Jagveld
By Deon Meyer
()
About this ebook
Deon Meyer
Internasionaal bekende skrywer Deon Meyer woon op Stellenbosch. Sy publikasies sluit in dertien misdaadromans (onder meer Spoor, 2010, 7 Dae, 2011, Kobra, 2013, Ikarus, 2015, Koors, 2016, Prooi, 2018, en Donkerdrif, 2020). Orion, Proteus en Infanta is met die ATKV-prosaprys bekroon en Prooi met die ATKV-prys vir Spanningsfiksie.
Read more from Deon Meyer
Die vrou in die blou mantel Rating: 4 out of 5 stars4/5Onsigbaar Rating: 4 out of 5 stars4/5Leo Rating: 4 out of 5 stars4/5Donkerdrif Rating: 4 out of 5 stars4/5Ikarus Rating: 4 out of 5 stars4/5Proteus Rating: 4 out of 5 stars4/513 uur Rating: 4 out of 5 stars4/5Infanta Rating: 4 out of 5 stars4/5Koors Rating: 5 out of 5 stars5/5Wie met vuur speel Rating: 4 out of 5 stars4/57 Dae Rating: 4 out of 5 stars4/5Feniks Rating: 4 out of 5 stars4/5Karoonag Rating: 4 out of 5 stars4/5Spoor Rating: 4 out of 5 stars4/5Kobra Rating: 4 out of 5 stars4/5Prooi Rating: 5 out of 5 stars5/5Orion Rating: 4 out of 5 stars4/5Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale Rating: 4 out of 5 stars4/5
Related to Jagveld
Related ebooks
Nuwe Stories Rating: 2 out of 5 stars2/5Karoonag Rating: 4 out of 5 stars4/5Feniks Rating: 4 out of 5 stars4/57 Dae Rating: 4 out of 5 stars4/5Kobra Rating: 4 out of 5 stars4/5Proteus Rating: 4 out of 5 stars4/5Infanta Rating: 4 out of 5 stars4/5Wie met vuur speel Rating: 4 out of 5 stars4/5Orion Rating: 4 out of 5 stars4/513 uur Rating: 4 out of 5 stars4/5Spoor Rating: 4 out of 5 stars4/5Prooi Rating: 5 out of 5 stars5/5Sondag Rating: 5 out of 5 stars5/5Sirkus Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsTamatiestraat Rating: 4 out of 5 stars4/5Seisoen van sonde Rating: 4 out of 5 stars4/5Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale Rating: 4 out of 5 stars4/5Koors Rating: 5 out of 5 stars5/5Stralerjakkers Rating: 5 out of 5 stars5/5Klikbek Rating: 5 out of 5 stars5/5Medusa Rating: 5 out of 5 stars5/5Op die spoor van: 'n Versameling speurverhale deur topskrywers Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSewe-en-veertig Rating: 5 out of 5 stars5/5Slagyster Rating: 5 out of 5 stars5/5Ys Rating: 4 out of 5 stars4/5Pirana Rating: 5 out of 5 stars5/5Kopskoot Rating: 5 out of 5 stars5/5Skoenlapper Rating: 3 out of 5 stars3/5Man uit die dode: 'n Ella Neser-roman Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsKamphoer Rating: 0 out of 5 stars0 ratings
Reviews for Jagveld
0 ratings0 reviews
Book preview
Jagveld - Deon Meyer
DEON MEYER
JAGVELD
en ander draaiboeke
Human & Rousseau
Voorwoord
Hoe lyk ’n draaiboek?
Hoe skryf ’n mens ’n draaiboek? Hoe skryf jy ’n briljante draaiboek wat miljoene rande by die loket sal verdien?
Waarom skryf jy enigsins rolprente?
Waar kan ek leer oor draaiboeke? Wat is die verskil in skryfbenadering tussen ’n draaiboek en ’n roman? Waar kan ek een van jou draaiboeke in die hande kry? Ons het die fliek gesien, nou wil ons die boek lees – waar kan ons dit koop? Gaan jy ’n boek skryf oor dié fliek? Gaan jy ’n fliek maak oor dié boek?
Dit is van die draaiboek-vrae wat byna daagliks in my e-pos se in-mandjie beland, om nie eens te praat van Facebook-boodskappe nie. Kort nadat ’n fliek in die teater gedraai het, word soortgelyke vrae ’n konstante stroom wat weke lank kan aanhou.
