Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Koukonap
Koukonap
Koukonap
Ebook521 pages17 hours

Koukonap

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dit is die middel van die twintigste eeu. Net soos die Vaalrivier in vloed die dorpie Koukonap bedreig, bly die Fourie-gesin se lewens ook nie onaangeraak deur groter kragte nie. Lood en Lenie het hulle teësinnig hier kom vestig. Daar is hul seun Dries, gedurig in sy kano die rivier aan’t verken, en sy twee broers. Ênie Malmok en Japie Tarentaal van die Breipaal-lokasie. Oupa Sarel, wat dalk net ʼn regte, egte Boereheld was. Die Davels oorkant die draad. Dik Dawid Daneel en Mank Manie Wolmarans en neef Boet Viljoen wat doedelsak speel in die kroeg . . . Die doen en late van gewone dog fassinerende mense, van die dorp se hoëlui tot die nagwadrywers, word met humor, begrip en soms snydende ironie ʼn werklikheid wat jou sal bybly. Hierdie verrassende, veelkantige roman ontgin die Noord-Kaapse landskap en geskiedenis, en so ook die kringloop van die lewe. Koukonap rig aan die leser die uitdaging: Klim in die kano en roei saam. Maar wees gewaarsku – die stroom kan jou lei na ʼn maalkolk!
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateAug 8, 2016
ISBN9780795801280
Koukonap
Author

Johann Botha

Johann het op Douglas skoolgegaan en aan die US studeer. Hy werk daarna as joernalis, dosent en bemarkingshoof van Nasionale Parke. Hy sluit sy loopbaan af by Die Burger. Met Koukonap onderbreek hy ʼn skryfstilte van byna twee dekades. Sy vroeë bundel verhale, getiteld Groot vyf, is met die Eugène Maraisprys bekroon.

Related to Koukonap

Related ebooks

Related articles

Reviews for Koukonap

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Koukonap - Johann Botha

    Johann Botha

    Koukonap

    ’n Vaalrivier-storie

    Queillerie

    Vir Koot, Theo, Fritz en Renier

    1. Xilofoon

    Die Fouries reis per trein van Ficksburg in die Oos-Vrystaat na Koukonap in die Noord-Kaap. Al die reëlings vir hul verhuising is afgehandel; hul trek is reeds met ’n meubelwa op pad. Dit laat hulle anderhalf dag met nie veel meer om te doen nie as om te kyk hoe die veld by hul kompartement se vensters verbyskuif en stadig maar seker verander.

    Wat Lood betref, nie ten goede nie.

    Teen die tyd dat hulle Kimberley agterlaat, is daar van die milde Oos-Vrystaatse landskap – sy koringlande en kersieboorde, vuurhoutjiepopuliere soos fakkels langs die paaie, goue sandsteenkranse en blou berge tot in die verskiet – geen sprake meer nie.

    Die Noord-Kaap bestaan blykbaar uit doringbome, klipkoppies en vaal vlaktes met dwarrelwindjies en lugspieëlings.

    En nog doringbome, sê Lood.

    Van Belmont af ervaar hulle ’n hitte wat hulle nie ken nie. Die kompartement is ’n bakoond en die droë wind deur die oop vensters bring geen lafenis nie.

    Lenie verset haar teen hul groeiende beklemming. Vir my is die doringbome tog ook mooi. Kyk net al die verskillende silhoeëtte. En wat van die aalwyne daar teen die koppie? Is dit nie vir jou ook mooi nie, Lood? … Lood?

    Baaaie mooi, sê Lood. Wat sou hom besiel het om ’n verplasing na hierdie barre baster-Kalahari te aanvaar?

    Van sulke bedenkings was klein Dries Fourie salig onbewus. Vir hom was die ganse reis een lang avontuur vol nuwe indrukke en ervarings.

    Dit het al op Ficksburg begin, toe die treklorrie voor hul huis stilhou. ’n Groot gevaarte met twee stelle dubbelwiele agter! Sy heel eerste nag in ’n hotel, waar mens ná ete nie eens jou eie bord agtertoe hoef te neem nie! En die volgende oggend, terwyl die son vat-vat aan die Imperani se kranse, die lokomotief wat stadig ingestoom kom, die bolle wit rook wat uit sy skoorsteen borrel, die hele string trokke wat hy so sonder moeite agter hom aansleep.

    Sy pa gesels met die kondukteur, wat sê: Moet jou nie bekommer nie, meneer Fourie, ek gee vir julle ’n lekker kompartement. So bietjie weg van die lokomotief, dat die roet en stukkies as julle nie pla nie.

    Nie daar agter naby die derdeklas-waens nie.

    Waar die perron ophou, wag daar ’n klein skare Basoeto’s met komberse en bondels bagasie ook op die kondukteur se instruksies.

    Nooit, meneer Fourie, net die beste vir julle! Die trok net voor die eetsalon.

    En hy steek iets wat Dries se pa in sy hand stop, stilletjies in sy broeksak.

    So ’n kompartement verdien behoorlike inspeksie. Kapstokke en houtrakke en sitbanke van gladde groen leer. Banke wat kan afslaan om beddens te vorm. ’n Tafeltjie in die middel met ’n opslaanklap waaronder ’n blink metaal-wasbak met sy eie blink kraantjie verskuil is. Vensters met blindings én hortjies wat kan op- en afskuif. Foto’s van rooibokke en leeus in die Krugerwildtuin bokant die sitbanke teen die mure.

