Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Groen soos die hemel daarbo
Groen soos die hemel daarbo
Groen soos die hemel daarbo
Ebook300 pages6 hours

Groen soos die hemel daarbo

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

“Toe, soos vantevore, het ek myself oortuig dat seks alles oorwin, alhoewel ek rêrig nie kan sê wat alles behels nie.” Simon is ’n wêreldreisiger, vertroud met die reëls van vryheid en ongebonde plesier. In Bali verbind ’n selfoon-app twee vreemdelinge vir anonieme seks, terwyl die taal op hulle lippe identiteite eggo wat albei reeds agtergelaat het. Kaapstad is vol versteekte ruimtes vir die uitleef van sensuele vryhede, maar in Nederland kom die skrywende Simon te staan teen homself. In Tokio probeer twee ex-pats vrede maak met die land wat hulle van mekaar skei, en in Istanbul staan hy op die grens van die liefde. Deurentyd keer herinneringe terug: kleintyd in die Oos-Kaap, sy pa, die plaas en voorligting aan die hand van ’n beesboerdery. In sy sielkundige se spreekkamer bind Simon die grepe van oomblikke en ervarings saam, met dr. Spiteri se insigte. ’n Vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 11, 2017
ISBN9780624082620
Groen soos die hemel daarbo
Author

Eben Venter

Eben Venter word op 'n skaapplaas in die Oos-Kaap groot. Hy studeer filosofie en werk as kopieskrywer en joernalis. In 1986 emigreer hy na Australië, waar hy as sjef twee van sy eie restaurante bedryf. Sy veelbekroonde romans is al in Engels, Duits en Nederlands vertaal.

Read more from Eben Venter

Related to Groen soos die hemel daarbo

Related ebooks

Related articles

Reviews for Groen soos die hemel daarbo

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Groen soos die hemel daarbo - Eben Venter

    Groen

    soos

    die

    hemel

    daarbo

    Eben

    Venter

    Tafelberg

    1

    Ek en my pa staan op ’n wal vasgestampte grond. Fris gebou, hy, en dié tyd van die jaar bruin soos die grond onder sool. Ek is so ’n raps verby tien en staan daar in my kort kakiekortbroek. Bokant ons sprei die Oos-Kaapse hemel geskroeide ylblou.

    Dis maar net dieselle as ons, sê my pa.

    Ek kyk op, waarnatoe? Sy voorarm wys na ’n trop bees regs van die wal. Daar’s twee wat nie wei nie, maar besig is om te paar.

    Die bul se voorkwart is opgehef sodat hy die koei kan klim. Sy agterkwart, die deel wat stoot, is die ene bultende spier. Sy’s kleiner as hy, die koei, met so ’n golwende, blink beesvel. Uitstekende kondisie. Ek hou weg van my pa, al wes op die rug van die wal sodat ek die koei mooi kan sien gedek word. Daar’s verwildering in haar oë, gewoonlik sag en blink, en sy staar so voor haar uit, gebroke, en toe, gedurende daardie laaste stote net voordat sy haarself oplig en wegtrek, verskrik.

    Ek kyk op na my pa. Dis maar net dieselfde tussen ’n man en ’n vrou, sê hy weer. Met stemtoon wat finaliteit aan die saak gee. Dis hoe die mens paar, uit en gedaan.

    Ons stap aan op die vasgestampte grondwal. Die wal loop wes aan die voet van die koppies, bespikkel met klippers en blougroen besembos. As reën kom, so kosbaar op ’n plaas in die Noordoos-Kaap, loop die water teen die koppies af tot teen die wal waar dit stroom maak, groter en dikker, totdat dit dikloop en die dam stadigaan begin volmaak. Die dam, deur my pa aangelê, was die lewensbron op ons plaas. My pa was in alle opsigte ’n vernuftige boer.

    Daar was ’n sekere doktor Jan Bonsma, vertel hy terwyl ons aanstap, soms is hy voor as die rug versmal en net een man kan vat. My pa se treë was breed, vorentoe, en hy’t uitgegooi.

    Jy sien, hy’t sommer gou gesien die Europese rasse vaar maar swak hier by ons. Helemaal te warm vir hulle. En droog ok nog. Hulle gooi al hulle gewig af. En toe, oor die jare, teël hy ’n nuwe ras, meestal Afrikanerbees, jy weet mos. Die rooies met die horings, en met dié lig hy sy arms op en hou hulle so wyd hy kan weerskante van sy kop.

