Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kleure van die liefde: 25 van die beste stories uit rooi rose
Kleure van die liefde: 25 van die beste stories uit rooi rose
Kleure van die liefde: 25 van die beste stories uit rooi rose
Ebook224 pages5 hours

Kleure van die liefde: 25 van die beste stories uit rooi rose

Rating: 2 out of 5 stars

2/5

()

Read preview

About this ebook

Oplaas ’n nuwe versameling van 25 lekkerlees-liefdesverhale wat oor die jare in rooi rose verskyn het. Gunsteling-skrywers se verhale is hier te vinde: Sophia Kapp, Irma Joubert, Helene de Kock, Annelie Botes, Christine Barkhuizen-le Roux, Elsa Winckler. En moenie van die mans vergeet nie: Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, en veral ’n uitmuntende verhaal deur wyle George Weideman. Dit is ’n boek vir alle soorte leesgieriges. Verkies jy om bietjies-bietjies te proe, is dié tydskrifstories net die regte lengte vir ’n vinnige blaaskans voor slaaptyd. Of as jy daarvan hou om ’n boks sjokolade op een slag te verslind, dan is Kleure van die liefde die ideale wegkomkans wat jou sal laat vergeet van enige saai alledaagsheid. Skrywers in die boek: Erika Murray-Theron, Sophia Kapp, Marlise Joubert, Irma Joubert, Alta Cloete, Louis Esterhuizen, George Weideman, Fanie Viljoen, Annelie Botes, Marietjie Kotzé, Bernette Bergenthuin, Christine Barkhuizen-le Roux, Nelia Engelbrecht, Carina Stander, Mariette Snyman, Rachelle Greeff, Madri Victor, Helene de Kock, S.D. Fourie, Elsa Winckler, Rita Gilfillan, Jaco Jacobs, Francois Bloemhof, Paul C. Venter, Engela Linde
LanguageAfrikaans
Release dateApr 2, 2017
ISBN9780798175166
Kleure van die liefde: 25 van die beste stories uit rooi rose
Author

Corlia Fourie

Corlia Fourie, rooi rose se verhaalredakteur, is ’n bekroonde skrywer en haar werk sluit romans, dramas, kortverhale en kinderstories in. Sy woon in Johannesburg.

Related to Kleure van die liefde

Related ebooks

Related articles

Reviews for Kleure van die liefde

Rating: 2 out of 5 stars
2/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kleure van die liefde - Corlia Fourie

    Kleure

    van die

    liefde

    25 van die beste stories uit

    rooirose.jpg

    Saamgestel deur Corlia Fourie

    Human & Rousseau

    Voorwoord

    Liewe leser

    Toe ons verhaalredakteur, Corlia Fourie, voorstel dat ons rooi rose se 75ste bestaansjaar vier deur ’n boek uit te gee met ’n keur uit die voortreflikste kortverhale wat tot nog toe in rooi rose verskyn het, was ons almal vuur en vlam. Sy het haar toe terselfdertyd die reusetaak opgelê om ’n verskeidenheid te kies en vir goedkeuring voor te lê.

    Ek is seker elke leser van dié boek sal saamstem dat hierdie versameling van talent, keurige versorging en leesgenot getuig. Hier is iets vir elke leser en ’n viering van die kuns van die kortverhaal. Elkeen wat hierdie boek lees, sal seker sy gunstelinge hê, maar ook keer op keer kan terugblaai om van die beste Afrikaanse kortkuns op die rakke te geniet.

    Mag hierdie versameling beproefde liefdesverhale vir jou ’n wegkomkans bied. Naas leesplesier is dit mos die werk van ’n goeie tydskrifverhaal: ’n skans teen die werklikheid van spitsverkeer, vuil skottelgoed, honde wat snags blaf, prysverhogings en ’n werklas wat jou rugpyn gee …

    Baie dankie aan al die skrywers wat hul verhale vir Kleure van die liefde beskikbaar gestel het.

    Martie Pansegrouw

    Redakteur: rooi rose

    Lappa maak vir Bella stout

    Erika Murray-Theron

    Isabel het die stoffie met die grondpad langs die wingerd sien aankom en gekyk hoe die motor by die rooslaning indraai. Die ou roesbruin Volkswagentjie is so ver buite sy gewone Gautengse verband dat sy dit nie dadelik plaas nie. Toe trek die adrenalien-skop van herkenning en skrik deur haar liggaam. Teen die tyd dat hulle voor haar ouers se plaashuis stilhou, weet sy dus goed wie die onverwagte besoekers is. Of ten minste wie twee van hulle is: Janine, haar gewese kamermaat. En Ben. Donker, slim, gepoleerde Ben. Dit het haar die volle twee jaar dat sy hom nie gesien het nie, gekos om hom uit haar kop te kry. Nou pak die verwarring haar opnuut beet.

