Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Uit die Beek 2018
Uit die Beek 2018
Uit die Beek 2018
Ebook755 pages6 hours

Uit die Beek 2018

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Uit die Beek, die geliefde Afrikaanse Bybeldagboek, kom vanjaar uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuses vir elke dag is grootliks op die Revised Common Lectionary (oftewel die RCL-leesrooster) gebaseer. Dit maak hierdie tydlose Bybelse dagboek weer opnuut geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en Bybelstudiegroepe. Mag hierdie jaar vir jou 'n besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 4, 2017
ISBN9780796320346
Uit die Beek 2018
Author

Barend Vos

Dr. Barend Vos is 'n bekende Christenskrywer en predikant. Hy het al verskeie boeke uitgegee: van dagstukkies en literêre fiksie tot romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart. Hy skryf elke maand vir LiG-tydskrif sy Grootseun-storie. Hy is in 2016 bekroon met 'n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories.

Read more from Barend Vos

Related to Uit die Beek 2018

Related ebooks

Related articles

Reviews for Uit die Beek 2018

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Uit die Beek 2018 - Barend Vos

    Uit die

    Beek

    2018

    Barend Vos

    Lux Verbi

    Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Uit die Beek 2018 mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Voorwoord

    Uit die Beek is Afrikaans se oudste Bybeldagboek. Die eerste weergawe hiervan het reeds in 1925 verskyn, in Nederlands, en sedert 1927 staan dit as Uit de Beek bekend. Volgens sommige bronne is die naam ontleen aan Psalm 110 se laaste vers soos dit in die Nederlandse Statebybel lui: Hij zal op den weg uit de beek drinken; daarom zal Hij het hoofd omhoog heffen.

    In 1929 is dié dagboek vir die eerste keer in Afrikaans gepubliseer, met die titel wat dit sedertdien dra. Hierdie publikasie het ’n baie spesiale verbintenis met die Van Wijk-familie. Ds AJ van Wijk was die eerste skrywer, en sy kleinseun, die bekende ds Attie van Wijk van Wellington, het die skryf hiervan die afgelope tien jaar waargeneem. Laasgenoemde het die prysenswaardige reggekry om lesers stelselmatig en gedissiplineerd deur die hele Bybel te begelei. Só het getroue Uit die Beek-lesers die afgelope klompie jare die Bybel van hoek tot kant deurgelees, en hulle kon saam met die skrywer nadink oor hoe hierdie Woord die lewe se elkedagse eise én oorwinnings belig.

    Dit is my voorreg om Uit die Beek 2018 aan gelowiges te bied. Die daaglikse Skriflesings volg grootliks dié van die bekende leesrooster Revised Common Lectionary (RCL) se liturgiese Jaar B. En met die aanbreek van Advent, dié van Jaar C. Die RCL word wêreldwyd gebruik, ook met groot vrug en vreugde deur baie gemeentes in ons land.

    My gebed is dat almal wat in tye soos dié ’n boek soos dié aanskaf en gebruik, elke dag die Woord se verkwikkende krag sal beleef. En hul kop oplig.

