Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Soetloop
Soetloop
Soetloop
Ebook477 pages10 hours

Soetloop

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Agterbaai: die vroeë dekades van die twintigste eeu. Waar klein Kattie onder die kombuistafel sit, Kat op die skoot, luister sy fyn na die familiestories van haar vele broers en susters oor hoe hul voormense beroof is deur bloedfamilie – en die gevolglike trauma van armoede, drank en ontberings as ma en pa van mekaar vervreem is. As skoolkind word Kattie uitgeplaas na aansitterige buurfamilie, waar sy ’n handige stuurdingetjie word, beslis nie ’n gelyke nie. Hierna is sy kinderoppasser by die vername Van Aardes in die Swartland, waar sy ’n beter lewe leer ken: musiek, boeke en fyn maniere. Wanneer sy hiervandaan uitvlug na ’n onbesonne huwelik, stap Kattie egter dieselfde onvervulde pad as haar ma, waarteen sy haar lewe lank sal stry. In Soetloop keer E. Kotze terug na haar vertroude, geliefde oermilieu, die onherbergsame Weskus. Nes in Hoogty kry die leser buitengewoon meelewende insig in ’n huwelik, en in ’n brakkerige lewenspad wat nie altyd maklike keuses bied nie – maar tog sy varswater-soetlope het.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateAug 8, 2016
ISBN9780795707742
Soetloop
Author

E. Kotze

E. Kotze is gebore op ’n plaas aan die Bergrivier en word groot aan die Weskus. Haar man, skipper Willie Kotze, se vertellings gee aanleiding tot haar eerste bundel kortverhale, Halfkrone vir die Nagmaal (1982). Later volg nog vyf bundels en twee gewilde romans, Toring se baai (2009) en Hoogty (2011). Kotze woon in ’n aftreeoord in Kaapstad.

Read more from E. Kotze

Related to Soetloop

Related ebooks

Related articles

Reviews for Soetloop

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Soetloop - E. Kotze

    E. Kotze

    Soetloop

    KWELA BOEKE

    van waarhede en versinsels oor geslagte heen

    vir Marlene

    1

    Die dag breek wit oor die kliprug, ’n kalkbank yl ingeklee met sout opslag en rankgoed wat kortstondig bot en blom en blus. Onder in die bog is die duinveld armoedig, die landjies kaal en verwaai, met hier en daar geronde klipstapels soos oergrafte waaronder dooies lydsaam wag op die dag van gelykmaking.

    Toe Samuel Laumbaart van Babilonstoren in die Swartland in die neëntiende eeu sy seuns soos Ou-Testamentiese verkenners uitgestuur het na die Agterbaai, was dit om weiding vir sy veetroppe te soek. Hul eindbestemming was Laaggelee, tussen die kliprug en duine waar daar ’n suiping is, ’n puts waarvan die water pekelsout is. Dit les nie die dors nie; niemand sal dit daar hou nie.

    Tog het die lot dit so beskik dat mense op ’n manier ’n bestaan daar maak. ’n Man met sy vrou en kinders het hul intrek geneem in ’n vratterige rietdakhuis waarvan die lae klipmure gestut word deur stewige bere. ’n Varkhok en koeistal, ’n afdak vir die twee kardonkies, een manatok: dis die somtotaal van Laaggelee.

    Die man wat die wenas by die puts draai, die emmers beurtelings laat sak en uit die diepte na die oppervlak katrol, is van middelmatige lengte, met kort arms en bene en ’n breë rug. Om die emmer uit te keer, verwring hy sy skouerpotjie, en stort. Sy regterelmboog, gebreek en sleg aangegroei, het Claas Prins lewenslank gestrem. Daarom staan hy ook in die omgang as Claas Arm bekend. Sy rykdom kan slegs aan kinders gemeet word. Agt dogters en twee seuns, die halfwassie nie bygereken nie.

    Hu! spreek hy die stuwende vee aan, druk hulle terug, maak die krip vol. Hy laat hulle suip. Klap die sweep met sy linkerhand. Keer die skaap kraal toe, jaag die boktrop die rante in en vat die melkkoei stal toe. Hy word nie ’n kudde van sy eie toegelaat nie, slegs die koei, ’n vark en hoenders. Een slagskaap in die maand. Een pond kontant. ’n Veewagtersloon.

    Klaar gemelk, haal hy onder uit die voerkis ’n bottel boerwyn, vat ’n goeie sluk en bêre dit weer. Hy vou die sweep dubbeld oor sy swak arm, en met die emmer melk in sy goeie hand loop hy huis toe.

    Daar wag sy vrou, Ellen, onmagtig in haar agtste maand.

