondergaan. Besit een gesond en goed oordeel, voert met de

    grootste nauwkeurigheyd uit al het geen hy onderneemt en onderhoud alle

    zyne zaaken in de volmaakste order. Dat hy ook met goed gevolg zouden

    kunnen werden gebruikt in het militaire vak getuige zyne verrigtingen

    als Commandant van het Pennisten Corps. Allesints recommendabel,

    te meer daar hy by de burgers zeer is gesien.

    VC 162. "Aanteekeningen betreffende verschillende ambtenaren

    aan de Kaap." Anon., s.l., s.a., p.7. Wes-Kaapse Argiefbewaarplek.

    1

    William werk laat in die graanskuur in Strandstraat. Uit grootboek, kasboek en joernaal bereken hy hoeveel graan die vorige maand aan bakkers en brouers verskaf is en wat die Kompanjie daarby gaan baat. Die Edel Heer se bode bring ’n brief: Die raadslid is vir lykskouing gekommitteer. Matteas Behrens is in sy hut by die klipkuil dood, dis nodig om die oorsaak en die hand daaragter te vind. Hy teken vir ontvangs van die nota en bedank die bode. Is Matteas dood, toe? ’n Paar nagte gelede het hy hom nog op straat gevra hoe dit gaan, toe sê Matteas: ‘Ek skryf, ek leef.’ In die donker het hulle mekaar se oë gesoek, geknik, weggedraai.

    Hy vermenigvuldig mudde koring, gars en rog met gulden teen bepaalde pryse, werk die bedrag na ryksdalers om, gaan sy syfers na, onderstreep dit dubbeld en onderteken sy berekening: W.F. van Reede van Oudshoorn, 11 Junie 1795. Daarna bedank en groet hy die pakhuisbaas, sy klerk en die halfdosyn slawe in hul stowwerige skemer by die soldertrap.

    Buite dwarrel wind om hom. Die lug is koud. Straatop, agter die dorp se uitgerafelde soom waar armes woon, teen ’n agtergrond van grys onweer, lê die klipkuil in Vlaeberg se hang. Straataf staan die Kasteel, oor die honderd jaar al gerusstellend solied en gereed. Hy knoop sy jas toe en loop teen die wind geleun heuwelop na Behrens se hut, verby die netjiese predikantshuis, die Lutherse kerk met ’n koperswaan op sy kort toring en die vensterryke kosterhuis waar jong koster Erzy by kerslig van agter sy raam groet.

    Matteas was ’n amptenaar wat nie bevorder kon word nie, ’n bleek klerk in die Hof van Klein Sake. Na ’n lewe tussen rakke en tafels het hy as pensioenaris op die regering se krummels bestaan. Sy pa het gesê Matteas is ’n dromer; dié wat alleen droom bereik niks, dié wat sáám droom kom êrens. Die probleem was, die arme man was linkshandig, vir ’n klerk is dit fataal. Die laaste tyd was Matteas, op ’n hoë stoel in die ambagskwartier, sewentig jaar oud of meer, ’n tydhouer met ’n stowwerige oorjurk wat hulpeloos toekyk hoe die bleek sand deur die uurglas val, weer die glas omkeer en swaar in sy bruingevlekte sakdoek hoes.

    Strandstraat is steil en leeg, sy deure bly dig teen die stof. ’n Stad ervaar jy die beste te voet. Hy let op kort en lang straatfronte, leë stoepe, leë ruimtes tussen huise, leë steë. Kan die brandweerwa daarin draai? Aan weerskante volg die huise die helling. Die straatbeeld is een van eenvoud en harmonie. Die mure is liggeel of wit, die houtwerk is groen. Die meeste huise het twee verdiepings, die dakke is plat, die aansigte skoon met nege groot vensters, elk met twee skuiframe, elke raam het dertig ruite. Die deure is stewig en breed met ’n versierde bolig waarin gewoonlik vier-en-twintig ruite is. Merkwaardig, elke voormuur het amper seshonderd reghoeke ruitglas. Hy let op reguit lyne, gewels, op skoorstene rond, vierkantig of spiraal. Mooi, dit doen die dorp eer aan; die Burgerraad verdien daarvoor dank. Die huise het hoë stoepe met gemesselde sitbanke, ’n plek vir vermaak en vertoon, ’n plek om van af te kyk en om op gesien te word. Daar sit hulle, kou tabak en bespreek die weer en skeepvaart, of beskou vensters en deure oorkant en bespiegel oor handel en vreemde verbygangers. Dis sy dorp, sy mense; soos spioene loer hulle van agter gordyne: Waar gaan die raadslid amper skemeraand met sy lang treë?

    Die seewagter op die Kop het vanoggend nege maal geskiet, sy maat was later uitasem hier met die berig: Oorlogskepe, Franse vlae, koers suid. Maar, dit kan van enige nasie wees; die volke van Europa is nogmaals aanmekaar en lieg, bedrieg en voer oorlog onder vals vlae. Vlae? Gekleurde lap, dit gaan oor handel, oor méér geld, groter huise, mooier meubels, mooier rytuie, mooier slavinne.

    Oorlog in die Noorde, en oor hul Oosterse kolonies word die Kaap betrek. Maak klaar vir waak en gereed bly, leer leef met onsekerheid, afwagting, krygswet, jou tafelsilwer in die agterplaas begrawe, vrouens en kinders platteland toe gestuur. Waarheen, in dié geldgek wêreld, is Franse oorlogskepe nou onderweg? En as hulle ons retoervloot op see teengekom het, hoe was die ontmoeting? Vanjaar se vloot, ná twee eeue dalk die Kompanjie se laaste, is verlede maand hier uit, en die skepe was skaars oor die horison of die Raad, onrustig soos ’n ouer ná ’n kind se vertrek, het op tyding begin wag.

    Die klipkuil in die berghang, sewentig of tagtig voet diep, ewe oud as die dorp, is ’n skat van stories. Hieruit kom die hele Kasteel, die burgerraadhuis, twee kerke, twee hospitale, ’n slawelosie, woonhuise, die Franse Linie en Seelinie se massiewe mure, die gragmure, die magtige kusbatterye. Sy huis, Saasveld, kom uit die klipkuil. Amper die hele dorp kom hier uit, stuk vir stuk in blokke blou-en-bruin graniet losgeskiet, uitgelig, weggekruie, opgekatrol en êrens ingemessel.

    Die klipkuil het ’n stem; wanneer dit nie oor die dorp praat nie, praat dit oor die dorpenaars. Trompetters en tamboers kom hier oefen. Soldate met ’n fles wyn en kaarte of dobbelstene kom ná werk hier speel. Laas jaar was hier ’n tweegeveg met pistole tussen Switserse offisiere; die wenner is gefusilleer. Verliefdes wat alleen wil wees, loop hierheen, die wat liefde verloor het kom hier treur. Vrydagmiddae hou die Islams kerk in die kuil; hulle sorg ook dat dit skoon bly. Hul geloof is verbode, maar daaroor praat die Raad nie, gee voor dat dit nie gebeur nie. Dit is nie uit welwillendheid nie, hulle weet die dag kom wanneer die Islams vryheid gaan eis: Merdeka! Hari Merdeka! Stel dié gedagte uit, stel dit uit. Skoolseuns kom in die klipkuil, alleen of twee-twee. Slawe met gespoorde veghane kom Sondagmiddae hierheen. Die kuil is vir almal. Soms sterf iemand hier, dan moet beslis word: Geval, gestamp, gespring?