    Ek ken hulle, Pa, sê ek vies.

    Hy swaai om agter toe, kantel sy kop en rek sy oë.

    Nou ja, die Bonsmaras wat vandag hier op ons plaas loop, is geteel uit Afrikanerbloed, meestal, en toe gekruis met die Hereford en die Korthoring. Dis wat jy hier by ons het vandag. Kyk ’n bietjie na daai boude, jy kan hulle mos nou nie gaan staan en vergelyk met die Nguni wat nou kamtig die in-ding is nie, hulle kan nooit as te nimmer die gewig van die Bonsmara aansit nie.

    My pa stop, haal sy groot wit sakdoek uit sy broeksak, vou hom so mooi oop in sy hand en met ’n enkelpluk raak hy ontslae van ’n boetebos, daai vuilgoedplant met sy langwerpige sade wat aan die wol van die merino vashaak en dit nikswerd maak. Die boetebos bly ’n pes selfs al hou jy nie merino’s aan nie, en my pa het nie. Hy het, soos ek gesê het, slim geboer en lankal oorgeskakel na die meer geharde Dorperras.

    En verder niks meer oor die bul wat die koei gedek het nie. Die middag was gebaai in ’n melkerige blou. Links van ons die koppies en regs grasvlakte. Reg voor my my pa se bene in sy plaaskortbroek. Die bleek streep aan die agterkant van sy knieë was al variasie op die bruin van sy stewige bobene en kuite.

    En dít het ook by my vasgesteek: daai geswolle bul. Sy riempiel, was al hoe ek die dik ding kon beskrywe. Dis wat ons het en die koei nie. Dit word snaaks. Na hy gesê het wat hy gesê het, kon die bul my pa ook nie meer skeel nie. Dis ek wat bly kyk het hoe die bul homself uittrek, sy kop laag hang en so in slow motion swaai, klaar, hy was klaar met sy besigheid, en wegstap van die trop sonder om eers om te kyk. Toe stop hy, lek sy flank met daai breë dik tong van hom en piets-piets met sy stert, en sy dinges trek stadigaan binne die skede weg. Hy sak weer sy kop en draai ’n karoobossie af, die klein ronde bossie net ’n raps hoër as sy hoewe, en lekker gekerrie na die somerreën.

    My pa het nie weer oor die ding van paar gepraat nie, niks daarop uitgebrei, nie eens ’n bietjie advies nie. Nooit, ooit weer nie. Daardie middag terwyl ons aangestap het op die vasgestampte grondwal en later begin afsak en suid gehou het, met die koppies nou aan die eenkant, en deur ’n klofie van waar die huis en werf en die buitegeboue begin uitsteek het, al daardie pad kon ek nie die ding wat hy oor die bul en die koei gesê het, uit my kop kry nie. En hoe dit maar net dieselfde by ons is nie.

    Jare later, so lank as dit my gevat het om lekker in my vel rond te loop en in te val by ’n kamer vol kaal mans, sê so ’n stuk of tien, en eenhonderd persent gemaklik daarmee te wees, wel, byna, het ek weer daardie middag saam met my pa op die vasgestampte grondwal onthou.

    Die terugflits het gebeur in die kusdorp van Seminyak op die eiland Bali waar ek met vakansie was saam met my vriendin Miriam en haar Aboriginal kêrel, ’n ou met die naam van Ralton.

    Ek word die oggend wakker op my bed, groter as enige bed waarop ek al geslaap het in Australië, want dis waar ek nou bly. Daar is slegs twee kamers in ons privaat villa, elk met eie badkamer. Dubbele gaasdeure maak oop op ’n stoep met pilare en mure ’n paddagroen geverf, en van die stoep af loop jy met trappies die ommuurde tuin binne. Hier is dit ’n weligheid van heliconia en frangipani en strelitzia nicolai.

    Bokant my bed draai die waaier lou lug. Oggendsweet blink op my en sou ek my arm teen die lig hou, val dieselfde tuingroen van buite op my vel.