    Sy sit in die uitgesakte biesiestoel onder die venster, haar hande oor haar geswelde buik gevou, knieë wyd vanmekaar, donker sisrok, wit voorskoot, toegerygde velskoene. Haar naaldwerk lê eenkant toe gestoot: ’n gedaan manshemp waarvan die rug versterk is met ’n ewe voos stuk pluiing. Uit kak was gekou, sê die vroue van Patnoster van sulke dikgelapte wasgoed as dit oopgegooi lê by die syferplekke langs die see. Mense armoediger as Ellen, wat glad niks het nie, sien op haar neer. Om te wys sy’s beter, was sy dan nog ’n maal die bontgoed deur en spoel voordat sy met die swaar drag die tog oor die duin aanpak.

    Die huis is van toeka af onveranderd: kamer en kombuis met ’n vuurherd. Daar is ’n potterak, seperyterbank, klein koskas, ’n kas van wit kanferhout vir breekgoed, ses lae stoeltjies van stinkhout met riempiesmat, ses Bentwoods half skeef gesit en ’n kiaatvoorhuistafel met gedraaide pote – aansitplek vir ’n groot gesin. Nutsgoed en prulle, meestal erfstukke wat hulle kon red tydens die rampspoedige uittog van De Hoop af.

    De Hoop, die plaas waarheen Ellen as jong bruid gebring is, se opstal is ’n wit opgeefsel tussen bloekombome hoog bo die kliprug. Sy kyk op van die uitgebrande vuur in die herd toe Claas sy voete op die grondstoep afstamp en die aandmelk inbring. Meet dan die strook son wat deur die nou venstertjie oor die tafelblad val. Daar sit nog ’n stúk namiddag en hier’s hy al by die huis.

    Ek het maar die vee aangebring, sê Claas verskonend toe hy haar blik merk, dat hulle versôre kom. En die aandwerk klaarkom.

    Met die huisgesin nie meer voltallig nie, word die werklas ál meer: koei melk en vark kosgee, hoenderneste uithaal. Van die kinders is nog op skool, ander werk elders. Ellen het nie meer haar kragte nie. Die dae is verby dat sy, vlugvoetig, oral voorgevat het. Selfs gemelk en water van die put af aangedra het as Claas iewers opgehou word, by sy suster op Kalkrug oorslaap vir die een of ander rede.

    Claas knoop die doek oor die skeierbak, giet die melk in en begin die slinger draai. Eers langsaam, totdat hy die ritme vind en die dun, geel straaltjie room een kant uitloop, die sterker blouwit straal regs.

    Dan voer hy fyngoed by die half dooie kole, blaas die vlammetjie aan, sit water op, wag dat dit kook, maak koffie, skink vir hom, en vir haar.

    Sy kriewel vir sy tydsaamheid. Tuur die verte in. Waar bly die kinders?

    Sy kyk na Claas. Het jy hulle nie sien aankom nie?

    Nie so opgelet nie, praat hy in die koffiebeker. Hulle sal ’n geleentheid met Milanner saam kry, hy’s vemiddag hier deur.

    Sy kop is by die kinders wat op Patnoster skoolgaan, besef Ellen, en sy swaer wat wag vir die bakkies om met vis in te kom. As die kinders maar die winkelgoed onthou, dink sy. Sy’t die notisie gisteraand op ’n stukkie bruinpapier geskryf: die allernodigste suiker en koffiebone, pakkie tee, tolletjie nommer 10-gare vir ’n wit hekelkantjie om haar swart rok se hals. ’n Onnodige uitgaaf, nes die tee. Maar Malie, hulle oudste, staan op trou, sy kan die kind nie verder in die skande steek nie. En hoe sy ook al probeer, sonder haar koppie elfuurtee kom sy nie deur die dag nie. Brakwater ofte nie.

    Claas. Haar stemtoon styg, geïrriteerd met sy blote aanvaarding van gunste en gawes, sy gelatenheid, hierdie hoed-in-die-hand-houding. Ek praat van Liesie en San …

    Ja, ek’s nie doof nie.

    … wat vanoggend by die see gaan was het.

    Die wasplek is aan die rand van die branders waar vars water onder ’n ligpienk rotsplaat uitsyfer. As die syfering toewaai, wat gereeld gebeur, skraap hulle die sand met hul hande weg om ’n wye kom te vorm waarin die skoon water eers stadig en dan sterker begin opwel: ’n helder poel tussen klip en sand.

    Hulle vermoed die water kom uit die kliprug. Wanneer dit reën, dreineer ’n soetloop, vars soos neut, waarskynlik in ondergrondse are af see toe en slaan op die strand tussen die kalkklip en ronderug granietrotse uit. Aan die begin, net ná hul aankoms op Laaggelee, het Claas saam met haar soontoe gestap, haar die kinders help dra, die bad en emmers vol gemaak voordat hy aangegaan het met sy eie werk om die vee te versorg en die kalkoond aan die gang te kry.