    ’n Handvol nuuskieriges, leeglêers, werklose mans, kaalvoet vrouens, laat van ver sien waar dit gebeur het. Voor die verwaarloosde hut met verrotte seil oor die venstergate wag sy mede-gekommitteerdes. Hy groet burgerraad Van Breda, met ’n kind se blou oë en wit bebaard tot sy middelste knope, daarna jong fiskaal Van Ryneveld onder sy kraaiswart pruik, gekrul en gestapel soos ’n onheilswolk. Wat wag binne?

    Die Fiskaal stoot die onderdeur met sy skoenpunt oop. Kakkerlakke vlug uit ’n bloedpoel toe lig oor die vloer val. Die mompelende, vertoiingde nuuskieriges met hul hooplose gesigte en stank van suur wyn en bokking – dieselfde wat by teregstellings soos aasvoëls om die galg drom – steek skouers in, probeer binnetoe beur. Van Ryneveld verdryf hulle met sy swart stok (‘kierie,’ sê die Kapenaar) en geweldige dreigemente, druk met moeite die bodeur op sy velskarniere dig, draai die taai houtwerwel aan en vee sy vingerpunte skoon aan ’n swart sakdoek.

    Die lug in die hut is dik van die mens se oerreuk van houtrook en sweet. Agter die deur hang ’n halssnoer olierige haringkoppe, deur die oë geryg; Matteas het die bokking geëet, hul brommerbespikkelde koppe vir sop gehou. ’n Bossie helderpers blomme, van die taai, donkergroen onkruid wat tussen granietskerwe op die klipkuil se vloer en in sy kranse se splete groei, staan in ’n geteerde houtbeker met ’n bietjie water op die tafel. Hulle buk met afkeer en in ongewyde stilte oor die koplose oorskot, ’n armoedige sak maer bene in andermansklere op die herdvloer. Wat kon die oorsaak wees? Hulle bespreek die moontlikhede van moord, manslag of roof, sonder oortuiging of gevolgtrekking. Van Ryneveld krap met sy ampstok van ebbehout in die pappery van roet en bloed. Wat was Matteas Behrens? Op die laaste dag van die maand was Matteas vyf gulden op die rol van pensioenarisse, origens was hy van geen waarde, ’n allemansvriend sonder vriende, onskadelik, onaantasbaar.

    Die Fiskaal, haastig om klaar te maak, glo Behrens was weer besope, en in dronkverdriet, bedruk en bedroef omdat hy God nogmaals gefaal het, gaan hy op die herdvloer staan en skiet sy kop weg, waarna aangepakte roet uit die skoorsteen hom toeval. Klaar soos daglig, die Satan heers hier; hy voel dit, sê hy.

    Wag eers. Burgerraad Van Breda buk en beduie asof hy ’n kort geweer, soos ’n donderbus, teen die skouer hou: Behrens se skoorsteen kon aan die brand geraak het, ’n algemene ding wanneer dit nie gevee word nie sodat rietdakhuise soms daardeur afbrand, en soos boere maak het hy ’n skoot hael in die skoorsteen afgetrek om die vuur te laat val. Omdat hy nie die wapen behoorlik gelig het nie, skiet hy hom met die opkyk per ongeluk raak.

    Van Ryneveld wil dit nie hoor nie en Van Breda trek sy hoed oor sy gedagtes neer en soek in al sy sakke na sy snuifdoos.

    William vind ’n gefrommelde papier en stryk dit plat: Die verrassings van die Liefde, een van suster Machteld Schmidt se gedrukte traktate met godsdienstige retoriek wat vroeër tot in Saasveld se slaapkamer gelees is. Ha! Hy frommel dit in sy hand. Verrassings van die liefde, die hemel help ons, is dit nie sy eie storie nie? Die Fiskaal neem die papier om sy stok se silwer spyk af te vee. Wat dink jy, William?

    Hy spreek nie ’n mening uit nie; die lewe is vol onsekerhede. Dan maak hulle inventaris; so lyk die kamer: Tafel, stoel, katil, ’n bruingevlekte klapperhaarmatras met vuil soldatekombers en ’n gevoude kampanjejas as kussing.

    Dié ding, dat soldate hul goed verkoop, sê die Fiskaal skrywend, sonder om sy sin te voltooi. Plakkaat, 30 Mei 1716: Lyfstraf en geldboete, drie maande se soldy. Ek neem dit uit die boedel.

    Is dit redelik om ’n dooie te straf? Kan ’n lyk geroep word om te getuig, gearresteer en aangekla word, tot lyfstraf en ’n boete gevonnis word? Is dit redelik?

    Daar is ook ’n watervat met verroeste hoepels, ’n geduikte skepbeker. Geen enkele stuk breekgoed nie, alles, lyk dit, is al gebreek. Langs die tafel is ’n boekrak van drie kisplanke op bakstene. Hier staan interessante titels, in Duits (Klopstock, Herder) en Engels (Defoe, Fielding). Hy trek een of twee uit; dit kan iets op ’n vendusie haal, dorpenaars is honger vir boeke én dit sal geld vir die begrafnis inbring. Hier is Cervantes in Frans. Hy besit dit nie. Hy blaai honger, lees ’n halwe bladsy staande.

    Steek in jou sak, sê Van Ryneveld, skrywend.

    Hy sit die boek op sy plek. Skryf dit op.

    Die kombuiskas is ’n vetterige grot met ’n herdvurk, pot, ketel en pan, alles swart. Geen bord, bak, mes of lepel nie; die man en sy hond het uit die pan geëet. Die lyk se orige kleding hang aan twee spykers aan die muur, dié vodde is met die oumansreuk van bokstal deurtrek. Verder agtertoe staan ’n tafel met ’n kers-en-blaker, inkflesse, pluime, ’n dun lêer met ’n skuldbewys, ’n huurkontrak en ’n ongetekende testament vir ’n klant wat wag om gehaal te word. Elke dokument dra die tekens van Matteas se gebrek, hoe die linkerhand en pols die nat ink woord vir woord klad. Onsuksesvol, ontevrede en arm, was Behrens notaris vir die armstes wat met vis of koolblare betaal. Hy het geen brief of testament nagelaat nie; sy dood was nie die dokumentering, die ink en papier, werd nie.

    Laaste item is die bloedbesmeerde, outydse donderbus op die vloer. Van Ryneveld lig die wapen aan sy draband, skud ’n kakkerlak uit die bloedgekoekte slotwerk, trap dit op die vloer dood, vloek en sluit die huis. Die hospitaal kan die lyk verwyder, sy dieners sal vanmiddag die goed kom haal en môre die krot afbrand.

