Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die fortuinsoekers: Die Mannheim-sage 1: Die Mannheim-sage 1
Die fortuinsoekers: Die Mannheim-sage 1: Die Mannheim-sage 1
Die fortuinsoekers: Die Mannheim-sage 1: Die Mannheim-sage 1
Ebook1,038 pages21 hours

Die fortuinsoekers: Die Mannheim-sage 1: Die Mannheim-sage 1

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

“Die mens is ’n verbasende wese, dink hy, om tegelykertyd soveel botsende emosies te kan ervaar en verwerk. Aan die een kant het hy nou met doelgerigtheid ’n man se dood beplan. Dit bevredig hom. Verraad vir verraad.” Dis die goudstormloop van die 1880’s in Johannesburg. Hebsug, verraad en passie is aan die orde van die dag. Die sewentienjarige Deborah von Albein word gedwing om hul familieplaas in die Karoo te verlaat en na die Goudstad te verhuis. Dis hiér, terwyl sy onverwags as hul gesin se broodwinner optree, waar sy boonop moet kies tussen Kit Malloy, ’n ambisieuse dobbelsaloneienaar, en Karl Mannheim, die eksentrieke erfgenaam van die Mannheim-fortuin. Malloy se ambisie kom hom egter duur te staan wanneer sy onderhandelinge met Paul Kruger bots met die ideale van Cecil John Rhodes. En Karl Mannheim se obsessies bereik ’n breekpunt wanneer die vooruitsig van ’n volmaakte toekoms een nag aan skerwe spat. Onvermydelike konfrontasies volg. En só begin die drieluik van Die Mannheim-sage . . . Gebaseer op die gewilde radio- en TV-reeks deur die bekende aktrise en skrywer Lerina Erasmus.
LanguageAfrikaans
Release dateApr 6, 2017
ISBN9780798174558
Die fortuinsoekers: Die Mannheim-sage 1: Die Mannheim-sage 1
Author

Lerina Erasmus

Lerina Erasmus is in Namibië gebore. Sy het haar loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf as aktrise begin. Die leliemoordenaar, ’n aksiebelaaide spanningsroman, verskyn in 2016. Die skrywer is getroud met Günter Schmikal en woon in Johannesburg.

Read more from Lerina Erasmus

Related to Die fortuinsoekers

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die fortuinsoekers

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus

    DIE MANNHEIM-SAGE 1

    Die fortuinsoekers

    Lerina Erasmus

    Human & Rousseau

    Proloog

    Heinrich von Albein help om sy spogmerino’s uit die bergkamp te keer. Sy blik rus kort-kort op die swaar, donker wolke wat soos onrustige geeste oor die hange van die Lootsberg rol – wolke wat kwaai koue en sneeu voorspel.

    Heinrich se familie is al geslagte lank hier op Sorgenfrei gevestig. Hy is in murg en been ’n man van die aarde. Hy ken die verraderlike weersomstandighede wat ’n man al sy skape oornag kan laat verloor. Hier moet ’n mens voortdurend voorsorg tref vir die onverwagse. Die onvoorspelbare Karoo is beslis geen plek vir hereboertjies nie.

    Is die laastes, seur! roep Hans-Kaap, sy gerespekteerde voorman, bo die tierende wind uit.

    Heinrich knik tevrede. Die ooie met die nuwe lammertjies sal in die groot skeerskuur onderdak hê tot die ergste koue verby is. Die res sal in die laer en meer beskutte kampe aangehou word.

    Julle het knap gewerk, Hans. Sê vir die manne daar is vanaand ekstra rantsoene. As ek so na daardie wolke kyk, reken ek ons kan insneeu vir ’n dag of wat.

    Hans glimlag breed. So ’n vooruitsig bied ’n welkome ruskans. Afgesien daarvan dat die diere op stal versorg moet word, kan ’n winterinsneeu ’n snoesige tyd wees – veral as jy ’n mollige vrou het om jou warm te hou! Die laaste keer het vir hom en sy vrou, Toefie, ’n vyfde baba besorg … vyf kinders waarvan Saartjie die oudste is.

    Seur … seur Heinrich …! kras ’n stem van ver af bo die wind uit.

    Die mans se aandag was ten volle gerig op die skape wat nou in die paadjie na die bergkamp laer af gedwing word, daarom sien hulle nou eers vir April wat soos ’n besetene in die laagte onderkant hulle oor die aalwynvlakte aangejaag kom.

    Heinrich se binneste trek saam. Daar kan net een rede wees waarom April een van Sorgenfrei se perde só dryf! Daar moet fout wees by die huis. Alisha! Sy lieflingsmeisie, met wie hy skaars meer as ’n jaar getroud is.

    Heinrich stuur die steierende perd teen die berghang af tussen die malende skape deur. Sy hart klop in sy keel. Alisha is swanger. Hulle het beplan om haar vir die bevalling Kaap toe te neem, waar sy vandaan kom, maar die dorpsdokter het hulle daarteen gewaarsku. Alisha is delikaat en die geskommel van die koets oor ’n lang afstand kan haar die baba laat verloor. Vir Heinrich is Alisha se welsyn van primêre belang, maar hy weet ook hoe bitter graag sy ’n kindjie wil hê.

    Hy bereik die gelykte en jaag April tegemoet. Dis soos hy verwag het. Oorstelp stotter Sorgenfrei se bekwame stalkneg die boodskap uit. Ma-Fytjie het gesê seur Heinie moet jaag! Seur moet die seur dokter loop haal! Dinge is nie reg met nooientjie Lisha nie!

    Heinrich laat nie op hom wag nie. Met knie en dy por hy die massiewe hings aan en lê oop na die opstal toe.

    Uit respek vir sy fynopgevoede vrou het Heinrich nog nooit in sy werksklere voor haar verskyn nie, maar dié keer storm hy net soos hy is die trap op en maak hulle kamerdeur vervaard oop. Ma-Fytjie, wat langs haar geliefde nooientjie Lisha waak, kom orent en beduie dat Heinrich nie ’n geraas moet maak nie. Hy knik en kyk na sy slapende vrou.

    Alisha se wimpers lê swart op haar wasbleek gelaat. Haar donker, gevlegte hare laat haar weerloos jonk lyk, soos ’n kind met ’n ongewone groot buik.

    Ma-Fytjie roep Heinrich buitentoe. Hy gehoorsaam, skielik pynlik bewus van sy hulpeloosheid as man in dié situasie.

    Buite die deur beduie die formidabele Fya Fortuin haastig. Haar nooi Lisha het met ’n koors opgestaan en daar is ’n afskeiding … Ma-Fytjie, wat allerweë gerespekteer word vir haar kennis van kruie, se gesig skyn soos gepoetste koper. Sy is duidelik baie bekommerd.

    Dit kan een van drie dinge beteken, seur Heinrich, maar ek kan dit g’n met die seur bespreek nie. Dit sal nie stigtelik wees nie. Maar gaan sê dit vir die dokter. Hy sal weet wat ek bedoel. Ek het my nooientjie nou kalm … die harmansdrup en wynruit die sal vir haar laat slaap vir ’n kort tydjie. Maar ons móét die dokter hier kry, seur Heinie, anders weet ek nie!

    Nog nooit is die Von Albeins se kapkar vinniger ingespan nie. Heinrich swaai sy mantel met die skaapvelvoering oor sy skouers terwyl hy op die kar klouter en die leisels met ’n skerp klapgeluid lig. Die span pronkperde skiet vorentoe en draf in die eikelaning af, verby die dam wat die kaal wilgers en populiere ysig weerkaats. Heinrich por sy perde met byna genadelose drif aan. Hy bid dat hy die dokter op die dorp sal vind.

    Graaff-Reinet het tot ses maande gelede twee dokters gehad. Ongelukkig is ou dokter Theron toe oorlede. Sy jonger vennoot, dokter Janse – ’n kêrel uit Holland – is nou die enigste dokter, en hy moet lelik bontstaan in die groot kontrei. Heinrich se grootste bekommernis is dat hy oorkant die pas kan wees, want sy praktyk strek tot verby Bethesda, anderkant die Lootsberg.

    Heinrich klap die peits om die perde te laat versnel. Hy ondersoek die lug vol kommer, want hy weet voor sy siel dit gaan voor vannag begin sneeu en die pas sal onbegaanbaar raak.

    Selfverwyt vreet aan hom. Hoekom was hy so ’n idioot? Met sy ooie en lammertjies tref hy altyd die grootste voorsorg. Maar vir Alisha, om wie sy hele bestaan wentel, het hy nie genoeg voorsorg getref nie. Verduiwels! Hy moes ’n dokter gehuur het – ’n hele span, as dit daarop sou aankom – om in hierdie maande voor haar bevalling hier op Sorgenfrei in te trek. Hy is ’n ryk man, waarom het hy nie? Verdomp!