    Middae het hy haar weer kom help om die bad klam wasgoed terug te dra, sy met ’n kind aan elke hand, een in die maag. Malie met Nieko op die rug, drie duine op en drie duine af, sleepvoet deur die duwweltjies.

    Die kinders is oud gewoond om by die see te was, wat henner jou skielik vandag? vra Claas.

    Susanna is skaars vyf, niks meer as ’n asem nie. Van hoeveel hulp is sy vir Liesie?

    Nou hoekom het Malie dan nie saamgeloop nie?

    Omdat Malie haar nie sommer in die son sal laat verbrand nie, al dra sy ook moffies.

    Malie het die ligte hare van die Prinse en ’n bloesende vel. En Claas se teer oë, gevoelig vir die lig. Op die oomblik is sy op Laaggelee om vir haar troue klaar te maak, in die buitekamer besig met haar rok waarvan die soom, hals en moue met kraletjies versier word.

    Dis ’n uithangerigheid waarmee Malie van die Coetzees af gekom het, meen Ellen, die kinderlose egpaar by wie sy in diens was. Wat onder hul oë ’n vryery toegelaat het tussen Malie en die Langbáner. ’n Lagoonvisser. ’n Nasaat van gedroste matrose, gesoute seemanne. Taars, noem hulle hulleself. Leopold Taar het ’n broer en ’n ma wat by hom bly.

    Wat dink jy, juffer, hoe ’n lewe kan hy jou bied? het Ellen haar afkeer te kenne gegee.

    ’n Hele gemeente Taars om voor reg te staan. Alles klam van die seedouklimaat, van die mure tot die kooigoed. Want die huis staan met sy fondasies so te sê in die water as die gety opstoot. Ingerygde steentjies, die ene grate, aan die manatok drup ’n pekelsous. En só ’n wind, yskoud oor die water.

    Maar Malie is wys, met altyd ’n beter antwoord gereed.

    Ma, al is Leopold ’n seeman, skaam ek my nie vir hom nie. Hy’t bakkies en nette en ’n huis van sy eie. Dit kan nie erger wees as die lewe hier op Laaggelee nie. Waar die kinders deurmekaar dwars oor die katel ingeryg lê as dit loop aand word.

    Behoort hy ooit aan ’n kerk? staan Ellen haar man. Is die Taar Rooms? Waar trou hulle, en waar doop hulle hul kinders?

    Vrou, los dit. Wat maak dit saak as hy Katoliek is? maak Claas haar stil.

    In die laaste jare is sy sommer net vrou, lank nie meer my lam nie. So min beteken die kerk vir hom, in soveel opsigte het hy afvallig geword. Wanneer kom húlle ooit onder die geklank van die Woord? Deesdae net wanneer hulle laat doop. Dis ver dorp toe, met die donkiekar.

    Dit was nie die enigste onderonsie toe Malie die dag met troustories by die huis aangekom het nie. Met die intrap het Malie gesien hoe dinge staan, dat Ellen al weer onder die ruim geplooide voorskoot wys. Sy was onthuts.

    Is dit dan nou nodig? Die bruid se ma met ’n kleintjie aan die bors. Die skande!

    Juis omdat Ellen dit self so beskou het, het die woorde seergemaak. Met haar verleentheid wat sy nie anders kon uitdruk nie, het sy ’n stompie uit die houtkis gegryp en haar neëntienjarige dogter oor die arm getik. En nog ’n maal oor die blad, want het sy nie respek vir haar ouers nie?

    ’n Onvergeeflike ding, wat Malie haar seker nooit sal laat vergeet nie: dat sy kort voor haar troue nog ’n pak slae van haar ma gekry het. En watter ondersteuning kry sy van Claas?

    Nou het jy ’n fout gemaak, Ellen, sê hy toe hulle weer alleen is. Jy sal moet probeer regmaak … as jy kan.

    Hoekom maak jý dan nie reg nie? Jy moet mos ook van beter geweet het.

    Maar wat verwag jy van ’n man wat saam met die hoenders gaan inkruip, en van vieruur soggens af lê en kwaaddoen?

    En jy wil vir my sê jy kry nie iets daaruit nie?

    Hulle baklei met woorde, en ysige buie, maar veral broeiende stuipes.

    2

    Onrus dwing Ellen op uit die stoel. Sy stut die ronding van haar maag met albei hande. Sy voel die kind in haar roer, van lê verander, teen haar ribbes skop, met vuiste en knieë haar maagvel brei.

    Soos Claas met sy sterk hande die velle en rieme vir skoene en tuie brei … My man, skrei sy van binne en soek sy oë, verberg agter verbleikte wysbroue.

    Wat’s jou plan, Claas, sit jy net daar?

    Wat wil jy hê moet ek doen, Ellen?

    Jy lyk so prens en vrede. Gaan kyk waar die kinders bly! Het jy nie vandag die see hoor raas nie?