    BAREND VOS

    Warrenton, Augustus 2017

    Sake vir voorbidding

    SONDAG: Die uitdra van die evangelie

    •Dat elke prediker deur die Heilige Gees vervul sal wees

    •Dat die hoorders daders sal word

    •Dat gelowiges toegerus sal word vir die week

    •Dat ongelowiges tot geloof sal kom

    •Vir die vertaling en verspreiding van die Bybel

    MAANDAG: Opleidingsinstellings

    •Dat elke dosent en onderwyser Christus sal verheerlik

    •Dat elke leerder gehalteonderrig sal kry

    •Dat dissipline herstel sal word

    •Dat die jeug reg gevorm sal word

    •Dat dosente en onderwysers geesdriftig sal volhard

    DINSDAG: Die jeug

    •Dat ouers die regte voorbeeld sal stel

    •Dat kinders die Here tuis sal leer ken

    •Dat kinders groepsdruk sal weerstaan

    •Dat kinders die regte keuses sal maak

    •Dat kinders mekaar na Jesus sal lei

    WOENSDAG: Owerhede

    •Dat ons leiers die Here sal leer ken en volg

    •Dat die regering die regte besluite sal neem

    •Dat die parlement God sal verheerlik

    •Vir die veiligheidsdienste, polisie en weermag

    •Dat misdaad en korrupsie uit ons land sal verdwyn

    DONDERDAG: Sending en getuienis

    •Vir ’n sendingvisie en -passie by elke gelowige

    •Vir sendelinge en hul gesinne

    •Dat Christene die Woord vreesloos sal uitleef

    •Dat die Gees harte sal voorberei en verander

    •Vir die nodige finansies vir die werk

    VRYDAG: Diens van barmhartigheid

    •Vir kundige hulp aan werkloses en armes

    •Vir bevryding uit die armoedespiraal

    •Vir die instellings wat mense probeer help

    •Vir die nodige finansies hiervoor

    •Vir elkeen wat in beproewing verkeer

    SATERDAG: Herlewing

    •Dat elke Christen die Here sal ken en gehoorsaam

    •Dat God op elke vlak van die lewe verheerlik sal word

    •Dat die Heilige Gees kragtig sal werk

    •Dat die kerk ’n verskil in die wêreld sal maak

    •Dat ons gereed sal wees vir die wederkoms van Christus

    Januarie

    Maandag 1 JANUARIE 2018            Lees Jesaja 62:1-3

    Nuwejaarsdag

    In die Here se hand

    Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou … (v. 3).

    Die eerste dag in ’n nuwe jaar bring altyd ’n spesiale tinteling met hom saam – daar is immers die moontlikheid van nuwe dinge. En daarom is Jesaja 62 se eerste verse straks die ideale teks om die jaar mee te begin.

    Vir Ou Israel was daar in daardie tyd geen goeie ou dae om aan terug te dink nie; daar was bloot vernedering, swaarkry, woede, verydeling, uitsigloosheid. Dit was ’n tyd wat hulle dikwels omgewens het, wat hulle bloot agter die rug wou kry, in die vae hoop dat iets beters op hulle wag. Slegter kon dit sekerlik nie gaan nie …

    En hier sê die profeet wat hulle gesmag het om te hoor: Daar kom inderdaad ’n nuwe dag! ’n Dag vol helderheid en redding. Almal sal dit sien, hierdie nuwe moontlikhede in jul lewe.

    Julle sal ook hoor dat julle ’n nuwe naam het. Niemand sal julle dus meer Teleurgesteld kan noem nie, en julle sal nie meer soos vroeër reageer as die ander julle as Beswaard! uitlag nie.

    Dié nuwe naam is deur die Here self aan julle gegee. Voortaan heet julle Kosbaar. Kyk hoe styf hou Hy julle vas! En voel hoe versigtig dra Hy julle rond.

    Ja, dinge is heel anders by hierdie eerste tree van die nuwe begin. Juis vir julle, kosbare Koningskinders, wat in die Vader se hande leef en daar tot rus kom. En wat van daar af jul oë groot ooprek om behoorlik te kan uitsien na die jaar wat kom.

    ____________________

    Here, dra my mooi in die nuwe jaar, asseblief.

    U weet mos hoe broos ek is. Gee my tog die rus en vrede waarna ek so smag, en blink oë as dit kan.

    Dinsdag 2 JANUARIE 2018            Lees Psalm 148:1-6

    Prys Hom, julle daarbó!

    Prys Hom, hoogste hemele … (v. 4).

    Dit is nie moeilik om jou dit te verbeel nie: hoe die maan en die sterre hul Skepper se Naam verkondig. Daar is mos min dinge wat die Goddelike handtekening so onnabootsbaar uitwys soos die Januarie-naghemel in hierdie Suiderland. Kyk net ’n slag óp, wys met die vinger en sê verwonderd: Daar is hy! En hý en hý …

    En wanneer die son voordag sy verskyning maak, duur dit nie lank nie of jy, aardgebonde skepsel, leer ken jou Heiland opnuut. Die somerson laat jou koes en skuiling soek, hy is nie jou speelmaat nie. Vir hóm hoef jy nie te soek nie, hy vind jou dadelik – en jy wéét dit.

    So kom die son op en gaan weer bloeiend onder. En soos gisteraand verskyn die sterre en gaan hul skitterende gang. Alles verloop volgens plan. Volgens Plan.

    Meestal laat dié voorspelbare patroon geen spoor in ons stoftrappers se gemoed nie. Dit is soos dit hoort, reken ons terwyl ons onder ons elkedagse las voortsteier.

    Maar soms, net sóms, kyk ons op en sien God se vingerafdrukke in die hemelruim raak. Hoe die son se dartelende, vuurwarm dans die lug in beweging bring. En snags, wanneer dit milder geword het, hoor jy die ritme in die sterre se vonkelende naglied.

    Spits dan maar ook jou ore vir die vlerkgeklap van ’n uil of ’n engel. Dalk kom daar ’n boodskap vir jou, vannag nog, spesiaal vir die begin van hierdie jaar.

    ____________________

    Here in die hemel, God van my hart: Hoor ook mý pryslied. Só wag ek op U.

