Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vatmaar: ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie
Vatmaar: ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie
Vatmaar: ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie
Ebook542 pages16 hours

Vatmaar: ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

Vatmaar vertel die boeiende verhaal van ’n klein gemeenskappie buite Kimberley, van die draai van die eeu tot ongeveer 1930. Die leser word bekend gestel aan ’n magdom fassinerende karakters – Oom Chai, Ta Vuurmaak, Domanie Frans Kiewiet, Boitjie Afrika, oom Flip en sus Bet – sowel as aan nuwe perspektiewe op bekende historiese gebeure. ’n Mens se oorweldigende indruk is een van diepe menslikheid en humor, hoewel ongeregtigheid en uitbuiting nie verswyg word nie. Die stories is vol kleur en opwinding, dit voed jou siel en laat jou soms uitbars van die lag, net om netnou weer trane in die oë te kry.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateDec 17, 2016
ISBN9780795707803
Vatmaar: ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie
Author

AHM Scholtz

Andrew Henry Martin (AHM) Scholtz is op 28 Julie 1923 in Kimberley gebore. Hy het na st. 5 die skool verlaat en het as skrynwerker gewerk. Daarna het hy aan die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem. Ná die oorlog werk hy tot met sy aftrede as bou-ondernemer op Mafikeng. In 1995 debuteer Andrew op 72-jarige ouderdom met sy roman, Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie. Dié boek is ’n groot sukses en is met die Eugène Marais-, CNA- en M-Net-prys bekroon. Scholtz het ook die Patrick Petersen Gedenkprys in 2002 en ’n SALA-toekenning postuum ontvang. Dit is ook in Nederlands, Engels en Duits vertaal. Hy is op 17 November 2004 op 81-jarige ouderdom oorlede.

Related to Vatmaar

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vatmaar

Rating: 4 out of 5 stars
4/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Vatmaar - AHM Scholtz

    A.H.M. Scholtz

    Vatmaar

    ’n Lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie

    Kwela Boeke

    Nota by hierdie uitgawe:

    Ondanks enkele inkonsekwenthede, foutiewe spelwyses en punktuasie, is die doel met hierdie uitgawe om die skrywer se unieke skryfwyse te behou volgens die eerste uitgawe in 1995.

    Geagte Leser

    Ek gaan ’n storie vertel van die bruinmense van Suid-Afrika. Hulle het nie uit die Noorde gekom nie en ook nie van oorsee af nie. Hulle het hiér ontstaan, opregte Suid-Afrikaners wat dalk eendag Azaniërs genoem sal word.

    Vatmaar se mense was arm, eenvoudig, ongeslyp en teer. As ’n mens hulle verstaan soos hulle is, word jy lief vir hulle. Lelike gesigte was daar nie, en hulle het altyd ’n vreemdeling met respek behandel.

    Ek sal hulle onthou.

    Die mense van Vatmaar bedank met erkentlikheid die tikster, Philomena Baker, vir haar onselfsugtige en ootmoedige arbeid.

    Vatmaar

    Onse blyplek was ’n nedersettinkie met die naam Vatmaar, so vier myl van Du Toitspan af, ’n dorp met waterkrane in die huise en ligte wat jy kon aansteek deur op ’n knoppie te druk. Daar was hoë pale in Du Toitspan met dun drade oor dwarsbalkies gespan wat onse slimmer maats telefoondrade genoem het. Nie een van ons in Vatmaar het al ooit vantevore ’n telefoon gesien nie. Onse gemiddelde ouderdom was so twaalf jaar.

    In Vatmaar moes ons saans kerse opsteek wat jy teen pennie stuk by ons Koeliewinkel kon koop en teen twee vir ’n pennie in Du Toitspan. Onse water het uit putte gekom. Die water het baie vlak gelê as jy ’n put moes grawe, en die vlei het nooit sover die oupas en die oumas kon onthou, opgedroog nie.

    Ons kon in Vatmaar onse eie slaggoed aanhou en tuinmaak.

    ’n Erf van twee morg het vyftien sjielings gekos – die weekloon van die meeste werksvolk. Dit was net vir die hoekpenne wat die dorpsraad se opmeter kom aanwys het, want net die hoekpenne was joune, nie die erf nie. Daar was nêrens draadheinings nie, net die hoekpenne.

    Die erwe het honderd jaarts ver langs die straat af geloop. Daar was sestig sulke erwe – dertig aan elke kant van die pad wat Ta Vuurmaak oopgeskraap het toe hy voor onse geboorte nog sy treinwatertenk met sy vier osse vlei toe gesleep het.