Hierdie boek is in die eerste plek bedoel om vier stories as alternatiewe lekkerlees-ervarings aan te bied – veral omdat hulle nie in die gewone roman-formaat beskikbaar gaan wees nie. Maar dit is ook ’n poging om die grootste meerderheid van daardie vrae te beantwoord.
Dit bevat vier draaiboeke van flieks wat reeds gemaak en algemeen beskikbaar is. Een is volledig op ’n kortverhaal gebaseer – Die ballade van Robbie de Wee. Twee is minstens breedweg geïnspireer deur van my kortverhale: Jakhalsdans deur Bottervisse in die jêm
en Die laaste tango deur Verslag oor ’n verdwyning
.
En Jagveld is ’n oorspronklike draaiboek wat nie op enige vorige skryfwerk gebaseer is nie.
Ek hoop jy sal die boek (en die flieks) geniet, selfs al het jy nie ’n enkele vraag oor draaiboeke of flieks nie.
So, dit is hoe ’n draaiboek moet lyk?
Nee, nie heeltemal nie. As ons die filmtekste in hul presiese oorspronklike formatering moes dupliseer, sou hierdie boek onfatsoenlik en onbekostigbaar dik en duur gewees het – en dalk so ’n titsel minder leesvriendelik ook.
Daar is baie bronne op die internet beskikbaar wat vir jou presies gaan illustreer hoe elke element van die draaiboek op die bladsy moet lyk. Gaan google gerus. Dié formaat en voorkoms is redelik universeel; wat in die VSA werk, geld ook in Suid-Afrika.
Maar bowenal is ’n filmdraaiboek eenvoudig ’n reeks tonele wat ’n storie van begin tot einde vertel. Elke toneel begin met ’n verwysing na ruimte (binne of buite), spesifieke plek (’n kamer, ’n motor, ’n woud …) en tyd (dag, nag, oggend, middag …). Die toneel self bestaan uit beskrywings van die plek en tyd, uit dit wat die karakters doen (die aksie) en dit wat hulle sê (die dialoog).
Maar storie is veel belangriker as formaat. As jy ’n asembenemende storie het om te vertel, kan die formaat maar gebrekkig wees, iemand sál jou fliek wil maak.
Terloops, jy kan ’n draaiboek in enige woordverwerkingsapplikasie skep om by hierdie voorkoms uit te kom, maar die groot meerderheid draaiboek-skrywers gebruik Final Draft (www.finaldraft.com). Dié program doen baie van die formateringswerk vinnig en doeltreffend vir jou, dit onthou karakters se name en die plekke waar jou storie afspeel, en bespaar hope tyd, sodat jy jou feitlik uitsluitlik oor die storie kan bekommer.
Hoe skryf jy ’n briljante draaiboek wat miljoene rande by die loket sal verdien?
Daar is baie boeke wat beloof om hierdie tergende raaisel op te los. Trouens, daar het al meer boeke verskyn oor hoe om ’n verkoopbare draaiboek op te tower as oor enige ander hoe-om-te-skryf-onderwerp.
In dié verband glo ek egter in waarskynlik die beroemdste stelling van William Goldman. Hy is na my mening een van die grootste draaiboekskrywers ooit. Hy het twee Oscars agter sy naam en het onder meer legendariese flieks soos Butch Cassidy and the Sundance Kid, All the President’s Men en Marathon Man geskep.
Goldman het ’n paar heerlike, leesbare boeke oor sy wedervaringe in Hollywood geskryf, onder meer die beroemde Adventures in the Screen Trade: A Personal View of Hollywood and Screenwriting – ’n boek wat jy gerus kan lees as jy enigsins in film belangstel. Hierin sê Goldman hy gaan net twee groot stellings maak. Die eerste, as dit kom by watter fliek ’n sukses gaan wees, is Nobody knows anything
. Niemand in die ganse bedryf kan met sekerheid voorspel dat ’n film geld gaan maak nie. Dit is, sê hy, elke keer ’n raaiskoot.
Omdat ek heelhartig met Goldman saamstem, moet ek ongelukkig hier beken dat die lees van hierdie boek jou nie veel nader gaan bring aan die kennis van ’n treffer-rolprent se skepping nie. Maar ek beveel graag ’n paar boeke aan waarby ek groot baat gevind het toe ek die basiese beginsels van filmskryfwerk wou leer: Screenplay: The Foundations of Screenwriting deur Syd Field, Writing Screenplays That Sell deur Michael Hauge en Robert McKee se Story: Substance, Structure, Style and the Principles of Screenwriting.