    Janine en Ben gesels nog ’n oomblik met mekaar terwyl hulle hul deure oopmaak. Hul passasier agter klim eerste uit: ’n Vikinger van ’n man met ’n rooiblonde baard en verontrustend-wakker blou oë. Hy wag dat die ander twee eerste groet. Toe hulle Isabel omhels, staan hy ook ewe hans nader vir ’n drukkie. Hy toring oor haar, en sy is nie kort nie.

    Laubscher, stel hy homself voor.

    Voornaam of van? Niemand sê nie.

    Janine het ’n nuwe veertjie-kort haarstyl, maar sy borrel en jubel steeds soos in die óú dae. Sy hang aan Ben, en soos altyd praat sy in uitroeptekens. Ons is op pad Kaap toe! Eintlik gaan ons Woordfees toe! Ons wou nie sê ons kom hier langs nie, ons wou jou verras!

    Verras is nie ’n heeltemal sterk genoeg woord nie.

    Janine ken die pad hiernatoe. Destyds, toe hulle studente in Pretoria en nog regtig vriendinne was, het sy een vakansie hier gekuier. Dit was in Januarie, net voor hul tweede akademiese jaar begin het. Hulle het met Isabel se ma se motor die Boland ontgin, Kaapstad toe gery, see toe gegaan. Hulle het die plaas se hitte verduur en hanepoot en vye geëet, die klam, lang hare uit hul gesigte gestryk en in die skaduwee gelê en ginnegaap, en gelees en rivier toe gestap en geheime uitgeruil met hul voete in die skoon, amberkleurige water.

    Toe hulle teruggaan universiteit toe, het Janine vir Ben ontmoet en binne weke was hulle saam, met Isabel in die rol van aanhanger. Vir die eerste keer het sy ’n geheim gehad wat sy nie met Janine kon deel nie: Sy was self reddeloos verlief op Ben. Sy het later daarmee leer saamleef soos met ’n kroniese pyn wat nooit toelaat dat jy daarvan vergeet nie.

    Of Ben daarvan geweet het? Natuurlik het hy. Noudat sy ouer en slimmer is, sien sy dit. Sy sien ook nou dat hy haar uitgebuit het. Dat hy dit geniet het om met haar kat en muis te speel. Sy was te jonk en te dom om hom ooit daarmee te konfronteer. Omdat sy bly hoop het.

    Pleks daarvan dat sy haar eie lewe geleef en iemand van haar eie gesoek het. Sy was vasgevang in haar fiksasie. Gefikseer. Sy het ure daaraan gewy om Ben te probeer uitpluis. Wanneer hulle drie saam was, het hy haar siel amper broederlik versondig, gewoonlik omdat sy so skaam en selfbewus was. Verder het hy haar geïgnoreer. Maar wanneer hulle alleen was, het hy verander. As hulle oogkontak maak, het sy oë hare net ’n oomblik te lank vasgehou. Wanneer hy aan haar arm of rug geraak het, was dit onmoontlik om te weet of dit toevallig was of nie. Hy het klein, betekenisvolle, soms selfs suggestiewe toespelings gemaak. Sy was te bang om ooit daarop te reageer. Sê nou sy verbeel haar net? Wat sal hy dan van háár dink?

    In hul vierde jaar het Janine haar geheim ontdek. Dalk het sy dit al lank vermoed, ’n mens kan tog ’n vriendin se gesig en stiltes lees. Daar was ’n klein insident met ’n musiekfees op die joolplaas. Die oorverdowende klanke van die musiek het op hulle neergeblaker, die tromritme het van hulle besit geneem, om hulle was daar die maling van mense wat in ’n massa ’n bietjie oorboord gaan. Janine het iemand gesien met wie sy wou gaan praat, en Ben het vir Isabel aan die arm geneem: Kom ons dans.

