Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Griet skryf 'n sprokie
Griet skryf 'n sprokie
Griet skryf 'n sprokie
Ebook275 pages5 hours

Griet skryf 'n sprokie

Rating: 3 out of 5 stars

3/5

()

Read preview

About this ebook

Griet skryf ’n sprokie is die verhaal van Griet Swart, wat deur die traumas van miskrame, kindersterfte en egskeiding gedryf word tot die punt waar sy een aand haar kop in ’n gasoond druk. ’n Dooie kakkerlak in de oond red haar, want vir die res van die aand maak sy oond skoon. As terapie raak haar shrink haar aan om oor haar ervarings te skryf. En só kry die storie van Griet gestalte, ’n storie van seerkry en woede, maar verlig deur haar onvernietigbare sin vir humor.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateFeb 15, 2017
ISBN9780624078425
Griet skryf 'n sprokie
Author

Marita van der Vyver

Marita van der Vyver het drie romans vir jonger lesers geskryf voor haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, die literêre landskap verander het. Sedertdien is sy ’n voltydse skrywer met vele topverkopers agter haar naam, soos ​Dis koue kos, skat​, ​Die dinge van ’n kind ​en ​Griet kom weer. Sy woon in Frankryk.

Read more from Marita Van Der Vyver

Related to Griet skryf 'n sprokie

Related ebooks

Related articles

Reviews for Griet skryf 'n sprokie

Rating: 3.1666666666666665 out of 5 stars
3/5

12 ratings2 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    Soos altyd 'n goeie verhaal wat mens net moet klaar lees! Baie genotvol
  • Rating: 3 out of 5 stars
    3/5
    A light-hearted look at life after marital breakdown. Gentle, funny and up-lifting. Translated from Afrikaans.

Book preview

Griet skryf 'n sprokie - Marita van der Vyver

MARITA VAN DER VYVER

Griet

skryf ’n sprokie

Tafelberg

Alle karakters is fiktief, soos in alle sprokies.

Vir I.B.

The union of a frivolous form and a serious subject

lays bare our dramas (those that

occur in our beds as well as those we play out

on the great stage of History)

in all their terrible insignificance.

MILAN KUNDERA

Grieselsprokies

Whatever else has changed on the continent of Africa,

the deep-rooted belief in magic,

both white and black, has not. Africans base

their fear of witches on the argument

that somebody – some person or spirit – has to be

responsible for the inexplicable.

ENCYCLOPEDIA OF MAGIC AND SUPERSTITION

Sneeuwitjie skil ’n appeltjie

Sylvia Plath het dit in ’n oond gedoen. Virginia Woolf in ’n rivier. En Ernest Hemingway met ’n rewolwer. Of was dit ’n geweer? In elk geval ’n falliese simbool.

Nogal snaaks, dink Griet. As vroue dit doen, is dit duidelik dat hulle weer in die baarmoeder wil wees. Die warmte van ’n oond. Die water van ’n rivier. Die geleidelike, gerusstellende gevoelloos­heid van pille, soos om aan die slaap te raak.

Maar mans pleeg selfmoord op die manier waarop hulle kos maak – dramaties en morsig. Skiet hulle koppe weg, spring by ge­boue uit, sny hulle slagare af. Die hele wêreld vol bloed en binne­goed. Seker omdat hulle weet hulle hoef nie agterna skoon te maak nie. Daar sal altyd ’n vrou wees om dit te doen.

Anna Karenina het voor ’n trein ingespring, onthou Griet, wat nogal morsig kon wees. Maar dit was ’n manlike skrywer wat haar dit laat doen het. Shakespeare het vroue waarskynlik beter ver­staan as Tolstoi. Die arme Ophelia het nie ’n swaard gegryp soos Hamlet nie, sy het rustig en romanties in ’n rivier afgedryf. En Ju­liet sou verkies het om gif te drink, maar Romeo het niks vir haar gelos nie. Shakespeare het mans blykbaar ook beter verstaan as die meeste ander skrywers. Toe moes sy maar bloei.

Vroue hou nou eenmaal nie van bloed nie. Mans sou miskien ook minder daarvan gehou het as hulle dit elke maand uit hulle onder­klere moes was, bespiegel Griet.