Wat is die groot verskil tussen boeke en rolprente skryf?
Die tweede groot stelling wat William Goldman in sy boek Adventures in the Screen Trade maak, is Screenplays are structure, and that’s all they are
.
Hy sê: The quality of writing – which is crucial in almost every other form of literature – is not what makes a screenplay work. Structure isn’t anything else but telling the story, starting as late as possible, starting each scene as late as possible. You don’t want to begin with ‘Once upon a time’, because the audience gets antsy …
Ek is nie seker ek stem heeltemal met hom saam nie. Ek moes al draaiboeke lees van hoopvolle skrywers waarvan die taal só swak was dat ek dit nie kon klaarmaak nie. Maar daar is heelwat waarheid in sy siening.
As Goldman ’n (Suid-) Afrikaanse draaiboekskrywer was, sou hy ongetwyfeld ’n derde groot stelling gemaak het: Draaiboeke word bepaal deur die film se begroting.
Want dit is myns insiens die grootste enkele verskil tussen die skryf van ’n boek en ’n rolprent. Om ’n toneel te skep waarin daar tagtigduisend mense in ’n rugbystadion sit, kos in ’n roman nie ’n sent nie, maar om dit vir ’n fliek te laat werk, gaan duur wees. Selfs net ’n restauranttoneel kan jou fliekbegroting kwaai deurmekaar krap.
Maar ’n rolprent is ’n visuele medium en jy moet ook daarna streef om jou storie met prentjies te vertel, terwyl jy in ’n boek net woorde het.
Die ander groot verskil is dat jy in ’n fliek meestal net jou karakers se dialoog en aksie kan gebruik om die storie te vertel, terwyl ’n boek hom makliker met die dinkwêreld van karakters besig kan hou sonder om probleme te veroorsaak.
Dit is alles natuurlik net breë beginsels, en hulle is almal al met groot sukses verbreek.
Waarom skryf jy enigsins rolprente?
Ondanks die feit dat daar so baie romansiers is wat ook films skryf of geskryf het, bly dit vir baie mense onverstaanbaar dat ’n mens al twee wil doen.
Vir my is die antwoord eenvoudig: Sekere stories is van meet af aan geskik vir boeke, ander vir kortverhale, sommige is net perfek vir ’n fliek, en ’n klompie vir film én boek of kortverhaal.
Ek dink nie aan ’n moontlike fliek wanneer ek ’n boek of kortverhaal skryf nie, net soos wat ek nie daaraan dink om ’n film in ’n ander medium te verwerk nie. Ek skryf soos die storie my lei. En ek geniet dit om flieks te skryf, want dit is nie so ’n marathon soos ’n boek nie, en die skryfuitdagings is soveel anders.
Boonop is die skryf van ’n boek in wese ’n baie eensame ervaring, terwyl ’n fliek weer ’n samewerkende, sosiale proses is waarin ’n mens die geleentheid kry om die ervaring met talentvolle, kreatiewe en interessante mense te deel.
Waarom verskil die draaiboek en die fliek?
Sou jy hierdie draaiboeke lees en dan ook na die film kyk wat daaruit gespruit het, sal jy heelwat verskille opmerk – soms subtiele wysigings in dialoog, maar ook moontlik hele tonele wat weggelaat is.
Dit is juis die samewerkende aard van rolprente maak wat grootliks hiervoor verantwoordelik is, want ’n fliek is die somtotaal van ’n hele span mense se insette, insluitende die kunsregisseur, die redigeeder, die komponis van die klankbaanmusiek en die klankontwerper.
Die woorde wat die skrywer vir ’n karakter uitgedink het, pas nie altyd mooi in die mond van die karakter wat die akteur wil skep nie, en hy of sy kan afwyk solank die regisseur daarmee tevrede is. (Dit is vir hierdie draaiboekskrywer ’n wonderlike proses om te sien hoe akteurs die karakters hul eie maak.)
Boonop is ’n fliek die regisseur se interpretasie van die draaiboek, en hy besluit dikwels om in sekere mate veranderings aan te bring om sy visie te laat geld. Selfs finansierders en vervaardigers kan hul wil afdwing, sou hulle meen daar is noemenswaardige probleme met die fliek.