    Woensdag 3 JANUARIE 2018            Lees Psalm 148:7-14

    Prys Hom, julle hieronder!

    Prys die Here van die aarde af, seediere … berge … vrugtebome, al die seders … wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, konings … jong manne en meisies, grysaards … (v. 7-12).

    Dit is ’n groot koor hierdie, dié van die aarde se bewoners. Daar is hulle wat loop en hulle wat swem, daar is die vlieërs en die kruipers en die voortbrengers van vrugte en van hout.

    Jonk en oud, man en muis. Bloubloed en onderdaan.

    Hulle is almal deur die wind en die weer versamel met die opdrag om God te prys. Sy Naam is groot! moet hulle sing. Sy gesag, sy eer, strek van horison tot horison.

    Vir die psalmdigter kom hierdie uitgebreide stuk lofbeeldspraak asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is. Wat hom betref, is dit vanselfsprekend dat alles en almal wat deur God se hand tot stand gekom het Hom sal loof.

    Vanselfsprekend? Regtig? Is prys die Here! dan ooit ’n natuurlike reaksie? Ook vandag, by mense soos ons? Wanneer het lofliedere dan ons geloofskenmerk geword?

    Het hierdie halleluja-uitroepe nie maar intussen ’n soort beïndrukwaarde gekry nie? ’n Luidkeelse manier om God en medemens te laat verstaan dat hier darem ’n skitterende voorbeeld van vrome dankbaarheid aan die woord is?

    Hopelik sorg die dawerende lof uit die skepping dat ook die skepsels – juis hulle wat God met woord en lied en groot gebaar aanbid – by die massakoor inval. Sonder voordoen of vertoon. Net maar om dié rede: Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.

    ____________________

    Hemels is u majesteit, heilig u geregtigheid. U wat alles onderhou, U is ewig en getrou.

    Donderdag 4 JANUARIE 2018            Lees Galasiërs 4:4-7

    God se tyd

    Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur (v. 4).

    Dit is ook maar goed dat God se horlosie en kalender gans anders funksioneer as ons s’n. Daarom kán dit op hierdie vierde dag van die nuwe jaar steeds Kersfees wees, en op elke dag in die jaar wat voorlê.

    Wie wil tog die invloed wat die radikale ingryping van God op ons lewe het aan tyd koppel? Nee, ons sal elke uur van elke dag van elke jaar en tot in ewigheid dankbaar wees vir die vryheid wat sy Seun vir ons bewerk het.

    Hy het ons losgekoop, sê Paulus hier, niks minder as dit nie. Dit is deur Hom dat die Heilige Gees in ons hart woon, dat ons God Vader (v. 6) mag noem. Dat ons sy erfgename geword het. Dit is vir ons dus elke dag Kersfees, en vir altyd.

    Omdat God se tyd die regte tyd is.

    Want as Hy vir óns moes wag om in ons wêreld in te gryp, sou Hy – met alle respek gesê – steeds gewag het. Ons is net nooit reg nie, ons vra gereeld uitstel. Ons beroep ons altyd en in byna alles op God se geduld: Gee net kans, Here, ek sal U laat weet wanneer ek gereed is. Ek sál nog u wil leer ken; wag net asseblief nog ’n bietjie.

    Goddank: Hy het toe nie gewag nie. Hy weet watter keuses om aan sy kinders oor te laat en watter nié. Hy kom maak dit ewig Kersfees in ons lewe – omdat Hy ons ken. En omdat Hy ons so bitter liefhet dat Hy nie kanse waag nie, nie met ons soort betroubaarheid nie.

    ____________________

    Dankie, Here, dat u genade vir my genoeg is. En dat dit altyd betyds is.

    Vrydag 5 JANUARIE 2018            Lees Lukas 2:22-40

    Kyk, hierdie Kindjie

    Sy vader en moeder was verwonderd oor

    die dinge wat van Hom gesê is (v. 33).

    Reeds die skaapwagters het ’n vreemde verhaal by die Kindjie se geboortekrip vertel – kan jy jou indink: engele wat uit ’n oop hemel sing! En nou kom ’n ou man, ene Simeon van Jerusalem, boonop met ’n nuwe, salwende storie vorendag: Here, my oë het u verlossing gesien, ’n lig tot verligting van die nasies.

    As hy maar daar opgehou het, ou Simeon … Maar eensklaps kry sy sagte lied ’n onheilspellende klank: oor val en opstanding, oor ’n teken wat weerspreek sal word. Van mense se gesindheid wat aan die lig sal kom en ’n swaard wat deur die moeder se siel sal gaan.