    Hul lykskouing is onbeslis, die kommissie is voltooi, Van Ryneveld sal die papierwerk afhandel. William loop huis toe met sy eie onsekerheid én ’n storie wat klaar op straat versprei word. Die regering wil weet, want die grafgrawer moet hoor of Behrens binne of buite die kerkhofmuur begrawe word. Die kerk sê selfmoord is sonde, die dader brand in die hel. Só ’n plek is sy Kaap, ’n eenvoudige dorpie waar agterdog, onkunde, vooroordeel en bygeloof soos onsigbare burgers woon. Hy ken jong mense wat aan ’n plat aarde, voorbodes, spoke en drome glo, of sout oor die skouer gooi, want dít en dát is sieal en bring ongeluk. Miskien gee sulke dinge die Kaap sy Oosterse smaak.

    Selfmoord is seldsaam en opspraakwekkende skinderstof vir die dorpenaars, amper soos ’n egskeiding. Jong stories spoed straataf, met stoeptrappies op, klouter huise deur oop vensters binne, snel gangaf en by kombuisdeure uit, waai oor werfmure en spring van dak tot dak die dorp vol soos ’n uitbraak van masels. Origens het Matteas se dood geen enkele betekenis vir die Kapenaar nie, vir niemand is daar ’n erfporsie nie, dit veroorsaak nie ’n vakature met bevordering vir enigeen se nefie nie. Werk is skaars; min sterf, niemand bedank nie. Leef daar ’n erfgenaam, êrens? Dis bekend dat hy ’n hond gehad het.

    William loop langs die Buitengracht se lae wit muur huis toe. Die geplaveide sloot is al maande lank droog; onderin lê blare en sand ’n voet diep. Dit kan oorstroom, dit moet skoongemaak word. Na ’n dag agter die lessenaar geniet hy dit om sy bene te strek. Onaktiwiteit, lang ure met die pen oor die lêers gebuig verstop die hart en longe, maak jou skouers krom, die litte styf en die asem kort. Hy stap graag en ver, verkieslik alleen, verkieslik in die nag, dit help om uit sy huis te kom en sy leë aande korter te maak. Dan loop hy asof hy die strate patrolleer, soos ’n boer wat sy landpale omry met die gevoel dat dit sy eie is. Hy kyk na geboue, die toestand van strate, wat daar in die gragte dryf, of hy rotte sien, watter dakke slordig vertoon, watter huise om verf aan houtwerk of mure vra. Huise vertel heelwat oor die eienaars. Hy praat óór erfmure met mense wat hy teenkom. Die Ratelwag ontmoet hom: Welaan, heer Raadslid!

    Goeienaand, kleppermans. Is alles wel?

    Als wel.

    Wanneer is die kleppermans se ratel die eerste maal in dié dorp se strate gehoor? Dit was Oujaarsaand van 1687. Te veel taphuise, matrose en soldate snags op straat het dit nodig gemaak. Behrens se dood hinder hom. Sy woorde, ‘Ek skryf, ek leef,’ dra ander gedagtes oor as wat die koplose lyk op die vloer vertel. Daar was hoop in, ten spyte van groot armoede. Het hy bedoel dat hy nog ’n bestaan kon maak met pluim en ink?

    William kyk straatop. In hierdie buurt woon welaf, tevrede mense. In die klam skemer ruik hy hul aandetes, vet en ryk aan speserye. Na die slawe geëet het, kry hul honde wat oor is: skaapvleis met murgbene, rys en saggekookte groente met dik bruin uiesous. Twee of drie vragte duinehout is vir die aandmaal uit die Vlakte aangery, nóg soveel vir môre se ontbyt, nóg soveel vir hul middagmaal. Die dorp eet hom uit sy enigste brandstof; tien jaar van nou is die Vlakte ’n woestyn en moet hulle met miskoeke vuurmaak. Duinehout word met wortel en tak uitgespit, die Resolusieboek verklaar dat die kleinste haarworteltjie wat in die grond agterbly, weer gaan groei. Maar een retoerskip vra veertig wavragte duinehout vir sy tuisreis; kommissaris Sluysken en sy papegaaie sal mekaar sugtend bekyk en dalk vir Van Riebeeck, dood en vergete, blameer.

    Die Buitengracht het mooi wonings; die meeste lyk amper eners, want sy medeburgers is oer-demokrate, uitgesproke ten gunste van gelykstelling en eenvormigheid. Buite die onderskeie kamers, rade en komitees mag geen kop hoër as ’n ander s’n kom nie; die wat uitstyg word sonder versuim gelykgesny. Hulle is geniepsig met familiename, opsetlik krenkend; vir Laubscher noem hulle Losper en vir Lochner Logenaar, Löttering is Loodring, Meissenheimer is Muisnemer en die manhafte burgerluitenant Gregorius Pentz is Gorie Pens. Voorname word neerhalend verdraai: Herklaas, Jooswa, Alsanner, Gijon, Adderjan, hulle doen dit opsetlik. Hy het al gewonder hoe sy eie naam in sy afwesigheid klink. Byname is blywend beledigend: Bombam, Besemboudjie, Jannetje met Ere.

    Sulke sosiale vernedering word met ’n vulgêre familietrots bestry. In hul voorhuise hang sogenaamde familiewapens, sameflansings van onheraldiese simbole wat ook op koetsdeure, drastoele en grafstene kom; blameer die afwesigheid van hoër onderwys wat die verstand moes ontwikkel. Naas status verlang die Kapenaar min; hy is redelik welaf, die huiswinkels is tegnies smokkelarye (Jan Kompanjie bly die enigste wettige handelaar) en agter hul fraai gordyne ruik die sierlike huise na negosiegoed: kerse, seep, saffraan. Klop maar aan enige deur. Maar nie by Behrens nie, daar was geen aanstellerigheid nie, net armoede en ’n eensame dood, ’n man op die koue rand van die gemeenskap.

    Hy sal Behrens onthou soos hy hom laatmiddae op ’n onseker koers van kroeg na woonplek sien verbygaan het: Lank, maer, slingerend soos ’n skip met swaar bowelas. (‘Bowwelas,’ sê die Kapenaar, of ‘bawwelas,’ soos hulle ‘bowwejaan’ sê vir ‘baviaan’.) Op Oujaarsaand van 1651 het Van Riebeeck se Dromedaris van bowelas omgeslaan. Tien, twaalf tree agter Behrens, asof hulle ’n meningsverskil gehad het, was ’n lelike hondjie so groot soos ’n makou, wat met sy grys snoet naby die grond loop.

    Dit het kouer geword; die wind, vol seereuke van bruin bamboes en nat seegras stoot sterk uit die noorde oor Groenpunt en die Duintjies. Hy trek sy jas vaster. Helderrooi lug in die noorde kleur nou die huise en Tafelberg se strak, regaf gesig, soos die geverfde doek agter die verhoog in ’n komediehuis waar klugte en tragedies gespeel word. Leeukop kry vanaand ’n rooigrys mus en op die reede het die vier geankerde landsbote saam kop teen die wind gekeer, see toe. Origens is die baai leeg; die totale seediens het eind April vir die winter Simonsbaai toe getrek en sal tot September daar bly.