    Ek maak ’n sosiale netwerk op my selfoon oop. Die app is spesiaal vir mans wat mekaar wil ontmoet, om dit nou so te stel, en op die homepage is daar ’n galery van duimgrootte foto’s van diés wat tans beskikbaar is. Sommige van hierdie profiele, soos hulle bekend staan, wys g’n gesig of selfs ’n koplose torso nie, maar slegs ’n arm, opgelig sodat die kieliebak daar staan. As die klas ding jou smaak is, beteken dit jy begin met die ou gesels op sterkte van ’n kieliebak. Dit kan al los en vas aangaan totdat jy regtig belangstelling begin toon na julle so ’n twaalf of wat reëls weg gesels het, en skielik hou alles net daar op. Sonder waarskuwing. Net so. Dis eenvoudig: the message of the medium is onsekerheid.

    Nou begin jy jouself treiter: jy’t iets verkeerds gesê, maar wat? Miskien was die foto wat jy aangestuur het, te vuilgat. Of te vanilla, soos hulle sê. Of miskien is jy heeltemal buite jou liga. Vir seker het jy te veel van jouself laat blyk. Jou selfbeeld is in sy moer in.

    Ek begin met ’n plaaslike outjie gesels. Sy naam is Dewa. Die blik op sy profielkiekie is stip, onvriendelik is dit nie, maar ver van uitnodigend. Ons gesels beleefd sonder enige slettery; slettery kan effektief wees, hang af van die soort wat jy gelasso het. Ek laat hom weet van ons villa naby die strand, net so straat af van Jalan Petitenget.

    Kom na my plek toe, skryf hy.

    Ek antwoord op onvanpaste wyse; dis die besondere vryheid wat die sosiale medium jou gun: Stuur nog ’n foto van jouself.

    Terwyl ek wag op sy antwoord, skuif ek na ’n koeler kol op die laken. Binnekort word ontbyt bedien op die groen stoep, myne op ’n houttafel net hierso voor, Miriam en Ralton s’n op ’n tafel by hulle kamer.

    Die foto het afgelaai. Dewa is van agter afgeneem, heupdiep in ’n fonteinedam. Hy was sy kop en gesig onder ’n waterspuit wat uit die klipmuur kom. Voor hom, effe weg van die val van die water, staan vierkantige piesangblaarmandjies met offers van frangipani, en van hibiskus en ryskorrels, almal op ’n ry.

    Ek skryf: Ek gaan eers ontbyt eet. Hoe laat?

    Jy kom nou.

    Ek moet eers ontbyt eet.

    Ontmoet my by die winkel oorkant die tronk.

    Tronk? Klaar weet ek hy praat van Kerobokan. Daar’s net een tronk in Seminyak.

    Is dit veilig? Praat jy van Kerobokan, dan praat jy van dwelmsmokkelaars. Net so. ’n Australiese vrou met vlasblonde hare is destyds vasgetrek as dwelmmuil; sy sit vir die afgelope tien jaar in Kerobokan. Sy hou vol sy’s mislei. Het niks van die draggie af geweet nie.

    Veilig. Ek is ’n goeie Bali-man. Sien jou. Dankie vir die boodskap.

    Buitekant roep die houseboy sy drie gaste nader. Hy is ’n Javaanse Moslem met die mooiste, moeitelose glimlag terwyl hy bedien. Eerste gang is ’n bord met koddig gesnyde waatlemoen, lietsjies en pynappel, soeter as enige Oos-Kaapse pynappel wat ek al ooit geproe het. Toe donker, modderige koffie soos dit hier gemaak word, en laastens die hoofgereg van nasi goreng. En heeltyd, kaalvoet, bedien die Javaanse man al kletsend en breed glimlaggend, ’n meester van die onthaalkuns.

    Ek vertel vir Miriam en Ralton van my planne, net genoeg en niks meer, want ek weet mos Ralton is die nuuskierige tipe en vry met daai tong van hom. My rugsak staan gepak met goed, insluitende my Australiese rybewys as ID.

    Miriam wink my oorkant toe, daardie pragtige granietring aan haar derde vinger, en by haar gekom, trek sy my af na haar toe: Pas jouself nou mooi op, jy het ons nommers. Sy soen my op al twee wange, maar net lank genoeg dat dit nou nie na ’n koebaai-vir-altyd soen voel nie.

    Intussen het Ralton die swembad binnegeloop met sy boardshorts. Hy was nogal aantreklik met sy breë, bruin skouers en gulle maag, en nooit nydig nie. Net saans, geolie op whiskey en Bintang-bier, moes Miriam soms haar hand oor sy mond sit dat hy bietjie sy bek kan hou.