    Deps ek slaap bo vanaand, sê Dries. En daardie aand kon hy nie wag dat die kelner hul rolle SAS-beddegoed met die donkerblou komberse en spierwit lakens daarbinne kom aflewer en Lenie syne op een van die boonste banke ooprol nie.

    Intussen was daar ’n hele dag se ontdekkings om te maak. In die hoek van die gangetjie voor hul kompartement is daar ’n toilet ingedruk. Jy kan nie sommer net die deur oopstoot en ingaan nie. Op die deur is daar ’n gleufie waarin VAKANT op groen of BESET op rooi geskryf staan. As daar BESET staan, moet jy maar knyp, al voel dit vir jou jy piepie in jou broek.

    Binne is amper nie plek om jou staan te kry teen die swaaibewegings van die trein en behoorlik te mik om nie die vloer nat te spat nie. Of jy sukkel om jou sit te kry met jou voete wat net-net nie aan die grond raak nie. As jy opstaan om die ketting te trek, vloei daar water teen die kante van die toiletbak af en onder sak daar ’n klap weg en vir ’n oomblik sien jy deur die gat die spoor se dwarslêers sjoep-sjoep-sjoep verbyglip.

    Daar is allerhande reëls op ’n trein. Jy hardloop nie heen en weer in die gangetjie nie. Jy staan nie by vreemdes se kompartemente en ginnegaap nie. Jy hang nie by ’n oop venster uit nie. Jy vryf nie jou oog as daar ’n stukkie koolstof inwaai nie, jy spoel hom by die wasbak uit, al voel dit vreemd om jou oë in die water oop te hou en te knip. Jy klim nie op die handrelings by die oop bruggie waar die een trok aan die ander koppel nie en jy pas op dat jou toon nie vasgevang raak tussen die bewegende voetplate nie.

    Een van die lekker dinge op ’n trein is die padkos. Lenie het toebroodjies, hardgekookte eiers en frikkadelle by die hotel se kombuis bestel en gesorg vir ’n perskerol, gekerfde biltong en ’n groot kardoes van Ficksburg se lekker rooi kersies. Padkos hou egter nie vir ewig nie. Lood het vir die vroegaandsessie plek in die eetsalon bespreek. Wanneer die kombuis gereed is, loop een van die kelners met sy netjiese onderbaadjie op en af in die gange en tik met ’n hamertjie ’n deuntjie op wat Lood ’n xilofoon noem.

    Pieng-pieng-pong-piengeling-pieng-pong. ’n Vrolike deuntjie wat Dries altyd met hul reis na Koukonap sou assosieer.

    In die eetsalon is die tafeltjies nes in die hotel met swaar silwereetgerei op gestyfde linne gedek en ’n mens moet kophou om die regte messe en vurke vir die regte disse te gebruik. Vir Dries maak als nie mooi sin nie. Hoekom so baie? Hoekom moet ’n vismes so stomp wees? Hoekom mag jy nie jou brood daarmee smeer nie, dit lyk dan soos ’n bottermes? Maar dis nog erger as dit! Jy mag selfs nie met ’n bottermes jou brood smeer nie! En hoekom moet mens jou vurk met sy rugkant na bo hou? Hoekom moet mens kos met jou dom hand na jou mond bring?

    Dis maar net goeie maniere, sê Lenie.

    O, sê Dries. Dit help nie veel nie, die ertjies bly hom baas. As jy hulle nie omtrent een vir een deurboor nie, bly hulle afrol van die vurk. Tensy jy dit vaspleister met pampoen.

    Ons het dié manier van eet maar by die Engelse geleer, sê Lood. Dit kon erger gewees het. Die Chinese eet met twee stokkies. Hy beduie hoe die stokkies met een hand vasgeknyp word.

    Hulle eet seker nooit ertjies nie!

    Met daardie stokkies se punte kan hulle tot ’n ryskorreltjie optel.

    Dries besluit hy sal dan maar liewer aansukkel met die Engelse manier. Maar dis anderdag se kwelling, want die Fouries bereik konsensus dat ’n mens maar jou vurk mag omdraai, mits jy met ’n toe mond kou.

    Dis hoe die Amerikaners dit doen, sê Lood. As hulle hul kos gesny het, skep hulle dit met die vurk in die regterhand.

    Solank ’n mens onthou wat goeie maniere is, sê Lenie.

    Ek weet, sê Dries. Jy lê nie met jou elmboë op die tafel nie.

    Dis reg.

    Want net varke lê en vreet, sê Dries.

    Dis waar, sê Lenie. Maar vergeet nou maar van die varke.

    Slaap op die trein is ’n groot lekkerte. As jy jou na ’n bedrywige dag vroegaand op die boonste bank tuismaak, kan jy nog ’n ruk met jou ken op jou kussing lê en kyk hoe die wêreld verbydryf in die skemerte. Lank voor jou ma die hortjies digtrek, het die ke-klikke-klak, ke-klikke-klak van die trein se wiele op die spore jou aan die slaap gesus.

    Miskien sal jy in die middel van die nag wakker word met lig wat strepies deur die hortjies skyn en die gedempte geluid van stemme daarbuite.

    Wat is dit nou? vra Dries deur die slaap.