    Somers is Tafelbaai se reede ’n lewendige toneel: Tussen die rustende bruin skepe sien jy beweging van ligters, jolle én die spits lateinseil van ’n watersmous se kadraai, maar winters is ’n tyd van stilte vir die Kapenaar en groot armoede vir sy herbergiers. Want sy dorp, uit die see gebore, maak sy enigste bestaan uit die see en benodig die goeie skepe hier. Sy dorp verlang na skepe uit behoefte, soos ’n man na ’n vrou verlang, én gedurig. Ek het behoefte aan ’n vrou se sagte hand, het Goethe geskryf. Dit is geen vlak, versadigbare honger nie, maar ’n bodemlose behoefte aan die rus en troos in ’n vrou se arms en van haar hande oor sy gespanne rug en skouers tot in sy ondefinieerbare wese waar daardie behoefte die swaarste lê.

    Persoonlik is hy nie ’n handelaar nie, maar ’n talassofiel, ’n seevriend. Die see bring hom dikwels iets sonderling, iets ryk en raar; met dié gedagte kom hy tuis, terwyl donker wolke uit die noordweste inrol en die rooi lug oor sy dorp verdonker.

    2

    Saasveld, skuins agter die Kompanjiestuin, enkelverdieping onder ’n plat dak, lank, smal en hoekig, is soos hy, dink William. Die hele bouwerk strek weg van Oranjestraat en skep ’n indruk van afsydigheid; die skraal aansig bevat net ’n deur tussen twee lang vensters onder ’n reguit kroonlys en herinner aan ’n blokhuis. Elke onderdeel is simmetries geplaas, gepleister, gewit. Dit het eers ’n wit barokgewel gehad; vriend Thibault het dit vier jaar gelede, ter wille van vernuwing en steeds enig in die Kaap, ’n neo-klassistiese aansig gegee, maar die huis het nie sy ou, ou gees verloor nie.

    William ruik sy werf se aandreuke van suurlemoene en groen koejawels, hy ruik koel, vars reën in die lug. Winter is maande laat, die jaar is in sy helfte, swaels het lankal vertrek. Hy was bekommerd oor die weer, want die Paasmaan het vanjaar in Maart gekom en boere hou oral die lug dop maar kon nêrens ploeg en saai nie. Dit raak hom persoonlik; hy, met dieselfde verantwoordelikheid as Josef in Egipte, moet sorg vir brood aan die skepe, garnisoen en dorp, in dié orde. Hy is administrateur van graanskure, met nege klerke wat in die regering se drie groot pakhuise boekhou en vier-en-veertig slawe met gesigte wit van stof, wat die los graan oophark, omkeer, sif teen muf, muismis en kalanders, vol mudsakke op en af teen lere dra en soms, swaar en diep, slierte taai slym uit die longe hoes.

    ’n Kers in sy deur se bolig verlig die stoep. Hy sluit oop; die afwesigheid van menslike warmte in die stil en donker huis reik na hom toe hy binnegaan. Saasveld het koud geword, nié alleen omdat argitekte die kaggels moes uithaal toe brandhout op die Vlakte skaars raak nie. Dit het ook ’n dowwe, hol en leë klank gekry, en elke kamer hou sy spoke: Jy verbeel stemme, vrolik of treurig, jonk en oud. Niks, niks word hier vergeet nie, bitter ou boodskappe vind jou herhaaldelik, soos ’n eggo of ou spoke wat snags in jou slaap kom loop.

    Die huis is stil, die slawe het geëet en toegemaak. Miskien skuil sy vrou binne, gevaarlik soos ’n gewonde dier, maar dis onwaarskynlik; Geesje Kirsten is op Alphen, by haar ouers; hulle albei verkies dit so, hul kinders gaan op Stellenbosch skool. Hy hoor in die dorp dat dit met haar goed gaan, dat sy gesond lyk, maar nie dat ’n ander man in haar belangstel nie. Dit is jammer. Hy kyk deur die vensters. Sy oorgroeide tuin omhels die huis.

    Tot vandag het hy geen skeibrief nie. Hy het die aansoek om egskeiding persoonlik by die hof ingedien. Dieselfde drie lede, sy kollegas en vriende wat hom en Geesje vóór hul troue ondervra het, was agter die tafel. By die eerste, gelukkige geleentheid was die voorsitter glimlaggend, informeel: Wie is julle (asof hy nie reeds weet nie), en van watter ouderdom? Voorname en familiename is genoem, geboortedokumente is oorhandig, met aanstaande skoonvader Kirsten se permissiebrief, omdat Geesje minderjarig was.

    Religie en huidige huwelikstaat? Jonge dogter en wewenaar van dié gereformeerde gemeente. Dokumente van doop en aanneming is oorhandig.

    Met of sonder huwelikskontrak? Daarsonder; Geesje sou op die helfte van alles wat hy hier en in Nederland besit, geregtig word.

    Waarom wil julle in die huwelik tree? Uit wedersydse toegeneentheid. Het hulle nie hand aan hand, soos Adam en Eva voor God, daar gestaan nie? Hy sal altyd vir Geesje op hul troudag, in haar hoepelrok van blou satyn met ’n ligrooi roos voor die bors, onthou. Maar u weet, kollegas: Daar is tóé en daar’s nóú, dis ’n feit waarop ek my kop sal wegsweer.

    Die tweede keer sit die Huwelikshof daar en lyk verleë en bekommerd. Egskeiding is raar, amper monsteragtig raar in hul dorp, waarom dring Willie daarop aan? Die stemme was simpatiek omdat hulle oor persoonlike sake moes uitvra: Watter gronde bied jy vir egskeiding?

    Die wet ken net twee gronde vir egskeiding, geagte kollegas, dit is onherstelbare verbrokkeling en geestesversteuring. Wel, kollegas, vriende: Ek vermoed albei is hier ter sprake. Ek kan nie haar neerdrukkende buie ontduik of ignoreer nie en soek toevlug in my werk en oormatige drank. Sy is veeleisend, sonder rede foutvinderig en gedurig nukkerig. Ek verstaan dit nie. Ek het uit afkeer opgehou om met haar te kopuleer en is dankbaar dat ek op daardie gebied van haar bevry is. Is dit nie genoeg rede nie? Ek vind ook haar gedrag onbehoorlik, sy tree kru en ongemanierd op voor gaste. Van julle was teenwoordig en weet daarvan. (Die ander sou dit wel in die dorp verneem het.) Fiskaal van Ryneveld sou dit só stel: Daar was dade en dae wanneer hy seker was dat die Satan sy huis ingeneem het.

    Onversoenbare verbrokkeling, het hy geantwoord.

    Aldus aangeteken. Die hof verwag van jou, William Ferdinand, baron Van Reede van Oudshoorn, ’n beëdigde verklaring, mondeling of skriftelik, om jou eis te steun.

    Ek sal. Wie gaan hy as getuies roep, haar ouers, sy ma, hul kinders of die arme slawe?