    Die mense van Vatmaar moes vyf sjielings jaargeld aan Du Toitspan se dorpsraad betaal. Daarvoor het hulle ook weiregte in die dorpsgrond van Du Toitspan gekry. So, vir die besitreg van ’n erf moes ’n nuwe intrekker een pond neersit – vyftien sjielings vir die hoekpenne en vyf sjielings vir die jaargeld.

    Maar hy moes eers by die dorpsraadskantoor voor ’n plan van Vatmaar gaan staan en op die vraag Waar? moes hy sê: Naby so en so. Amper geen bewoners kon destyds lees en skryf nie, so die nuwe intrekker het net die nommer van die erf op die kwitansie-papier gekry, en sy naam is op die Vatmaar Settlement Plan ingeskryf. Hy moes dan sorg dat hy die volgende Saterdagoggend nege-uur in Vatmaar vir die Cape-boy wag wat vir hom die erf sou kom uitwys.

    Saterdag met dagbreek het die nuwe intrekker, en miskien ook sy familie en vriende, klaar sit en wag vir die Cape-boy wat kom kyk het dat hy die regte erf vat. Wanneer die man by die halfway-house (’n groot kameeldoringboom op die kortpaaitjie Du Toitspan toe) verbykom, het hulle hande geklap en geskree: Daar kom hy! Daar kom hy! En dan het hulle gestry oor wie hom eerste gesien het.

    Dit was altyd ’n ou man op ’n bicycle, glad nie ’n boy nie, met ’n stuk opgerolde papier in die hand en ’n breë glimlag op sy gesig. Tussen die handvatsels van sy bicycle was daar ’n bordjie met die woorde: Du Toitspan Town Council.

    Sy eerste woorde was gewoontlik: Waar is so en so?

    Waarop die nuwe intrekker sy hoed afgehaal het en gesê het: Hier is hy, Oom.

    Sodra die hoekpenne aangewys is, het die aankykers klippe aangedra om om die penne te pak. Die intrekker se vrou, en partykeer die man self ook, het dan die grond gesoen en gesê: Dankie, Here.

    Dan het die tyd aangebreek vir die geluk – ’n paraffienblik vol khadie of kaffirbier, en ’n sopie sjerrie vir die grootmense. Elke drinker het ’n bietjie van die drank gespaar en dit op die grond uitgegooi met die woorde: Dit is die pis.

    ’n Jong Griekwa en sy vrou uit Daniëlskuil uit het ook ’n erf gekoop, en na die hoekbakens aangewys is, het sy vrou vir hom gesê: Petrus, doen wat onse voormense gedoen het. Hy het toe met dieselfde vol blaas rondom die erf geloop en op al vier bakens gepee.

    Wilde leeus baken ook hulle se plek so met hulle se pis af, het iemand gesê.

    Partykeer, maar amper nooit, is daar gebid.

    Na die geluk het Oom Chai gewoontlik die graaf gevat en vir die intrekker gesê: Nou vir water. Wanneer hulle oor die plek ooreengekom het, het Oom Chai gesê: Dankie, Here, vir die eer om die eerste graaf grond uit te spit. Dan het al Vatmaar se mans, oud en jonk, help grawe, en voor sononder het Vatmaar een put by gehad.

    Rommel rondgooi was daar nie. Elkeen van ons het ’n vuilgoedgat op ’n hoek van sy erf gehad en alle rommel is daarin gegooi, met die as van die dag se vuur bo-op.

    Daar was toe nog nie ’n kerk of poeliesstasie om vrees in onse gemoedere te blaas nie. Geen sokkerspan en danssaal om onse aandag af te trek nie. Geen dokter en prokureur om op staat te maak nie. Daar was net veldpaaie, met gate wat vanself toegaan as dit reën. En oral was daar kortpaaitjies.

    Vatmaar was arm, en tog het ons nie armoede geken nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n swanger ongetroude meisie gesien het nie. Daar was meer kinders as grootmense. Oupas het altyd gesê: Ek kan nog altyd daai klein werkie doen.

    Sterfgevalle was ver uitmekaar maar elke nou en dan is daar ’n baba gebore. Niemand is dood aan kanker nie want dit was ’n rykmansiekte, maar teen witseerkeel het kinders nooit ’n kans gehad nie. En daar was twee soorte tering: die vette en die mare.

    Onse kinders het oorgenoeg gebaklei, maar as onse ouers stry gekry het, het hulle vir mekaar gesê: Pas op, die bure hoor jou.

    Vatmaar se kinders het nooit van die Agste Gebod geweet nie, die een van Jy mag nie steel nie. Ons kon dit nooit weerstaan om ’n draai met anderman se bicycle te ry nie. En ons het dit geniet om rond te draf met ’n ou bicycle-wiel sonder speke of tjoep met ’n stokkie in die groef.