    Sy het die uitnodiging geïgnoreer en ’n simpel opmerking gemaak, of eerder teen die lawaai in geskree, iets soos: Janine is seker nou terug. Hy het haar nie gelos nie. Hy het haar hand opgelig en sy kop daaroor gebuig en haar pols met duim en middelvinger omkring om die grootte daarvan vas te stel. Sy het beheks bly staan, nie gebore in staat om haar hand weg te trek nie. Op dié skynbaar nietige toneeltjie het Janine afgekom. Dalk het sy hulle al ’n paar oomblikke lank betrag voordat sy nader gekom het.

    Sy het niks gesê nie. Maar die aand in hul koshuiskamer het sy vir Isabel aangevat. Aan die maskaramerke op haar wange kon Isabel sien dat sy gehuil het.

    Wat gaan aan, Isabel?

    Niks, Janine! Ek belowe jou. Regtig! Niks nie.

    Hoe kan jy so vir my lieg? En toe: Jy is verlief op hom!

    Dit was waar dat sy op Ben verlief was. Wat kon sy dus hierop sê? Of daar iets aangegaan het? Op daardie vraag kon sy nie met ’n rein gewete ja óf nee antwoord nie, daarom het sy stilgebly.

    Daardie aand maak Isabel self ’n skuddende ontdekking: Dat dit moontlik was vir iemand soos Janine om iemand soos sý as bedreiging te sien, dat ’n klein, fyn, pragtige meisie soos Janine op háár jaloers kon wees! Daar was nie eens kans om hierdie kennis te laat insink en sekerlik nie om in die versoeking te kom om haar nuutontdekte mag te beproef nie. Binne ’n week het Janine privaat losies gekry en uit die koshuis getrek. Hulle twee het nooit daarna meer as net oppervlakkig gepraat nie.

    Ben het saam met Janine van die horison verdwyn. Isabel het agtergebly met haar skuldgevoel. En met die openbaring dat sy ’n groot hap van die sosiale deel van haar studentelewe onherroeplik verspil het. Dit was te laat om van voor af te begin en ’n onafhanklike kring vriende te vind. Almal was besig met afstudeer, almal was haastig om by ’n groter wêreld in te stap. Amper drie jaar lank het sy deur Janine geleef en op ’n afstand na iemand gehunker en tweedehandse liefde ervaar, terwyl sy niks meer was as ’n waarnemer en toejuiger en navolger van ander nie. Wat Ben betref: Wanneer sy aan hom gedink het, was daar ’n bitter smaak in haar mond. Maar sy kon ook nie met ’n vingerklap oor hom kom nie.

    Op die ou end het sy gedoen wat sy van die begin af moes gedoen het. Sy het hard studeer en goed deurgekom. Sy het begin regop loop en opgehou om haar lengte weg te steek. Sy het teruggegaan Kaap toe en in Bellville ’n goeie skoolhoupos gekry en vreugde daarin gevind. Sy het gedraf en aan twee marathons deelgeneem; muurbal begin speel en by ’n boekklub aangesluit – selfs Spaanse klasse geneem. Naweke het sy plaas toe gegaan. Sy het daar weer ingepas in die holte wat haar persoonlikheid gemaak het, want die holte het saam met haar gegroei.

    En nou … nou is Janine en Ben en ’n man wat sy nie kan miskyk nie, in haar ouers se huis.

    Die vier van hulle sit met koffiebekers en ’n bakkie van haar ma se mosbeskuit voor hulle en twak praat en lag, hul elmboë gestut op die blad van die eetkamertafel, besig met die amper onuitputlike onderwerp van wat van wie geword het. Asof daar nog nooit ’n skaduwee tussen hulle geval het nie. Sy weet dat Ben haar dophou, sy weet ook dat Laubscher haar dophou. Die suikerpot staan voor Janine, sy sit en speel met die silwersuikerlepel. Die lepel blink, aan haar vinger flits die steen van haar verloofring. En toe weet Isabel wat Janine vandag hier kom doen het. Sy weet wat dit is wat sy eintlik vir haar wou kom wys het.

    Die eetkamertafel met sy geelhoutblad en stinkhoutpote is ’n paar geslagte lank al in die familie, en groot genoeg vir ’n pa en ma en tien kinders om gemaklik by te kan aansit. Sekerlik, dink Isabel, nie die soort tafel waaraan haar stadskennisse gewoond is nie.

    Daar sê Ben dit as ’t ware. Hy takseer die tafel. Vertel tog, Isabel, hoeveel kinders is julle nou eintlik?