    Sy sien hoe hy verlangend na die koffiekan kyk, kan mos nie rus voor die laaste moer afgeskink is nie. Hy vat sy sweep en hoed.

    Sy kyk hom agterna, hoe hy sy lyf skuins gooi teen die duine uit. Is dit moontlik dat dít Claas Prins is, in sy vroeë veertigs maar ’n ou man? En sy, ’n hoogswanger vrou van by die vyftig. Waar’t jy so iets al ooit op ’n viool hoor speel?

    Sulke gesegdes van haar ma wat ’n Sandvelder is, het sy met haar saamgebring De Hoop toe. Tot groot vermaak van die Prinse.

    Uiteindelik, met die sakkende son agter hulle, tuimel die kinders oor die kruin. Hulle rol soos skeelpietbosse teen die duin af tot onder in die plate vyerank. Die jongstes ren vooruit en val byna gelyktydig by die deur in.

    Milanner het vir ons weggery, Ma! Die bakkies was nie uit nie, dit was kwaaisee, toe draai hy slap!

    Hulle kom toe seelangs tot by die wasklippe, net betyds om te sien hoe die water vir Liesie en San teen die duin op jaag, die witgoed in worse rol en intrek. Amper het dit weggespoel as Nieko-hulle nie ingehardloop en die goed uitgesleep het nie. Miekie van De Hoop was by, hy’t gehelp om die waspoele wat toegespoel het oop te grawe toe die golwe bedaar en om die baddens opnuut vol te maak met skoon water.

    Claas het hulle anderkant die tweede duin gekry, rus-rus, die emmer vars water vir die huis half uitgestort. Almal stokflou. Dorstig dam die spannetjie die emmer brakwater by, verdring mekaar soos ’n beestrop en drink. Susanna val in Ellen se skoot. Hulle het haar ’n ent laat draf, sy wat anderdag nog die baba was.

    Ellen kyk rond waar Miekie is. Die dun jongetjieskind in driekwartbroek en oprygstewels deurdrenk van seewater het Susanna die laaste ent op sy rug gedra. Maar hy’t stilweg De Hoop toe verdwyn. Seker gesien daar’s nie kos in die potte nie.

    Wat eet ons? rek Nieko sy nek.

    Melk en brood, sê Ellen.

    Die afgeroomde melk het aangebrand met die kook, die pot se boom is dun. Sy kon snysels gemaak het as daar meer fynmeel was. Of frummeltjies. Meelpap. Maar die ou brood moet eers opgeëet word.

    Die harde kors kraak onder die mes toe sy dit sny. Elke kind het ’n bakkie, die enamel hier en daar afgesplint, en ’n lepel. Sy het ’n diepbord en Claas ’n porseleinkommetjie. Dat daar nie tafel gedek word nie, sien sy oor.

    Laat ons bid.

    Sy doen lankal die tafelgebed, die aandgodsdiens ook. Claas is dikwels laat, of glad nie by die huis nie. Soos hy daar aan die kopkant van die tafel sit, is hy nie die man wat sy gedink het hy is nie.

    Waar’s Malie? vra sy.

    Het sy nie noumaar hier in die pad opgestap nie? vra Claas.

    Ellen sug. Natuurlik vir Leopold tegemoet. Met so ’n wind op die see was die Langbáánse vissers ook nie uit nie.

    Sy buig haar hoof. O Heer, voor spys en drank …

    Hulle breek die brood in, sy skep vir elkeen ’n potlepel melk. Daar’s nie suiker nie. Miskien nog ’n knypie kaneelsuiker in die blik, maar te min vir almal, daarom bly almal daarsonder.

    Daar is ’n onooglike swart kraak in Claas se kommetjie wat Ellen lank reeds uit die gebruik wou haal, as hy nie so daaraan vasgeklou het nie. Dit kom uit sy kleintyd, spierwit met ’n mooi blou werkie om die borand. Made in Russia. Die ou mense het van die loop-Jode gekoop wat vroeër op die plase kom smous het.

    Juis vanaand moet die kommetjie middeldeur breek, sodat die melk ’n plas op die skoongeskropte tafel vorm en stadig begin uitsprei om weg te loop na die moot waar die twee blaaie van mekaar af weggetrek het. Instinktief maak Claas sy hand bak en keer, vee die melk sorgvuldig bymekaar en vang dit op voordat dit afdrup en in die vloer wegsyfer. Skaars genoeg om die brood klam te maak.

    Hier, bied Ellen hare aan.

    Ek het genoeg. Eet jy.

    Ek het nie eetlus nie. Sy gooi hare by syne, kou traag aan ’n korsie.

    Sy was self die skottelgoed. Die kinders dra die badjie in. Die grotes was die kleintjies.

    Dan rol Claas sy broekspype op, seep die vaal flennielap in. Wie kom was vanaand Pa se voete?