    Vir tandpyn was ons die bangste, want die slagoffer moes Du Toitspan toe loop met ’n lap oor sy mond om die wind uit te hou. Jy moes een sjieling by die hospitaal se Out Patients gaan betaal en dan saam met die ander pasiënte buite vir jou beurt wag, want die dokter wou nie hê die pasiënte wat wag moet die gegil hoor nie. Jy het partykeer die pyn daar buite probeer weg wag en dan lus gekry om weg te hardloop. Maar die kwitansie-papier vir die sjieling wat jy klaar betaal het, het jou in die ry gehou. Die tand is sommer so lewendag getrek. Net dié wat dit kon bekostig, het ekstra betaal vir klorieform.

    Vir nog ’n ding was ons bang – dat die dokter jou tand sou afbreek. Party het gesê: Ek moes liewer naeltjies en snuif gebruik het. En wanneer die dokter dan met hom klaar was, wou dié wat nog buite gewag het, weet: Hoe trek hy?

    Ons was die meeste van die tyd in die hande van ’n perdedokter wat elke keer gesê het: Dankie, Here, hy is uit!

    Vir die wit elite van Du Toitspan was al Vatmaar se mense dieselfde, maar ons het onse eie ek-is-beter-as-jy-soorte gehad. Dit was gewoontlik die Engels-praters.

    Gladde hare, blou oë en ’n ligte vel het ook jaloesie veroorsaak.

    Die mense het verskillende woorde gehad om hulle landgenote te beskryf. Hierdie name was destyds heeltemal betaamlik en aanvaarbaar, selfs dié woorde wat vandag aanstootlik klink en nie meer gebruik word nie.

    Die witmense wat teen die Engelse geveg het, is Boere genoem (voordat hulle Afrikaners geword het) en die Engelse was Rooinekke. British subject was gehate woorde by die Boere. Alle volwassenes wat nie van oorsee af gekom het en nie wit was nie, is boys en girls genoem. Die Engelse het bruinmense Cape-boys en partykeer Coloureds genoem – vir die Boere was hulle basters of hotnots. Die woord kleurling is toe nog nie gebruik nie. ’n Swartman uit Afrika was ’n kaffir, en ’n Indiër was ’n koelie. Soms is die woorde aspris gebruik om ’n persoon se gevoelens seer te maak, maar die meeste van die tyd het nie een van die twee – nie die een wat die woord gebruik het en ook nie die een wat so genoem is – van beter geweet nie.

    Dit was die gewoonte om ’n Engelsman Mister en sy vrou Madam te noem en ’n Boer Baas en sy vrou Miesies wanneer mense onder mekaar gepraat het. Deftige bruinmense was Mineer en Mevrou. Ons het die grootmense Oupa en Ouma en Oom en Tante genoem, en hulle het mekaar Sus en Siesie en Neef genoem.

    As ek Vatmaar se storie vertel, gebruik ek al hierdie woorde soos hulle destyds gebruik is – in alle liefde en met respek, sonder om iemand te wil seermaak.

    Party mense het gesê Vatmaar het sy naam van Ta Vuurmaak gekry. Hy het in ’n groot treinwatertenk gebly. Dit was bo-op toegepak met takke en gras om te keer dat die sink in die somer te warm raak en in die winter te koud.

    Die tenk was naby die vlei, nie in die nedersetting nie. So Ta Vuurmaak het nie jaargeld betaal nie. Hy het Kimberley-stene gemaak van die vlei se klei en dryfsand wat hy bymekaargemaak het met sy kruiwa. So ’n steen was twaalf duim by nege duim by vier duim, en hy het hulle teen twee pennies stuk verkoop. Al Vatmaar se huise was van Ta Vuurmaak se Kimberleys gebou.

    Oom Flip het die stene met sy trollie gekarwei, en hy is in Kimberleys betaal, of dit nou ’n vrag van twintig of vyftig stene was. Arbeid was nie ingereken nie – jy moes self die stene op- en aflaai.

    Ta Vuurmaak was die oudste oupa in Vatmaar en hy het altyd gesê die ander oupas is jonk genoeg om sy kinders te wees. Vatmaar het hom Ta – pa – Vuurmaak genoem.

    Hy was nie groot nie maar hy het groot gelyk. Hy het altyd ’n langbroek met afgesnyde pype gedra. Sy bene was krom en die mense het gesê: Hy kan nie ’n vark vang nie. Sy lyf was vol lang, lelike kwesmerke, elkeen met sy eie storie. Hy het velriemskoene gedra wat hy by Tant Wonnie gekoop het. Teen die tyd van die Runderpes (1896), het hy gesê, het hy al sy tweede vrou na haar ma-goed teruggestuur oor sy nie vir hom kinders kon gee nie. Wat hy nie kon verstaan nie, het hy altyd gesê en gelag, is dat altwee die vroumense ander mans gevat het en vir húlle kinders gegee het.