    Sy keel trek saam van vrees. Heinrich onthou die aand toe hy die eerste keer oor die hand van die pragtige Alisha Beaumont gebuig het. Dit was tydens die goewerneur se jaarlikse Nuwejaarsbal. ’n Oomblik lank was hy sprakeloos, stomgeslaan deur die skoonheid van die vlinder voor hom. Haar wasige wit hoepelrok van sy-organdie het haar lelieblank skouers ontbloot, en silwer, geweefde kant het in ’n val om hulle geskuim. Daar was wit katjiepierings in haar hare. Sy het skalks oor haar waaier vir hom geglimlag, en toe hy in haar oë kyk, het hy gewéét sy hart het weerklank gevind in hare.

    Met ’n trotse kopknik het Alisha die dans aan hom toegesê; ’n onvergeetlike pavane waarin niemand anders in die balsaal bestaan het behalwe hy en sy feëprinsessie nie.

    Alisha Beaumont, die Roos van die Kaap, kon kies en keur onder die room van die Kaap se jong mans, maar sy het hóm gekies: Heinrich von Albein, die eienaar van Sorgenfrei.

    Daar was struikelblokke en besware. Hy was ’n goeie sewe jaar ouer as sy. Haar ouers was onwillig om hul lieflingskind so ver van hulle af te laat weggaan na wat hulle beskou het as ’n onbeskaafde hinterland. Alisha was egter onwrikbaar. Sy het haar hart aan die man uit Graaff-Reinet se kontrei gegee.

    Op 14 April 1868, slegs veertien maande gelede, het hy haar voor die ou Groote Kerk se gekerfde houtkansel ingewag. Op dié goue, loom herfsdag het die dominee sy prinses wettiglik syne gemaak.

    Ná die wittebroodsreis in Europa het hy haar en Ma-Fytjie plaas toe gebring en haar die meesteres van sy aarde gemaak. Die herinnering aan die afgelope jaar se geluk pols pynlik in sy binneste. As hy Alisha moet verloor, verloor hy die lewe self …

    Die buitewyke van die dorpie doem in die verte op, gehul in ’n grys mistigheid. Heinrich weet dat dit die voorloper is van sneeu. Here, bid hy met al sy mag, laat my tog vir Janse kry, en gou ook! Spaar my liefste Alisha! Die kapkar jaag die dorp binne, verby die kerk, verby die markplein, verby die begraafplaas …

    Verligting spoel oor hom toe hy die geparkeerde rytuie voor die dokter se spreekkamer sien. Die man is daar! Nou moet hy hom net oorhaal om so gou as moontlik die terugtog na Sorgenfrei saam met hom aan te pak!

    ’n Kil en dodelike sneeuwind van die Lootsberg af kerm om die ou opstal se dik mure. Ondanks die vuur in die kaggel, die sagte bulsak en donsdekens, oorval ’n koue vrees vir Alisha. Dit laat die sweet opnuut op haar voorkop pêrel. Sy wil huil, maar het nie die krag daarvoor nie. Die vorige sametrekkings het haar duiselig en uitasem gelaat.

    Fya vee haar voorkop af. Haar gesig is strak van kommer. Nooientjie Lisha is so smal van heup en klein van bou soos ’n duikertjie. Hoe sal sy ’n kind die wêreld kan instoot? Die kind wat gaan kom gaan groot wees, te groot vir haar geliefde nooientjie se skoot. Sy wéét.

    In hierdie krisisuur verlang Fya vuriglik om terug te wees by seur en madame Beaumont, Alisha se ouers, daar in hulle groot huis teen die berg waar die verfyndheid van ’n ou Europese beskawing nog geheers het. In die Kaap sou daar nou minstens drie dokters om nooientjie Lisha se kooi saamgedrom het om haar met die bevalling van haar eersteling te help. Nou is dit net sy self en hopelik netnou die dokter, en hy is tog maar net ’n dorpsdokter.

    Oomblikke later hoor sy verlig die geluid van die perdepote en wiele van die kapkar wat die dokter op die dorp moes gaan haal.

    Alisha maak haar grys oë oop. Die oë is nou donker van die pyn, donker soos die stormwolke wat in die winter oor die Lootsberg rol.

    Ma-Fytjie …

    Ma-Fytjie streel liefderik oor die natgeswete gesig.

    Hulle is hier, nooientjie. Seur Heinrich het die doktertjie gebring!

    Die deur gaan oop en Heinrich kom die kamer binne. Agter hom herken Ma-Fytjie die swartgeklede dokter met sy ruitmanteltjie en bolkeil.

    Hoe gaan dit, Ma-Fytjie? vra Heinrich bekommerd. Hy kniel langs die koperkatel en lig Alisha se fyn wit hand na sy lippe.

    Alisha sien die angs in sy donker oë. Sy raak aan sy gesig en probeer praat, probeer hom gerusstel, maar haar woorde word ’n kreet toe ’n spasma opnuut deur haar buik skeur.

    Die dokter sit sy hand op Heinrich se skouer en maak apologeties keel skoon. Mijnheer von Albein …

    Heinrich kom orent. Sy gevoel van magteloosheid maak hom tegelyk verbouereerd en driftig. Ek bly, dokter Janse! Ek wil by Alisha wees as –

    Dit sal g’n deug nie, meester Heinrich! Fya kom geskok orent. Dis nie vir mansmense se oë nie. My nooientjie Lisha is ’n fyn mensie. Sy sal g’n wil hê jy moet bly nie! Loop!

    Asseblief, Heinrich, fluister Alisha floutjies.

    Hy huiwer nog ’n oomblik lank. Dan buk hy af en soen die klam voorkop. Sy stem klink skor in die stil kamer. Ek sal net hier buite wees … Hy sluk swaar. Die trane prikkel vlak agter sy ooglede. Alisha, ek het jou lief! Hy kom orent en strompel die kamer uit.

    Dokter Janse spring aan die werk. Ons moet kookwater hê, genoeg daarvan.

    Ma-Fytjie knik. Staan klaar en borrel op die stoof, meester dokter. Ek sal laat Hanna en die Toefiegoed dit begin aandra! En sy haas haar deur toe.

    Agter haar begin die dokter met sy voorbereidings. Dit gaan beslis nie ’n maklike bevalling wees nie.

    Heinrich staar nikssiende in die vuur, wat laag brand in die kaggel. Sy wangbene en ken is donker van die baardstoppels. Dit kan hom nou min skeel. Alisha se pyne het begin, en daar is nie tyd vir verklee of skeer nie. Uit die voorhuis klink die uurslae van die ou staanhorlosie wat sy voorvader nog uit Duitsland saamgebring het dofweg op. Nege-uur! Hy kom ongedurig orent. Hoekom vat dit dan so lank?

    Hy was seker al ’n dosyn of meer kere met daardie trap op, om net maar weer te staan te kom voor die toe deur, ’n onverbiddelike skeiding tussen hom en sy vrou se lyding en die wonder van sy kind. Hy draai terug na die vuur en staar weer na die gloeiende kole. Dis asof hulle gloed in sy siel inbrand, asof hy dáár die verskriklike pyn voel wat Alisha verduur. Hy moes versigtiger gewees het, verwyt hy homself. Sy is te tenger om kinders in die wêreld te bring.

    Heinrich swaai vinnig om toe hy ’n geluid bo van die trap af hoor. Die deur staan op ’n skrefie oop. Hy hoor dit weer: die huilgeluid van ’n kind … ’n baba! Dit is sy kind! Vervaard storm hy die trap op. Niemand sal hom uit daardie kamer uithou nie!

    Alisha lyk broser as ooit, gestut teen die sneeuwit kantversierde kussings. Toe sy opkyk van die toegedraaide bondeltjie in haar arms af, merk hy in haar silwergrys oë ’n warm lig, ’n lig wat iewers in haar siel sy oorsprong moes gehad het.

    Oorweldig deur ’n gevoel van nederigheid kniel Heinrich langs haar, onbewus van die trane wat oor sy gesig stroom. Die skoonheid van sy vrou met die mensie wat uit hulle gebore is in haar arms, maak die fluistering van haar naam ’n gebed. Alisha, ek sal hierdie nag nooit vergeet nie! Ek het jou nog nooit so lief gehad soos juis nou nie.

    Dis ’n dogtertjie, Heinrich … Sy lig die babadeken van die gesiggie af weg om hom te laat sien.

    Die wesentjie maak haar ogies oop en staar uitdrukkingloos na hom, onbewus daarvan dat haar pa se hart in daardie oogwink vir ewig met hare versnoer raak. Vol verwondering en dankbaarheid lig Heinrich die bondeltjie mens in sy arms op.