    Langs die swembad lê ’n klipbeeld van Ganesh, uitgestrek op sy sy met ’n oopgevoude boek in die draai van sy olifantslurp. Teen daai tyd is ek so opgewen oor my uitgaanstorie, die hitte konstant vas teen my vel en net warm lug om in te asem, dat die aanblik van die vreedsame Ganesh my tog kalmer maak.

    Nes ek op die punt is om te loop, skree Ralton uit die swembad: Jy weet daardie sosiale netwerk wat jy gebruik?

    Wat daarvan?

    Besef jy die Russe sit agter die ding? Weet jy dat die Russe oral hier in Bali operate? Hulle sit agter baie van daai besighede, trek die toutjies nes hulle wil. Hy skuif oor totdat sy skouers onder die waterval is. Ek sê jou.

    Watse goed praat jy nou weer, Ralton? Die man het nog drank aan hom van gisteraand. Ek kyk na Miriam op die stoep, soek hulp.

    As ek jy is, sal ek versigtig wees. Ek sê nie sommer hierdie goed nie, sê Ralton toe.

    Kyk, Ralton. Ek ken hierdie netwerk. Dit werk wêreldwyd. Dis net vir mans wat ander mans wil ontmoet. Einde van die storie.

    So eenvoudig is dit nie. Van daai geld gaan na grootbase toe en hulle is waarskynlik Russe.

    Moenie simpel wees nie. Ek het al hoeveel keer hierdie netwerk gebruik. Baie, baie maal. Dis maar net mans wat ’n lekker tyd wil hê. Niks meer nie. Daar skuil niks daaragter nie.

    Ek weet wat ek sê, beaam Ralton. Ek sê jou.

    Jy’t g’n benul waarvan jy praat nie. Sien julle oor ’n ruk. Ek maak die houtpoort na ons tuin toe, vat agter aan my rugsak om seker te maak als is reg vir die ding. Ek druk tussen die klomp skoeters deur, almal reg voor ons villa geparkeer, en hou links uit ons steeg om op Jalan Petitenget te kom. My hart klop na die gesprek met Ralton. So de moer in. Dis als twak.

    Al wat my nou te doen staan, is om aan te gaan. Skoeters staan bankvas geparkeer langs die pad, net waar jy kyk, party met ’n gerf droë piesangblare aan die handvatsels vasgebind. Teen middernag breek die gewigtige Nyepi aan, die Dag van Stilte waarop alles in Bali sluit, selfs die lughawe en al die winkels en OTM’s. Al die straatligte word afgeskakel en almal, elke Balinees en alle toeriste, moet binnekant wees.

    Aan die bokant van Jalan Petitenget bevind ek myself in ’n drukte van mans en vroue, kinders en honde en toeriste wat eenstryk foto’s neem met hulle selfone. Afbeeldsels van monsters gemonteer op bamboesdraagbare word in gereedheid gebring vir die straatoptog wat Nyepi voorafgaan.

    Hier voor my is ’n monster driemaal lewensgrootte, net op een been met die lyf wat ver agtertoe hel, sy een arm hoog in die lug, terwyl ’n kleiner varkgesiggie met drie arms op sy ander been gebalanseer is. ’n Meesterlike skepping van papiermaché en hout, staangemaak op ’n manier wat swaartekrag tart. Sy aansigte, én die van varkgesiggie, was oordonderend en afskuwelik en mooi: boste kieliebakhaar, oopgesperde neusgate, willekat snorbaarde en massiewe wit slagtande. Straatop steek nog monsters uit: kloue, hareboste en vere net waar jy kyk. Dis die Ogoh-ogoh dié, skepsels vanuit die monsterryk wat iewers om elke dorpie hou, en nou, een maal per jaar, sak hulle af om tussen die mense te verkeer net om dan verbrand te word om weg te doen met alle kwaad en so word harmonie geskep tussen gode en mense, tussen mens en mens en tussen mense en die natuur.

    Op die draagbaar met die monster is ’n plaatjie wat lees: LPD Seminyak 04, en dis dan die borg. Seuns hier by die tien jaar of so met swart T-hemde en helderkleurige boardshorts is nou besig om posisie in te neem onder die draagbaar. Dis ’n geskree en ’n gelag soos hulle hulle grepe om die bamboespaal uitwerk en hulle smal seunskouers posisioneer onder die swaarste deel met die monster daar hoog bokant hulle. So laf, die swart oë glinsterend oor die enorme taak wat voorlê om hierdie monster deur die strate van Seminyak te dra.