    Ta Vuurmaak het altyd ’n keps gedra. Wanneer hy dit afgehaal het, het jy die mooiste bleskop gesien wat jy jou kan voorstel. Met sy tandelose mond kon hy die taaiste vleis eet. Sy oë was altyd halftoe. Dit was net twee skrefies en jy kon nooit die kleur sien nie. Sy gesig, nek, hande en knieë was ’n bondel inmekaargedrukte plooie wat ’n mens laat dink het hy is ver oor die honderd. Sy stem was fyn maar krakerig.

    Hy vergeet nooit wat hy gesien het nie, het die mense gesê.

    Ta Vuurmaak vertel van die Queen se Cape-boys

    Op die Sondag ná die dag waarop die oumense hulle se pensioen gekry het, het ons jongetjies altyd vir Ta Vuurmaak by sy cabin gaan kuier. Dis hoe Tommy Lewis die treinwatertenk genoem het en almal het die naam gebruik. Dan het Ta Vuurmaak vir ons ou stories van Vatmaar vertel. Hy het altyd ’n bottel sjerrie vir die okkasie gebêre.

    Hoekom witmense mekaar doodmaak, kon ek nog nooit verstaan nie, het Ta Vuurmaak gesê. Die Engelse het doei tyd gesê hulle gee hulle se lewens vir ’n ou vrou wat hulle Queen noem, en al het hulle speel-speel geveg, het die Boere, wat niks verkeerd gedoen het nie, hierdie Queen se mense soos wild platgetrek.

    Ek het daar by die square by die stasie gesit waar almal gesit het wat werk soek en waarnatoe mense gekom het as hulle werksvolk nodig het. Toe kom dié man met die naam Chai daar aan om vyf Cape-boys te huur wat vir die Queen kon werk. Daar was net drie van ons en ek weet nie waar hy die ander twee gekry het nie.

    Hy vat ons toe na ’n Engelsman toe wat gesê het hy is Lance-Corporal Lewis. Hulle sou sikspens ’n dag betaal en ons ook nog resoen gee – ’n blik bully-beef en biscuits. Ons moes onse bevele vat van hierdie boy – en die Engelsman het na Chai gewys.

    Daai dae was daar nie ander werk nie, net oorlogswerk. Die Rooinekke het hom Corporal genoem omdat hy een streep op sy arm gedra het. Hy en vier manskappe was te perd. En ons vyf boys en die resoene was op ’n wa met ag osse.

    Ons het nie geweet wat onse werk was nie en ons was bang vir die Boere want hulle het nooit mis geskiet met daai mausers nie. Op die tweede dag het Chai vir ons gesê ons is nou in die Transvaal en ons moet lig slaap.

    Kort daarna het ons uitgevind wat ons moes doen:

    Twee van ons moes die plaashuis dophou. Intussen het die wa met die Queen se manne gewag waar hulle nie gesien kan word nie. Ons moes kyk of daar nie mans in die rondte is nie, so ons het gewoontlik na die huis toe gegaan en gevra of ons water by die put kon skep. Maar ons moes baie lig loop vir die Boerevrou. Sy is baie sterk en bang vir niks. Julle sien dié kwesplek?

    Ta Vuurmaak het na ’n lang merk op sy kuit gewys.

    Hiervoor het ’n ou ouma gesorg wat ons dopgehou het.

    As ons geen mans gewaar het nie, het ons so gaan sê. Dan het die vier manskappe en die Corporal die plaashuis omsingel en die ander het die wa nader gebring. Dit was dan onse werk om te sorg dat die huismense se kos en ander goed op die wa gelaai word. Dan moes een van ons boys hulle saam met ’n man van die Queen na die konsentrasiekamp toe vat. Dit is wat hulle ’n tronk vir vroumense en kinders genoem het. En voor die wa vertrek het, moes ons, die boys, die plaashuis aan die brand steek. Dit was om die Boere te laat sien wat gebeur as hulle teen die Queen wil veg.

    Vertel ons nog, Ta, het ons hom aangespoor.

    Ek en ’n Kapenaar het die dag verby die plaastuin geloop en die lekker groot geelwortels gesien. Dit was baie stil, nie ’n hond wat blaf nie. Ek het bo-op die klipmuur geklim wat om die tuin was en ek was net reg om af te spring en ’n paar wortels uit te trek toe – kwa! Dit het gevoel of iets teen my been stamp. Ek het afgespring en gehardloop. So in die hardloop het ek gedink: Vuurmaak, jy kan nie dood is nie want ek voel jy hardloop.

    Toe ek by die Queen se wa kom, het die Kapenaar al daar vir my gewag. Sy naam was Gamat. Hy het my aangekyk met ongelowige oë.

    Gamat, het ek vir hom gesê, het jy dan gevlie?