    Ons sal maar weer moet probeer om vir jou ’n erfgenaam vir Sorgenfrei te gee, sê Alisha sag.

    Heinrich kan niks sê nie. Sy gemoed is oorvol. Hy dra sy dogter na die venster toe en kyk na die sneeubedekte velde van Sorgenfrei, bleek in die lig van die maan en die sterre.

    Uiteindelik het hy genoeg vertroue om te praat. Nee, Alisha, sy stem is sag. Die erfgenaam van Sorgenfrei, my dogter, hou ek nou hier in my arms vas.

    Heinrich draai terug na Alisha toe. Die trots en liefde op die groot, sterk man se gesig ontroer haar. Sy voel lomerig gelukkig.

    Hoe sal ons haar noem? vra sy slaperig.

    Heinrich huiwer nie. Deborah … Deborah von Albein. Sy sal ’n rigter onder die mense word.

    Buite verskiet ’n ster met ’n vlammende heerlikheid, blink en groot in die kristalkoue nag.

    Hoofstuk 1

    Die voshings steier verwoed op sy agterpote. Sy voorhoewe klief die lug. Hy probeer desperaat om ontslae te raak van die ruiter wat sy wil na hare wil dwing. Die stang byt ’n oomblik lank in sy bek. Sy oë rol wild. Hy runnik rasend. Dan hoor hy die ruiter met hom praat. Haar stemtoon is gerusstellend.

    Onverwags gee die ferm jong hand wat die teuels vashou die perd speling. Verward skiet hy vorentoe in ’n dawerende vaart na vryheid, onwetend dat dit reeds buite sy bereik lê.

    Deborah von Albein buig laag oor die perd se nek waarop die salpetervlekke nou kollerig begin uitslaan. Sy weet sy het gewen. Sy weet sy het die vurige dier onderwerp aan háár wil. Sy haat die woord inbreek. Die stuwing van sy spiere tussen haar bene maak haar onverklaarbaar opgewonde. Haar rinkelende lag klink op bo die gedawer van die voshings se hoewe. Ruiter en perd word een in hulle vaart om en om die perdekamp. Hulle spoed skeur die wind, wat weerwraak neem deur die jong meisie se hare los te ruk sodat dit vlasblond om haar gesig en skouers wolk.

    Deborah se mond is na aan die hings se platgetrekte ore.

    Vinniger! Vinniger! por sy hom aan.

    Nog twee maal om die perdekamp. Die jong vrou dryf hom aan met druk van knie en dy. Die dier se breë bors hyg. Hy raak vaagweg bewus van ander stemme wat aanmoediging skreeu. Dan voel hy die ligte pluk van die stang in sy bek, en hy weet verlig sy hellevaart is vir eers oor.

    Deborah bring die hings geleidelik tot stilstand. Sy spring af en streel oor die moeë, geboë nek. Sy lig sy kop op en kyk hom vas in sy bloedbelope oë. In dié oomblikke van oogkontak word ’n hegte band gesmee tussen perd en ruiter. Hy laat haar gelate toe om die teuels oor sy kop te swaai. Sy lei hom na die houtreling, waar twee ander mense wag.

    April Sardyn, die stalkneg van Sorgenfrei, klouter flink deur die tralies om die nuwe perd te gaan koudlei.

    Heinrich von Albein kom orent waar hy langs April teen die hek geleun het. Daar is ’n onmiskenbare uitdrukking van trots op sy gesig. Hy wag vir sy dogter wat nog met hul getroue ou perdeman staan en praat.

    Daar is min jong kêrels in die hele kontrei van Graaff-Reinet wat hulle sit só op ’n perd kan sit, en dit boonop op dié vurige voshings! Is dít dalk die rede waarom Deborah so min trek het vir die klompie vryers wat deurentyd rede soek om te kom kuier? Maar dan was sy dogter van meet af aan van ’n ander stoffasie gemaak as hulle.

    Heinrich onthou nog die nag van haar geboorte soos gister. ’n Helder ster het dié nag verskiet. Van die bruin mense het dit as ’n voorteken gesien en voorspellings gemaak oor die kind se toekoms. Hy het daaroor gelag.

    Heinrich het haar grootgemaak om die grond lief te hê. Sy meisiekind met die vlasblonde hare en donker Von Albein-oë het hom nie teleurgestel nie. Haar liefde vir Sorgenfrei word net deur sy eie geëwenaar.

    Deborah was ’n nuuskierige, leergierige kind. Dit het almal wat met haar onderrig belas was plesier verskaf. Haar goewernantes was dit almal roerend eens dat sy verstandelik ’n buitengewoon begaafde meisie is. Heinrich het hulle opdrag gegee om haar nie net Latyn, Frans en Duits te leer nie, maar ook algebra en meetkunde. Hy het haar self later leer boekhou, en was opnuut verras deur die kind se logika en vinnige begripsvermoë.

    Deborah het beslis ’n sakebrein. Met haar vernuf sal sy nie vir een van die boere in die kontrei hoef terug te staan wanneer hy die dag nie meer daar is nie.

    Heinrich het Alisha se teregwysings dat hy hulle dogter mannetjiesagtig opvoed, tog ter harte geneem. Daarom het hy sy vrou selfs gesteun in haar pogings om die soms onwillige Deborah te skool in etiketreëls en die sosiale verfyndhede wat so eie aan Alisha is.

    Alisha is ’n uitmuntende pianis en het Deborah ook klavierlesse gegee, maar tot haar spyt het die kind geen trek gehad vir elegante salonmusiek nie. Die kind se lenige, jong hande wou veel eerder die drif van ’n Beethoven, uiters onvroulik volgens Alisha, verklank. Sy moes later maar kopgee en aanvaar dat Deborah nie haar musieksmaak deel nie.

    Heinrich maak die hek oop vir sy dogter. Die wind en opwinding het ’n blos op haar gesig gelaat. Haar donker oë skitter van genot toe haar pa haar styf teen hom vasdruk. Sy lag.

    Vanjaar trap ek en dié vosperd almal op die skou uit! Dis darem ’n vurige dier, Pa! April dink ons moet hom met Fleur laat paar.

    Jy’t voorwaar knap gedoen, my meisiekind! Hy vee die weerbarstige hare weg uit haar gesig en glimlag tergend. Ek weet nou nie of jy dit so beplan het nie, Deborah, maar jy’t my al weer omgerokkel …

    Wat meen Pa?

    Die hings is joune.

    Pa! Bedoel Pa dit?

    Hy knik geamuseer. Haar berekende onskuld is tog so bekoorlik. Hy is oortuig dat sy met opset die perd voor hom ingebreek het omdat sy gewéét het haar vertoning sou die deurslag gee. Hy hou egter sy gedagtes vir homself en verlustig hom in sy dogter se reaksie.

    Deborah slaan haar arms om sy nek en gee hom ’n klapsoen. Dankie, liefste Pappa! Ek gaan hom Vlam noem!

    Heinrich haak by sy dogter in. Sy is al amper so lank soos hy.

    As jy só aangaan, neem jy ál my pronkperde af!

    Sy kind se helder lag laat sy hart warm klop.

    Hulle begin koers kry met die skaduryke akkerlaan langs na die opstal wat nou met sy gewels rosig gebaai in die laatmiddagson staan. Die reusagtige akkerbome ets fyn kantpatroontjies teen die afgewitte mure wat geslagte gelede deur Heinrich se voorvader gebou is toe hy hom as pionier op Sorgenfrei kom vestig het.

    Dis aan daardie versiende eerste Heinrich te danke dat Sorgenfrei, in teenstelling met so baie van die ander plase in die kontrei, selfs in die dorste tye groen bly. Hy het die bergfontein se water laat opdam in die natuurlike holte wat laer af links van die opstal lê. Daardie dam is nou, tagtig jaar later, omring deur reuse-treurwilgers, Deborah se geliefkoosde wegkruipplek.

    Op die voorstoep se trappe verskyn Ma-Fytjie, gewigtig, monumentaal. Met Ma-Fytjie se koms negentien jaar gelede, is daar onmiddellik nuwe reëls neergelê in die huis waar die seur straks te lank ’n vrygesel was. Van die eerste oomblik wat Fya Fortuin die leisels oorgeneem het, het al die plaaswerkers – van die oudste tot die jongste – haar met ontsag behandel. Die heilige respek het stellig ook iets te doen gehad met die dik voorarm, wat sy soms saam met haar bytende tong ingespan het.