    Toe maar, antwoord Lood saggies. Ons staan ’n rukkie by die stasie. Slaap maar weer. Die trein sal nou weer ry.

    Dit is ook so. Jy voel amper nie die ligte ruk as die trein begin beweeg nie. Stadig tel die ke-klikke-klak weer spoed op, maar Dries is al weer diep in droomland.

    Vir hom vlieg die dae verby. By haltes, waar mense op- of afklim en paraffiendromme, bale droë velle, roomkanne of sakke koring by die goederewa op- of afgelaai word, staan hy elke beweging op die balkonnetjie aan die einde van hul wa en waarneem.

    Naderhand waag hy dit om met die trappie af te klim tot op die grond, want by kleiner haltes is daar nie altyd ’n perron nie. Hy buk om die blinkgetrapte spore van naby te bekyk. Volgens sy skatting is hy darem ’n kop hoër as die wiele.

    Haai jy! Wat maak jy daar?

    Dries trap agteruit soos hy skrik. Amper haak sy voet vas. Dis ’n oom in ’n flenter-oorpak wat langs die trein aangestap kom. Sy stewels knars op die gruis. Onder sy pet wys wit kroesies om sy ore dat hy nie meer vandag se kind is nie.

    Niks nie, oom. Ek kyk net.

    Die man beduie met die hamer in sy hand.

    Jy moet oppas daar by die wiele, hoor jy my? Sê nou die trein gee ’n ruk, waar is jy dan?

    Hy haal nie die sigaret uit sy mond as hy praat nie. Hy draai net sy kop effens skeef en trek sy oë op skrefies. By elke wiel buk hy en gee hom ’n raps met die hamer. Hy luister elke keer aandagtig. Party wiele kry ’n tweede raps voor hy tevrede knik.

    Dries is oor sy skrik. Hoekom doen oom dit?

    Dis mos my werk. Ek is ’n wielklopper. Hy trap sy stompie dood en voel in sy sakke tot hy êrens nog een kry om aan te steek. Hy trek diep en blaas die rook in twee vaalblou stroompies by sy neusgate uit. Van treine se wiele kan jy my niks vertel nie.

    Dries kan heeldag aanhou vrae vra.

    Wat luister oom?

    Kom luister jý bietjie, duusmannetjie. Hy tik die wiel en kyk vir Dries. Hoe klink dié een vir jou?

    "Dit klink so … piengkk!"

    Klink dit mooi?

    Nogal baie mooi.

    Dis hoe ’n gesonde wiel moet klink. So ’n sing-klank. As hy dof klink, moet jy weet dis ’n wiel met ’n kraak. Al kan jou oog dit nie sien nie, is daar fout. Hoor jy my?

    Ja, oom. En dan?

    Ai, maar die duusklong het baie vrae. Wat is jou naam, duuskêreltjie?

    My naam is Dries.

    En my naam is Appie. Dis kort vir Apolis, al sê party mense Apools. En is jy alleen op die trein, Driesmannetjie?

    Nee, oom, ek is saam met my ma en my pa.

    Nou jy sien, dis hoekom ou Appie die wiele toets, dat duusmense soos julle veilig kan ry op die trein. Want sê nou maar ’n wiel breek? Dag of nag, maak nie saak nie. Dan is dit met permissie gesê ’n helske smesj.

    Dis woorde wat Dries in sy hart gebêre het.

    Sy ma wou weet wat hy met die toebroodjies wil doen. Jy kan tog nie nog honger wees nie, Dries?

    Nee, Ma, dis vir oom Appie. Hy is ’n wielklopper.

    ’n Wielklopper?

    Om te keer dat daar nie ’n helske smesj kom as ons slaap nie.

    2. Satan

    Ficksburg, Clocolan, Thaba Nchu. Op Bloemfontein kon hulle in hul kompartement bly terwyl die wa van die een spoor na die ander gerangeer en herkoppel word. De Brug, Petrusburg. Op Kimberley moes hulle wag vir ’n trein wat met die hoofspoor oor De Aar op pad was Kaap toe. Spytfontein, Modderrivier, Graspan.

    Op Belmont het hulle in die wagkamertjie sit en kyk hoe die son op die spore blink. Soms hou daar ’n trein stil, laai ’n paar mense op of af en vertrek weer. Dan is daar weer ’n trein wat net fluit en stadiger ry tot hy anderkant die halte weer begin spoed optel. In die doringbome saag die sonbesies eenstryk deur.

    Uiteindelik was die trein na Koukonap op ’n oorkantste syspoor gereed – ’n lokomotief, ’n paar oop trokke, enkele dagwaens en ’n goederewa. Hulle moes met hul bagasie oor die treinbrug daarheen piekel. Daar het die kondukteur hulle ingewag, sy blou onderbaadjie gemaklik oopgeknoop om sy maag te behaag.

    Wag, laat ek help, laat ek help, sê hy, sonder aanstaltes om die daad by die woord te voeg. So, dis nou die Fourie-gesinnetjie? Ons nuwe posmeester, nie waar nie? En sy vroutjie en seuntjie? Nou maar welkom, welkom in ons geweste!

    Hy sê hy is Du Plessis – maar noem my sommer Doepie – en skud plegtig met almal hand, Dries inkluis.

    Hoe ver is dit nog na Koukonap, meneer Du Plessis? wil Lenie weet.