Selfs Sneeuwitjie se berugte stiefma het ’n bloedlose manier ge­kies om van haar man se mooi dogter ontslae te raak. Maar ook in haar geval kan ’n manlike waardestelsel op die agter­grond bespeur word. ’n Appel is in die Westerse godsdiens immers die simbool van vroulike lis. That fair enticing fruit, waarvan die arme Adam geëet het, against his better knowledge; not deceived, but fondly over­come with female charm. Sneeuwitjie wat vir Eva se sonde gestraf word. En op die ou end, soos Eva, deur manlike deug gered word. Sneeuwitjie deur ’n pragtige prins op ’n wit perd, Eva deur ’n mag­tige god op ’n goue troon.

Ek het besluit die oond is die enigste uitweg, sê Griet vir haar sielkundige wat haar soos gewoonlik emosieloos dophou. Ek weet nie hoekom nie, maar daai oond fassineer my al van ek die dag in die woonstel ingetrek het. Seker omdat ek nog nooit met ’n gasoond te doen gekry het nie. Behalwe natuurlik in boeke en movies.

Rhonda se oë is damme van onskuld, blou en roerloos. Sy lyk asof sy nog nooit ’n vloekwoord gehoor het nie. Jy sou nooit raai dat dit haar werk is om heeldag na ander mense se diepste en donkerste perversies te luister nie.

Haar hare is blond en krullerig en haar hande lê stil op die oop lêer op haar skoot. Af en toe skryf sy iets in die lêer, vinnig en so ongemerk moontlik, maar Griet let dit elke keer op. Wat het sy nou weer van haarself verklap, wonder sy verbouereerd, en sukkel om nie oor haar volgende woorde te struikel nie.

Maar … maar soos jy weet … Die goue pen in Rhonda se hand girts oor die papier, ondraaglik hard in die stil spreekkamer, en Griet skep diep asem. Wel, ek dog toe ek sal net eers kyk hoe dit voel, jy weet, my kop insteek sonder om die gas oop te draai. Net om te kyk of ek dit sal kan doen. Rhonda skryf weer iets in haar lêer. Die tweede keer in minder as ’n minuut, besef Griet benoud. Ek … wel … ek gaan sit toe op my knieë voor die oond en maak die deur oop en steek my kop stadig in, so na die kant toe gedraai, sodat my een wang op die draadrak kan rus.

Soms wonder Griet of enigiets Rhonda ooit sal skok. As een van haar pasiënte sonder enige waarskuwing in haar spreek­kamer be­gin masturbeer, sal sy waarskynlik nie ’n oog knip nie. Niks sal ooit daardie blou damme vertroebel nie. Ek kon nie my kop lekker ingepas kry nie … dis ’n taamlike klein oondjie … ek maak toe my oë oop om te sien wat aangaan … Nee, ek weet nie hoekom ek my oë in die eerste plek toegemaak het nie. Dit het vanself gebeur, soos toe ek die eerste keer ’n French kiss op ’n skoolpaartie gekry het. Miskien omdat ek dit in die movies gesien het. Anyway, ek maak toe my oë oop – en kyk vas in ’n dooie kakkerlak wat vlak voor my lê!

Rhonda hou haar roerloos dop.

"Ek kon dit nie glo nie! Ek bedoel, ek weet my vriendin is nie vreeslik netjies nie, en sy’t seker nie die oond gereeld gebruik nie, en ek het dit nog nooit gebruik van ek daar ingetrek het nie – maar ’n kakkerlak! Ek het my kop so vinnig uitgeruk dat ek dit teen die dak van die oond gestamp en amper bewusteloos op die kombuis­vloer neergesak het! Stel jou voor die vernedering as iemand my daar sou aantref! Buite weste geskrik vir ’n kakkerlak. Ek sou nooit die einde daarvan hoor nie. Anyway, toe ek eindelik oor die skok kom en weer in die oond kyk – dié keer sonder om my kop in te druk, natuurlik – toe sien ek nie net ’n kakkerlak nie, maar net so ’n dik laag ou krummels en klipharde vet en die hel alleen weet wat alles saam met die kakkerlak!"

Verbeel sy haar, of is daar ’n aanduiding van ’n glimlag om Rhon­da se mondhoeke? Dit kan nie wees nie, besluit sy, en kyk weg na die oorkantse muur. ’n Geel muur met ’n groot Mickey Mouse-­horlosie – die muis se arms is die wysers, die een korter as die ander – waarna sy gereeld gehipnotiseerd staar terwyl haar skuld­gevoel groter en groter word met elke beweging van die lang arm. Daar is kinders wat nie kos het om te eet nie en sy betaal ’n vreemde vrou R60 ’n uur – R30 ’n halfuur, R15 ’n kwartier, R1 ’n minuut, meer as ’n sent vir elke sekonde! – om na haar patetiese probleme te luister.