    Pa en dogter merk dat Ma-Fytjie haar hande uiters ontevrede op haar massiewe heupe sit toe sy hulle sien aankom. Deborah grinnik ondeund vir haar pa. Vanaand gaan ek dit weer hotagter kry omdat ek nie my kappie ophet nie.

    Die ligroos moeselien-middagtabberd met sy hoë hals en kantversierde beffie wat Ma-Fytjie reeds uitgehang het, geval Deborah bitter min. Sy vind die pofmou, volgens haar ma nou uiters modieus, warm en ongemaklik en die boeseltjie agter verspot en hinderlik. Maar vanaand laat sy nie haar afkeer blyk nie. Sy weet sy moet fyn trap wanneer Ma-Fytjie op die oorlogspad is. Sy verduur dus ook maar die tonggeseling met ’n ongewone gelatenheid. Bedees giet sy die laventel-gegeurde waswater uit die porseleinlampetbeker in die waskom en begin was. Ma-Fytjie se breë gesig tril van verontwaardiging toe sy die handdoek gereed hou vir haar grootmaaknooientjie.

    Soos ’n wille filistyn, dié het jy geword!

    Sy begin die meisie afdroog voordat sy haar satyngladde vel besprinkel met ’n mengsel van vollersaarde en koeksoda – enige sweempie sweet se moses. Die ou vrou stoom voort en die poeier waas op voor haar kastydende asem. Kerjakker nou mos van hoenderkraai op die perde rond!

    Was net vanmiddag … probeer Deborah protesteer, maar Ma-Fytjie boender haar op die stoel neer sodat sy die kardoesbroek met sy oormaat valletjies vir Deborah kan aantrek.

    Ek het amper my ou oë uit geskaam toe ons hier van die stoep vir jou sien … Sy trek Deborah orent en begin die bostuk se reeds ingerygde toutjies vastrek. Wat die ou vrou nooit aan Deborah sal beken nie, is dat sy onbybels trots is op die slanke, grasieuse postuur van haar versie, soos sy Deborah soms noem. Die kind is nou maar eenmaal goed geskape, al is sy so hoog op die bene, dink sy selfvoldaan terwyl sy die lussies vastrek en die belynde kloklynonderrok waaraan die boeseltjie se kussinkie vasgeheg is, optel. Sy glip dit oor Deborah se middel en draai haar om om dit vas te maak.

    Deborah sien haar eie beeld in die spieël van die ornate Victoriaanse rooshouthangkas. Sy lyk vir haar soos ’n veerpoothoender in dié onderrok met die valletjies-kardoesbroek wat onder uitsteek. Sy glimlag en trek vlugtig vir haarself skewebek in die spieël. Ma-Fytjie lig die tabberd van die klereskouertjie af en sien dit gelukkig nie raak nie. Haar bekwame hande begin die rye lussies en knopies flink vasmaak. Hulle wedywer met Ma-Fytjie se mond wat nog nie ontslae is van al die opgekropte stoom nie.

    Maar my hande wou ek saamslaan in skandigheid toe jy nou weer soos ’n regte poerakind wydsbeen op die perd sit – en dit voor die werkers! Geen gedagtetjie aan jou-se-mamma nie! Vir wat kan jy nie meer soos nooientjie Lishatjie wees nie?

    Sy druk Deborah op die boudoir-stoeltjie voor die spieëlkas neer en begin haar hare met lang hale borsel. Dan swiep sy dit behendig op en heg dit met kammetjies vas. Sy borsel die haremassa wat los van die kroontjie af hang tot dit soos silwer sy glim in die lig van die koperlamp. Uiteindelik is sy tevrede met haar handewerk. Haar versie is getooi vir aandete.

    In die lig van die blink lamp skyn die meisie se oë soos twee donker sterre. Die sagte, vol mond lyk weerloos jonk. Ma-Fytjie vermurwe. Dis háár mooinooi! Weliswaar ’n wille vulletjie, dit kan g’n mens ontken nie, maar dis seker maar die Von Albein-bloed wat so deurslaan. Sy’s altevol net soos meester Heinrich. Maar laat dit wees soos dit wil, Deborah is en bly die vetkant van Fya Fortuin se hart.

    Alisha von Albein se slanke hande lê ’n oomblik ledig op haar borduurwerk. Sy kyk peinsend na haar man en dogter. Hulle koppe is na aan mekaar gebuig waar hulle konsentreer op hulle skaakspel.

    Alisha het van Ma-Fytjie verneem dat Heinrich Deborah weer toegelaat het om ’n hings in te breek. ’n Effense frons ontsier haar gladde voorkop. Lief soos sy haar kind het, is sy raadop met haar ontembare geesdrif. Daar sal ’n plan gemaak moet word om die kind te verfyn. Miskien ’n afrondingskool in Europa? Sy self was ’n jaar in Switserland saam met haar moeder, kort voor sy Heinrich agtien jaar gelede ontmoet het. Maar sy laat dié idee met ’n sug vaar. Heinrich sal sy lieflingskind nooit so lank van hom af laat weggaan nie. Miskien moet sy maar weer met Heinrich mooipraat.

    Heinrich kyk op. Sy gesig verteder. In die lig van die koperkandelare lyk Alisha in haar liggeel organdierok nie veel ouer as die dag toe hy haar hierheen gebring het nie.

    Ons verwaarloos vir Mamma! Hy kom orent en loop oudergewoonte oor na die okkerneuthoutbuffet waarop die kristalkraffie met Alisha se geliefkoosde port staan. Hy skink vir hul albei ’n glasie en sit die glasies op die tafeltjie langs haar neer. Sy glimlag vir hom. Hy buig en lig haar hand na sy mond toe op. Sy lippe streel oor haar vingertoppe.

    Deborah is gewoond aan die liefdesgebaartjies tussen haar ouers en slaan min ag daarop. Sy gaan sit in haar pa se leunstoel en tel die Herald op wat sy vroeër gelees het. Haar oë glip vinnig oor die hoofopskrif:

    FERREIRA’S CAMP TO BE NAMED JOHANNESBURG

    GOLD RUSH TO WITWATERSRAND

    Terwyl sy lees, oorreed Heinrich sy vrou om vir hulle klavier te speel. Alisha gaan sit by die instrument, en sagte, weemoedige klanke klink op uit die vleuelklavier wat hy vir haar uit Duitsland laat kom het.

    Deborah is skaars bewus van die musiek wat die kamer vul. Die berig in die koerant fassineer haar. Mense stroom in hul tienduisende na die nuwe goudvelde … goudvelde veel ryker as dié wat in die Oos-Transvaal ontdek is. President Kruger het ’n dorp laat proklameer … sy wonder na watter Johannes dit vernoem is.

    Sy lees voort en wonder waarom mense agter goud aanstroom na ’n onherbergsame gehuggie waar daar glo skaars enige water is.

    Later die aand, ná Ma-Fytjie haar vir die nag geskik het, lê Deborah nog na die flikkerende kerspit en kyk. Half aan die slaap dink sy weer aan die plek met die naam Johannesburg. Sy probeer haar dit inbeeld: ’n dorpie tussen kliprantjies met te veel mense. ’n Barre vlakte waarop wit tente oral paddastoel.

    Maar uiteindelik is dit Vlam wat haar gedagtes oorheers. Net môre sal sy die belangrike gebeurtenis in haar dagboek aanteken: Op die 16de September 1886 het Pa vir my Vlam present gegee … Sy raak aan die slaap met ’n glimlag om haar mooi, jong mond.

    Hoofstuk 2

    Kurt Gottfried Mannheim se leeuekop buig oor die brief uit die dekaanskantoor van die universiteit van Oxford wat hy pas ontvang en gelees het. Met misnoeë op sy gesig soek hy na die datumstempel. 30 Junie 1887. Dit het meer as vier maande geneem om Johannesburg te bereik.

    Die enkele vel deel Kurt beleef mee dat sy seun, Karl Mannheim, versoek is om die universiteit vanweë onbetaamlike gedrag te verlaat.

    Geskors! Vernedering en woede brand in Kurt se bors. Hoeveel keer in die verlede moes hy nie al sy seun se kastaiings uit die vuur krap nie?

    Hy kom orent agter die olmhoutlessenaar wat onvanpas lyk in die byna Spartaans gemeubileerde sinkkantoortjie van Mannheim Enterprises. Sy skouers is geboë. Ingedagte kies hy koers na die deur wat uitloop op ’n smal veranda.

    Met oë wat weinig waarneem, betrag hy die myners wat ’n swaar ertstrollie op die blinkende ysterspoor nader sleep. Die span Zoeloes wat hy twee maande gelede in Natal gaan werf het, sing ’n eentonige beurtsang wat hy nie verstaan nie. Die sweet blink op die donker, gespierde lywe wat krom beur aan die swaar massa van die vrag gouderts.