Daar is ook praktiese redes waarom die eindproduk van die teks verskil. Soms moet die film eenvoudig teruggesny word om te voldoen aan die teaters se tydsduur-voorkeur.
En dit is nie resensente wat eindelik besluit of die fliek ’n sukses is nie. Daardie finale oordeel lê by die mense wat hul swaarverdiende kontant uithaal om dit in ’n teater te gaan kyk.
Deon Meyer
Stellenbosch, Januarie 2017
Jakhalsdans
(2010)
BUITE. KAROO, BEAUFORT-WES – DAG
Die stasiewa ry noord, weg van Beaufort-Wes af. Die voertuig is tien jaar oud, die verf effens verbleik, met ’n klein duikie in ’n deurpaneel. Agterop die modderskerm is ’n ou plakker: Ons bloed is blou. Die registrasienommer is van Gauteng. Op die dakrak is tasse en bokse netjies gepak en vasgebind. Net buite die dorp dui ’n padpredikant die afdraai na Loxton aan. Die stasiewa draai daar af, ry net vyftig meter op die Loxton-pad voor die linkerflikker weer aangaan – en dit aftrek tot op die skouer langs die pad …
BINNE. MARA SE STASIEWA – DAG
Die agterste sitplekke van die voertuig is platgeslaan. Die binneruim is tot barstens toe volgepak met kartonbokse. Elkeen is noukeurig, in ’n pynlik netjiese handskrif genommer en gemerk volgens inhoud: 5. Mia: klere; 7. Kombuis: breekgoed; 1. Boeke: skool; 2. Boeke: lees … Agter die stuurwiel sit MARA MALAN, 34, ’n mooi, selfversekerde vrou. Sy draai die venster oop. Langs haar sit haar dogter, MIA, 5, baie oulik, vasgegordel. Hulle is duidelik moeg, kry warm. Alles in die motor is op sy plek: Die CD’s in ’n houer, die padkaart in ’n deursigtige plastieksak, en die knyperbord wat tussen die twee lê. Mara neem die knyperbord en kyk na haar getikte lys: Beaufort-Wes: 1. Petrol; 2. Blaas wiele af vir grondpad; 3. Koeldrank; 4. Skyfies; 5. Draai links op R381; 6. Landman-CD. Item 1 tot 4 het reeds regmerkies langsaan. Mara tik nou ook item 5 af, soek behendig deur die CD’s tot sy die een kry waarna sy soek. Sy kyk vlugtig na die omslag, die gesig van ’n jong, skoongeskeerde sanger daarop, sy naam – Landman – en die naam van die album – Karoo. Mara knik ingenome, haal die CD uit sy houer, druk dit in die speler, bêre die kassie, plaas die knyperbord noukeurig op sy plek.
MIA
Alles op skutwiele, Mamma?
MARA
Skedule
, paddatjie …
MIA
Dis wat ek gesê het …
Musiek begin speel: Landman sing Beautiful op Beaufort-Wes
. Mara sit die motor in rat, ry na die pas voor teen die berg. ’n Padpredikant dui aan: Loxton 110.
MARA
Jip, alles is perfek op skedule …
BINNE. MARA SE STASIEWA – DAG
Bo in die berg eindig die teerpad – en die grondpad slinger voor die stasiewa uit. Wanneer die motor die grondpad bereik, wys Mia met ’n vuil vingertjie daarna.
MIA
Kyk, Mamma, iemand het die pad gesteel.
MARA
Lag en skud haar kop. Nee, paddatjie, dis ’n grondpad. Daar’s baie van hulle in die Karoo.
BUITE EN BINNE. MONTAGE, BO-KAROO, PLATO – DAG
Terwyl Landman sing …
– BUITE. GRONDPAD, BO-KAROO: Die stasiewa kom bo uit die pas uit, tot op die plato van die Bo-Karoo.
MIA (stem buite beeld)
Hoekom, Mamma?
MARA (stem buite beeld)
Met groot geduld. Wel, dit kos baie om paaie te teer. So hulle teer eers die paaie waarop baie mense ry.
– BINNE. MARA SE STASIEWA: Mia sit en uitkyk na die wye vlaktes en mooi berge van die Bo-Karoo.
MARA (vervolg)
En dan kom hulle by die paaie wat min mense gebruik. En hulle het nog nie by dié een gekom nie.