    Hulle maak beurte, in ruil vir ’n beker vars, warm melk môre vroeg voor dit deur die skeier loop.

    Ellen neem vir haar ’n koker warm water kamer toe. Claas rook nog, toe lê sy al. Sy snuif die lug. Hy het sy eie reuk, duinsand en kraal en oorheersend tabak.

    Hoe voel jy? Hy vryf met sy hand oor haar maag.

    Op die enkelbedjie roer ’n kind, smak met die lippies, kners tande.

    Hoe dink jy? En nou nog boonop Malie, so ongedurig.

    Jy moet jou maar nie te veel steur nie, dit gaan ook verby.

    Die geboorte of die troue, wonder Ellen suf, watter een eerste? Wat ’n troos!

    Sy sal jou tot hulp kan wees tot jy weer op die been is.

    Ellen antwoord liewer nie. Claas neem alles vanselfsprekend aan, terwyl Malie net een ding in haar kop het. Sy het meer vertroue in ou Anna Jordaan, ’n bruikbare vrou binne loopafstand. As dié maar by die huis is. Hulle het wel in daardie rigting gepraat, maar dis nog nie Ellen se tyd nie.

    Die geboorte lê soos ’n berg voor haar.

    Haar eerste vier babas is op De Hoop, die destydse familieplaas, gebore. Sy is soos ’n prinses behandel, agt dae in die bed, ’n dokter en vroedvrou, bediendes, sop en saggekookte eiers en braaibrood … En Malie so pragtig, ’n ware Prins van die eerste dag af, die kleur van haar oë en die wimpers skaduwees op haar wange waardeur sy skelm loer.

    So gou het dit gebeur, die eerste kinders. Ons moenie, sê sy en Claas vir mekaar, maar dan is dit reeds te laat, hulle twee ewe belustig. Sy soek die warm heuning wat hy uit die korwe sny, wat sy uitkou totdat net die spierwit was oorbly. Sy kry daar nie maagpyn van soos haar skoonma voorspel nie, sy het ’n sterk konstitusie.

    Met ’n sterk voorgevoel dat sy nooit weer die geleentheid sou kry vir so iets nie, het sy ’n ruim baba-uitset gemaak. Van Claas het sy ’n skaapvelletjie met die wolkant nog aan sag soos lap laat brei, ’n pisvelletjie om die matras te beskerm. Só goed het sy die kleertjies opgepas dat die laaste stelletjie nog feitlik splinternuut was toe Susanna uit die doeke is.

    Een van die dogters sal dit nog kan gebruik, het Ellen gedink toe sy dit wegbêre. Aan haarself het sy nie gedink nie. Die fontein het sout geword, sy en Claas albei gerus.

    Nee! roep sy onwillekeurig uit.

    Langs haar ruk Claas. Hy het al weggedommel, liggies begin snork.

    Ellen? Sy hand beweeg teen haar maag af.

    Sy druk haar elmboog in sy sy. Nee, rol om. Lê weg van my af, het jy nie ’n konsensie nie?

    Hy gee ’n kug en hoes tabakslym op. Hoekom slaap jy nie?

    Ek bekommer my. Ek het nie meer raad nie.

    Haar gedagtes hardloop rond soos tarentaalkuikens. Wat kan ’n vrou met so ’n oormag kinders doen? Seep kook en botter maak, beskuit bak, eiers verhandel.

    Los dit vir my. Ek is die man, en hulle pa.

    Soos dit jou pas.

    Ek doen wat ek kan.

    Dít moet sy erken, hy het probeer hier op Laaggelee. Manalleen geploeg met die twee donkies, saaisak oor die skouer, oor die sekel gebuk in die warm son. Vir ’n skepel broodkoring vir die huis. Tuie gemaak, en velskoene. Die velle by die klipbakke onthaar, in soutslaai laat lê, met ’n graaf skoon geskraap. Dan die langsame breiproses: vetsmeer en was en met die hand brei. Bosse rieme aan ’n paal ophang, opwen met ’n swaar klip, los dat dit slingerend afwentel. Totdat die laaste vog uitgewring is. Soms het sy gehelp, in haar vuiste gebrei, ’n dag lank, ’n week, etlike weke. Sy wat steun van die uitputting, en die reuk van vrot vel.

    Claas het Milanner by die kalkoond gehelp, dit gepak en brandgesteek. Water gesprinkel as die skulp bros is, die gebluste skulp laat afkoel en dan gesif. Nekdoek om die gesig, sy klere en voorarms vaalwit van die stof, ’n rooierige skynsel in sy oë. Soos ’n spook gelyk sodat die klein kindertjies vir hom skrik.

    Gô! Ellen staan op uit die kooi.

    Wat nou?

    Ek gaan stryk.

    Sy maak vuur, pak die ysters uit. Claas, wat al van beter weet, maak koffie.