    Doepie, mevroutjie, noem my Doepie. Nie te ver nie, so ’n paar uurtjies en ons is daar. So bietjie aandoen by Salt Lake, so bietjie water tap by Broadwaters, dan draf ons ou treintjie deur tot daar.

    Hy haal sy pet af en vee met sy sakdoek die sweet van sy voorkop af. Nogal ’n aardige ou hittetjie vandag, of hoe?

    Dis Doepie wat sorg dat die laaste skof na hul bestemming darem een aangename verrassing oplewer. Die uitsig op die Vaalrivier by die Broadwaters-halte het die lafenis van ’n oase in die woestyn gesuggereer. En toe die trein weer sy loop kry, kom hy hulle roep. Hulle moet bietjie saam met hom na die goederewa.

    Daar is vir julle ’n serpraaisie.

    Hy lyk so angstig en opreg dat Lood skietgee.

    Tussen die kiste, kratte en kanne swaai Doepie soos ’n towenaar ’n klam goiingsak af van ’n groot, koel waatlemoen. Die liggroen skil het donker sigsag-strepe oor sy volle lengte. Dis wat ons noem ’n rattlesnake. Met sy knipmes sny hy die waatlemoen in lang skywe. Daarna snitte uit die ryk, donkerrooi kroon.

    Probeer eers die skywe, beveel hy aan. Die kroon is die poeding. Toe, kry vir julle. Proe maar self. Hierlangs het ons die soetste waatlemoene in die hele wêreld. Of wat sê jy, boetatjie?

    Dries kan net knik terwyl hy ’n skyf van ’n kant af deur sy mond werk. Hy kou dat die sap teen sy ken afloop. Hy volg oom Doepie se voorbeeld en spoeg die swart pitte met ’n boog by die goederewa se oop skuifdeur uit. Die kroon is ferm, maar fyn, sappig en soet. Dit het ’n geur en ’n smaak wat jou lus maak vir nog. Dis ’n fees sonder keer, buiten die grootte van jou maag.

    Die grootmense het klaar geëet en staan en gesels. Die meneer en mevrou het Lood en Lenie geword. Dries nader die einde van sy kapasiteit. Hy eet al stadiger en luister met ’n halwe oor.

    Toe maar, moenie te gou skrik nie. Julle sal gewoond raak aan Koukonap, hoor hy oom Doepie sê. Dis mos een van daardie plekke waarvan hulle sê dat dit jou twee keer laat huil. Die eerste keer as jy daar aankom. Die tweede keer as jy daar moet weggaan.

    Lood sê niks. Lenie vra: Wat dink jý daarvan, Doepie?

    Ek sal nie weet nie, sê Doepie. Ek is daar gebore en ek bly nog daar.

    Die stasie is die eindpunt van die takspoor van Belmont af. Ten spyte van Doepie se paaiwoorde, is die eerste blik op hierdie poort tot hul nuwe tuiste nie bemoedigend nie. Langs die spoor ’n rytjie vierkantige rooibaksteenhuise. Vaalblou gruis op die perron en ’n paar stowwerige aalwyne by die naambord. ’n Stasiegeboutjie van dieselfde rooi baksteen. Peperbome, ’n sinkskuur en ’n veekraal.

    Dis laatmiddag. Oom Joep Carstens, die stasiemeester, is al huis toe, anders het hy seker uit sy kantoor gekom om die vreemdelinge te verwelkom. Hy sou beduie het hoe die dorpie teen die bult af lê, waar die rivier verbyloop en dat die blou lint op die horison die Ghaapse plato is. Die mense sê sommer Ghaap se Berg.

    Of dit veel sou gedoen het om die toneel vir die moeë reisigers aantrekliker te maak, is dalk te betwyfel. Volgens oorlewering het Lood gesê: Lyk my maar na ’n ou kak plekkie.

    Dis ook deel van die familiesage dat Mank Manie Wolmarans die gesin in sy swart Oldsmobile na hul huurhuis geneem en dat Lenie langs die pad gesê het: Nee, Lood, ek huil nie. Sy het ook nie gehuil oor die verwaarloosde huisie met die badkamer op die stoep en ’n kleinhuisie in die hoek van die erf nie. In elk geval nie openlik nie. Die huur was bekostigbaar, dit was goed vir ’n begin. Wat daarvan as die plankvloere politoer en die mure kalk gekort het? ’n Mens spring aan die werk om die plek leefbaar te kry.

    Lood het perdebyneste op die stoep met ’n fakkel van koerantpapier bygedam en by die badkamer ’n geelslang se kop met ’n gholfstok verpletter. Dries onthou die reuk van papier wat brand, die verskroeide perdebye op die sementvloer en sy pa wat sê: Hierdie goedjies is venynig. ’n Perdeby kan jou sommer ’n hele paar steke agtermekaar gee. Dit brand soos vuur.

    Toe moes Lood eers die verskil tussen ’n heuningby en ’n perdeby verduidelik.

    Die slang het Lenie in die badkamer verras. Sy was besig by die wasbak toe ’n beweging die hoek van haar oog vang. Sy versteen instinktief. Die reptiel, wat hom dalk in die hitte van die dag in die koelte onder die bad tuisgemaak het, ontvou sy kronkels en kom skynbaar reg op haar afgeseil. Toe Lenie retireer, lig hy sy voorlyf en trek dreigend bakkop. Teen daardie tyd staan sy met ’n gil na haar wederhelfte op die stoep.