– BUITE. BO-KAROO: Die stasiewa ry deur ’n nou klofie waar biesies dans in die wind.
– BUITE. BO-KAROO: Oor ’n laagwaterbrug van die Sakrivier …
– BUITE. BO-KAROO: Oor die uitgestrektheid van die Bo-Karoo …
– BINNE. MARA SE STASIEWA: Mia sien die padpredikant wat sê Loxton 10 en wys met haar vingertjie daarna.
MIA
Nou’s ons huis naby, nè, Mamma, waar ons lank en gelukkig saam gaan leef …
MARA
Laggend. Dis reg, paddatjie, dis honderd persent reg.
– BUITE. LOXTON, HOOFSTRAAT: Die stasiewa kom by die dorp ingery, verby die Loxton Herstelwerke, dan om die sirkel wat die kerk omring, verby die koöperasie, die algemene handelaar, die Rooi Granaat … en eindelik in ’n systraat af … Musiek eindig. (Einde van montage.)
BUITE. LANDMAN SE HUIS, KOMBUIS – MIDDAG
Perspektief is van binne die kombuis, deur die venster – en kantgordyn – wat uitkyk op die voortuin van Mara se nuwe
huis. Ons sien die stasiewa staan buite by die hek. Mia spring uit om die hek oop te maak. Binne, in die kombuis, verskyn ’n skadufiguur by die venster. Hy sien hoe Mia geesdriftig, tong tussen die tande, worstel met die hek se meganisme.
BUITE. MARA SE HUIS, HEK – MIDDAG
Dan kry Mia die hek oop …
MIA
Hy’s oop!
Sy stoot die hek heeltemal oop – en Mara ry in. Mia wag dat haar ma deurry. Dan vang haar oog ’n beweging in die kombuisvenster van die huis langsaan, ’n skadufiguur wat daar staan en uitkyk, maar wanneer hy sien sy kyk, gaan die gordyn skielik weer toe. Mia staan net ’n oomblik en tuur, dan hardloop sy na hul huis toe. Dit is oud. Effe afgeleef, nie groot nie – en in die eenvoudige, mooi styl van die Karoo. Mara klim ook uit die motor, stram van die lang sit. Mia gaan staan voor die huis en kyk tevrede daarna. Haar stem is klokhelder in die middagstilte van die dorp.
MIA (vervolg)
Dis óns huis, Mamma, óns huis …
Mara lag. Sy gaan staan agter Mia en plaas haar hande op dié se skouers.
MARA
Dit ís, paddatjie.
Mia hardloop tot op die stoep. Mara bly staan, kyk na die huis, vol hoop en verwagting.
MARA (vervolg)
Sag, vir haarself. Ons huis …
Mara loop terug na die stasiewa om die sleutels te gaan haal.
BUITE. MARA SE HUIS, VOORSTOEP – MIDDAG
Mia is op die stoep wanneer sy weer ’n beweging op die erf langsaan sien. Hierdie keer is dit die gesig van ’n man oorkant die soutbosheining, net sy oë en voorkop sigbaar. Dit is RUAN LANDMAN, 34. Mia lig haar hand om vrolik te groet.
MIA
Hallo!
Landman se kop verdwyn skielik. Mia laat haar hand stadig sak. Mara kom aangestap met die sleutels en knyperbord in haar hand. Sy kyk in die rigting waarin Mia staar, maar sien niks.
MARA
Vir wie groet jy, paddatjie?
MIA
Ek dog ek sien ’n oom …
Mara kyk vlugtig, sien niks, sluit dan die voordeur oop.
MARA
Kom ek gaan wys jou jou nuwe kamer.
’n Oomblik lank kyk Mia na die heining, dan vergeet sy skielik van die raaiselagtige verdwyning, lag vreugdevol, en storm die huis binne.
BUITE. LOXTON, LAERSKOOL – OGGEND
Vroegoggend is die skoolterrein ’n miernes van jillende kinders wat speel of in groepies staan en gesels, lag en vir mekaar skree. Sommige kom nog haastig aangestap in die straat, boeksakke oor die skouer. Die oorgrote meerderheid kinders is bruin.