    Skoonvader Kirsten was gereed met ’n teeneis: Sy dogter Gezina staan egskeiding teen en eis herstel van huweliksregte. Die voorsitter het sy hamer een maal geslaan: Uitgestel. Die hof verdaag.

    Hy het die kollegas se simpatie waardeer. Sy plek is by hulle op die geregsbank, nie daarvóór nie. Hul saak duur nou al jare lank terwyl hy in sosiale riool van verklarings, teenverklarings deur kwaadgesindes, onbeholpenes en onopgevoedes sink. Tot vandag toe geen skeibrief nie; Geesje weier. Hy skryf in sy gedagte aan haar: ‘Waarde Geesje, dit is tien jaar vandat ons saak voor die hof was. Ek is oortuig dat ons nooit tot versoening sal kom nie. Ek vra u om tog tot egskeiding in te stem. Gee asseblief die nodige opdrag, en voorsien my van u eise teen ons boedel. Hoogagtend, die uwe. William.’

    Sy oë word aan die skemer gewoond. Hy hang sy sleutels agter die deur en loop die ruim voorhuis binne. Alles lyk gereed: Stoele, uit ander kamers ingedra, staan in rye vir die vergadering, die spreker se tafel met tafellaken, ’n karaaf en waterglas, ook die voorsitter se hamer en halfuurglas, die sekretaris se pluim, ink, papier en kladpoeier. Kerse en lampe staan reg om opgesteek te word. Teen die agterste muur, onder sy vader se skildery, slaap die groot klavier onder sy swart kleed. As jy die doek sou lig, staan voorop ‘Pianoforte’ en die maker se naam ‘Christofori,’ in sierlike silwer geverf. Op die swart doek is ’n swaar silwerkandelaar met drie bleek kerse. Die klavier het stil geword toe sy oorlede ma alleen hier gewoon het. Musiek, daaraan ken jy jou geluk, daaraan weet jy hoe dit met jou huishouding gaan, het sy pa gesê. Laaste om dit te bespeel, op ’n soel lenteaand lank gelede, was ’n bloedjong Luxembourgse luitenant met ’n dubbele naam, die een met wie sy haar skandaal gemaak het.

    William stoot sy eettafel vas teen die muur, bring ’n doofpot met kole uit die kombuis, blaas dit aan, steek een kers op en dra dit deur die voorhuis om ’n dosyn ander in hul blakers en hoë hangkandelare op te steek. Dié op die klavier verlig sy pa se portret: Sober, smal gesig, hoë voorkop, vroeg bles, daagliks geskeer, Pieter, baron Van Reede van Oudshoorn, 1714–1773. Stigter van die Kring Athenaeum.

    Kring Athenaeum was die plesier van sy pa se lewe. Ons saak is vir vryheid, Willie. Dat ons Jan Kompanjie se greep hier afskud en ons eie vlag hys, so ’n bloue met die vrou en anker op. Dit het hy vertroulik met ’n glimlag en ’n knipoog gesê, want hy was toe die regering se sekunde én geswore onafhanklike fiskaal, en daarby ’n goeie vriend van hul goewerneur. Ons land het ’n toekoms so blink soos Amerika s’n, met elke kans in die wêreld vir wie hier wil woon, maar sónder Jan Kompanjie, sonder Jan Kompanjie, Willie. Hou jy jou bakhuis toe, hoor. Ons tyd kom.

    Toe hy sestien was het sy pa hom sekretaris van die Kring gemaak. Die jammerte is, het hy gesê, nie sonder verwyt nie, omdat hy in Nederland tevergeefs vir ’n hoërskool gepleit het. Daar is al van 1750 af ’n universiteit in New York. ’n Universiteit, hoor; en na net drie dekades van hoër onderwys was die Amerikaner slim genoeg om die Engelsman uit sy land te jaag. Vry en onafhanklik; hulle het ons nou myle vóór geraak. Waar sit ons vandag? Praat van agtergeblewe.

    In die halfdonker, terwyl die kerse onseker flikker, loop hy tussen die rye stoele en draai dié op die punte effens binnetoe, dat elke ry ’n vlak halfmaan vorm en die oë almal op die spreker gerig sal wees.

    Ons moet erken, Willie, die Kompanjie het sy kinders skandelik gefaal. Sy pa het sy seuns Europa toe laat gaan, twee broers het daar stadslug geproe, advokate geword, getrou en van Saasveld vergeet.

    Sy pa het sy skouers opgehaal: Dan moet ons nou maar self. Niemand gaan dit vir ons doen nie. Ons mense gaan veronnosel. Ons gaan bywoners word, met bywoners se brandsiek vee, brandsiek houding en brandsiek praatjies, en die Kompanjie gee nie om nie. Ek sal jou vertel wat ek wil doen. Luister en hou jou bakhuis toe: Amsterdam se burgemeesters het jare gelede die regering gevra om ’n universiteit soos dié van Leiden, wie se reputasie nou om die wêreld strek. Jy kan jou voorstel, die Leidse professore het gou gekla toe hulle daarvan hoor; hulle was bang hul studente trek Amsterdam toe agter die stadslug, dan sit Leiden se geleerde here daar in hul swart sonder werk. Die Haagse regering het met Leiden saamgestem, die twee is immers bure. Dus word Amsterdam ’n universiteit geweier.

    William steek sy staanlampe aan, versigtig. Elke duur oliebak met die dun, helder olie wat Amerikaanse walvissers uit die potvis se voorkop put, skud hy en luister. Elke porseleinskerm, fyn wit soos eierdop, lig hy af om ’n skoorsteentjie van skoon glas op te stoot. Die pit van geweefde katoen draai hy hoër en hou ’n kort kers daarby, draai elke vlam tot dit rég brand, laat sak weer sy skoorsteen, sit weer sy wit skerm op. Uit die lamp straal ’n sagte, diffuse lig wat wit op die vloer en teen die mure skyn. Hy plaas die lampe op tafeltjies in die voorhuis; hy het ses daarvan uit ’n Amerikaanse katalogus bestel, met spaaronderdele. ’n Nuwe uitvindsel is die staanlamp, ’n geskenk van hom aan die Kring, aan Saasveld en sy donker werf, want op someraande maak hy al sy vensters oop dat die lig buitetoe skyn. Nou lees hy saans ure lank, nie meer by kerslig soos toe hy sy kinders van Rooikappie vertel het nie. En soms loop hy laataand óm sy huis om te geniet hoe die lig die blou plaveisel onder die eike verlig.

    Mooi, jou lampe, het sy vriend Jan van Reenen gesê, waar Louis Thibault ook by was. Maar dit skyn my ons nooiens wil eerder by kerslig opsit, want dis mos meer soos skemertyd as aandskaduwees uit die grond opkom en met jou wil praat. Ons gewaar dit lankal, Willie, maar ons kan verstaan jy moet in boeke lees, en dan is meisies ook nie meer so volop hier by jou nie.