    Nei, Oem, het hy gesê, Oem wiet hulle skietie mis nie.

    Die Corporal het gesê dis net ’n vleiswond.

    My kinders, het Ta Vuurmaak vir ons gesê, ek is mos nie dom nie, die plek was al lank gesond toe dra ek nog altyd die linnebande om my been. Wanneer ons iets moes doen waarvoor ek nie lus was nie, het ek gemaak of ek nie op die been kon trap nie. En ek het net te lekker gevoel as Chai sê: Laat staan die kruppelgat.

    Terwyl hy die ou kwesmerk streel, het hy met sy glimlag sonder tande gesê: Dié is my eie waarheid.

    Ons het Ta Vuurmaak aangekyk en elkeen sy eie ding gedink.

    By die eerste plaashuis was daar net ’n ou ouma, ’n swanger vrou en twee klein dogtertjies, het Ta Vuurmaak vertel. Nie een van hulle het ooit gehuil of vir genade gesoebat nie. En toe het die ouma onthou dat die Bybel nog in die kombuis was. Sy het deur die vlamme teruggeloop.

    Ek sê wat ek gesien het, my kinders, het Ta Vuurmaak in ’n gebroke stem gesê terwyl hy ons een vir een aankyk. Sy het uit die huis uit gekom, haar klere in vlamme, maar met die Boek so heel bokant haar kop. Die jong vrou het gehardloop en die Boek uit haar hande gevat.

    Wat het toe gebeur, Ta Vuurmaak? wou een van ons weet.

    Toe het die ouma in een groot vlam verander, haar rok was uitgebrand, en haar kappie was die laaste om aan die brand te raak, en ons het na daai ou gesig gekyk. Daar het nie ’n traan uit haar oë of ’n geluid uit haar mond gekom nie. Tot vandag toe, my kinders, sien ek daai gesig asof alles gister gebeur het.

    Dit het alles so vinnig gegaan. Skierlik het die ouma op die grond gelê – net ’n swart bondel wat na gebrande vleis ruik. Ons het almal na haar toe gegaan, maar dit was te laat. Sy het haar laaste asem uitgeblaas. Net toe het die vuur die dak laat inval en alles het stil geword.

    Chai het toe vir ons boys gesê om die grawe en pikke te bring en ’n graf te grawe net langs die lyk. Hy het vir die jong vrou, wat nog altyd nie gehuil het nie, gesê: Miesies, dit is Miesies se eer om die ouma in die graf te sit.

    Sy het die ou vrou ingerol en die Onse Vader opgesê. Chai het dit saam met haar gesê. Met die Bybel teen haar bors vasgedruk het sy gesê: Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie.

    Sy het omgedraai na waar die Queen se manne op hulle pêre sit en na hulle toe gespoeg.

    Ons het die gat toegegooi. Die jong vrou het ’n stuk hout gevat en daarmee ’n ketel uit die gloeiende as van die kombuis gekrap, dit vol sand gemaak en dit op die graf se koppenent neergesit.

    Sy het net na die mans gekyk wat nog altyd op hulle pêre gesit het. Hulle het weggekyk, hulle kon haar nie in die oë kyk nie want sy was nie bang vir hulle nie. Dit het alles gebeur sonder dat die Queen se manne ’n vinger gelig het. Ek het Corporal Lewis net hoor sê: We must obey orders.

    Hierna moes daar nog vier plaashuise afgebrand word. Dié keer het Chai ander planne gehad. Hy het mos geweet hoe om ’n witman te gebruik.

    Maar hier het Ta Vuurmaak vaak geword en gesê: Ek het al klaar te veel waarheid gepraat. (Sy geskiedenis het hy waarheid genoem.) Julle stout seuns sal moet wag vir die orige vier huise. Gaan nou huis toe en doen julle se werk, ek wil slaap.

    Dit was ’n lang wag tot die Sondag ná die volgende pensioendag. Ta Vuurmaak het ’n kelkie gehad wat hy uit een van die plaashuise gehaal het en dit was sy kosbaarste besitting, het hy gesê. Net hy mag daaraan geraak het. Hy het altyd gesê dit is sy oorlogsgedagtenis. Hy het dit vol sjerrie gemaak en gesê ’n mens moet dit drink soos by nagmaal, en dan het hy die wyn so stadig gedrink as wat hy maar kon.

    Na die eerste kelkie, het ons die grootste onder ons met die elmboog gestamp en gesê: Vra nou.

    Ta Vuurmaak, het die seun dan gesê, vertel vir ons van die ander vier plaashuise.