    Dit was natuurlik die res van die waarheid, dit wat ons eeue later alte goed sou leer ken: Kersfees hou nie vir altyd nie. Die feesvrolikheid is net ’n deel van die werklikheid, en soms is dit ’n bitter klein deeltjie. Ons is gouer as wat ons gereken het weer terug in ’n wêreld vol onsimpatieke uitsprake en klipharde eise, en sonder musiek.

    Ja-nee, ons word nie té lank toegelaat om ons bekommernisse te vergeet nie. Daar kom ’n tyd dat ons dit nie meer kan miskyk of probeer ontken nie.

    Maar laat ons tog ook nie ons vermoë om verras te word prysgee nie. Te midde van die klipharde werklikhede wat ons elke dag bestorm, breek daar soms ’n onverwagte lig deur.

    Verwonder jou dan aan God se helder goedheid, en baai jou gesig en lyf en siel in daardie Lig.

    ____________________

    Here, U is ’n skynende werklikheid in my lewe. U oortref al my verwagtings.

    Saterdag 6 JANUARIE 2018            Lees Jesaja 60:1-6

    Die nuwe dag

    Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring (v. 1).

    Vir die vernielde stad het daar eensklaps uitkoms gekom, ’n belofte wat hom ’n nuwe asem gee. Kyk dan net, Jerusalem! Maak oop jou oë, en sien hoe jou kinders na jou toe kom, hoe jou rykdom vermeerder. Hoe die vergane glans uiteindelik na jou toe terugkeer.

    En laat daar geen twyfel wees oor wie jou eertydse skade en skande omgekeer en jou weer ’n baken van hoop gemaak het nie: Dit is die Here en sy magtige teenwoordigheid. Dit is Hy wat die son weer laat opkom en ’n nuwe dag oor jou uitgeroep het.

    Laat die nuwe hoop in Jerusalem dan dié boodskap bring, sodat God se kinders dit nooit sal vergeet nie: Daar is geen duisternis wat Hom kan oorweldig nie. Sy stem het die laaste sê. Donkernag sal altyd voor dagbreek swig.

    En laat niemand verras wees oor die nuwe lig se aantrekkingskrag nie. Skyn dan ook oor hulle wat jou opsoek, die vriend en die vreemdeling, wanneer jou lewe ’n stralende getuienis van God se magtige teenwoordigheid word. Laat deel hulle in die warmte wat so mildelik jou deel geword het.

    Verheug jou in hierdie voorreg, want waar Hy geëer word omdat Hy lig bring, en waar dié lig na ’n medemens se skemerte herlei word, daar is Hy tuis.

    ____________________

    Lei ook my, vriendelike Lig, deur hierdie duisternis.

    Skyn ook oor my, o magtige Teenwoordigheid,

    dat ander ’n plek kan sien én vind by my.

    Sondag 7 JANUARIE 2018            Lees Jeremia 31:7-14

    ’n Tuiste

    In trane sal hulle kom, met smeekgebede, maar Ek sal hulle lei … (v. 9).

    Hy is die God vir die treurendes en smekendes, die blindes en kreupeles, vir dié wat sug in die pyne van verwagting en verydeling. Hy is die Here vir die bywoners en vreemdelinge, vir dié wat sukkel met die lewe en met hulleself. Hy weet hoe om trane af te vee.

    Hy is ons God, omdat Hy ontwrigte en ontheemde mense soos ons by Hom laat tuis kom. Omdat Hy ons behandel asof ons buitengewoon is.

    Dit is soos Hy is. Hy maak oorwinnaars van hulle wat nog nooit enigiets gewen het nie. Hy gee vryelik aan dié wat nooit gedink het hulle sal ooit iets ontvang nie. Hy vul dié wat nog net smagting geken het met sy goedheid. Hy weet hoe om oorvloedig uit te deel.

    Hy is ons God, omdat Hy bevlekte en verskrikte mense soos ons vat soos ons is. Omdat Hy ons teen Hom vasdruk en ons nooit weer los nie.

    Hy eis nie van ons om onberispelik koers te hou nie; Hy sal ons self lei tot waar Hy wil hê ons moet wees. Hy verwag nie van ons om kop omhoog alles en almal in die oë te kyk nie; Hy sal ons self aan die hand neem en ons leer om ons vrese te oorkom. Hy weet hoe om onvoorwaardelik lief te hê.

    Hy is ons God, omdat Hy struikelende, dwalende mense soos ons leer om onbevange te dans.

    ____________________

    Here, ons Here, ons het by U tuisgekom.

    U het ons kom haal, U het ons diep uitgehaal.

    U het van niets iéts gemaak. Ons loof U!