Rhonda se spreekkamer is so kleurryk soos ’n kindertuinklas­kamer: geel en blou en rooi meubels en matte en gestreepte gordy­ne. Seker om haar slagoffers vroliker te laat voel, het Griet al dik­wels gedink. Leunstoele wat jou soos dryfsand insluk, sodat net jou kop en jou knieë sigbaar is wanneer jy eers sit. Dis onmoontlik om waardig te voel as jy skaars oor jou kniekoppe kan sien. Dis soos ontgroening op universiteit, ’n manier om iemand se ego af te breek, net meer subtiel.

Rhonda sit nooit self in hierdie leunstoele nie. Wat Griet net meer agterdogtig maak. Rhonda sit regop op ’n rooi rusbankie, haar enkels netjies oormekaar gekruis. Sy dra ’n langbroek van linne, ’n ge­vlegte leergordel, ’n goue Rolex. Griet het ’n bont rok aan, lank en los, en langs haar sielkundige voel sy soos altyd verkreukel en verwaarloos.

Ek het toe nie selfmoord gepleeg nie, sug Griet en draai ’n sliert deurmekaar hare kurktrekker om haar vinger. Ek het die res van die aand die oond skoongemaak.

En hoe voel jy daaroor? vra Rhonda.

Ja, sy glimlag beslis. Griet sug weer ’n keer en glimlag dan maar gelate saam met haar sielkundige.

Wel, ek het amper verstik in die walms van Mister Oven. Dit moes ’n baie ou kannetjie gewees het. Dit het nie gelyk of dit ooit in daai vuil oond gebruik is nie! Miskien het die een of ander che­miese reaksie plaasgevind, ek weet nie, iets wat dit giftig gemaak het. Ek het gewonder of iemand al ooit met Mister Oven selfmoord gepleeg het …

Dit lyk of jy darem die humor in die situasie raaksien.

Dit was beslis nie snaaks terwyl dit aan die gang was nie! sê Griet geïrriteerd. Ek het heeltyd gedink aan iets wat Athol Fugard iewers geskryf het, dat hy sal aanhou om ’n gek van homself te maak tot hy die dag doodgaan, and I’ll probably fuck that up too. Iets in daai lyn.

Rhonda sê nie ’n woord nie.

"Ja, ek weet wat jy nou gaan sê. Ek lewe nog steeds deur boeke en movies. Ek beskerm myself teen die werklikheid deur te maak of ek Scarlett O’Hara in Gone with the wind is."

Bietjie meer intellektueel, glimlag Rhonda. "Die vrou met die groen hare in The house of the spirits."

Sy’t blou hare gehad, sê Griet stuurs, maar sy wonder of haar sielkundige nie soos gewoonlik reg is nie. "En sy was in One hun­dred years of solitude."

Sien jy wat ek bedoel? Jy gryp dadelik na ’n gesprek oor ’n fiktiewe karakter. Jy kom na my toe om oor jouself te praat en die helfte van die tyd gee jy vir my aanhalings uit boeke.

Maar fiktiewe karakters is meer … ek weet nie, hulle is some­how meer … geloofwaardig. Griet kyk weer na die Mickey Mouse-horlosie. Nog vyf minute oor. Dit beteken R5 – genoeg om ’n bord kos vir ’n honger kind te koop. Of drie pakkies sigarette vir haarself. As sy net kon ophou rook! Sy sug vir die hoeveelste keer die afgelope uur. Ek bedoel, het jy al ooit iewers gelees van iemand wat deur ’n kakkerlak van selfmoord gered is? Dit kan net in die werklikheid gebeur.

Rhonda sê weer niks nie, maar haar wenkbroue lig amper on­merkbaar.

Kafka het ’n storie geskryf oor ’n ou wat in ’n kakkerlak veran­der, Gregor Samsa. Dieselfde voorletters as ek. En sy suster het ook so ’n Grieterige naam gehad. Gretha? Gretchen?

Dis tyd om weer die storie te lees, besluit Griet. Dit was nog altyd een van haar gunstelinge, miskien omdat die arme kakkerlak ook op ’n manier deur ’n appel doodgemaak word. Die appel waarmee sy pa hom gooi, die een wat in sy rug vassit. Die appel as simbool in die letterkunde van die wêreld. Nog ’n belaglike titel vir die literêre tesis wat sy nou al tien jaar lank uitstel.