    Niks kon die patrisiërs van Amsterdam, daardie fenomenale stad, keer nie, want kennis gee mag om te ontgin soos wat jy die goud uit rou erts smelt. Hulle vermy die naam van universiteit, ken ook nie grade toe nie en noem hul instelling Kring Athenaeum, na die hoogwaardige godin van rede, wysheid en geregtigheid. Dit klink ook effens soos die wydgeroemde Muiderkring, ’n vereniging van kunstenaars. Hulle werf die beste meesters en betaal hulle behoorlik om les in wiskunde, medisyne, geskiedenis, teologie en klassieke tale te gee. Soek wysheid, goedheid, nie eksamenkennis nie, is die beleid.

    Verlore tale, Willie. Athene se prestasies en kennis weg en vergete. Hoor jy daardie aaklige stiltes? Hou vas aan jou Grieks en jou Latyn.

    Kring Athenaeum, het sy pa die genooides genoem wat Donderdagaande in Saasveld se voorhuis vir voorlesing uit boeke en bespreking van interessanthede vergader. Een keer per jaar debatteer hulle formeel, maar dit is ongewild omdat dit voorbereiding en denke verg: Almal hier aanvaar maar gewoon, sonder argument.

    As ons in Amsterdam kom, gaan wys ek jou die borsbeeld van die godin Athena in hul voorportaal. ’n Engelse digter het haar by ’n dom Griekse visser gekoop en in Amsterdam van die hand gesit. Sy het ’n mooi en waardige gesig; jy weet jy kan haar respekteer en wens jy kon haar ontmoet. Ek wil só een vir Saasveld se voorhuis laat maak. In ons eie huis gebeur dit voortaan, Willie. Eers net ’n lesingkamer, maar met tyd groei dit nog tot ons eerste parlement. Kies jou sprekers sorgvuldig; probeer die intellektuele peil lig en kyk hoe hoog jy kan haal. Hier kom swerwers wat beweer hulle het by universiteite doseer, maar die gebreke is opsigtelik en eintlik ’n verleentheid.

    William besoek ’n halfaam Franse brandewyn in sy spens, proe met sy vinger by die kraan, tap ’n karaaf vol en bring glase en tabak uit die hoekkas. Sy pa was vrygewig met brandewyn en sterk, swart koffie: ‘Ryk, swart en bitter soos die sultan van Mokka,’ het hy daaroor gesê. Mokka was die Kompanjie se bron van koffie teen ’n derde van die werklike waarde, tot die sultan geprotesteer het en daaroor uit sy land verban is.

    Vir die dorpenaars wat nie Kring toe kom nie is daar klawerjas, dobbel en drink. Omtrent ’n driekwart van dié dorp verkies dit. Ons behoort vrouens spesiaal te nooi, Willie, want oningeligte vrouens maak dom kinders groot. Vir my lyk dit of vrouens wat uit vrye wil kennis soek, hierlangs skaars is. Vrouens wil tot vandag nie bywoon nie. Inteendeel, hulle het sy pa beskuldig dat hy hul mans met drank na sy salon lok. Onkunde en vooroordeel, Willie. Die enigste doodsondes.

    Wat wil Kaapse boere met geleerdheid? is sy pa in Amsterdam geantwoord. Pasop maar vir jou geleerde boer, meester Van Oudshoorn, wanneer jy nou daar goewerneur word. Daar is deesdae boere wat reken hulle is groter as die Kompanjie. Jy ken die soort met hul laaie vol klagskrifte en petisies. Gee hulle een vinger en dadelik wil hulle jou land regeer. Nee, laat sy Hottentot en slaaf saai en oes, God gee dat sy graan en wingerd groei en sy bees en skaap fok vanself voort. Leer jou boer net skiet, ons mag hom op ons grense nodig kry. Hou hom goedgesind. Hou kruit en lood se pryse laag, deel vuurstene gratis uit.

    Ná skipper Duminy se lesing oor warmlugballonne was hier verlede keer ’n vraag van die vloer af, of ’n lewende liggaam wat uit ’n groot hoogte val, dood is voor dit die grond tref. Duminy het ’n koerantknipsel gewys: ’n Engelse pasteibakker het in ’84 by Oxford met ’n ballon uit ’n weiland opgestyg en ’n uur lank oor kerktorings, ’n rivier, landerye waar hooi gemaai word, die hoë skoorstene van ’n steenmakery, ’n groen heuwelhang met ’n reuse hardlopende perd in wit kalkgrond gekap, ’n berkewoud vol kraaie, ’n skaaptrop op ’n plaaspad en ’n skoolwerf vol kinders heen gedryf en weer veilig geland. En in Januarie ’85 het twee mans, een Engels, een Frans, met ’n ballon uit Engeland óór die Kanaal tot in Parys gedryf, nogal met ’n possak vol briewe en die meeste van die tyd bokant die wolke.

    Ballonne kan ’n vloek wees, sê Duminy. Hulle moes saamstem; dit bly ’n groot waagstuk en lewensgevaarlik. Dink hoe ’n brigade voetsoldate of ’n vrag bomme nou luglangs na jou stad toe aangedryf kom? ’n Nuwe, sterker soort kanon word nodig en die duiwel gryns en vryf tevrede sy hande. Toe vra een: Val jy uit jou mandjie, skipper, is jy seker dood vóór jy die grond tref? Hofmeyr van Welgemeend het geantwoord: Waarskynlik nie, op sy weiplaas in die Overberg het hy gesien hoe ’n jakkalsvoël uit die wolke duik op ’n haas, en die haas is al wat daarvan dood is.

    Só gebeur dit, so kom en verander dinge: ’n Pasteibakker sien ’n flarde verkoolde papier in sy skoorsteen opstyg, dan styg mense, dan possakke, môre reën dit bomme. Maar die ondernemingsgees en waagmoed van die lugvaarders was belangriker as die wetenskap van warm lug. Dié sekerheid het die gehoor nie opgemerk nie; hy moes hulle daarop wys dat Engeland pas uit ’n oorlog teen Amerika opgestaan het, hul vloot- en leëroffisiere se bloed is heet maar hulle sit werkloos. Luister tog, en kyk: Hulle maak waaghalsige planne, ontdek en verower wêrelddele, dink in spronge vorentoe en skep probleme vir dié wat nie byhou nie.

    In die vorige oorlog het verpligte wagdiens Kring Athenaeum van vier vergaderings per maand tot twee laat krimp. In Van der Graaff se tyd het offisiere gekla die Kring gee onnodige opposisie aan Vrymesselary. Juis toe kry die dorp ’n komediehuis waar soldate flou klugte met ’n skootjie moord, bedrog of gerugte van owerspel vir die garnisoen en slawe se vermaak opvoer; hulle vreet die peule wat die varke nie wil hê nie. Op versoek, bowenal van vrome suster Machteld Schmidt wat Woensdagaand-bidure begin hou het en haar oorlede vriend dominee Van Lier, vergader Kring Athenaeum nou net op die tweede Donderdag van die maand.