    Maandag 8 JANUARIE 2018            Lees Psalm 147:12-14

    Die buitengewone God

    Loof die Here, Jerusalem, prys jou God, Sion! (v. 12).

    Is dit nie elke gewone mens se begeerte nie – om in vrede en veiligheid te lewe, om geseën en gevoed te word? En as dít dan alles God se werk is – loof en prys Hom!

    Die probleem is net dat min van ons tevrede is om gewoon te wees en bloot gewone dinge te ontvang. Daarom eis ons buitengewoon baie van God en van mekaar. Ons vereis waarborge en onwankelbare sekerhede. Ons verwag ruim seëninge. Ons bid vir oorvloed, niks minder nie.

    Ons vra meer as wat ons ooit kan gebruik. Ons is jaloers op ons naaste, veral as ons sien – of bloot vermoed – dat hulle meer as ons het. Ons gun ander mense, juis ook buitestanders en vreemdelinge, so min moontlik. En gee hulle omtrent niks.

    Nee, ons is nie die Here se tevrede kinders nie. Inteendeel, ons word meermale gesien en gehoor en beskryf as dikmond, swaarmoedig, immerneulend. Ons is geen advertensie vir God se koninkryk nie.

    Intussen gaan Hy ongestoord voort om ons te beskerm en te bewaar, te voed en te seën. Hy is nie afhanklik van ons instemming, tevredenheid of selfs ons blote dankbaarheid nie. Hy is God, en ons Vader.

    Net soms, as ons dit oor ons ontevrede hart kan kry, kan ons ons sy teleurstelling verbeel. Oor die bedorwe brokkies vir wie Hy soveel moeite doen. Wat eenvoudig nie leer om asseblief en dankie te sê nie. Wat so sukkel om groot te word.

    ____________________

    O Here, God en Vader, ek is jammer oor my kinderagtigheid. Laat my grootword tot u eer!

    Dinsdag 9 JANUARIE 2018            Lees Psalm 147:15-20

    ’n Helder woord

    Hy maak sy woord aan Jakob bekend … (v. 19).

    As die seisoene aan die Here behoort, soos hierdie psalmdigter sing, is dit tog vanselfsprekend dat Hy enigiets kan doen. Soos en wanneer Hy wil. Dit is dus Hy wat die stad bewaar, wat die vrede gee, wat seën en voed. Daarom: Loof die Here, prys Hom!

    Daar kan geen verwarring hieroor wees nie; sy woord is ’n erewoord en sy dade pas naatloos by daardie woord.

    Sy kinders kan dus gaan slaap in die wete dat Hy beskerm, vér bo hul verwagting. En wanneer hulle soggens opstaan, kan hulle weet dat Hy voorsien, vér bo hul gebede. Daarom: Loof die Here, prys Hom!

    Ons, die Godskinders, sal nooit kan sê ons het nie geweet nie; Hy het ons dan self gesê. Ons het voorregte wat niemand anders het nie. Ons bluf niemand met ons siende blindheid en horende doofheid nie, allermins vir Hom.

    Hy word ook nie gyselaar gehou deur ons hoekom? en waarom? wanneer ons dit bloot gebruik om sy wil vir ons lewe te ontduik nie. Wanneer ons, kamma verward, sulke vroom vragies gebruik om weg te kom van sy duidelike voorskrifte en bepalings nie.

    Ons, die bevoorregtes, se reaksie op sy helder woord het beslissende betekenis vir ons medemens, juis ook vir dié wat Hom nie so goed ken en nie soveel troos en seën en vrede soos ons beleef nie. Ons word geroep om hulle te leer sê: Loof die Here, prys Hom! En om dit dan met ons dade te bevestig.

    ____________________

    Liewe Here, leer my om hande en voete te gee aan my lof vir U.

    Woensdag 10 JANUARIE 2018            Lees Efesiërs 1:3-6

    Al die seëninge

    So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies … (v. 4).

    Sommer hier reg aan die begin van sy brief aan die Efesiërs plaas Paulus al sy kaarte op die tafel, gesig boontoe, onbeskaamd en jubelend: Aan God kom al die lof toe; Hy het ons geseën met al die seëninge; Hy het ons uitverkies; sy liefde, sy genadige beskikking; ons is sy kinders.

    Sjoe! Wat is daar dan nóg wat mense soos ons kan begeer? Al hierdie kaarte is troefkaarte.

    Boonop word daar keer op keer, minstens vyf maal, bevestig dat alles in en deur Christus geskied, die geliefde Seun van die Vader. Ja, Hý, ons Vriend, ons oudste Broer.