The fruit of that forbidden tree, whose mortal taste brought death into the world, and all our woe, het Milton geskryf. Dis moeilik om Eva met ’n piesang of ’n peer – of enige ander vrug – voor te stel. En dit was ’n appel wat tot die val van Troje gelei het. Die beroemde twisappel wat op die tafel gegooi is vir die mooiste onder drie godin­ne. Paris het vir Aphrodite gekies en die ander twee het wraak ge­neem. Heaven has no rage like love to hatred turned, het William Congreve gesê, nor Hell a fury, like a woman scorned.

Maar selfs Kafka het nie oor ’n kakkerlak as lifesaver geskryf nie. Sneeuwitjie word deur ’n prins op ’n wit perd gered – en Griet Swart deur ’n dooie kakkerlak in ’n vuil oond. Sou jy nie ook liewer Sneeuwitjie wou wees nie?

Hansie en Grietjie en die Struggle

Drie weke sonder man, skryf Griet in haar Creative Arts Diary, bo haar inkopielys vir die naweek. Wyn, brood, botter, kaas, koffie, toiletpapier en tampons, nie noodwendig in volgorde van belangrikheid nie. Dis een van die voordele van sonder man wees, die ingekorte inkopielys, sonder skeerskuim en sjokolade vir hom en ’n klomp kos vir sy kinders.

Dinsdag 31 Oktober 1989 – amper drie maande op haar eie, maar drie weke sonder enige kontak. Sonder om hom te sien of te bel of briewe te skryf. Sy voel so trots soos laas toe sy drie weke sonder sigarette klaargekom het.

Daar is besliste ooreenkomste. Haar verhouding met George doen aan haar gemoed wat nikotien aan haar longe doen, het sy lankal geleer, maar dis ’n gewoonte wat so moeilik soos sigarette ge­los word. Meer as ’n gewoonte – ’n obsessie, ’n liggaamlike afhank­likheid, ’n oral fixation. Waarlik, jy bêre die vier seisoene tussen jou lieste, soos sy hom altyd gespot het.

Sy het seks met George geniet, meer as met enigiemand voor hom. Dit was nie ’n aardskuddende affêre vol verskietende sterre en ander hemelse verskynsels nie. Dit was spelerig, speels, spuls, soms selfs belaglik. As George avontuurlustig was en ’n ongewone posisie wou probeer, het hy gewoonlik van die kombuistoonbank afgeval of sy kop teen die rand van die bad gestamp of met ’n stywe nek pleks van ’n stywe penis gesit. George was nie die akrobatiese soort nie, maar soms het hy die beperkinge van sy eie lyf vergeet en haar saam met hom meegevoer, en dan het hulle ’n paar oomblikke van seksuele sweefkuns belewe voordat hulle holderstebolder vloer toe geval het. Voordat die motorsitplek te ongemaklik geword het of een van sy kinders wakker geword het van die vreemde geluide uit die eetkamer.

Nie dat George veel geluide gemaak het nie. Skreeuende orgasmes was nie sy styl nie. En met die kinders uit sy eerste huwelik na­weke saam met hulle in die huis, moes Griet ook maar leer om stil en donker seks te waardeer. Soos ’n doofstom blinde, het sy soms in ’n oomblik van opstandigheid gedink.

Griet drink ’n koppie koffie op die balkon van haar vriendin se woonstel, soos elke oggend vandat sy hier ingetrek het, terwyl die straat onder haar geleidelik begin lewe. Voor haar op ’n lendelam plastiektafeltjie lê die Engelse koerant waardeur sy pas geblaai het, die oop afspraakboek met die inkopielys en ’n potlood om haar so­siale verpligtinge vir die week neer te skryf. Met ’n skok besef sy dat sy geen sosiale verpligtinge het nie. Nie ’n enkele afspraak nie. Die gedagte aan nog ’n Vrydagaand op haar eie laat haar van voor af na die troos van ’n oond verlang. ’n Skoon oond, dink sy voordat sy haarself kan keer.

Dis gevaarlik om alleen te reis, skryf Griet in haar dagboek, veral ná jou dertigste verjaardag. Dis Allerheiligeaand vanaand, besef sy toe sy weer die datum sien, Oujaarsaand op die ou Keltiese kalen­der. Die aand van hekse en elwe en ander onheilige geeste, het die Skotte geglo. Met ’n Skotse seeman se bloed in haar are – en ’n buitengewone beroep as spinner van sprokies – is sy die enigste mens wat sy ken wat dié aand nog ernstig opneem.