    Goud. Sy goud.

    Hy het grond opgekoop lank voor die spul rowe snuf in die neus gekry het omtrent die ryk rif van die Witwatersrand.

    Hy onthou die gevoel van onrus destyds. Het hy moontlik ’n oordeelsfout begaan met sy spekulasies? Was hy ’n gek om die stories te glo van die Duitse prospekteerder, Carl Lausch, wat hy in Kimberley raakgeloop het?

    Drie jaar lank het die gerugte dag vir dag gewissel van blote versinsels oor towergoud tot legendes oor onontginde rykdomme wat net wag om blootgelê te word.

    Kurt het ná sy gesprek met Lausch die risiko geneem en plase begin aankoop. Eers was dit Langlaagte en Rietfontein, daarna het vier ander gevolg. Grond was in daardie dae betreklik goedkoop.

    Toe begin die gewag.

    Die plase het gaandeweg verwaarloos. Onkruid het deur die misvloere van die verlate opstalle opgekom en saadgeskiet. Kurt se ongemak het toegeneem, nie soseer oor die geld wat hy moontlik kon verloor nie, maar omdat hy nie die moontlikheid kon verduur dat hy dalk ’n oordeelsfout begaan het nie.

    Kort voor Desember het hy in sy kantoor in Kimberley gehoor van ’n suksesvolle nuwe jong geoloog, George Harris. Hy het Harris dadelik laat opspoor en hom oorgehaal om op die Mannheim-grond te kom prospekteer.

    Skaars ’n maand later kom Harris opgewonde by Kurt aan met bonkige mineraalmonsters, ruimskoots gestreep met die edelerts. Lausch se teorie is bevestig! Die gouderts op Kurt se plaas, Langlaagte, was van ’n ongeëwenaarde ryk gehalte. Die geheime rykdom van die Witwatersrand is ontdek.

    Kurt was tevrede. Sy Midas-instink het hom vir die soveelste keer nie in die steek gelaat nie. Van jongs af het hy in die ruwe skool van oorlewing waarin hy gebore is, geleer dat oordeelsfoute ’n luukse is wat hy hom nie kan veroorloof nie. Daarom is hy wat hy vandag is: ’n baie ryk man.

    Afgesien van sy belang in sy goudmyne, is daar die Mannheim Enterprises-aandele in die Krupp-wapenfabriek in Duitsland, wat tans deur die Bank van Berlyn vir hom behartig word. En verder is daar die florerende klerefabriek in Aachen.

    Kurt frons. Hy oorweeg dit in hierdie stadium sterk om die fabriek te verkoop. Kort gelede het hy juis ’n goeie aanbod daarvoor ontvang. Aachen is ’n gedeelte van sy verlede wat hy wil toesluit soos mens ’n grafkelder toesluit ná jy iemand daarin weggelê het. Dit was daar waar hy sy eerste fortuin gemaak het.

    Dit is ook daar waar Kurt, gebore Kurt Gottfried Götz, sy vrou, die aristokratiese Jutta Mannheim, ontmoet het en die naam Mannheim aangeneem het nadat hulle getroud is.

    Vir Jutta se verarmde vader was die voortbestaan van die familienaam baie belangrik en hy het Kurt versoek om die naam aan te neem aangesien hy self geen seuns gehad het nie. Vir Kurt was dit eintlik om ’t ewe. Wat het die naam Götz in elk geval met hom te make? Dis aan hom gegee deur die priester wat hom as vondelingseuntjie op die kerktrappe gevind het. Maar finansieel gesproke het die naam Mannheim vir hom geluk gebring. Dit het deure oopgemaak.

    Sy privaat lewe, daarenteen, het ’n nagmerrie geword. Die hooghartige Jutta het hom nooit laat vergeet dat sy benede haar stand getrou het nie, en dit boonop met ’n parvenu wat sy geld gebruik het om vir hom ’n naam te koop. Hy is bolangs aanvaar in die Mannheims se sosiale kringe, maar Kurt het geweet daar word agter sy rug met hom die spot gedryf.

    Hy het al hoe meer afgesonder geraak, en hom daarom met hernude dryfkrag beywer vir die familieonderneming, die klerefabriek. Die fabriek in Aachen het spoedig dividende begin afwerp en Kurt het die omset drievoudig vermeerder. Sy eie fortuin wat hy daarin belê het, het verdubbel. Ten spyte van sy finansiële welvaart het die ongelukkige Kurt gedurende daardie jare gevoel asof hy die eensaamste mens op aarde is.

    In ’n doelbewuste poging om te ontsnap aan die pynlike gedagtes aan die verlede, haal hy sy goue sakhorlosie uit die sysak van sy grys onderbaadjie. Die nagskofwerkers sal aanstons begin aantou uit die sinkkampongs wat hy laer af vir hulle opgerig het.

    Maar Kurt slaag nie daarin om hom van sy gedagtes aan die verlede te bevry nie. Die gesig van Jutta met haar vlasblonde hare en gesonke, donkerblou oë brand vir ’n kort oomblik agter sy ooglede. Hy het haar tog op sy eie manier liefgehad. Dit was sy ondergang.

    Of sy ooit ’n greintjie van ’n soortgelyke gevoel vir hom gekoester het, is te betwyfel. Hy glo dat hy vir haar bloot as ’n soort verskaffer aanvaarbaar was, die een wat haar in weelde moes hou om te vergoed vir die vernedering wat sy moes verduur deur haar bed met iemand so ver benede haar stand te moet deel.

    Niks uit sy vroeëre ongelukkige huweliksjare het egter opgeweeg teen die hel wat op hom gewag het ná hul dogtertjie, Lizel, se dood nie. Jutta het hóm daarvoor blameer, en hy is deur sy eie selfverwyt verteer. Die toiingrige oorblyfsels van hul reeds voddige huwelik het toe finaal uitmekaargerafel.

    Kurt het dit oorweeg om Jutta te verlaat, maar hy het nie. Sy was toe reeds ’n baie siek vrou. Later, toe sy vir Karl ’n gevaar geword het, het haar dokters hom selfs aangeraai om haar permanent in ’n inrigting te laat opneem. Vir Kurt was dit egter nie moontlik nie. Hy het Karl weggestuur na sy grootmoeder en tantes, en Jutta met die hulp van hul getroue bediendes bygestaan en verduur tot die dag van haar dood.

    Waarom dink hy vandag so baie aan haar, verwyt hy homself. Dan besef hy dit gaan om sy huidige kwelling: hul seun, Karl.

    Ja, Karl … Karl was van die begin af Jutta se kind, dink hy, nie net in voorkoms nie, maar ook wat sy wispelturige geaardheid betref.

    Vrees omklem Kurt se hart by die gedagte aan Jutta kort voor haar dood – dit was afstootlik! Hy onderdruk die folterende herinnering.

    Karl is sý seun ook! Hy, Kurt Götz, nou Mannheim, is waarskynlik die kind van ’n hawewerker en ’n dokhoer, maar in sy are vloei daar sterk, gesonde bloed. Op daardie bloedband het Karl ook aanspraak. Wat met Jutta gebeur het, sal nie noodwendig Karl se lot wees nie. Sy was swak en geestelik ongebalanseerd ná Lizel se dood. Hy sal sorg dat dit nooit met Karl gebeur nie. As hy net die jong man se pierewaaierstreke uit hom uit kan moker … Hy sal vinnig ’n plan moet maak om sy seun tot sy sinne te dwing; om van hom ’n man te maak! Maar hoe dring ’n mens deur tot ’n jong man met wie jy nooit enige aanknopingspunte gehad het nie? Hy en Karl is net sulke vreemdelinge vir mekaar as wat hy en Jutta was.

    Die felheid van die laatmiddagson laat Kurt sy oë op skrefies trek. Sy prominente wenkbroue bondel soos donker ruspes saam. Hy sien die lig glim op die water van die myndam wat hy ses maande gelede laat bou het. In die skadu van die massiewe damwal staan ’n vervalle hartbeeshuisie. Dit was die oorspronklike plaasopstal, maar nou het dit ’n vesting vir rot en vlermuis geword. Hy sal dit seker die een of ander tyd moet laat sloop. Maar die rif loop oos, dus is dit nou nog nie ’n noodsaaklikheid nie. Die meeste van sy myne brei na die suide toe uit.

    Hy draai om en keer terug na die donker kantoor. ’n Dinamietontploffing laat die vensterrame ratel. Kurt glimlag stroef. Nuwe gange; plofstof wat die aardkors se skoot oopruk sodat sy haar ryk erts kan blootlê vir sy myners. Dis asof die bekende donderende klapslag sy somber gedagtegang verhelder, asof sy denke weer koers kry.