    O ja, het die ou man gesê. Die eerste een is tot op die grond afgebrand, soos wat die orders van die Queen gesê het. Dit was Queen Victoria. Ek weet nie wanneer Chai en die Corporal besluit het om die Queen se orders te verander soos dit hulle pas nie. Ons, die spioene, het dieselfde ding bly doen. ’n Queen se man te perd en een van die Queen se boys met die wa en osse moes al die Boerevrouens en -kinders met hulle se kos na die konsentrasiekamp toe aanry. So was dit tot by die vyfde plaashuis. Julle onthou mos nog die eerste een is tot op die grond toe afgebrand, het Ta Vuurmaak gesê.

    Ja ja ons onthou, het ons soos ’n koor gesê.

    Toe die wa met die Boeremense en hulle se goed by die vyfde plaashuis vertrek, het Chai vir my gesê: Jy bly by ons, en jy hou jou bek.

    Hy het sy vinger oor sy lippe gesit. Chai het drie plaasvolk by hom gehad wat die Corporal ook boys van die Queen gemaak het, ook teen sikspens ’n dag en resoen. Hulle moes my help om die sinkplate van die dakke af te haal en om die beste hout, vensters en deure uit te breek en die beste huisraad, potte en panne bymekaar te maak. Chai het gesê dis vatmaar-goed.

    Die beste goeters is op die Queen se wa gelaai totdat daar niks meer kon op nie.

    Toe is ons met ’n korter pad terug wat Chai lyk my goed geken het. Onse watertenk was leeg en Chai het vir die Corporal gesê as ons deur die nag trek sal ons teen die oggend al die water hê wat ons nodig het, en nog meer.

    Net soos hy gesê het, het ons by daai groot boom gestop. Hy is nou dood. Sien julle hom?

    Ta Vuurmaak het met sy vinger na die boomstomp gewys en ons het weer soos ’n koor gesê: Ons sien.

    Alles is baie versigtig afgelaai en met die sinkplate toegemaak. Ons het klippe bo-op gepak sodat die wind dit nie kon wegwaai nie. Hulle het omtrent al die kos vir my gegee en gesê: Bly hier tot ons terugkom.

    Ek het vir Chai gevra waar ek moes slaap. Ek kon nie soos ’n muis daar tussen die goed slaap nie want die slange gaan altyd agter die muis aan.

    My kinders, het Ta Vuurmaak gesê, Chai is goed skelm-slim. Hy het vir my gesê: Onthou jy die groot treinwatertenk by een van die sidings hier op die spoorlyn wat die Boere vol gate geskiet het?

    Ja, het ek gesê.

    Dit sal nooit meer water hou nie, sê hy toe. So vat vier osse en trekgoed en gaan haal dit vir jou want dit sal ’n baie lekker slaapplek uitmaak.

    Ek is daardie nag met vier osse na die treinwatertenk toe. Dit het begin reën waar Vatmaar begin en die tenk het die sloot gemaak wat julle diesdae die Vatmaar-pad noem.

    Toe op ’n dag het Chai teruggekom met genoeg kos vir ’n maand. Hy het gesê: Bly net hier, alles is oor, hulle is besig by Vereeniging. Ons moet regmaak vir vrede.

    Toe het Chai weer vir ’n hele tyd weggebly. Op ’n oggend het hy en die Corporal (sonder uniform) kom kyk of alles nog reg is. Hulle het met ’n verewaentjie met twee pêre voor gery en meel, koffie en suiker gebring. Toe hoor ek die Corporal sê vir Chai: You know, Chai, we were fools for not taking sheep and cattle too.

    Oom Chai vertel vir Ta Vuurmaak van Oupa Lewies se liefde

    Nie lank daarna nie het daar mense gekom en ysterpenne in die grond begin slaan en dit op ’n stuk papier gemerk. En ek het vir Chai tussen hulle gewaar. Ek het gaan kyk wat aangaan. Toe die Corporal en Chai tussen die penne begin rondloop en praat, het ek probeer verstaan wat hulle sê, maar ek kon nie. Só het ek gesien hoe Vatmaar op papier gesit word.

    Ons kinders wou al loop, maar Ta Vuurmaak het gesê hy kan net sowel die res van die waarheid vertel. Teen dié tyd was die bottel sjerrie byna leeg.

    Chai het ’n bietjie te baie te drinke gehad, het Ta Vuurmaak gesê. Hy het een Krismismiddag ’n kan khadie gebring. Hy het gesê hy het gedink hy sal my maar besoek, want ons het ’n lang pad saamgekom.

    Ek was baie verstom toe ek hoor wat uit dié Chai se bek kom. Hy het gesê die Corporal het nie met die ander Rooinekke gepraat nie. Hy het gemeen hy is beter as hulle. So hy het snags met hom wat Chai is, gesels. As hulle alleen was.

    En toe vertel Ta Vuurmaak vir ons wat Oom Chai vir hom vertel het.