    Suster Machteld het voor haar vyftigste jaardag twee mans, sewe kinders en ’n kleinkind begrawe; op die Pinksterdag daarna kom sy tot bekering. Wáárvan, bekeer? Dit is haar saak. Maar, die geprewel en hallelujakrete het nie by háár begin nie. Die behoefte om in die openbaar te bieg en om vergifnis te pleit het agter haar soos ’n heilige gekheid oor die Kaapse gemeente gedaal, die mense was mal daaroor. Woensdae het biduuraand geword; die kerk het die piëtistiese oplewing verwelkom, want meer eerlike silwer en minder oorgeblaasde koper val in die kollektesak. Vrouens het biduur toe gestroom agter dié nuwe gier. Tussen die stoele voor die preekstoel het hulle op die blou stene neergesink en geweekla: God, wees ons genadig. O God, hoor ons arme sondaars, red ons, ons gaan vir ewig verlore. God, hoor ons arme sondaars. Vreemd, ongekend was dit om nou so in die gemeentelike trop te bely. Was die Nuwe Jerusalem naby, die Opstanding op hande? Dan mag niemand tuis bly nie.

    Arme Geesje Kirsten het soos ander in ’n kring bely: ‘God, vergewe my. O God, begenadig, vergewe my. Wees ’n vervloekte sondaar genadig.’ Miskien het ’n voorvader geslagte gelede in ’n handelshuis of hoenderhok gesondig, maar wat het Geesje in haar hoepelrokke van ligblou en geel sy om te bely? Sy pleit roerend om vergifnis, bely skuld aan ’n misdaad wat sy nie gepleeg het nie, noem haarself onrein, skarlaken, bevlek en selfs ‘snood’ en ‘vuig’, twee outydse woorde, uit hul graf gespit en soos ’n banier van die hele beweging dikwels gebruik.

    Benewens bidure by suster Machteld in Langstraat het Geesje haar op Sondae twee keer kerk toe laat dra. En daar op haar blote knieë of lankuit op Saasveld se vloerplanke, wou sy vir onbekende sondes vergewe word. Die geweeklae en gekerm wat sy kinders ontstel, het hom aan die Middeleeuse geselaars herinner: Kyrie eleison! Kristi eleison! Slaapwandelaars in ’n histeriese droom, besete met selfkastyding, boetedoening en genadebede. Kyrie eleison! Kristi eleison! Geesje wou die doringtak, die haarrok, ashoop en potskerf hê; in haar verwarde gedagte was sy halfpad hemel toe en kon nie meer met hom of hul kinders praat nie.

    Die lopende slytasie aan die Kring se bywoning beskou hy as vervlakking, agteruitgang onder ’n kultuurarm volk wat in heillose donker wegsak. Almal hier is gestadig aan veronnosel; luister maar na hul taal. Amerika snel vooruit, bou stoomskepe, Engeland en Frankryk bou stoomtreine en stoomgedrewe weefmasjiene. Elke Europese stad het boekdrukkers en uitgewerye. Sy dorp het nie eens ’n koerant nie; die kerk se drukpersie druk handbiljette vir vendusies en begrafnisse vir ’n inkomste. Begin weer met die Athenaeum wanneer jy tuis kom, het sy pa hom aangemoedig, onderweg huis toe uit Europa. Jy kan op die Kaap se voorste families staatmaak. Onthou om vrouens te nooi.

    Saasveld staan gereed, helder verlig asof afwagtend en opgewonde oor die byeenkoms. William skink ’n glas rooi Constantia en proe daaraan. Vandat Colijn dié plaas in die twintigerjare gekoop het, hemel Here Direkteure sy wyn ongelooflik op. Dit het oorsee ’n wonderlike naam en ’n groot mark verwerf en hulle dring in elke brief met nadruk en selfs dreigemente aan op versendings van ‘de beste sortering, zeer delicieus van smaak, wat de naam van Constantia verdient. Uwlieden moeten wel begrijpen dat de wijnen hier te lande niet als een ordinaire drank maar enkel voor een liefhebberij gedronken worden, de particulaire smaak die zuijver en lieffelijk is.

    Hy roer die wyn in sy glas om en ruik daaraan: Sonderling. Waarna ruik dié nooitvolprese wyn? Herfsblare, grond en bokbloed. Daar’s ’n emmer boerbokbloed in elke aam, dis Cloete se geheim. Raadslede koop dit teen ’n redelike prys uit die regering se pakhuis, die res is vir Europa bestem, waar konings en koopmanne dit by die bokaal wegslaan en dromers en digters glimlaggend met toe oë daaraan proe. Die gewone Kapenaar ken nie die smaak nie. Jan Kompanjie het die arme verskaffer lewenslank onhebbelik beet, sewentig jaar lank al hou die regering ’n monopolie op sy hele oes.

    Die kombuis is vol van die geur van vars koffie wat op ’n tes op die herd trek. William eet sy aandmaal van groenbonebredie met rys wat Flora in ’n hoek van die herd warm gehou het en klee hom daarna informeel. Vandat Geesje die kinders weggeneem het, woon hy alleen, eenvoudig soos ’n boer. Hy mis haar en die kinders nie. Sy werksklere oornag in die armoire by ’n swart kerkpak, ’n swart-en-blou uniformjas met goue epoulette van ’n majoor in die Korps Pennisten en die dik, diepblou deurstikte fluweelmantel met Nederlandse en Britse ridderordes geborduur, wat hom na sy pa se dood toegeval het. Dit dra hy nooit. ’n Groot silwerspeld van gekroonde jaghorings met diamante beset, hou die mantel voor die bors toe. Soos sy pa, steur hy hom weinig aan sy titels; hy het nie vir één van daardie silwersterre of rooi-en-blou skilde met goue kruise en klimmende leeus gewerk nie. Titels erf jy op papier. Wat tel is wat niemand sien nie: Die bloed in jou are, die rooi stroom wat jou meul laat draai, waarmee jy jou lewe lei en jou brood verdien.

    Saasveld se lig val buitetoe soos dié van ’n vuurtoring. Buite het dit donker geword. Hy skuif die rame af, hy verwag reën. Die staanhorlosie uit Gnephoek, sy groot wit wyserplaat versier met geverfde skepe wat op ’n kantelende blou-en-wit see wieg, slaan agt dowwe slae in die voorhuis. Die eerste gaste kom aan. Sekunde Rhenius sukkel sy lyf uit ’n drastoel by die stoeptrappe, dis moeilik met ’n swaard in ’n drastoel, hy hoor hom twee of drie ander groet wat onder die bome aangeloop kom. Rhenius se sinne eindig gewoonlik met ’n lag en ’n ratelende hoes. Hy moet die ou sekunde dophou; hy raak soms in sy stoel aan die slaap.

    3

    Kyk al die swaarde, Will, en nie een uit ’n dosyn weet om dit gebruik nie. Dis ’n versiering soos ’n vrou se halssnoer. Louis Thibault met sy ligte knoffelgeur, goeie vriend, slim ingenieur, effens romanties, het opgedaag. Jou swaard moet verdien word. Al waarop jy in die lewe kan staatmaak is ’n swaard, silwermunte en goeie wyn. Louis geniet die Athenaeum-aande; só moet die lewe wees, interessant, gesellig in goeie geselskap.