    Sy tel die eerste yster op en spoeg dat die druppeltjies op die warm oppervlak ronddans. Lê dan met die yster op die mansbroek, hard soos seil. Pyn soos warm vuurstrale skiet in haar rug en agter haar bene af.

    Wag, Ma, gee vir my. Malie staan in die deur.

    En waar peul jy nou skielik uit?

    In die buitekamer geslaap.

    Ellen blaas deur haar neus. En die Langbáner?

    Ma, hy’s Leopold. Hy het ’n rukkie by my gesit, ons het ’n bietjie gesels, maar hy’s lankal weg. Hy wou nie steur nie, hy weet Ma is nie lekker nie.

    Ek het nie geweet ek het ’n kwaal nie. Los, ek sal klaarmaak wat ek begin het.

    Maar sy keer nie toe Malie en Claas die witgoed begin uitskud en die lakens strek en vou nie.

    Sy drink ’n mondjievol van die vars koffie toe Claas vir haar die beker gee. Hy probeer haar in die rigting van die kamer stuur, eers sagkens, maar met meer drang toe sy haar versit.

    Ellen, jy kla heeldag niemand gee om nie. Jy’s kwaad vir almal, en nou stoot jy my weg …

    Het ek maar eerder.

    Jimmel, Ma, wat gaan hier aan? sê Malie ontsteld. Ek ken dit mos nie só nie!

    Dan is dit tyd dat jy jou oë oopmaak. Voor dit te laat is.

    Claas maak asof hy nie hoor nie. Hy trek die onderdeur agter hom toe en stap weg.

    Ellen se gesig vertrek. Sy wil agter hom aan roep, hom keer. Kan hy nie sien hoe dit met haar is nie?

    Teen haar sin gaan lê sy weer. Golf op golf stoot die tamheid oor haar. Die bed van smeedyster, ’n trougeskenk van haar ouers, maak fyn tjingelgeluide as sy roer. Die matras van kapok is klonterig, deurgelê. Dit moet ’n slag uitgeskud en gepluis, gewas en in die son gedroog word. Maar tog nie nou nie.

    Om haar dein die huis, swel en sak en swel. Die voetval van die kinders klink soos ’n perdekommando toe hulle die skoolpad vat. Sal hulle die winkelgoed onthou? Anders sal Claas alsolief vanmiddag die donkies moet inspan.

    Sy moet tog weggeraak het.

    Wil Ma ’n bietjie tee hê? Liesie staan voor die bed.

    Nee, wag, laat ek opkom.

    Ma kan maar bly lê, ons sorg vir alles.

    Die wasgoed is gestryk, ja, maar die vuurherd moet uitgewit kom, die vloer gesmeer. Met ’n drif gooi sy die komberse van haar af. Sy ken die kinders, jy kan hulle net vertrou so ver jy hulle sien. En waar’s Claas?

    Pa is met die vee die kliprug uit, sê Malie. Hy’t gesê hy maak sommer by die Milanners agtuur.

    Eet hom daar dik aan wors en eiers, dink Ellen. Aan die ander kant bring hy dalk ’n stukkie vleis saam. Vrugte as die smouskar omgekom het.

    Sy spoel haar mond met soutwater uit. ’n Kiestand gee antwoord. Haar tande is gevoelig; elke kind vat kalk uit haar liggaam.

    In die kombuis woel Malie en Liesie. Daar is reeds gemelk, die skeier gedraai, uitmekaar gehaal en gewas. Nou maak hulle die vuurherd skoon, vee die kole en as met die bossie vere bymekaar, dra die rooster en vuurysters en swart ketel uit om te skuur met bondels strooi en as.

    Die potterak hoef nie vanoggend afgeskrop te word nie, stof maar net af, maak Ellen ’n toegewing aan Malie wat die res van die nag sit en krale vaswerk het. Sy moenie te straf op die kind wees nie.

    Sy stap in die oggendkoelte uit en agterom die huis, na die oorskiet van die tuintjie wat sy jare terug probeer aanlê het. Malvas en verstrengelde kappertjies en die onverwagte groen van die dillebos met sy fris anysgeur, aan die lewe gehou in die drup van die dak. ’n Aftreksel van die saad is goed vir maagkrampe en slapeloosheid by babas, en dis iets om aan te kou as daar niks anders is nie. Sy breek ’n takkie af en verbeel haar sy is dadelik verkwik.

    Die buitekamer, sien sy, is aan die kant, so na as kan kom. Die kombers oor die katel is gelyk getrek, die ysterkooi agter die deur opgemaak. Aan die muur hang die tuie en stroppe. Vel en sool en naairiempies en skoenlees op hulle plek langs die boekekas. Sommige boeke kom nog uit haar skoolhoudae, ook leesboeke van die kinders, leie en griffels.