BINNE. LOXTON, LAERSKOOL, BLOCK SE KANTOOR – OGGEND
Die skoolhoof, PIETER BLOCK, 52, is ’n waardige bruin man, netjies geklee in ’n pak klere, wit hemp en donker das. Hy dra sy verantwoordelikhede met groot amptelikheid. Hy sit agter sy lessenaar. Buite op die skoolterrein kan die kinders se opgewonde stemme gehoor word.
Mara sit in ’n stoel oorkant hom. Sy lyk mooi – stemmig en professioneel aangetrek, haar hare netjies, haar gesig keurig gegrimeer.
BLOCK
… hoe wonderlik dit vir ons is om jou hier te verwelkom, mevrou Malan.
Block vat aan sy das. Hy lyk effens ongemaklik.
BLOCK (vervolg)
Ek verstaan die dorp het julle laat welkom voel … ?
MARA
O, ja, ongelooflik. Die hele straat het eetgoed aangedra.
BLOCK
Ja, hier op Loxton werk dinge so ’n bietjie anders …
Block glimlag afgetrokke, skuif ’n kramdrukker, pen, dagboek en papiergewig op sy lessenaar reg, asof hy tyd wil wen, iets op die hart het wat sukkel om uit te kom.
BLOCK (vervolg)
Mevrou Malan, ek het gedink, voor ons in die personeelkamer … Die meeste van die staf vermoed al …
Mara wag met ’n glimlag dat hy moet praat, onbewus van die slegte nuus wat kom. Block sukkel steeds om dit geformuleer te kry.
BLOCK (vervolg)
Jy sien … Ons het … mevrou Malan, daar is nie ’n maklike manier om dié ding te sê nie … Die Departement … Die probleem is, daar is nie geld nie …
MARA
Skielik bekommerd. Geld vir wát nie, meneer?
BLOCK
Die skool …
Hy trek sy asem diep in, asof hy moed bymekaar wil skraap, sê dan apologeties:
BLOCK (vervolg)
Hulle wil ons toemaak.
Mara is oorbluf, wag met geligte wenkbroue dat hy meer moet sê. Hy vroetel weer aan sy das, druk ’n vinger agter sy kraag in, asof hy warm kry. Hy trek sy asem in om te praat …
BINNE. LOXTON, LAERSKOOL, PERSONEELKAMER – OGGEND
Block staan met sy hande formeel voor sy maag saamgevat.
BLOCK
Ons getalle, dames en here, taan. Tien jaar gelede was hier amper vierhonderd-en-vyftig kinders, vanjaar is daar skaars tweehonderd.
Die personeel – bruin en wit, meestal vroue – sit op tipiese staatsdiensstoele wat teen die muur aan al twee kante van die vertrek staan. Hulle luister aandagtig, bekommerd. Mara is een van hulle, haar gesig nou stroef, so ook BOKKIE DE WET, 61, ’n vol vrou met ’n grys bolla en ’n knypbrilletjie, en VANESSA RUITERS, 27, ’n mooi bruin onderwyseres.
BLOCK (vervolg)
Onderhoud en voorsiening is eenvoudig te ver agter, dit gaan ’n astronomiese som kos om ons op standaard te kry. Daarom sal die skool moet sluit. Dit gaan vir die Departement goedkoper wees om die busdiens na Victoria-Wes te subsidieer.
’n Murmurering trek gedemp deur die personeelkamer. Vanessa Ruiters steek haar hand doelgerig op. Block lig kenmerkend sy hand om stilte te vra.
BLOCK (vervolg)
Juffrou Ruiters, net ’n oomblik, asseblief. Ek verstaan maar te goed dat u almal diep bekommerd is oor u persoonlike toekoms. Die silwer randjie is dat die sluiting eers aan die einde van die kwartaal plaasvind. Dus nog drie maande … Sommige van u sal in Victoria-Wes aangestel word, en die direkteur het my sy persoonlike woord gegee dat elkeen van u iewers geplaas sal word …
Vanessa Ruiters kan dit nie meer inhou nie.
VANESSA RUITERS
Meneer, onse kinders. Daardie lang ure … En hoeveel van hulle se ouers gaan die buste kan bekostig?
Skielik praat almal, uitroepe en besware vul die vertrek – almal behalwe Mara, wie se kommer steeds verdiep.
ONDERWYSER #1
Iewers geplaas gaan word? Iewers?
VANESSA RUITERS
Daar’s net een oplossing …
ONDERWYSERES #1
Onse gemeenskap is al klaar so arm …
BOKKIE DE WET
Gaan hulle my man ook iewers plaas?