    Hier in die tweede week van die nuwe jaar is dit goed om só deel van ’n bestekopname te wees. Om herinner te word aan wie ons in en deur Christus is, waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is. En, dalk die belangrikste, wat ons in hierdie dae te doen staan, ons wat met al die seëninge van die Gees geseën is.

    Is daar vir ons, die geseëndes, ’n beter keuse as om te speel met die kaarte wat so roekeloos-mildelik aan ons uitgedeel is? Om ons nou reeds voor te neem om die res van die jaar, dag ná dag, in en deur die vrede en vrolikheid, die sagtheid en sekerheid van ons Here te leef en te laat leef? Is daar enige ander moontlikheid?

    ____________________

    Here, ek juig sonder ophou oor u verstommende goedheid.

    En ek is aan die ontvangkant daarvan. Prys die Here!

    Donderdag 11 JANUARIE 2018            Lees Efesiërs 1:7-14

    Glo jy aan geskenke?

    Deur Christus het ons deel geword van die volk van God … (v. 11).

    Ons behoort aan die Here. Punt.

    Dit sê Paulus op allerhande maniere in hierdie klompie verse. Dit is byna asof hy dié heerlike feit van alle moontlike kante benader sodat sy lesers dit tog net sal snap. Soos ’n simpatieke onderwyser wat wil doodseker maak sy leerders verstaan hierdie lewenswaarheid, herhaal hy dit, sê hy dit weer en weer.

    Natuurlik is dit van lewensbelang, dié feit, ja, maar ook dat ons dit sal begryp. Dat dit op ’n manier deur ons sinisme en skeptisisme sal dring en ons aangebore en oorgelewerde en nuutverworwe kleingeloof te bowe sal gaan.

    Ons verstaan mos moeilik dat ons kragtens die ryke genade van God (v. 7) deel van sy volk geword het. Dat daar nie éérs optel- en aftreksommetjies in die hemel gemaak moet word om vas te stel of ons die toets geslaag het of nie. Ons sluk swaar aan ons onvermoë om enigiets tot ons saligheid by te dra.

    Ai, sal ons vra, is daar dan nie iéts wat ons moet doen nie?

    Inderdaad, sê Paulus: Ons moet God se grootheid prys. En dan herhaal hy dit. Sodat ons dit nie sal misverstaan nie.

    O, en ons moet uitsien na alles wat ons nóg sal ontvang, voeg hy by. Die Gees waarborg dit. En wie sal waag om dit te betwyfel?

    Verstaan jy dit steeds nie?

    Toemaar, die Here penaliseer jou nie vir jou onbegrip nie. Eintlik vra Hy bloot dat jy Hom sal glo. En dat jy sy geskenk aan jou sal aanvaar.

    ____________________

    Here, druk dit in my onwillige hande.

    Skryf dit op my verraderlike hart.

    Vrydag 12 JANUARIE 2018            Lees Johannes 1:1-9

    Die ware lig

    Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (v. 5).

    Johannes se Evangelie begin nie met ’n Kersverhaal nie, maar met ’n gedig. Oor lig. Oftewel die Lig.

    Hy sê die Lig was van die begin af daar, alles het deur Hom tot stand gekom. En: In Hom was daar lewe … (v. 4).

    Vir ons is dit nie nuus nie. Ons weet dit van die begin af, want hierdie Lewe het vir ons die lewe gegee. ’n Lewe in sy lig wat nie uitgedoof kan word nie, hoe hard die duisternis ook al probeer.

    En probéér dit nie hard om alles te verswelg nie! Soms kom dit met een fel hou wat die lewe in chaos dompel. Maar dikwels bekruip die duisternis, planmatig en slinks, hulle wat in die lig lewe. Sodat hulle nie hierdie stelselmatige verdonkering sommer agterkom nie.

    Lank, soms jare lank, werk hierdie bose strategie. Mense van die lig merk nie op dat hulle langsamerhand in hierdie grynslaggende swart gat ingesuig word nie. Hulle vergeet gou hoe helder die Lig eintlik is. Hulle raak noodlottig gewoond aan die aansluipende skemer.

    Maar hierdie lig, sê Johannes, hierdie Lig, laat Hom nie uitdoof nie. Nee, dit is juis wanneer die helse donkerte alle pretensies oorboord gooi en verwoed begin dreig en blaas en soek om te verslind, dat die Lig soos ’n helder môrester opkom. En die dag die nag beslissend breek.

    ____________________

    U, Woord by God, U bly die lig op my pad

    en die lamp vir my voet. U skyn in my en oor my en altyd voor my uit. Halleluja!

    Saterdag 13 JANUARIE 2018            Lees Johannes 1:10-18

    God by ons

    Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (v. 14).