    Sy is verleë. Sy kyk eers op in die belangstellende en geamuseerde gesig van die vreemdeling oorkant die tafel. Hoeveel van die gesin sal sy wegjok? Liewer maar eerlik. Ses … En my twee neefs, wat by ons gebly het.

    Laubscher sê: Dit moes great gewees het om so groot te word. Ek is ’n enigste kind.

    Ben hoor nie, hy fluit ongelowig. Hoe kon jou ma ooit aan soveel kinders aandag gee?

    Nou kyk sy reguit na hom en sy sién hom, sy loom glimlag, sy sjarme presies soos destyds op haar gekonsentreer, en sy dink: Jy raak my nie meer nie, ek is vry van jou.

    Ek het heeltemal genoeg aandag van my ma gekry, dankie.

    Kyk, ’n mens kán vir Isabel kwaai maak! sê Ben. Maar eintlik is sy ’n duifie sonder gal.

    ’n Duifie sonder gal! Isabel het die uitdrukking nog nooit gehoor nie, maar sy kan goed dink wat dit beteken. Jy weet nie, dink sy. Jy weet nie wie ek is nie.

    Isabel, verander Janine die onderwerp, ek gaan nie weg voor ek die rivier nog een keer gesien het nie. Ben, jy kan dit nie mis nie! Laubscher … Kom jy saam? Sy draai weer na Isabel. Het hy jou gesê hy doen somme vir ’n lewe? Maar sy CD kom een van die dae uit! Hy’s een van daai syfermense wie se siel darem ook sing. Laubscher, jy moet, jy móét jou kitaar uit die kar haal en iets vir Isabel speel voor ons ry!

    Hulle stap rivier se kant toe, verby die buitegeboue, deur die wingerd waar die plukkers ry-op en ry-af met hul groot ballasmandjies besig is. Janine het al haar sandale losgemaak, sy sleep vir Ben saam. Toe, Ben! ’n Mens moet dit kaalvoet doen!

    Ek het eenkeer my voet vreeslik gesny op ’n stuk blik tussen die klippe in die water, vertel Isabel vir Laubscher. Die ander is vooruit, die vlak water in, hulle twee sit met opgetrekte knieë op ’n sandkol langs die oewer, leun terug op hul hande.

    Ben vertel jy is so ’n soet meisie, sê Laubscher asof hy haar wil uitlok.

    Ben? Ben is …

    Ja, ek weet. Moet jou nooit aan Ben steur nie. Ben is ’n poephol.

    Haar oë word rond van skok. Haai, jy kan mos nie so praat nie!

    Ja, in dié geval kan ek, want dis die waarheid. Janine moet haar kop laat lees. Daai selfde kop wat sy al gestamp het, maar sy leer nie. Ben kan nie vroumense uitlos nie.

    Nie?

    Nee. Hy gaan dit ook nie laat staan as hy getroud is nie. Hy dink na. Toe vra hy reguit: Ek verstaan julle twee het ook iets aan gehad?

    Nee. Of ten minste, ek weet nie. Ek het nooit geweet of hy ernstig is nie.

    Ek het tussen die lyne gelees hy wás. Ernstiger as gewoonlik, bedoel ek. Ek lei af jy was al vrou aan wie hy nie regtig vat kon kry nie, en juis daarom wóú hy.

    Hoe kon ek aan my laat vat kry? Hy was dan my kamermaat se ou. Boonop … Sy lag ’n bietjie. Boonop het ek ook nie geweet hóé nie.

    Dan is dit hoog tyd dat iemand jou ’n bietjie stout leer.

    Sy verander dadelik die onderwerp. Watse musiek sing jy?

    Meestal my eie goed. Nou en dan ook ander mense s’n. Louis van Rensburg se Boerneef-liedjies, byvoorbeeld.

    Soos?

    Jy sal dit ken, man. Hy lag. Hy kyk haar reguit in die oë terwyl hy saggies sing, en toe sy die woorde herken, begin Isabel bloos. Sy bloos asof sy nie gaan ophou nie.

    "Lappa lei vir Bella koud

    in Waboomskloof se geel bossies

    Lappa maak vir Bella stout

    met hanepoot se natrossies

    donkerrooi die wingerdblaar

    warmrooi die mond van haar …"

    Toe hulle vier terugstap na die plaashuis, is Janine skielik haastig. Ons moet in die pad kom. Hulle gaan by die huis in, gaan gou badkamer toe, groet Isabel se ma. Terwyl hy sy beurt afwag, sê Laubscher vir Isabel: Gee my jou selnommer. Nie eens sal jy nie. Toe hulle wegry, kan sy nie onthou of sy ooit eens vir Ben totsiens gesê het nie.