Die Amerikaners het dit lankal banaal gemaak, soos hulle alles banaal kan maak, met kinders in snaakse kostuums en kerse in uit­geholde pampoene. En Hollywood het dit in geld omskep, soos hulle doen met alles wat veronderstel is om heilig te wees, deur ’n hele reeks rolprente te maak wat hoofsaaklik uit bloed en gille bestaan.

Môre is die Dag van die Heiliges, dink Griet met heimwee, en oormôre die Dag van die Siele wanneer ’n mens veronderstel is om vir die siele van die gestorwenes te bid. Sy het baie siele vir wie sy behoort te bid: dié uit wie sy voortspruit en dié wat uit haar voort­spruit, haar voorgeslag en haar nageslag. As dit net nie so moeilik was om te bid nie.

Sy tel die flentertjie papier op wat sy uit die koerant geskeur het. One in five women heading Aboriginal households have told researchers that their stressful lives have driven them to attempt suicide. Sy steek die beriggie met ’n skuifspeld langs die datum in haar dagboek vas.

Seks kan miskien voorspelbaar word ná sewe jaar saam met die­selfde man. Maar daar is tog ook troos in sulke voorspelbaarheid, soos ’n geliefde gedig wat jy oor en oor lees totdat jy dit uit jou kop uit ken, totdat niks behalwe ’n leesteken jou nog kan verras nie. Totdat jy op ’n dag na ’n komma kyk asof jy dit nog nooit voorheen gesien het nie. Sy het die taal van haar man se lyf so goed soos haar eie tong geken, die sout smaak van sy naeltjie, die harde holte van sy skouer­been, die taaiheid op die punt van sy penis. En tog het sy soms ’n moesie ontdek wat sy nog nooit voorheen opgemerk het nie. Haar lyf het gemaklik gevoel saam met syne, onder syne, bo-op syne.

Sy hét soms sterre sien verskiet, maar dit was ligjare gelede, toe elke nag saam met hom nog ’n ontdekkingstog was. Drie jaar gele­de het hulle getrou en op die huweliksbed het sulke hemelse ver­skynsels skaarser as Halley se Komeet geword. Sy was gedurig swanger; haar arme man het al hoe minder aan haar geraak. Maand ná maand het sy swaarmoedigheid gegroei en sy speelsheid ge­krimp. The incredible shrinking penis, dis wat sy die storie van haar huwelik sou noem.

Miskien is dit die storie van elke huwelik.

Sy vat nog ’n sluk koffie uit haar vriendin se gekraakte Arzberg-koppie, wonder of sy haar eerste sigaret van die dag sal rook, besluit om die versoeking te weerstaan, en staar onwillekeurig na die koerantberiggie onder die skuifspeld. They revealed that they had to bear the brunt of the whole Aboriginal situation, including recurring problems of unemployment, alcohol, imprisonment and racism. Tel jou seëninge, Grietjie, het ouma Hannie altyd gesê.

Eendag was daar ’n vrou wat uit ’n verskriklike familie gekom het, skryf sy op die skoon bladsy voor haar. Haar een oupa het graag met die engele gesels en haar ander oupa het in spoke geglo. Sy was miskien ’n heks, miskien ’n opstandige engel, beslis ’n moeilikheidmaker, en sy is swaar gestraf vir haar sondes.

Die ergste van al haar sondes was dat sy mense met woorde verlei het. Sy was ’n vrou wat met sinne wou speel soos Salomé met haar sewe sluiers. Sy was ’n vrou wat wou skryf omdat sy geglo het die pen is magtiger as die penis.

Sy het nie besef dit is die agtste doodsonde in ’n falliese wêreld nie.

Sy was nie onvrugbaar soos so baie ander sondaresse in so baie ander sprokies nie. Sy het maklik swanger geword, keer op keer, maar sy moes haar kinders elke keer aan die dood afstaan. Sy kon hulle verwek en sy kon hulle dra, maar sy kon hulle nie in die lewe bring nie.

Ná vier swangerskappe was sy steeds kinderloos.

Dit was so ’n verskriklike straf dat sy soms soos die ganswag­tertjie van lank gelede in ’n oond wou klim om haar lot te bekla. Maar dis deesdae nie meer so maklik om in ’n oond te klim nie. En jy kan nie meer reken op ’n held om jou betyds uit te haal nie.

Dis tyd om kantoor toe te stap, besluit Griet terwyl sy na die groeiende gedreun oral om haar luister. Dis ’n onbeskryflike ge­luid, die geluid van ’n dier wat wakker word, asof die berg waarteen die stad soos ’n bosluis klou, sy rug uitrek en sy spiere

Enjoying the preview?
Page 1 of 1