    Nee, dit is geen Kersverhaal met sterrekykers en herders dié nie, en niemand sing nie. Tog kan Johannes se sober verslag oor die impak wat God met Kersfees op sy kinders se lewe maak nie verkeerd verstaan word nie. Of hoe?

    Maar verstaan die Godskinders dit, die gewone mense, dié soos ons vir wie hierdie troosgedig bedoel is? Het hulle hoegenaamd ’n idee wat dit beteken dat Hy, die Woord wat in die begin reeds daar was, mens geword het? ’n God wat mens word? Wat tussen die mense kom woon? Wat God-by-ons word?

    Iewers tussen al dié heerlike, verbysterende feite duik ’n tweede vraag op: Is ons by God? Want uit Johannes se verslag van die geskiedenis blyk dit dat die mensgeworde Een nie by sy eerste adres welkom was nie. Sy eie mense (v. 11) wou Hom nie gehad het nie. Hoe op aarde …?

    Maar toe wend Hy Hom tot die ander, en Hy gee húlle die reg om sy susters en broers te word, God se kinders. Genade op genade! juig Johannes.

    Sedertdien weet al hierdie begenadigde kinders waar hulle vandaan kom en by wie hulle die reg gekry het om kinders van God genoem te word. Hulle weet dat dié status ’n geskenk is. Soos met alle geskenke moet hulle daarvoor dankie sê, dit oopmaak en dit geniet. En hulle verwonder oor die onberekenbare waarde daarvan om in God se teenwoordigheid te mag lewe. En hulle voorneem dat dankbaarheid voortaan die wagwoord in hul lewe sal wees.

    ____________________

    Dankie, Here, vir genade op genade. Wys my elke dag hoe die dankbaarheid lyk wat by só ’n geskenk pas.

    Sondag 14 JANUARIE 2018            Lees 1 Samuel 3:1-10

    God se stem

    Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor … (v. 1).

    Samuel het sy kleintyd in die kerk deurgebring. Só vertel die Bybelskrywer ons. Sy mentor – nie onverwags nie – was die ou priester daar, ene Eli. Maar, sug die skrywer, die Here se stem is in daardie tyd maar selde gehoor.

    Dit is seker dié dat die ou priester niks vermoed het toe die seun na hom gehardloop kom met die storie oor ’n stem wat na hom geroep het nie. Selfs nie die tweede keer nie. Eers ná die derde roepslag lui daar ’n klokkie by die tempeldienaar en kan hy die regte raad aan die seun gee.

    Tog vreemd dat die man wat van beter moes geweet het so horende doof was. Die skrywer verklap wel dat die ou man se oë swak geword het, maar klaarblyklik was die sig in sy geestesoë ook maar erg aangetas …

    Die vraag is: Hoe gebeur dit dat God se stem skaars word, en feitlik onherkenbaar is wanneer dit wel (in die plek waar Hy aanbid word!) gehoor word? Is dit die priester se skuld? Is dit as gevolg van die manier waarop hy en sy kinders God se genadegawes misbruik het?

    Die verhaal sê: Ja, dit is so. In hoofstuk 2 word God se oordeel oor Eli en sy huis uiteengesit, en die openbaring aan klein Samuel sou dit bevestig.

    Sal dit dan vandag steeds so wees dat God se oordeel nie by die sogenaamde heidene en godloënaars begin nie, maar by die kerk se mense? By hulle wat van beter moet weet? Wat lankal moes agtergekom het dat God se stem stil geword het, ook daar waar hulle Hom aanbid?

    ____________________

    Here, U moet tog nooit ophou om met u kerk te

    praat nie. Skud ons wakker, laat ons luister!

    Maandag 15 JANUARIE 2018            Lees 1 Samuel 3:11-20

    Praat, Here …!

    En Eli het gesê: "Hy is die Here,

    laat Hom doen soos Hy wil" (v. 18).

    Die boodskap wat die jong Samuel van die Here ontvang, is nie ’n maklike een om aan te hoor nie, en nóg moeiliker om te gaan oordra: Hy moet aan sy mentor gaan vertel dat dié se tyd verby is. Dat die Here se geduld met hom en sy mense opgeraak het.

    Eli het dit reeds geweet. ’n Tyd gelede het die Here dit immers self aan hom gesê. Ons weet nie wat sy reaksie tóé was nie, maar nou haal hy sy skouers op en sê gelate: Die Here moet maar maak soos Hy wil.

    Ja, wat anders is daar te sê of te doen as die Here self die gordyn laat val? Jy moet maar aanvaar dat dit die end van die prent is – of hoe?