    ’n Paar dae later bel Laubscher haar: Isabel? Dis Lappa.

    Toe dit weer naweek is, is hy en sy kitaar terug op die plaas; hy het die ander afgeskud en geryloop. Ek het twee dae, sê hy. Dan moet ek terug wees in Johannesburg.

    Hulle stap deur die wingerd, dis skemer, sy is kaalvoet. En sy trap in ’n nes genadelose, houtharde dubbeltjies in die sandgrond. Hy help haar om haar balans te hou terwyl sy eenbeentjie staan en dorings uittrek.

    Hoe hulle teen mekaar gekom het, weet sy nie, maar toe sy haar kom kry, hou hy haar vas. Hy vra met sy gesig teen hare: Is jy al reg om stout geleer te word? Want ek wil ’n houvas op jou kry, Isabel, ’n régte houvas.

    Sy voel sy vinger by die oop mousgat van haar toppie inglip. Saggies, ondersoekend, tussen die wit katoen van haar bra en haar vel. Sy ril. Sy ril oor haar hele lyf.

    En Bella word soet, soet, soet.

    Valentynsdag

    Sophia Kapp

    Helena steek die naald deur die rooi materiaal en trek die gare versigtig styf. Die verdomde lap was ver oor die honderd rand per meter en daar is nie meer tyd – of geld – om nog ’n stuk te gaan koop as hierdie stukkie handwerk van haar faal nie: Dis vanaand Janka se Valentynsbal en die kind is al van vroeg vanoggend af aan die karring oor die gedoente. ’n Mens sou sweer sy gaan trou …

    Blitsvinnig vang Helena die gedagte vas. Haar oudste dogter is agtien en in matriek. Dis erg genoeg dat daar vanaand ’n séún hier voor hul deur gaan opdaag en haar kosbare kind gaan uitneem. Sy kan nie nog met die idee spook dat Janka op ’n dag saam met ’n man hier gaan uitstap en nie weer gaan terugkom nie.

    Mamma, hoe ver is jy?

    Helena kners die bitsige opmerking tussen haar kiestande vas. Amper klaar.

    Dis die driehonderd-vyf-en-dertigste keer dat Janka haar dit vra. En sy hét nou al driehonderd-vier-en-dertig keer beleefd geantwoord dat sy so gou maak as wat sy kan. Dit was nie háár idee om die rok se hele lyfie met lintblommetjies te versier nie. Dis nie dat dit ’n slegte plan is nie, sy wens net Janka het dit nie twee dae gelede vir die eerste keer gekry nie. Dit het haar gekos die hele voering en die drapeersels oor die skouers weer lostorring sodat sy die goed daarop kan vaswerk.

    Gelukkig het Patrys haar gehelp. Haar middelste kind is vyftien en sportief en stel nie in rokke of danse of lintblommetjies belang nie, maar Helena het haar doof gehou vir Patrys se onvergenoegde gemor. Sy het nie gedink dit gaan gebeur nie, maar hulle is so byna-byna klaar. Patrys het nog drie blommetjies om te maak en sy moet nog net ’n paartjies vaswerk.

    So tussen die meet en ryg en vou het Patrys begin gesels – oor haar maats, oor die onderwysers, oor haar vakkeuse van volgende jaar en oor haar drome vir universiteit. Sy het nooit besef Patrys wil so graag medies swot nie. Dis nie dat haar en Peet se verhouding met die kinders moeilik is nie en dis nie dat Patrys nie weet hoe om te kommunikeer nie, maar die kind het blykbaar haar droom gaan bêre. Oor die gemors.

    Helena knyp haar oë toe asof dit gaan help om die herinnering uit haar kop te hou. Maar sy het dit al soveel keer in die verlede gedoen dat sy weet dit help nie om daarvoor te probeer wegkruip nie.

    Dit was ’n dag soos enige ander, onthou sy. Sy het die kinders by die skool gaan aflaai, nog op Heinrich geskel omdat hy sy krieketkolf by die huis vergeet het en sy weer ’n slag moes terugjaag om dit te gaan haal, by Spar aangery om brood en vrugte en melk te koop, by die bloemiste blomme bestel vir ’n vriendin wat verjaar, toe gim toe, toe haarsalon toe, toe gou haar naels laat opknap …

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1