    Die boeke moet ’n slag uitgepak en afgestof word, dink sy, as sy maar so laag kon buk. Maar eers ’n koppie tee en ’n paar krummels beskuit teen die flou gevoel. As daar is.

    Sy sukkel om kombuis toe, kyk krities na Malie wat fluks besig is om elke ding terug op sy plek te pak: koffieblik en suikerblik, blik vir sago. Droëbone en ertjies het haar pa vroeër altyd van die plaas af gestuur. Wintertyd wanneer hulle vark slag, kon sy heerlike sop kook. Ertesoep met spekkies en snye roosterbrood daarin geweek, iets om die mond te laat water …

    Sy vat die onderdeur vas. Malie!

    Die kind het die doek waarmee sy afgestof het ongeërg by haar voorskootband ingedruk. Dieselfde doek waarin Claas se middagkos gister toegeknoop was, waaraan hy sy vetterige mond en hande afgevee het.

    Het jy tog nie daai vuil doek wat na kos ruik en waarop die vlieë gepak het in my kombuis gebruik nie? vra Ellen skerp. En dan wil jy man vat? By jou eet ek nie!

    Sy haak haar kombuisvoorskoot agter die deur af en sukkel met haar ongemaklike lyf houthoop toe, antwoord nie toe Liesie by die skuurtafel vra wat aangaan nie. Sy maak asbostakke bymekaar en steek ’n vuur aan. Met omstand maak sy loog van die as, skep die skoon water af en gaan skrop eiehandig die potterak af. Én die tafelblad wat sy net gister afgewas het.

    Sy stoom, haar vel klam soos die dood, maar die drif lewe nog in haar oë toe sy die aswater onder die boom uitskiet.

    Ma … Malie en Liesie is albei in trane, skaam en kwaad oor die onregverdigheid.

    Ellen se mond is toegeskroef om nie ’n geluid te laat ontsnap nie. Sy voel siek van swakte en haal ternouernood die kamer, los haar hopie klere net waar dit val. Sy vee die sweet van haar gesig af, trek ’n afgeleefde flennienaghemp aan wat eens pienk was maar nou perkamentagtig soos haar vel lyk, en sak op die bed neer.

    Hou die kinders buite, beveel sy Liesie toe die skool die middag uitkom.

    Moet ons vir Pa laat roep?

    Jou pa behoort self te weet.

    Maar sê Ma …

    Trek net die deur toe.

    Die gevoel sal netnou bedaar, laat sy net ’n rukkie rus, ’n ruk lank slaap.

    Dis ’n steurnis toe ’n hoenderhen begin kekkel. Só ’n bek sit die hen op. Elke eier ’n geboorte. Die arme ding moet ook al die elke-dag-se-opklim gewoond wees, voel dit seker skaars, die leg so uitgerek, kom die gedagte deur die slaapnewels.

    Dit moet ná die middag wees toe Ellen wakker word van ’n gewoel in die kombuis. Sy ruik kos, daar word gekook. Sy ruik sout en peper en kruienaeltjies en neutmuskaat.

    Malie kom van buite af in. Hoe ver is die kos?

    Die kleintjies sit plat op die vloer met hul rûe teen die muur en sing hú-hú-hú. Hulle wieg vorentoe en agtertoe en sing tot vervelens toe, tot malwordens toe.

    ’n Potdeksel klink. Kaplaks! val ’n hou. Daar huil een.

    Sie jy in die kos kom klou! raas Malie.

    Toemaar, kom suig solank die beentjies af, paai Liesie.

    Die stoele word nader aan die tafel getrek. Hulle kwetter en eet, vee die sous met brood op tot die borde blinkskoon is.

    Daar skiet hulle nou die skottelgoedwater oor die werf uit. Het hulle ooit die vadoeke behoorlik gewas en uitgespoel? Ellen is teen dié tyd goed opgewerk.

    Iemand klop liggies. Ma? Dis Liesie.

    Wat lol julle met my?

    Hier’s ’n bietjie sop.

    Louise, waar kry julle die reg om een van my hoenders te slag?

    Ma, die kinders is honger, en hier’s niks anders in die huis nie. Dit was een van die ou werfhane.

    Melk en brood is ook kos.

    Die brood is muf, Ma.

    Dan moet daar ingesuur en gebak word.

    Môre op die Sondag? En Pa moet nog die meel bring.

    Ellen voel hoe woede in haar opstuif. En die laaste treksel tee is gedaan, net ’n bietjie stof in die blik. Wat dink Milanner, wat tog ’n grootmens is, dat hy nie die provisie van die winkel af saamgebring het nie? ’n Kramp laat haar na die naaste ding gryp, een van haar velskoene. Sy slinger dit na die oop deur om van die opstand en ongemak ontslae te raak.

    Sie jy ophou teëpraat! En laat Malie sien waar sy ’n hoender vir haar bruilofmaal kry!