    Toe hy weer agter sy lessenaar inskuif, het Kurt sy plan van aksie agtermekaar. Hy sal Karl laat terugkom. Hy sal van hom ’n myner maak, ’n gragarbeider, as dit daarop aankom! Hy sal hom inbreek en van hom ’n waardige erfgenaam maak, iemand wat eendag die leisels by hom kan oorneem.

    ’n Klop aan die deur onderbreek Kurt se gemymer. Sy sekretaris, Henry Rheed, kom op sy bevel die vertrek binne. Rheed, in sy gewone swart-en-wit geruite pak, lig sy bolhoedjie en buig beleef.

    Ek was weer by Malloy, meneer Mannheim. Ek het my bes gedoen om hom om te praat, maar dit spyt my, hy wil steeds nie die grond naby Onderkopjes verkoop nie.

    Selfs nie ná ek my aanbod verhoog het nie?

    Rheed knik. Hy sê u het genoeg grond, hy sal hou wat syne is en basta met u omkopery. Die sekretaris trap ongemaklik van een voet na die ander. Dit was sy presiese woorde, meneer Mannheim, voeg hy verskonend by.

    Kurt se gesig, bedrieglik uitdrukkingloos, verraai nie sy ergerlikheid nie. Wie de duiwel dink die vent is hy? ’n Ierse turftrapper van nêrens! Weliswaar eienaar van ’n paar drinkershole waar los vroue rondhang, maar ’n nikswerd opdrifsel wat hom wil dwarsboom. Hoe durf hy kragte meet met hom, Kurt Mannheim! Hy kyk Rheed koel aan.

    So, die Ier probeer ’n kans vat, sê hy. Dink jy hy’t hoop om op dié manier nog meer geld vir die stuk grond in te palm?

    Rheed skud sy kop ongemaklik. Die Ier, Kit Malloy, met wie hy vanmiddag probeer onderhandel het, is die soort man wat mens selde op die delwerye raakloop. Daar doen baie gerugte oor hom die ronde, onder meer dat dié geheimsinnige kêrel glo in Indië die rang van kaptein in die Britse leër beklee het, maar dat ’n skandaal sy loopbaan verongeluk het. Wat Rheed stellig weet is dat Malloy as sakeman met rasse skrede vooruitgaan.

    Ek is jammer, maar ek twyfel of dit om geld gaan, meneer Mannheim. Hy het my uitdruklik versoek om aan u te sê dat dit die derde keer is dat u hom om sy grond vra, en sy antwoord is vir die derde en finale keer nee.

    Kurt sit ’n rukkie ingedagte voordat hy orent kom. Ons sal sien, sê hy en loop na die kapstok waar hy sy hoed afhaal. Die ruie wenkbroue is weer in ’n onweersfrons saamgetrek. Sy tipe het altyd ’n prys.

    Hoofstuk 3

    Kit Malloy se lenige figuur is donker afgeëts teen die venster. Hy draai om; sy elegante onderbaadjie van fluweelbrokaat weerkaats die laaste daglig. Die modieuse paisley-ontwerp daarop glim soos juwele.

    Die stemmige Mac MacIntyre, Kit se jare lange vennoot en kameraad, oorweeg kortstondiglik hoe so ’n flambojante onderbaadjie aan sy eie stewige bolyf sou lyk, maar die blote idee is so verregaande dat dit hom half verleë laat glimlag.

    Die kontras in voorkoms tussen hom en sy vriend, Kit Malloy, was nog altyd opvallend. Kit, met sy effe geboë arendsneus, sy wakker donker oë, herinner aan ’n Spaanse edelman, maar volgens Mac se mening is dit die Ier se ingebore grasie, die latente energie wat hy uitstraal, wat hom uitsonderlik maak en bo gewone sterflinge laat uittroon.

    Kit beweeg met die soepelheid van ’n luiperd, en op ’n manier is hy ewe gevaarlik as jy aan sy verkeerde kant kom. Ten spyte van sy vriend se imposante voorkoms, is die man ’n alleenloper – nie dat die dames nie voortdurend om sy guns wedywer nie. Malloy se ongewone skuheid vir romantiese verhoudings is te wyte aan die grusame voorval byna tien jaar gelede in Pondicherry, Indië. Kit was betrokke by ’n getroude vrou. Die vrou se tragiese dood het daartoe gelei dat Kit, kaptein van sy garnisoen, sy rug op die Brits-Indiese leër gekeer het en uit die Lancers bedank het. Ná dié pynlike ervaring het Kit hom na Afrika gewend in die hoop om ’n nuwe lewe te probeer bou, en Mac het hom ’n paar maande later gevolg. Die suidpunt van Afrika het hulle nie teleurgestel nie.

    Mac het sy vriend se geskiedenis selfs nie eens met sy geliefde Meg gedeel nie. Om haar van daardie makabere gebeure te vertel, sou die vertroue skend van die man wat telkemale sy lewe in benouende omstandighede gered het.

    Onbewus van Mac se gedagtes draai Kit weg van die venster waar hy uitgekyk het op die bedrywighede onder op die markplein. Sy kenmerkende spottende glimlag pluk aan sy mondhoeke.

    Dis ou Kurt Mannheim se uitspattige kales daar onder. Die ou is vroeg vandag. Seker op pad huis toe.

    Mac se sproeterige gesig lyk bekommerd. Jy was vanmiddag onnodig rof met die tong teenoor sy sekretaris. Die man is weliswaar ou Kurt se skoothond, maar –

    Hopelik dra sy skoothond die boodskap hierdie keer deegliker oor, onderbreek Kit hom. Hy reik uit na die pakkie lucifers en sy bruingebrande hand speel ’n sekonde daarmee. Hy haal een uit en trek dit teen die sool van sy stewel. Die swaelstokkie se kop vlam groenerig op en verlig Mac se bekommerde gesig ’n oomblik lank. Kit begin die twee olielampe aan weerskante van sy lessenaar aansteek. Mac se uitdrukking amuseer hom.

    Miskien moet ek jou ’n ordentlike whisky injaag. Jy lyk maar valerig om die kiewe, my vriend. Imponeer die oukêrel se grootdoenery jou soveel?

    Is dit nou nodig om uit jou pad te gaan om skoor te soek?

    Kit lag saggies. Hy gaan sit en strek sy lang bene in hul leerstewels voor hom uit. Daar lê vlaktes braak wat die ellendige ou swernoot kan inpalm. Waarom neul hy nou spesifiek oor my lap aarde daar by Onderkopjes? Dis buitendien bougrond, nie myngrond nie.

    Ek het verstaan Kurt Mannheim beplan glo om vir hom ’n huis te bou.

    Daar? Teen Onderkopjes se rant? Dis myle van sy myne af!

    Mac sien nietemin dat Kit die brokkie nuus wat hy hom gegee het ’n oomblik lank oorweeg. Dan lag Kit. Nou toe nou – ’n huis vir die Mannheims, nè? Ek moet sê, hy sal nogal ’n uitsig hê. Van daardie rantjies af het ’n mens ’n arendsblik op hierdie myngehuggie.

    Mac bestudeer sy vriend se gesig ’n oomblik lank voordat hy praat. Miskien onderskat jy Kurt Mannheim. Hy is ’n moeilike man en daarby is hy so ryk soos koning Croesus self. En Onderkopjes … wat wil jy so danig met daardie grond maak? Wat maak dit so uitsonderlik?

    Die glimlag bly om Kit se mond speel, maar sy oë is skielik glinsterhard. Basta, Mac. Hou op om duiwelsadvokaat te speel. Die grond is myne. Dit geval my daar, en dis die einde van die saak.

    Kit lig sy bene op die lessenaar. Hy tel sy sigaardoos van silwerdraadwerk op en hou dit uit na Mac. Mac kies woordeloos ’n sigaar uit en knik dankie. Kit steek sy eie sigaar aan en teug diep daaraan. Blou sigaarrook omsluier sy sterk gebeitelde gesig.

    Kurt Mannheim, sê hy byna ingedagte, dink hy is koning op hierdie mishoop genaamd Johannesburg. Hy probeer om die hele dorp vir homself in te palm. Ek is moeg vir sy hovaardige houding. So, waarom sal ek verkoop? Waarom sal ek aan hóm van alle mense my grond afstaan? Die ses akkers daar teen die rif is goed geleë en die lug daar is vry van stof en die rook en stank van konkavure.

    Hy glimlag en tik die as van sy sigaar af. Maar gee die duiwel sy eer … die ou bliksem het my ’n idee gegee! Wie weet, miskien bou ek self nog eendag vir my ’n huis daar op die hoogste koppie – nee, ’n paleis, goed genoeg vir ’n koningin!