    Te midde van daai mensdom begin ek skielik twyfel oor die wysheid om nou weg te loop van die optog van monsters en seuntjie-draers. Dit was alles so groots en geluksalig. En puur. En tog tik-tik daai ding iewers binne en rem my weg van die toneel. In my kop hou ek die laaste foto van Dewa onder die fonteinspuit, met sy biseps hard en die kurwe van sy deltoid mooi terwyl hy homself daar staan en was.

    Die skare raak yler en ek kan vinniger stap, alhoewel ek my pas meet soos ek opgemerk het die mense hier in die trope dit doen. By tye voel die sole van my Havaianas heeltemal te dun vir Seminyak se ongelyke sypaadjies. Verder dra ek kortbroek en vlootblou onderhemp. En kyk op: ’n diksel saamgebondelde elektriese kabels volg die roete van die sypaadjie met net hier en daar die vurk van ’n bamboespaal om hulle op te hou. Op my kaarte-app sê dit ek moet regs draai in die hoofstraat van Tangkuban Perahu.

    Ralton se klomp kak het ek lankal vergeet. Dis net nou rustig voort, net met eie pakkaas, my rugsak vol seksgoeters, ’n silikoon cock ring, smeermiddel, kondome en twee generiese Viagra-pille, plus twee bottels Bintang-bier. En daarby die nie-tasbare wat ek gewoonlik saamvat op hierdie seksrendezvous: ’n kolking diep in die maag, maar ook ’n welbehae dat ek die klas goed kán doen.

    By een van hulle minisupermarkte waar jy alles kry, insluitende generiese Viagra, koop ek ’n aloe vera-drankie versoet met palmsuiker en sluk ’n hele blou pil weg.

    In die skadu van frangipani’s, gesnoei om sambreel te maak, sit ’n kring Balinese manne en trek aan naeltjiesigarette. Swart sekuriteitsuniforms, almal, en almal aantreklik op een of ander manier, en speels: hulle merk my op. Soek ek dalk transport? Nee, dankie, sê ek. In stede daarvan vra ek die pad na die Kerobokan-gevangenis, net om honderd persent seker te maak.

    Een ou verduidelik die pad ordentlik, nie soos plaaslike mense wat soms aanneem die vreemdeling is vertroud met die of daardie baken nie. My konsentrasie swig. Nee, nou is dit net kaal van die man se arm hier teen myne, en ek besef hoe moeiteloos hy homself sou kon indink oor presies waarheen ek op pad is. En miskien het hy al klaar, want ek is die ene dringendheid, amper ongeduldig. Die Viagra het ingeskop, hoogrooi teen my wange.

    Ek stap aan. Die punt van my tong kom op ’n komynsaadjie van ontbyt af en ek byt hom tussen my voortande fyn om komynsmaak vry te stel. Toe merk ek die ringmuur om die Kerobokan-gevangenis. ’n Yslike kompleks met lemmetjiesdraad soos dié in Suid-Afrika wat al op die bokant van die dik mure uitgerol is. En tog kom dit nie so intimiderend voor soos Pollsmoor-gevangenis in Tokai waar ek so dikwels verbygery het toe ek nog in die Kaap gewoon het nie. Kerobokan is midde-in die stadsgedruis. Digby verkoop ’n jeans-winkel die Amerikaanse Dickies-handelsmerk, daar sien ek die koppe van mense wat al kouende bokant die halfmuur van ’n warung uitsteek. Reg oorkant die hoofingang van die tronk is die minisupermark waar Dewa gesê het hy sal my oplaai.

    Ek skaf nog ’n koeldrank aan, so ’n lemoenagtige ene, oorsoet soos al die koeldrank in Bali, en wag buitekant die minisupermark op ’n bank. Teen die tyd het die hitte van die stappery my kop omtrent leeggemaak. Ek sit so met die bottel koeldrank op my been, maak my kop verder skoon, en ruik goed wat nóg aangenaam nóg onaangenaam is, en so bietjie soos by die huis in Noord-Nieu-Suid-Wallis, hondehare en die pluime tiergras net buitekant my slaapkamervenster en konstante, subtropiese mufheid.