    Niemand waag dit weer in die kamer nie. Dit raak so stil dat Ellen onrustig word. Het hulle haar nou alleen gelos in die huis, sonder ’n lewende siel? En sy in barensnood.

    Kan die pyne die begin van die geboorte wees? Hoekom duur dit dan so lank? Met Claasie en Susanna was dit soos ’n oogknip verby, Susanna het feitlik uitgeval. Maar dis vyf jaar gelede. Het haar bekken intussen verkalk? Hard soos klip, nie in staat om te ontsluit nie?

    Voor die duiwel haar dinge begin wysmaak, moet sy uit hierdie bed opstaan, besluit sy. Vir die wis en onwis gereed maak, om nie onklaar gevang te word nie. Sy pak uit en lê op die enkelbedjie oop: handdoek en lappe, watte, Lysol, koekie lyfseep wat sy spesiaal gebêre het, ’n skêr, gare om die naelstring af te bind. Iets om die kind in toe te draai … Malie se pisvelletjie van neëntien jaar gelede sal doen.

    As dit net ’n vals alarm is, hoef niemand te weet nie. So nie bring sy die kind alleen-alleen in die wêreld. Of sterf. Hoe kry Claas dan die pap babatjie groot? Op meelwater? Liesie is nie bekwaam genoeg nie, en Malie met die vetterige vadoek val nie aan te dink nie. Trek op Claas; hulle het ’n voorvatter nodig, dit het sy met die tyd agtergekom.

    Waar is hy dat hy nie sy plig nakom en die ou vrou gaan haal nie? Dis ook nog ’n hele ent oor die klipperige kalkbanke met die donkiekar.

    Toe dit aand word, steek Ellen ’n kers aan, die flakkerende lig ’n soort onderskraging in haar lydensuur. Sy is nou op haar voete en kuier heen en weer in die smal gangetjie tussen die beddens, verby die voetenent waar sy aan die kooistyl hang en die pynstroom van die sametrekkings deur haar bene in die grondvloer laat wegvloei.

    Alleen is sy darem nie meer nie. In die kombuis het sy vroeër ’n skarreling soos dié van muise gehoor. Iemand doen tog iets. Die melk word ingebring, en emmers water.

    Die geboorte het begin, sy is daarin, sy moet daardeur. Haar water het nog nie gebreek nie, maar sy sien bloed. Sy ruik koffie en wil amper bly word.

    Claas?

    Die kinders is by die Jordaans, Ma, praat Liesie by die deur. Ek gaan nou vir Pa roep.

    Dis te laat, hulle sal nie betyds wees nie. En jy los my nie alleen by Malie nie!

    Dié is in die kombuis besig, sy stook die vuur en maak die ketels vol water.

    Ek sal hardloop, Ma, ek ken die pad in die donker.

    Ellen luister hoe Liesie se voetvalle tussen die klippe en bosse deur verdwyn. Sy voel die kind in haar stu, ’n opening baan waardeur hy homself kan verlos. Nie nou al nie, verset sy haar teen die verbete klein vegter wie se wil om te lewe sterker is as die slap moersak wat dreig om hom te versmoor. Sy het alle beheer verloor, kou op haar afgestompte tande, kreun … en kry nuwe moed toe sy ’n harde voetval hoor. Dis te gou vir Claas-hulle, maar wie dit ook al is, is net betyds.

    Leopold! hoor sy Malie uitroep. Kom help, dis Ma!

    Die Langbáner, opgewasse teen stormsee in ’n klein bootjie, laat die natuur sy loop neem, rol die seile op, laat die mas sak, en gee hom oor aan die stroom. Hy aarsel net ’n oomblik in die deur. Sê nog Naand, tant Ellen en stroop dan sy moue op, was sy hande en voorarms in ’n skottel, en lig haar op die bed.

    In haar nood is sy skaars bewus daarvan dat sy met oopgespalkte bene voor haar aanstaande skoonseun lê. Sy hoor hoe Malie en die Langbáner konfereer: die kind se kop is reeds daar. Sy druk, en nog ’n maal, daar is dit nou, die skouers steek vas. Breë skouers wat om die beurt uitgelig moet word.

    Tussen asemtogte deur gee Ellen orders aan die twee jong mense wat soos ’n span werk, die kindjie die wêreld in help, die naelstring knip, dan retireer vir die bloed, ’n kamerpot vol bloed van die velletjie afskep. Toe die nageboorte kom, word Malie naar. Leopold het sy hande meer as vol teen die tyd dat uitkoms opdaag.

    Die ou tante neem oor, gee eers aandag aan Ellen wat swak is, só swak dat sy skaars ’n mondjievol brandewyn kan sluk. Haar arms val kragteloos weg toe die suigeling aan haar gepresenteer word. Dis ’n dogtertjie, ’n lang, slap gedaantetjie wat kermend en met gebalde

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1