    Mac glimlag halfhartig. Sal wragtig ’n soort Delila moet wees … iemand wat jou kan vasweef sodat jy nie kan wegkom nie. Ek twyfel of so ’n koningin in dié kontrei rondloop!

    Kit slaan nie ag op Mac se laaste aanmerking nie. Hy sit ingedagte en trommel ’n ritme uit met sy vingers. Dan lig hy sy bene van die lessenaar af en sit orent. Sy gesig is skielik waaksaam. Los dit. Laat ou Mannheim in sy eiewaan versuip! Dis nie waaroor ek met jou wou praat nie.

    Mac teug aan sy sigaar en kyk hom vraend aan.

    Kit rook ook ’n kort rukkie in stilte, dan sê hy: Jy weet so goed soos ek dat die dorp gaan uitbrei. Die goudriwwe hier is diep en dit mag vorentoe probleme veroorsaak. Maar Johannesburg gaan nie dieselfde pad loop as die Oos-Transvaalse delwerye nie. Daar kom daagliks al hoe meer fortuinsoekers op die markplein aan en die tentdorpe wat nou om die myne begin paddastoel, begin ’n kopseer word vir Von Brandis. Daardie tente gaan plek maak vir huise en nog meer huise, vir kroeë, winkels, kantore … Die Onderkopjes-grond is ’n belegging, maar ek wil dit laat lê. Dis vir later. Grond gaan ons goud word, MacIntyre! Ons moet nou rondom die dorp begin opkoop soveel as wat ons kan.

    Mac vryf die stoppels aan sy ken ingedagte. Hy is skrikkerig vir oorbesteding. Sy Skotse aard laat hom glo aan bates wat sonder skuld bestuur kan word. Maar wat Malloy sê maak goeie sin. Hy gooi nogtans halfhartig wal. En die salonne? Wat van hulle, Kit? Ons het al klaar ons hande vol; ek sou liewer dat ons uitbrei op ’n gebied wat ons ken.

    Toegegee. Daar is drie ander lokale wat ek glo binnekort op die mark gaan kom … Ons gaan hulle koop, Mac.

    Mac kyk hom onseker aan. Wat sou hy bedoel? Hy het geen gerugte gehoor dat hul kompetisie wil verkoop nie. Dit sou onsinnig wees, veral in so ’n bloeitydperk. Iets broei in die Ier se kop, dink hy terwyl hy die lenige man dophou.

    Kit staan op om vir hulle whisky te skink uit ’n kristalkraffie wat een van die salonmeisies reeds vroeër die middag op die geleentheidstafeltjie gesit het. Hy gee vir Mac sy glas en hulle klink oudergewoonte voor die eerste teug.

    Die skemer buite wyk nou finaal voor die donkerte wat ongemerk soos swart steenkoolstof teen die ruit begin kleef. Kit is buitengewoon stil. Mac merk die frons tussen sy welige wenkbroue toe hy skielik sy sigaar dooddruk.

    Daar is iets anders waaroor ek ook met jou wil praat. Die kilheid in Kit se stem ontgaan Mac nie. Is jy nie eens ’n bietjie nuuskierig om te weet onder watter van ons kompetisie ek gaan inklim nie, Mac?

    Mac sit sy glas neer. So dis nie opkoop nie, dis oorneem …

    Nie heeltemal nie, hoewel hulle verdien om uitgeroei te word. Ek praat van die gespuis in Markstraat.

    Die Petite Parisienne? Mac skud sy kop onthuts. Nou speel jy wragtig met vuur! Hulle is deel van ’n sindikaat. Die Bowry-broers is ’n gevaarlike spul.

    Ja, dis wat hulle almal wil laat glo. Maar ek onderskat hulle geensins nie. Hulle is uitvaagsels, Mac, opdrifsels uit die Ou Wêreld wat hier met hul onheilige bedryf kom nesskop het!

    Die lamplig teken die onverbiddelikheid op Kit se sterk gelaat nog sterker af teen die vensterruit, wat nou inkswart is. Hy sit ’n rukkie stil, versonke in sy eie gedagtes. Dan sê hy sag: Hulle misbruik jong meisies – nee, kinders, Mac. Dít is wat hulle in daardie hool van hulle aan die delwers uitveil!

    Onder in die salon begin die pianola ’n meganiese deuntjie uittokkel. Julia sing saam en haar uitkenliedjie klink dofweg op: I’ll be your golden gal, dear heart, and you’ll be my golden boy … Die eerste klandisie van die aand moes dus aangekom het.

    Mac kom orent. Dis gerugte. Ek het dit ook gehoor, maar –

    Is dit? Kit kyk Mac strak aan. Vra jou vrou of sy jou vanaand sal afstaan, dan gaan wys ek jou wat gerugte is en wat nie!

    Rook en die reuk van braaivleis hang verstikkend oor die markplein. Die honderde konkavure van togryers wat uitgespan het, gloei soos vurige oë in die vroeë aandskemering.

    Die treurige geloei van die trekdiere meng met die perde se rustelose geproes en die mensestemme uit die watente en om die vure. Iewers op die donker gemeenskapsplein klink die klanke van ’n harmonium wat treur oor ’n land ver oor die see, waar deinende groen grasvlaktes en alpekrokusse gedy.

    Elke dag neem die hoopvolle aankomelinge toe. Hulle kom van dwarsoor die wêreld, en die dorp word voller. Die barre aarde met sy bosryke koppies in die verte het die nuwe Eldorado geword waarom desperate drome van rykdom geweef word. Goud. Die towerwoord snoer entrepreneur en delwer saam in hul onversadigbare drang na daardie eenmalige groot fortuin.

    Die skril gelag van ’n vrou en die dronkerige geroesemoes van manstemme styg uit bo die getonk van ’n blikkerige klavier toe Kit en Mac hulle perde aan die stutpaal vashaak buite die Petite Parisienne.

    Mac kyk benoud na die swaaiende uithangbord waarop ’n halfnaakte vrou geskilder is. Dit is hier, in hierdie hool, waar Cockney Liz haar kom vestig het toe dinge vir haar begin skeefloop het in die Oos-Transvaal.

    Mac dink ’n oomblik lank aan sy rysige blonde vrou, Meg. Sy sal veel te sê hê as sy moet uitvind waarheen Kit hom vanaand sleep! Hy sug en volg sy vennoot na die swaar, toegesperde houtdeur onder die uithangbord.

    Mac se duidelike ongemak laat Malloy grinnik. Die sproeterige Skot kyk hom ergerlik aan, loop dan kordaat by hom verby en pluk hard aan die klokkoord.

    Die loergat se skuiwer gaan oop. ’n Agterdogtige oog bespied die nuwe aankomelinge eers voordat die deur oopgemaak word. Kit onderdruk sy geamuseerdheid; hy het begrip vir Mac se fynheid van nerf wat dié dinge betref. Sy weersin in die onkuise hool is verstaanbaar, veral as mens sy respek en liefde vir die imposante en puriteinse Megan in gedagte hou. Maar Kit weet ook dat Mac se sin vir wat reg is swaarder by hom sal weeg as hy eers gesien het wat hier aangaan. Dis waarom hy hom gebring het.

    Blou rookwalms hang soos misnewels in die drinkerslokaal en meng met die suur reuk van bier en goedkoop snaps. Delwers – swart en wit – nog in werksklere meng met sakemanne in hul eenvormige streepbroeke, donkergrys of swart manelbaadjies en modieuse hardebolkeiltjies wat oor die kliphard gestyfde vlerkboordjies van wit linnehemde troon.

    Almal wat in hierdie kroeg saamgedrom staan het met dieselfde vleeslike versugting gekom: vroumense! Die Witwatersrandse rif het nog nie – soos Barberton destyds – genoeg bordeelmeisies aangelok nie, en die manne wat van heinde en verre maande lank op tog was, voel die sap brand in geswolle kliere.

    Daar heers ’n gevoel van afwagting in die rokerige vertrek; van die donkergroen damasgordyne is toegetrek. Cockney Liz sal nou enige oomblik haar verskyning maak. Sy het gisteraand ’n verrassing beloof. Dis alombekend dat daar reeds twee weke gelede ’n nuwe besending vrygoedjies aangekom het. French-fontein, soos die Petite Parisienne gedoop is, hou dus die belofte in vir menige geil ure van plesier vorentoe.

    Kit en Mac beur ’n pad oop en gaan sit ongemerk in ’n hoek onder die galery, weg van die massa manne wat voor die opslaanverhoog saamdrom. Daar is ’n rooi gordyn om die platform gespan om enige afloerpoging deur ’n voorbarige voyeur te kortwiek.