    Die Corporal het vertel dat hy ’n meisie in Vryburg ontmoet het. Ruth was haar naam. Ek wou hom nie vra of sy wit of nie wit was nie. Toe vra ek maar wat is haar van. Hy het gesê hy dink nie sy het ’n van nie. Toe weet ek sy moet swart wees.

    Hoe oud is die meisie? vra ek.

    Hy het gesê so sewentien.

    Weet haar ouers van jou, Corporal? het ek gevra.

    Yes, they all like me but the old aunty said: If you really want her you must give bogadie (lobola) as you soldiers just make children by our women and then forget them. And another thing is, you white-face people’s children are not our own as you make them Coloureds, and help them turn against us.

    Charlie, het die Corporal vir my gesê, it is now four months since we were in Vryburg and I cannot get her out of my mind.

    Ek het regtig jammer gevoel vir hierdie Corporal Lewis want hy het uit sy hart uit gepraat.

    Onthou jy die eerste huis wat afgebrand is, Ta Vuurmaak?

    Ja, ek onthou, Chai.

    Wel, ek het gedink ek kan nie staan en kyk hoe die Boere oor niks moet ly en hoe vrouens en kinders uit hulle huise gevat word en hoe alles wat hulle het aan die brand gesteek word op orders van die Queen nie. Ek het besef ons Cape-boys moet die vuilwerk doen terwyl die Queen se manne staan en kyk hoe ons dit doen. As ons sou weier, weet ek nie wat hulle aan ons sou gedoen het nie. Miskien sou hulle ons geboei en tronk toe gestuur het omdat ons nie wou, soos hulle sê, orders obey nie. Want ons was nie die Queen se Cape-boys nie, ons was die Queen se manne.

    Onthou jy die nag toe ons naby die tweede plaashuis oorgestaan het? Ons het die nag agter daai blou klipkoppie geslaap. Corporal Lewis het daar vir my gesê: Let’s take a walk.

    Dit was donker. Ons het tot bo-op die koppie geklim en op twee klippe gaan sit. Ons het lank so doodstil gesit. Omdat ek niks gehad het om te sê nie, het ek stilgebly. Ek kon sy hart hoor klop want die nag was baie stil.

    My Ruth, by God, I really love you. God, please do not let anybody raise a finger on her. I love you, Ruth, Ruth, Ruth, het die Corporal skierlik gesê. Sy oë was toe en hy het hulle oopgemaak. Dit het my gelyk hy het vergeet ek was by.

    Ons het weer doodstil gesit. Toe sit hy sy hand op my knie en sê: Charlie, you are the only friend I have.

    Ons het weer ’n hele tydjie doodstil gesit. Toe dink ek as ek die man se swak plek agterkom, kan ek hom gebruik. Ek het aan die volgende plaashuis gedink wat ons Cape-boys môre aan die brand moes steek terwyl hy en sy manne sit en kyk. Ek het vir hom gesê: Corporal, wat sou jy gedoen het as ons Cape-boys op die perde gesit het en jy en jou manne moes jou Ruth se huis afbrand?

    Hy het nie geantwoord nie, net stil gesit. Toe het hy met ’n stuurs army-stem gesê: You, Charlie, must never think like that.

    Ek het gesê ek is jammer, maar ek is baie bly om sy vriend te wees en vriende vergeef mekaar.

    Ek het opgestaan om te gaan pis, met die idee dat hy ook sal opstaan en dat ons sou gaan slaap. Maar hy het bly sit, met sy elmboë op sy knieë en sy gesig in sy hande en net bly sê: Ruth, my Ruth.

    Hy het my Charlie begin noem toe hy my as sy vriend aangeneem het. Charlie, sê hy toe, I don’t see her blackness, you know.

    O, het ek gedink, dan was ek reg dat sy ’n swart meisie is.

    When we are together alone, she sits on my knee, with her hand in my hand. And we are one – I am not me and she is not she. Our heart beat is one beat, and we take breath inbetween beats together. There is no time for thinking, for time stands still. It is love, true love, Charlie. Our souls are united with God. How could I ever forget it? I say, thank you, God.

    Hy het opgestaan en gaan pis.

    Ek het weer op die klip gaan sit en dink aan ’n manier om nie die plaashuis hier anderkant af te brand nie, ’n huis wat ook liefde huisves. Die Boere sê tog ook: Ons dank U, God. En die plek het so onskuldig en huislik gelyk.

    Die Corporal het teruggekom en weer op sy klip gaan sit. Thank God, het hy gesê, that I have not taken advantage of her. Which I could have and sometimes wish I had.

    Corporal, het ek gesê, noudat ek dink ek weet wat in jou hart omgaan, sal ek vir jou vertel wat ek in gedagte het.