    William beskou sy gaste as gesinsmense, rustige bure wat nie intieme kontak op mekaar afdwing nie. Slawe met lanterns sal om tienuur kom om almal na welverligte, vroulik versorgde Vredehoek, Waterhof, Oranjezicht, Rheezicht en Schoonderzicht terug te lei en hom hier in Saasveld met sy verlange laat, maar tevrede dat hy goed aan medeburgers doen en lus vir ’n kelkie kersiebrandewyn en ’n uur van stilte om die notule van die vergadering uit te skryf. En, voor hy gaan slaap, miskien Bogaert se uiteensetting van die boere se stryd teen die onheilige Van der Stels, pa en seun, vroeg in hierdie eeu, te herlees.

    Dokter Van Riet, die genooide spreker, kom laat aan en skud hand. Lelik van Matteas Behrens. Die meeste van sy skedel is by die skoorsteen uit. Ek het ’n flapkan skoon jenewer uit sy maag getap.

    Jou bevinding?

    Een met soveel drank in kan niks beplan nie. Tegnies, ’n ongeluk. Ek het dit aan die Fiskaal voorgestel. Dan, binne die muur, sê hy. Al was die vent ’n alkoholis.

    Ou Matteas lag julle almal vanaand uit. Ek kan hom hoor. Die hemel help ons; wei die blinde wurm nie weerskante, onderdeur hul witgekalkte bousels nie?

    Van Riet sit ’n knypbril op en pak sy tas uit. Die Fiskaal behoort skaggers te waarsku: Net sóveel drank per man. Maar solank daar silwer oor die toonbank kom, hou hulle nie op skink nie. Die dokter, ná aan aftrede, is ’n uitgesproke dienaar. Hy weet hul Fiskaal eis ’n vol vyfde van elke tapper se lisensiegeld.

    William kyk oor die gehoor. Dis ’n goeie opkoms; dertig, vyf-en-dertig gaste staan in groepies in sy voorhuis versprei. ’n Paar drom om die karaaf om ’n laaste glas brandewyn te skink. Hy tik sy hamer op die tafel. Neem plaas, asseblief. Hier is nog plek in die ouderlingstoele. Die heel oudstes, doof en half blind, kom vorentoe, hul hande koester bokale, die gesigte snuif afwagtend daarin.

    Goeienaand, lede van Kring Athenaeum. Ons het vanaand ’n mediese onderwerp. Ek het die heer Van Riet genooi, u ken hom: Oppermeester van die hospitaal, om sy ondervinding en menings insake die Direkteure se voorgeskrewe noodhulp aan drenkelinge te verduidelik. Dis al veertig jaar of meer in gebruik. Hoe dit werk, of dit na sy mening effektief is, hoe daarop verbeter kan word, só voort. Meester Van Riet. Hy gaan sit, kantel die halfuurglas en doop sy pluim om te skryf.

    Van Riet sluk water, gril effens (in die droë seisoen kook Flora hul drinkwater dood en voeg sout en wit asyn by teen die maagkoors), vul weer sy glas en skuif dit byderhand. Ja. Ek vermy gewoonlik uitlatings wat met voorgeskrewe beleid strydig is, maar ek glo ons het die afgelope veertig jaar meer drenkelinge verongeluk as gered. Ek weet nie watter pervert eerste dié metode uitgedink en aan Here Sewentien verkoop het nie, maar dit was waarskynlik ’n Engelsman, want ek hoor dit word so in die Britse vloot ook toegepas. Mense wat nie totaal stiksienig is nie, erken dat die Engelse ons nou in die wetenskap voor is. Dink aan kaptein Cook wat ons ’n paar jaar gelede hier toegespreek het. Gedrewe deur ’n drang na kennis, deur miljoenêrs en bankiers geborg, seil hy ’n skip vol wetenskaplikes met hul gereedskap om die aardbol. Soms beny ek die Engelse. Hulle berei vir die Nuwe Wêreld voor.

    Dit, dink William, is eers van onlangs af, vandat Hollanders begin pruike dra. Hy onthou die uitgesproke Cook, breed van bors in ’n donkerblou see-uniform, met sy rooi, gladgeskeerde gesig, sagte stem en amper onverstaanbare Yorkshire-uitspraak. Cook was teleurgesteld in die vlakheid van hul vrae, miskien kon hy die afkeer teenoor hom voel (‘Wat kom snuffel die dônnerse Engelse weer om die Kaap?’) en die Engelsman, openlik geskok omdat hier geen openbare hoërskool was nie, was ná aan beledigend: Ek neem wetenskaplikes om die aarde, maar besef julle waarheen ons eintlik op reis is? het hy hier in die voorhuis gevra. Ons is op pad na die maan en na die sterre. Is julle nie bang om op hierdie vasteland se uithoek in afsondering, onkunde en korrupsie te vergaan terwyl ’n nuwe son van verligting oor die aardbol verrys nie? Ken jul regering geen ander god en wetenskap as dié van geld en hebsug nie?

    Dié wat hom kon verstaan het gebrom: Gaan huis toe, man. Verwaande rooibaadjie. Cook se wetenskaplikes, ses saggesproke jong Swede, Duitsers en Engelse, het hier in die voorste ry gesit en hy het hul die geleentheid beny, op pad na die sterre, op soek na God self. Hy was dankbaar dat Cook dít nie gesê het nie, anders was hier oproer; sommige glo nog die aarde is plat en staan op pilare; Europa maak klaar vir die Nuwe Wêreld en die Kaap vir die Wederkoms. Louis het na hom toe geleun en gefluister: Die vrou van die Verligting, sy gaan heerlike geselskap wees, Will. Ek sien uit na haar.

    Dokter Van Riet neem ’n gestopte wit Delftse kleipyp wat hy gereed gesit het, bring die kersvlam by en suig sterk aan die steel tot die pypkop rooi gloei. Hy blaas ’n straal rook uit en hervat: Ons het dié voorskrif in 1769 van Here Sewentien gekry. Dis amptelik, dit is as plakkaat gepubliseer. Persoonlik vind ek dit onsmaaklik om toe te pas. Stel u voor: My pasiënt, die drenkeling, word ontklee en gesig na onder op ’n plat oppervlak soos ’n tafel of bed neergelê. Stop ’n pyp met ’n standaard-agtienduimsteel soos dié, en steek dit aan. Die dokter suig aan sy pypsteel en blaas rook uit. Maak die mondstuk met spoeg nat, só, en stoot dit versigtig in die drenkeling se rektum, só. Maak nou jou hande bak om die pyp se kop en blaas egalig daarin.

    Baie het van 1769 af verander. Die Gamtoosrivier was toe die Kaap se oosgrens; burgers is op straf van konfiskasie van eiendom en verbanning verbied om daaroor te trek. Vandag is hulle myle en myle daar verby, die voorstes is al by die Visrivier. Van Riet blaas in sy bakhande om die gloeiende pypkop; met ’n wysvinger trek hy hul aandag na die straaltjie vaalblou rook wat by die steel uitkrul.

    Laat liewerste staan, meester, vra ou vader Van Reenen van De Brouwerij uit die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1