    Kit beduie met sy kop na die bokant van die galerytrap waar ’n man in ’n teatrale rooi brokaatonderbaadjie en ’n weggesnyde swart manel sy verskyning gemaak het. Die vent bekyk die see wellustige gesigte onder in die kroeg. Hy vryf sy hande selftevrede.

    Solomon Zeits is in sy skik. Vanaand wag daar vir hulle ’n bonanza uit die deurgeld en die drinkgeld. Hy lig ’n vet hand waaraan ’n ring soos ’n oorvrete bosluis kleef en streel sy snor, wat kliphard van die was verby sy wange en afdraande kennebak wentel. Hy sal die spulletjie teen mekaar afspeel, die veiling uitrek oor drie aande. Dit sal die afwagting verdriedubbel, en so ook sy winste. Hy haal ’n goue horlosie uit ’n sak van die blink onderbaadjie en loop ondertoe na die klavierspeler, met wie hy ’n kort gesprek voer.

    Solomon Zeits, die eienaar. Hy deel ook in die Bowry-broers se winste. Hulle voer in, en hy verkoop, lig Kit onderlangs vir Mac in.

    Die geoefende vingers van die musikant begin Cockney Liz se deuntjie op die klavier uit te tingel. Die omstanders juig bronstig, dan verswelg hul ritmiese applous die musiek.

    Cockney Liz maak haar heupwiegende verskyning deur die toegetrekte gordyne. Die pers en rooi satyn van haar rok glinster onder die swaaiende daklanterns. Haar bollende borste ontsnap ampertjies uit die walvisbaleintronk wat hulle orent dwing. Die manne hyg van begeerte toe sy haar bolyf suggestief skud sodat die borste soos jellie begin bibber.

    Haar swaar gegrimeerde gesig, met Indian Hibiscus-lippe wat ’n valse lag uitstraal, lyk afgetakel ten spyte van die poeier en rooisel. Al die grimeertruuks ter wêreld sal nie meer help om die tamheid van ’n dekade of meer se verkwanselde lyfgunste weg te steek nie. Die rooisel verdoesel ook nie meer die sweterige mis op haar wange nie, die gevolg van die siekte wat haar longe begin wegvreet het.

    Liz sper haar karmosyn mond oop en begin sing. Haar verkopersballade tril hoog en yl uit haar keel. Sy weet egter sy hoef vanaand min te sing. Dis per slot van sake die sién wat belangrik is. Haar liggaam, steeds formidabel, begin die ritme van die liedjie uit te wieg. Met ’n geoefende kontorsie van haar bolyf ontsnap die eerste bors uit die bostuk van haar rok. Die tepel is rooi geverf, ’n klein hartvormige mondjie waarom blinkers geplak is. Die gehoor raak in ’n verrukte ekstase toe die linkerbors ook uitwip.

    Liz ken haar gehore. Sy weet dis nou tyd vir die klimaks. Sy skop hoog, om die swetende, bronstige gesigte onderkant die verhogie ’n goeie blik te gee op die vlesige granaatjie tussen haar bene wat haar kardoesbroek se strategiese spleetjie nou aan haar kliënte ontbloot. Die toeskouers kreun van genot. Haar hoë stem skreeu skril ’n uitnodiging aan Jan Rap en sy maat om meester te word van haar oester. Dawerende applous beloon haar, en ’n menigte belustigde hande reik uit na haar.

    Kit leun oor na Mac; hy moet hard praat om homself hoorbaar te maak. Nou sal jy sien of ek van gerugte gepraat het.

    Op die verhoog klap Cockney Liz haar hande vir aandag. Geleidelik oorreed sy haar gehoor tot stilte.

    Only fer’ lookin’! kondig sy aan met ’n spreeuagtige stem. Only fer’ lookin’! No touchin’, boys!

    Die rooi gordyn word weggetrek. Daar is sewe jong meisies op die verhoog, sommige van hulle reeds gebrandmerk deur hulle beroep, maar twee van hulle is duidelik nie die situasie gewoond nie. Die oudste van die twee, ’n meisie met ’n welige bos rooi hare, plaas haar arms beskermend om die skouers van ’n nog jonger meisietjie. Liz beduie dat die meisies moet vorentoe tree, maar hierdie twee gehoorsaam haar nie.

    Zeits klouter op die verhoog. Sy hare glim olierig in die lig van die daklanterns. Hy glimlag met byna vaderlike trots vir die toeskouers, wat nou begin handuit ruk om die verhogie, en strek sy arms uit.

    Friday night is the big night! bulder hy. Then you can bid for these lovely little ladies! Die res van sy woorde word verswelg deur die omstanders se teleurgestelde uitroepe.

    Kit merk Mac se geskokte uitdrukking. Hy kom beslis orent. Jy kan teruggaan, Mac.

    Maar Mac bly versteen sit. Sy oë volg Kit wat doelgerig die trap op loop na Zeits se kantoor.

    Zeits se vlesige lippe vertrek in ’n glimlag en ontbloot die kunsgebit wat hy ten duurste in Londen bekom het, maar die glimlag bereik nie sy oë nie. Hulle rus waaksaam op die man voor hom. Malloy het in die ruwe delwersgemeenskap ’n reputasie as dodelike skut.

    Zeits, wat op ’n keer Kit se pokeropponent was, weet ook dat Malloy ’n gedugte teenstander is by enige dobbeltafel. Kort ná sy aankoms uit Kimberley het hy die slegte geluk gehad om teen die Ier te speel. Malloy het blitsvinnig deur sy spel gesien en het hom daardie aand byna uitgeroei.

    Waarom sou Malloy belangstel in die nuwe besending meisies? Hy het tog oorgenoeg in sy eie salonne. Zeits doen sy bes om sy agterdog weg te steek. Die veiling is Vrydagaand, u kan dan –

    Ek het klaar my aanbod gemaak, Zeits. Kit staan op. Sy blik rus uitdrukkingloos op die Litauer, wat haastig begin skerm.

    Nee, nee! Moenie oorhaastig wees nie. Ons is albei sakemanne, is ons nie? Ons kan tog onderhandel … ?

    Zeits kyk hoe Kit sy beursie uit sy baadjie se binnesak haal. Hy sien die dik rol note, waarvan Kit ’n paar afstroop.

    Dertig pond. Dit is my finale aanbod, maar dan vat ek al twee meisies.

    Zeits kom vinnig orent. Sy ringbelaaide hande fladder protesterend. Hulle is vars, die beste van die lot. Almal soek hulle. Op die veiling sal hulle ’n goeie prys behaal.

    Waarskynlik. Veral as jy hulle soos gewoonlik drie maal in ’n aand gaan opveil. Ek ken jou.

    Kit voel ’n koue woede wat in hom opkook. Hy sou die man met plesier uit hierdie wêreld wou uithelp, maar dit sou niks aan die saak verander nie. Nog nie. Hy tel sy hoed op en loop deur toe, waar hy omdraai.

    Ek het môre ’n afspraak met ons landdros, Carl von Brandis. Ek is oortuig hy sal geïnteresseerd wees in hierdie veilings waarin kinders verkrag word.

    Voor hy die deur kan oopmaak, is Zeits by hom. Hy plaas ’n mollige hand afwerend op die deurknop om Kit te probeer keer. Von Brandis, die pasaangestelde landdros, is ’n preutse Duitser en ’n nuwe besem. Zeits glimlag pleitend.

    Komaan! Ons is dan in dieselfde bedryf, meneer Malloy. Moenie oorhaastig wees nie. Ek sal Liz vra om die meisies aan te sê om gereed te maak … of hoe?

    Onder uit die drinkerslokaal is die skel gelag van ’n vrou weer bo die dronkerige geroesemoes van die baie manstemme hoorbaar, en vanuit die kamer langsaan gaan die ritmiese kooi-geklik van ’n koppelende paar onverpoos voort. Naderhand hou dit op, ’n deur gaan oop en toe, en manstewels klater die houttrappe af. Nie lank daarna nie gaan die deur weer oop, en dan begin alles weer van voor af.

    Gladys Smith lê op die smal ysterkateltjie met haar arms beskermend om haar jonger suster, Delphine, gevou. Sy wens sy kan haar ore toestop teen dit wat buite die vier mure van hul kamertjie aangaan, of dat sy, soos Delphine wat haar aan die slaap gehuil het, ’n soort vergetelheid kan vind. As sy maar net kon huil. Selfs dít sou verligting gebring het vir die opgekropte haat en bitterheid wat sy voel. Maar Gladys, wat van die ouderdom van twaalf jaar af verantwoordelik is vir haar en Delphine se voortbestaan, het lank reeds verleer om te huil.

    Delphine draai in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1