    Nou, millenia later, met Jesus Christus wat intussen op die wêreldtoneel verskyn en skeidsmure afgebreek en gordyne middeldeur laat skeur het, wonder slimjanne soos ons oor die verdoeming wat op die kerkman Eli en sy mense afgekom het. Vra ons allerlei strikvrae oor ’n God wat toe wel met ’n mens, nogal een van sy spesiale diensknegte, die stryd gewonne gegee het.

    Ons kan seker ná Christus vrae vra as ons wil, of allerlei lawwe afleidings oor die Ou-Testamentiese gebeure maak, maar dalk sal dit ons beter pas om ’n vraag of twee te vra oor óns erns met die werk in sy kerk en koninkryk. Oor óns bereidwilligheid om te luister as Hy opdragte gee.

    En oor ons, die kerkmense, se vroom gewoonte om Here, Here te sê – en dan na te laat om sy wil te doen.

    ____________________

    Ek sê nou liewer nie u Naam hardop nie … Maar U moet asseblief nie met my moed opgee nie.

    Dinsdag 16 JANUARIE 2018            Lees Psalm 139:1-6

    U sien dwarsdeur my

    Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (v. 6).

    Natuurlik is die wete dat die Here dwarsdeur (v. 1) ons sien bo ons begrip. Én veels te erg om selfs aan te dink. Ek bedoel: Wat sien Hy nie alles nie! Wat ’n seeroog is ek nie vir Hom nie!

    Ons kan niks vir Hom wegsteek nie, niks. Hy sien ons hart, ons bedoelings, ons motiewe en geheime agendas. Hy sien deur ons plannetjies en verskoninkies. Hy lag vir ons vroom fasades en manhaftige maskers. Hy weet alles.

    Dit gaan ons verstand te bowe dat Hy ons nie al lankal afgesweer en weggesmyt het nie. Dat Hy nie destyds reeds moed verloor en ons aan onsself oorgelaat het nie. Dat Hy steeds met ons uithou en aanhou.

    Dat Hy ons, sonder om moedeloos te word, volg op die vreemde reise wat ons onderneem. Dat Hy ook vertoef by die oorblyplekke wat ons weet nie sy goedkeuring wegdra nie. Dat Hy ons herhaalde keuses wég van Hom af verdra: Daar waar ons gaan sit om Hom te probeer flous, of opstaan om opnuut die verkeerde pad te vat.

    Ons lê oop en bloot voor Hom, voor sy alsiende oog waarvoor ons nie kan wegkruip nie. Ons geheime is vir Hom algemene kennis. Ons versigtigste fluistering dawer in sy ore.

    Nee, dat Hy Allesweet heet, verstom ons nie; Hy is immers God. Maar dat die Naam waarby ons Hom leer ken het ook Allesverdra is, die Vader van Vergifnis – dié wete is ver bo ons vuurmaakplek.

    ____________________

    Ek skaam my vir alles wat U van my weet,

    Here. Sien U kans om my óór te maak?

    Woensdag 17 JANUARIE 2018            Lees Psalm 139:13-18

    U het my gevorm

    U het my al gesien toe ek nog ongebore was … (v. 16).

    Kyk, dáár klop die hartjie! sê die slim dokter en wys met sy vinger na die presiese plek op die skerm. Nét daar begin die lewe – vir die kleinding, vir die mamma en die pappa, die oumas en oupas, die dokter wat nege maande lank die nuwe lewetjie met ’n arendsoog sal dophou. En vir die glimlaggende God, die Skepper van daardie lewe.

    Nege maande lank sal die fetus se groei versigtig gemonitor word. Elke nuwe mylpaal sal met blydskap uitgewys en gevier word, deur ouers, grootouers en medikus. En deur God, wat met besitlike liefde oor sy kleine skepsel waak.

    Sy kosbare kleintjies is gedurig in God se gedagtes, sê die psalmdigter. Hy dink sonder ophou aan hulle wat vele verwagtings met hulle saamdra en soveel drome verteenwoordig. Dit is immers Hy wat daardie drome geskep het en wat hierdie blinkoog-ideale dag ná dag voed.

    Hy is hul lewenslange Oppasser, hierdie Here. Hy vorm hulle na sy hand. Hy maak hulle weer heel wanneer hulle in hul brose bestaan aangetas word. Wanneer die meedoënloosheid van die lewe daarin slaag om hulle te breek, of dit met die verloop van die jare regkry om hulle te verniel, staan Hy by hulle. Ja, Hy is elke dag daar, al sien hulle Hom skaars. Al wonder hulle dikwels oor Hom en al vra hulle aanhoudend vrae wat hul kleingeloof verklap.

    Hy hou sorgvuldig boek van hul kom-en-gaan, hierdie Skrywer van hul

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1