    Lood, wat nie graag die wasbak wil tref nie, por die slang versigtig met die gholfstok na die oop deur toe aan. Met ’n vloeiende golfbeweging seil hy uit op die stoep en af met die trap.

    Arme ding. Sal ons hom nie maar laat gaan nie? vra Lenie.

    So ’n satan op die erf, sê Lood. Kan dit nie waag nie. Sy eerste swaai tref nie skoon nie, maar rig skade aan.

    Ek wil liewer nie kyk nie, sê Lenie. Sy bly egter staan. Dries kyk ook met gemengde gevoelens. Hy is aan sy pa se kant en kry tog die slang jammer wat nou dringend probeer wegkom. Waar hy voorgekeer word, mik hy met ’n oop bek en flitsende tongetjie. Dalk breek een van Lood se houe sy rug, want hy krul en spartel vergeefs om sy vyand by te kom. ’n Hou tref hom vol teen die kop. Lood slaan tot daar nie meer lewe in die lyf is nie, net die laaste rilling van die dood.

    Dis aardig om die dierasie so weerloos te sien lê. Nou kan jy maar aan hom vat, hy kan niks doen nie. Hy is langer as Dries en dikker as sy arm. Sy skubbe pas naatloos oormekaar, mooi donker geelbruin aan die rugkant en ligter geel aan die penskant. Donker bloed aan die stukkend gekapte kop. Lood forseer die bek oop met ’n stok. Hulle kyk met respek na die giftande.

    Verbeel jou, as hy jou pik, sê Lood. Ek dink nie jy het ’n kans nie.

    Hy het dalk ’n maat, sê Lenie. Sy ril by die gedagte. Wat hom kom soek.

    Dis bygeloof, sê Lood. Maar lyk my ons is hier in slangwêreld.

    So ’n pragtige ding, sê Lenie.

    Op die potjie sit, wou Dries nie meer doen nie. Nie ’n ervare treinreisiger soos hy nie. Nadat die houtbank ontsmet en ’n dipmengsel in die emmer onder die sitplek gegooi is, is hy toegelaat om die kleinhuisie onder die groot peperboom te gebruik. Op die oog af het dit vir hom ’n gesellige plekkie daar eenkant gelyk. Daar was ’n paar ou tydskrifte op die bank langs die sitplek waardeur mens kon blaai en ’n pakkie vierkantig geskeurde velletjies koerantpapier op ’n spyker gepen.

    Die gedagte aan daardie donker emmer doer onder hom het Dries tog aardig laat voel. Is dit ’n by of ’n brommer wat in die ruimte êrens onder sy sitvlak zoem? Watse onheil sou nog daar skuil? Kakkerlakke? Dalk ’n spinnekop? Hy het sy broek liewer nie tot op sy enkels laat sak nie, net tot op sy knieë, reg vir opspring.

    Na ’n ruk het hy darem tuis geraak en sy bydrae gelewer, maar afgesien van die gebruik om agterna inspeksie te hou.

    In daardie tyd het die Terblanche’e van Marquard een aand by die Fouries oornag. Op pad terug van vakansie in die Kaap het hulle spesiaal die draai gery om te sien hoe dit met hul ou vriende gaan. Op Koukonap, van alle plekke in die wye wêreld.

    Wat Dries van dié kuiertjie bybly, is Lottie wat wil piepie. Hy wys haar die kleinhuisie, maar sy sien nie kans nie.

    Jig. Dit stink.

    Jy gooi net bietjie dip af in die emmer daar onder. Hy demonstreer.

    Dis te hoog.

    Ek sal jou help.

    Nee, ek is bang.

    Hulle piepie in die sand onder die peperboom. Dries eerste. Hy lig sy broekspyp op, staan lekker wydsbeen en laat waai. Skuimpies dryf op die dammetjie wat stadig wegsink in die sand. Lottie lyk beïndruk.

    Wys bietjie? Is dit jou piepiedingetjie?

    Dis my peesterman.

    Haai foei tog, hy is so oulik.

    Hoe lyk joune?

    Sy het haar rokkie op- en haar broekie afgetrek om te sit en piepie. Dit vorm self ’n bevredigende nat kol. Dries meen egter hy mis iets.

    Het jy nie ’n mannetjie nie?

    Ek is dan ’n meisie.

    Ek weet dit, dommie. Jy dra mos ’n rok.

    Nou ja?

    Nou ja wat?

    ’n Meisie het ’n koekie. Sy trek weer haar broekie af om te wys.

    O.

    Toe Liesbet Terblanche taktvol verneem hoekom Lottie rondstap met ’n krom pepertakkie wat by haar broekie uithang, antwoord sy saaklik.

    Ons speel mos ons is boeties.

    Lenie Fourie wil iets sê, maar Markus Terblanche keer.

    Toe nou, Leentjie. Dis kinders.

    3. Kruiwa

    Sommige dinge was blykbaar maar net op ’n dag dáár. Gemmer byvoorbeeld, ’n uitgevrete mannetjieskat wat bedags op Dries se bed geslaap en snags met geesdrif die buurt ingevaar het. Daarvan het hees krete in die nanag en littekens aan sy snoet en ore getuig.

    Hy het seker weer baklei, sê Dries.

    Inderdaad, sê sy pa.