VANESSA RUITERS
Ons moet march. Ons moet protest. Mass action.
Block hou al twee sy hande in die lug.
BLOCK
Streng, gebiedend. Dames en here …
Stilte daal neer, maar koppe word steeds geskud.
BLOCK (vervolg)
Dames en here, asseblief. Julle skiet nou die boodskapper. Dit is uit my hande uit …
BINNE. MARA SE HUIS, KOMBUIS – DAG
ABIGAIL, 24, is Mara se nuwe, behendige huishoudster. Sy kyk na ’n lys, op Mara se rekenaar geskep, wat teen die kombuiskas geplak is: Taaklys: Maandag: 1. Wasgoed; 2. Stoepe vee; 3. Inventaris – kruidenierskas; 4. Mia: (a) Melk en koekies om 10:00; (b) Ligte middagete om 13:00; 5. Aandete: skaapskenkelpastei, kapokaartappels, slaai. Abigail plaas regmerkies langs nommers 2 en 4(a) met ’n potlood, draai weg, haal ’n pan vol varsgebakte koekies uit die oond met ’n vatlappie. As die kamera uitzoem, sien ons die kombuis is pynlik netjies (soos alles in Mara se huis). Mia sit by die kombuistafel, besig om ’n ingewikkelde kunswerk met vetkryt te skep – ’n man se halfverskuilde gesig agter ’n digte, lowergroen heining. Abigail plaas die oondpan met koekies voor Mia op die tafel. Mia adem diep aan die geur van die koekies en kyk in bewondering daarna, dan na Abigail:
MIA
My ma was reg …
ABIGAIL
O?
MIA
Tannie ís ’n wonderwerk.
Abigail lag, haal ’n bottel melk uit die yskas …
ABIGAIL
Ons is almal wonderwerke, Mia Malan …
… kry twee glase en kom sit by Mia.
ABIGAIL (vervolg)
Dis hoe die Liewe Heer ons gemaak het.
Sy skink vir elkeen ’n glas melk.
ABIGAIL (vervolg)
Wil jy ’n koekie hê?
MIA
Asseblief.
Sy reik na ’n koekie.
ABIGAIL
Wag, daai pan is warm.
Abigail trek ’n spatel nader, lig ’n koekie uit die pan en skep dit in ’n bordjie wat voor Mia staan.
ABIGAIL (vervolg)
Blaas hom eers so ’n bietjie koud.
Mia sit haar vetkryt neer en blaas die koekie plegtig koud. Abigail kyk met belangstelling na die kunswerk.
ABIGAIL (vervolg)
En wat teken jy?
MIA
Ek teken nie, ek skulder. My ma sê ek gaan eendag ’n gedoemde skuldenaar wees.
… en sy hap versigtig aan die koekie, dan met groter oorgawe, want dit is baie lekker.
ABIGAIL
Seker ’n beroemde skilder …
MIA
Dis wat ek gesê het. Die koekies is baie lekker.
ABIGAIL
Baie dankie. Wat skilder jy?
MIA
Die spookman van Loxton.
Mia sluk van die melk. Dit laat ’n wit snor op haar bolip agter.
ABIGAIL
Die spookman?
MIA
Ja. Hy bly hier langsaan. Net ék kan hom sien.
ABIGAIL
Daai een? Hy’s nie ’n spook nie – hy’s ’n kluisenaar.
Sy gee vir Mia nog ’n koekie aan. Sy neem dit gretig, hap, frons dan.
MIA
Tannie Abigail, wat is ’n kluistenaar?
Abigail neem ’n leë koekblik, plaas dit op die tafel en kom sit.
ABIGAIL
Dis iemand wat alleen wil wees – hy praat nie met ander mense nie.
Abigail verplaas die koekies van die pan na die koekblik.
MIA
Hoekom wil hy alleen wees?
ABIGAIL
Die Vader alleen weet. Jy sal hom self moet vra.
MIA
Mia knik haar kop asof dit ’n redelike opdrag is. OK …
Abigail plaas vier koekies in die bordjie voor Mia.
ABIGAIL
Hierdie is vir peusel.
MIA
Dankie, tannie Abigail.