    Verder met die tronkmuur langs is nog ’n ingang, ’n kleiner een, waar ’n gewapende man met sy ligblou uniform en donkerblou beret waghou. Ek stel my nie hier aan gevaar bloot nie, niks wat ek doen of wat ek binnekort gaan doen skrik my meer af nie. Ek konsentreer slegs op Dewa, probeer hom visualiseer op sterkte van die foto’s van sy gesig en lyf wat hy gepos het. Binne minute gaan hy my oplaai. Hy sal my dadelik raaksien, min toeriste hang hier uit.

    Plotseling, van Kerobokan af, agter daardie hoë ringmuur met sy rolle lemmetjiesdraad, kom die klanke van groepgesang. Mans wat almal saam uit die keel dreunsing, so bietjie soos die Tibettaanse monnike, maar dié is vreeslik treurig. In skrille kontras met die beeld van Bali: die frangipani’s agter meisies se ore, ’n waatlemoenreier op die lip van ’n glas, die vlieërverkopers wat teerswart seerowervlieërs op Seminyak-strand verkwansel, die koperbruin, halfnaakte Aussies wat sonder helmet op skoeters verbyja. Oorkant my is Bali se plek van smaad, die Aussies dáár het ek ook gesien, diés wat altoos kla hulle is valslik aangekeer. En toe kom die dreunsang weer, golf na golf van geklaag, so sonder ophou.

    Hy trek reg langs my in, swart skoeter en blinkswart helmet. Hallo. Dis al. Aantreklik. Ek weet hoe: ek swaai been oor die sitplek agter hom, neem mik-teen-gat plaas, daar’s g’n niks van ’n spaar helmet nie. Toe hy wegtrek, omklem ek die raam weerskante van my bobene, maar toe hy deur die hek sy kampong binneja, gryp ek om sy heupe vas.

    Die oomblik toe ek van die skoeter afklim, is al my sintuie opgeskerp. Ek is gelade met antisipasie, gereed om aan hierdie ou se vel te vat, gereed vir sy soort seks, my asemhaling makeer en vat koers, los en vas, omdat ek g’n benul het hoe hy op my aanraking gaan reageer nie. Ek weet nie eens of die Balinese Hindoes hulle seuns besny nie. Daar is byna geen woorde om my toegang tot hom te verleen nie, tot die soort seksuele wese wat hy is met sy besondere snellers en afkere. Uit ervaring weet ek dat ’n oormaat opgewondenheid my terugrem.

    Drie trappe op na die stoep van sy kwartier, ’n klein, vierkantige gebou met ’n dak van kleiteëls. Hy stap voor sonder om iets kwyt te raak, volkome op sy gemak. Op die vel van my hande: die sensasie van vashou om sy heupe. Was noodsaaklik of ek het afgeval. Maar nou is die ekskursie op intieme voet, syne.

    Toe ons eers begin vat en soen, is die dinktyd verby, en terwyl ek die vertrek binnestap, probeer ek myself voorberei soos ek gewoond is om op hierdie vroeë deel van die spel te maak. Hier’s ek nou. Dis al wat tel. Die storting van saad, die afloop, mag dalk nie eers die hoogtepunt wees nie.

    Hoog teen die linkermuur, uit ’n smal, langwerpige venster, val lig op ’n tafel met ’n tweeplaatstofie en die plakkaat van ’n MMA-bokser. Die TV is aan, maar die klank laag gestel. Lyk na iets soos Indonesia’s Got Talent, uitgesaai vanaf Java of Sumatra, aangesien die aanbieder ’n kopdoek dra. Sig van die kroegyskas maak dat ek die twee lou Bintangs uit my rugsak haal. Dewa vat nie ’n bier nie.

    Drink jy nie?

    Partykeer.

    Hy maak die dubbelbed skoon, gooi goed af, trek sy hemp uit en skud ’n sigaret uit die pakkie. Ek merk hoe sy biseps krul en die gladde blas nét ligter word as hy aansteek.

    Kulkas, sê ek, en wys na sy yskassie.

    Jy ken die woord?

    Ja. In die sewentiende eeu is baie slawe van Batavia af ingevoer na die Kaap de Goede Hoop, en baie van hulle woorde het versmelt met ons s’n. Asbak, sê ek toe. Hy lag, gee die asbak aan. So ’n aantreklike knaap.

    Ek haal die res van die goed uit my rugsak, trek my hemp en jeans uit en staan daar, met net ’n Bonds-onderbroek aan. Toe draai ek my rug op hom om my cock ring met die rats, enkelaksie aan te glip waarmee jy ballas en voël deur die swart silikoonring trek

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1