    Waar sou Dapper die brak vandaan gekom het? Miskien ’n skutbrak oor wie Lenie haar ontferm het? Nie onmoontlik dat Ênie Malmok hom van die lokasie af gebring het nie. Uit die liefde van haar hart, want hoe nou anders, ’n seunskind moet mos ’n hond en ’n hond moet ’n baas hê.

    Lood wou sy voet neersit, maar swig vredesonthalwe voor die pleidooie van sy eersgeborene en sy wederhelfte. Die noemnaam was sy skeptiese taksering van dié baster-rifrug met sy vogtige spanjoel-oë. Al knyp hy ’n vyfpondnoot onder sy stert vas, is hy nog bokkerol werd.

    Maar die liefde vanself. Dries onthou hoe hy op sy rug met sy kop teen Dapper se pens lê en kyk het hoe wit stapelwolke stadig in die blou lug oor die huis se dak verbyskuif en agter die peperboom verdwyn.

    Ook Ênie Malmok was ’n vanselfsprekende teenwoordigheid in die huishouding. Sy was van die Griekwa-geslag wat sterk op die Boesman-kant van hul voorsate trek. Die vriendelike elfiegesig het Dries bygebly, die ligte geelbruin vel, die neutbruin ogies wat die wêreld deur skrefies bo hoë wangbene betrag, die klein skulp-oortjies plat teen die kop, die gul agterstewe.

    Kleintyd openbaar die werklikheid hom aan jou met klaarblyklike onmiddellikheid. Dinge is eenvoudig soos dit is, daar is niks anders nie. Eers later, soms baie later, volg vertolkings, afleidings en vrae – en dalk begrip. Soos die besef dat Lenie se huishulp ook weg van die Fouries bestaan het, ’n ma was met kinders van haar eie en ’n eie lewe in die lokasie oorkant die rivier.

    Vir Dries was sy soms ’n maat, soms ’n ousus, soms ’n beskermengel, amper ’n tweede ma. Hy was al te groot, anders sou sy seker die voorreg gehad het om sy doek om te ruil en sy vuil boude af te vee. Dat sy dit later vir Karel en Theunie gedoen het, spreek vanself.

    Dries onthou wel hoe sy uitgelate streke in die bad haar soms natgespat en uitbundig aan die lag gehad het; hoe sy hom toegevou het in die handdoek en warm afgedroog het; hoe hy skuins voor bedtyd skoongeskrop in sy gestreepte pajamas aan Lood en Lenie gelewer is vir inspeksie.

    Oor naweke het Japie Tarentaal vir Lood in die tuin gehelp, of dalk was dit eers ná die voorval in die Grootvoor. As iemand hom vra waar hy sy blou oë vandaan kry, was sy antwoord paraat: My grootjie was mos ’n Skotsman.

    Dit was Japie wat vir Dries gesê het: Ek sien jou ma stoot kruiwa.

    Die gedagte is vir Dries so vreemd hy word sommer kwaad.

    Issie, vir wat sal sy dit doen.

    Nee man, dit lyk of sy dra.

    Dries voel aan daar skuil iets agter Japie se woorde. Wat sal sy ma nou eintlik dra?

    Hoe meen jy?

    Nee man, sommer niks. Maar dis mos ’n laksman daar in die boom? Kyk net hoe sit hy en fluit. Ons moes nou ketties gehad het. Eendag op ’n reëndag maak ek nog vir jou ’n kettie. Wat dink jy daarvan?

    Die kruiwa bly spook by Dries. Met wie kan hy daaroor praat? Sy pa is te eenkant. Jy praat nie sommer met hom oor goed nie. Hy sal miskien nie omgee nie, maar jy doen dit nie. Dries weet ook sommer sy pa sal nie daarvan hou dat Japie oor sy ma praat nie. En ’n mens klik nie.

    Sy ma self? Die gedagte laat Dries ongemaklik voel.

    Jy gaan ’n klein boetie of ’n sussie kry, sê Ênie. As hy verder vra, sê sy net: Loop vra jou ma.

    Dries doen dit tog.

    Lenie vertel van Liewe Jesus se liefde vir kindertjies en die ooievaars in Holland. Die prentjie wat Dries daarvan kry, is ’n soort sprinkaanvoël-Vader Krismis. Die vraag is, hoe kom die baba deur die skoorsteen? En wat het dit met die kruiwa te doen?

    Lood sê op ’n dag: Een van die dae sal ek mamma hospitaal toe vat om vir jou boetie te gaan haal. Sal jy bly wees?

    Dries is nie so seker nie. Wat hom betref, gaan dinge soos dit nou gaan goed genoeg.

    Of ’n sussie, natuurlik, sê Lood.

    Soos Lottie seker, sonder ’n peestermannetjie.

    Dit was toe sy ma Karel verwag het. Teen die tyd dat sy Theunie gedra het, het Dries besluit hy weet hoekom sy stadig loop en van rugpyn kla. Dis omdat daar weer ’n babatjie in haar maag is. Hoe hy daar ingekom het en hoe hy weer daar moes uitkom, was ’n ander saak. ’n Paar keer was hy op die punt om Japie te vra, maar kom nie sover nie.

    Op ’n dag sien hy Dapper en die bure se grys steekbaard-teef aan mekaar vassit. Dapper agter die teef met sy pote om haar blaaie. Elke nou en dan probeer hy loskom. Hy kyk half benoud om na Dries.