BINNE. LOXTON, LAERSKOOL, MARA SE KLASKAMER – DAG
Eerste pouse. Buite jil die kinders. Mara staan by die venster vir hulle en kyk, maar haar gedagtes is besig met ander dinge, haar lyftaal nadenkend. Agter haar in die gang loop Bokkie de Wet by Mara se oop klasdeur verby, sien die eensame figuur by die venster, en steek vas. Sy gaan staan in die deur en kyk simpatiek na Mara.
BOKKIE DE WET
Is jy OK?
Mara knik net, kyk om, probeer glimlag, maar sonder veel sukses. Bokkie loop in, gaan staan langs Mara by die venster. Saam kyk hulle na die kinders buite.
BOKKIE DE WET (vervolg)
Ek kan dink hoe jy voel, hartjie.
Sy plaas ’n hand op Mara se skouer. Mara laat haar kop sak. Sy is na aan trane.
BOKKIE DE WET (vervolg)
My mens, dertig jaar gelede, toe board hulle vir Frik by die myne, toe’s sy longe klaar, ons sit met drie kleintjies en ons moet droë klimaat
toe trek vir Frik se gesondheid. En die ding wat ek die beste kan onthou, is hoe magteloos ek gevoel het. Asof die laaste bietjie beheer wat jy het, weggevat word.
Agter hulle kom Vanessa Ruiters by die deur in. Sy het ’n lêer onder die arm.
VANESSA RUITERS
Daar’s jy, juffrou De Wet …
Vanessa sien Mara se neerslagtigheid. Sy is dadelik veglustig-simpatiek.
VANESSA RUITERS (vervolg)
Moet jy nou net niks worry nie, juffrou Malan, dié ding is nog lank nie cut and dried nie. Hulle het ons nooit geconsult nie, dis unfair labour practice, ek gaan union toe. Al vat dit mass action, maar ek sê nou vir jou hierdie skool gaan bly.
MARA
Mara is hoopvol. Dink jy so?
VANESSA RUITERS
Nie dink nie. Wéét. Hierdie is ’n list of protest, ek wil vra dat die hele personeel dit onderteken. Dan gaan ek onse union representative bel om die bal aan die rol te kry. Kom, die ander wag in die personeelkamer.
Hulle stap saam deur toe.
BINNE. MARA SE HUIS, KOMBUIS – DAG
Abigail is besig om te stryk. Op ’n kombuiskas speel ’n draagbare radio, ingestel op RSG. Abigail sing saggies saam met vrolike Afrikaanse musiek. Agter haar rug is die oop deur na die agterstoep. Abigail draai nou om en kyk na die stoep. Mia staan daar, starend na die soutbosheining. Abigail glimlag goediglik, draai terug na haar strykwerk. Mia kom in en neem die bord met vier koekies. Abigail glimlag vir haar, hou aan met sing. Mia glimlag terug, neem die bord en gaan uit na BUITE. Abigail konsentreer op die strykwerk, tevrede dat Mia net op die stoep gaan sit.
BUITE. MARA SE HUIS, AGTERTUIN – DAG
Mia loop stadig tot by die heining. Daar is ’n opening, ’n plek waar die draad en die soutbos haar sal toelaat om deur te klim. Sy is duidelik gefassineer deur dié poort na die vreemde. Eindelik steek sy haar kop stadig en baie versigtig deur die heining.
BUITE. LANDMAN SE HUIS, HEINING – DAG
Mia se koppie kom deur die heining. Mia se perspektief: Sy kyk na Landman se agterplaas. Dit is nie baie netjies nie, maar daar is ’n poging tot ’n groentetuin: Beddings waar mielies yl en traag groei, kruie ’n sukkelbestaan voer en net die paar tamatieplante belofte toon. ’n Kruiwa, tuinvurk en -graaf en ’n hark staan ook daar. Sy draai haar kop, kyk na Landman se huis. Op die agterstoep, in die skaduwee, lê daar ’n figuur op ’n groot riempiesbank … Mia trek haar asem in, haar oë skrefies om beter te kan sien. Dit lyk of die figuur doodstil lê. Mia klim deur tot in Landman se erf, bord koekies in die hand. Sy loop stadig na Landman se agterstoep. Sy kyk stip na die figuur, loop al nader, tot op die rand van die stoep.
BUITE. LANDMAN SE HUIS, AGTERSTOEP – DAG
Nou kan Mia (en ons) Landman vir die eerste keer sien. Hy lê op sy rug, sy oë toe, sy hande agter sy kop, in diepe