    Ag nee, sies Dapper, wat maak jy? sê Dries.

    Dit lyk kompleet of Dapper skaam kry. Dries staan nader, maar Japie keer hom.

    Los hulle, sê Japie. Hy sit saad in haar maag.

    Hoekom?

    Jy weet ook maar fokkol, sê Japie.

    Dries dink lank daaroor na. Hy kry ’n nare spesmaas. Dis tog nie iets wat sy pa en ma met mekaar sal doen nie, of is dit? Nee, jig. Dan het hulle dit seker ook al meer as een keer gedoen.

    4. Grootvoor

    Koukonap word in twee gedeel deur die Grootvoor, ’n besproeiingskanaal wat ’n paar myl stroom-op by ’n damwal uit die Vaalrivier gekeer word om die plotte en plasies laer af tot by die Oranjerivier te bedien. Een van die onderdorp se leivore het op hul huurhuis se grens en verder af by die Enslins verbygeloop.

    Dit kon nie anders as dat Dries en Tobie Enslin mekaar daar raakloop nie. Wanneer dit leibeurt in hul straat is, raak dit net te veel van ’n heerlikheid om te weerstaan. Die gekabbel van vaalgroen water in die voor af, die tuinhulpe met hul grawe, die oop- en toemaak van sluise, lok die twee seuntjies soos ’n magneet. Kort voor lank lei hul ongewenste hulp met die leiery tot ’n geploeter in die modder en daarna ’n geplas in die leivoor.

    Bootresies begin met stokkies en plankies. Op ’n leidag bring Dries ’n leë politoerblik daar aan. Die gedagte is om dit as twee bote te water te laat – die blik en sy deksel. Tobie se bydrae is ’n sakkie vol loodsoldaatjies, oorblyfsels van ’n Kersgeskenk. Die soldaatjies – nou matrose – kry nie mooi hul staan in die bootjies nie. Hulle neig om om te val en in die water te beland. Al genade is om hulle op hul rûe te laat lê, die bene wyd gestrek en die gewere blindelings in die lug gemik.

    Die seuns speel ál lekkerder saam. Hulle daag mekaar uit en por mekaar aan. So sink albei bootjies onder ’n bombardement van kluite. Om die matrose te red, plons hulle weer pens en pootjies in die water.

    Dit word ’n uitbundige gestoei wat eindig toe Tobie sy kop teen ’n sluis se stutmuurtjie stamp. Die sny bloei indrukwekkend. Die twee seuns skrik ewe erg. Albei verkas haastig na hul onderskeie huise.

    Hendrik Enslin is een van die dorp se twee prokureurs. Hy wil by sy seun weet waar, hoe en hoekom hy omgestamp is. By sy vrou verneem hy wat die wond se aard en prognose is.

    Watse tipe is hierdie Fouries in elk geval?

    Lyk na ordentlike mense, sê Martie Enslin. Ek het die vroutjie ontmoet. Dis regtig nie ’n hofsaak nie, Hendrik. Enige sny aan die kop bloei mos maar.

    Die klein watsenaam klink my tog na ’n boelie.

    Ons het maar net gespeel, sê Tobie. Die seerplek bloei nie meer nie en hy sal graag in die spieël wil sien hoe hy met die wit lap om sy kop lyk.

    Dis seuns, Hendrik, sê Martie.

    By die Fouries is daar aanvanklik geen bespreking van die saak nie, omdat Dries dit verstandig ag om stil te bly. Sê niks, dan is daar niks.

    Hendrik Enslin besluit egter om tog maar die voorvalletjie in humoristiese trant onder Lood se aandag te bring. Hy bel tydens kantoorure.

    Lood luister en sê: Nou ja, dankie vir die oproep, meneer Enslin.

    Die naam is Hendrik.

    Nou ja, aangename kennis. Hy sit die foon neer en sê: Poephol. Sag genoeg dat niemand hom hoor nie. Tuis wil hy by Dries weet wat gebeur het. Hy besef waarskynlik self nie hoe streng hy tydens die ondervraging lyk nie.

    Hoekom het jy ons niks vertel nie?

    Ons het net gespeel, Pa.

    Maar hoe het hy dan sy kop gestamp?

    Hy het mos eerste my bootjie laat sink.

    Ag so. En toe?

    Toe stamp ek hom in.

    Ja, en toe?

    Toe trek hy my ook in en toe stoei ons.

    Nou ja toe. In die vervolg vertel jy mens as so iets gebeur.

    Ja, Pa.

    Lood sê aan Lenie: Dis maar net seuns. Heimlik hou hy daarvan dat Dries hom nie laat boelie nie.

    Lenie sê: Ek sal tog maar vir Martie Enslin bel.

    Die seuns se verkenningstogte het wyer gestrek nadat Vader Krismis by beide huise driewiele afgelewer het. Partykeer het Ênie Malmok haar oudste spruit, Jason, saamgebring werk toe. Dan het hulle ’n driemanskap gevorm. Jason se bydrae het meestal beteken hy moet opdraand help stoot. Afdraand kon hy agterop staan met sy hande op hul skouers.

    Jason het nooit gevra om self te ry nie. Dries kon tog agterkom hy brand om ook ’n driewiel te hê. Dan sê hy: Oraait, ry jy nou maar ’n draai. Moet net nie die ding verniel nie.

    Hy staan en kyk hoe Jason en Tobie mekaar uitdaag. Op kort afstande was Tobie te vinnig, maar as dit by uithou kom, kon Jason hulle albei laat les opsê.

    Jis, hy is taai, sê Tobie. Seker van die draf daar van Breipaal af dorp toe en terug.

    Watse ding is dit? Breipaal?

    Die lokasie. Daar oorkant die rivier waar al die hotnots bly.

    Dries weet darem al wat hotnots is. Is Jason dan ’n hotnot? Moet wees. Sy vel is bruin en sy hare maak sulke kroesies. En dan is Ênie seker ook een? Dit klink darem nie reg nie. Liewer nie daaraan dink nie.

    Die volgende mikpunt was die Grootvoor, wat in daardie jare nog nie deur ’n betonvoering gekuis was nie en dus ’n natuurlike tuiste vir watergoggas en paddas en krappe, ’n wonderlike bron van avontuur vir nuuskierige knape. Langs die brug waar die swaeltjies nesmaak, kon jy met ’n wilgerlat, ’n tolletjie garing, ’n paar haakspeldjies en ’n halwe witbrood klein silwer vissies uit die groenbruin modderwater pluk.

    Wanneer die visvangery sy glans begin verloor, bespiegel hulle oor die diepte van die voor en die sterkte van die stroom.

    Tot oor jou kop, meen Dries.

    Maar ’n duiweltjie het sy sit op Tobie se skouer gekry.

    Nooit gesien nie. Ek wed jou, skaars by jou middellyf. Niks meer nie.

    Miskien party plekke. Ander plekke is hy dieper.

    Ek dink hy is vlak hier by die brug. Kyk hoe skuins loop die wal hier af. Tobie mik met sy voorwiel die water in. Die water voel ook nie so sterk nie.

    Dries aarsel. Oppas … En tog. Kyk hoe soetjies glip die water tussen Tobie se speke deur. Die roekeloosheid kry hom beet. Wag dat ek sien. Hy ry teen die helling af en trap verby Tobie tot sy pedale onder die water verdwyn. Half ergerlik roep hy oor sy skouer: Kom bietjie nader, Jason! Trap daar vas, dan vat jy my hand …

    Maar Jason is nie meer by hulle nie. As hierdie twee wit laaities met hul rooi traaisiekels hier wil versuip, wil hy verdomp nie daar wees om die skuld op te pak nie. En dis presies wat hy nou, op hierdie oomblik, aan sy ma gaan verduidelik.

    So kom dit dat Ênie Malmok teen elfuur die oggend op ’n warm somersdag tot onder haar arms in die Grootvoor om hulp staan en skree. Met elke hand het sy ’n verskrikte seuntjie soos ’n half versuipte kuiken beet. Sy moet vastrap om te keer dat die water hulle nie onder die lae brug insleep nie en sy voel haar arms raak lam.

    Haar hulpkrete bereik die stoep van Keevy se winkel, waar Japie Tarentaal pas met bruinpapier en twak vir hom ’n zol gedraai het. Dalk is daar ’n paar pitjies in die twak, want hy vlieg soos ’n windhond daar weg.

    By die Grootvoor aangekom, spring hy sonder aarseling in die stroom. Op ’n manier kry hy Ênie en haar vrag aan wal gesleep. Sy taak word bemoeilik omdat Tobie nog steeds krampagtig aan sy driewiel se handvatsel vasklou.

    Op die dag van sy heldedaad word Japie Tarentaal ontroer deur Ênie Malmok se druipnat agterstewe. Die noodlot het hom uitgekies om pa te word van haar tweede kleinding, ’n seuntjie wat in die vroeë oggendure gebore en dienooreenkomstig Foroklok gedoop word. Intussen word Japie uit dankbaarheid by die Fouries se huishouding betrek deur naweke vir Lood in die tuin te werk.

    Dries se ryding is ’n paar dae later ’n ent onderkant die brug half begrawe in ’n modderwal gekry. Die speke het al begin roes.

    Aangesien Jason op ’n manier sy lewe help red het, word hulle kamerade. Tot Dries op ’n dag sê hy dink dis tyd dat Jason vir hom baas begin sê.

    Jy meen soos in baas Dries?

    Of kleinbaas, as jy wil.

    Nou vir wat?

    Dries aarsel. Jy is mos ’n hotnot.

    Hotnot se gat. Jou moer, jou donnerse Boer.

    Dit was die einde van ’n belowende vriendskap.

    5. Bokmelk

    Dokter Jackson doen wat hy kan, maar die geriewe in die Roomse hospitaaltjie op Koukonap is beperk. Tensy ’n geboorte werklik lewensbedreigend raak, vind hy ’n keisersnee nie aangewese nie. Vir Lenie voel dit of haar ingewande uitskeur, maar na al die bitter ure in kraam is die naelstring geknip en die baba in ’n warm kombersie toegedraai.

    Dis ’n fris bulletjie, sê dokter Jackson. Tien vingers, tien tone, en soos jy kan hoor, is daar niks fout met sy longe nie.

    Dit was feitlik ’n herhaling van haar eerste bevalling. Dus weer ’n seun. Weer ’n baba wat eintlik te groot was vir haar klein postuur. Sy het nou geen ander begeerte in die lewe as

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1