    Vuurmaak, het Oom Chai gesê, jy weet wat het by die ander vier plaashuise gebeur en hoe jy hier met jou gesteelde treinwatertenk beland het. So ek sal dit nie herhaal nie. Maar ek sal jou vertel wat ná Vereeniging gebeur het.

    Oom Chai vertel hoe hulle ná Vereeniging werk gekry het

    Ek wou nie teruggaan na ons huis in die Vrystaat nie, het Chai gesê, omdat ek gehoor het Steven, my ouer broer, veg saam met Generaal Joubert en dat die burgers almal ’n goeie woord vir hom het. En dan was daar nog jy, Vuurmaak, met ons goed hier naby die vlei. En hierdie Engelsman wat gesê het ek is sy vriend, ek kon ook nie van hom ontslae raak nie.

    Toe ons by die plek kom wat hulle noem die Military Headquarters, is die Cape-boys afbetaal en al ons name en adresse is opgeskryf sodat hulle ons oorlogsmedaljes kon aanstuur. Ons het almal ons adresse opgegee as C/o Du Toitspan Post Office. Ek het jou naam ook opgegee, want ek het gedink miskien het jy ook next of kin, soos hulle ’n mens se familie noem. Vir jou betaling, Vuurmaak, het ek ook geteken. Ek het gesê jy is dood en dat ek jou familie ken.

    Laat ons Ta se oorlogsmedalje sien, het ons kinders vir Ta Vuurmaak een Sondag na pensioendag gevra. Een wou weet: Hoeveel Boere het Ta doodgeskiet?

    Die ou man het net gelag, sonder om sy mond oop te maak. Chai het vir my my geld gebring. Die medalje het ek geruil vir ’n bottel sjerrie, het hy gesê.

    Die Corporal, het Oom Chai verder vir Ta Vuurmaak vertel, het gesorg dat ek drie maande langer betaal word as wat ek gewerk het omdat ek sy enigste vriend was. Die Corporal het ook uit die army bedank omdat hy gesê het dat hy nou gewoond is aan die son en hy nie meer sou aanpas in die plek waar hy vandaan kom nie. Die army-captain het gesê: Corporal, you have fought for the Queen, and South Africa is now part of the British Empire.

    Die Corporal het nie soos ons geld gekry nie maar wat hy genoem het ’n Barclay-tjekboek.

    Now, het hy vir my gesê, not a day longer. En weg is ons met die trein na sy Ruth toe.

    Terwyl ons van die stasie af loop met ons hold-alls met al ons besittings in, het hierdie Ruth vir George sien aankom – hy het op die trein gevra dat ek hom George Lewis moet noem, nie meer Corporal nie.

    Hy het van my af begin weghardloop en ek het iemand na hom toe sien hardloop. Hy het hierdie hollende ding gevang, dit in die lug gegooi en weer gevang. Toe staan hy stil en hou dit vas soos ’n ma ’n pasgebore baba vashou. Ek het nader gegaan, maar hy het my nie gesien nie, toe loop ek maar verby.

    Ek het onder ’n boom gaan sit en gesien hoe dra hy hierdie Ruth van hom na waar ’n klomp mense staan en hande klap en oeloeloe-sing. En ek het ’n ou man hoor sê: Hy is een van ons.

    Hy het haar neergesit. Van waar ek gesit het, het sy nes enige ander swart meisie gelyk wat by witmense in die huis werk. Toe ek nader gaan, het ek gesien sy is kaalvoet, met net ’n dun, skoongewaste wit rok aan. Dit was ’n koue dag maar sy het nie die koue gevoel nie. George, soos Corporal Lewis gevra het ek moet hom noem, het my aan al die mense voorgestel as sy vriend Charlie.

    Toe kon ek vir Ruth sien soos sy is. Haar swaaistap was lewendagger as dié van ’n gewone vrou. Sy het meer een-vir-jou-en-een-vir-my gegee. Haar borste was vol en het twee punte onder haar rok gestaan. Haar nek was lank en dun. Haar gesig was van Afrika – perfekte tande en skoon wit oogballe. En sy het ook iets van haar eie gehad, iets bokant mooi.

    Hulle het vir ons ’n skoon hut gegee met ’n kom en beker water en twee grasmatte. En hulle het gesê: Dit is julle s’n solank julle by ons oorbly.

    Die mense was arm want hulle het baie in die oorlog verloor. Brit en Boer het hulle vee gevat. Die meeste van hulle het nikswerd kwitansie-papiere gehad vir beeste of skape wat in die naam van die Queen van hulle gesteel is. En die Boere het gevat net wat hulle wou en gesê: Julle kaffirs kan bly wees dat ons julle nie eers geskiet het nie.

    Ons is toe na die ngosi, die hoofman. George het ’n bottel brandewyn saamgebring vir die mans in Ruth se familie, maar hy moes dit met die hoofman deel. Dit was ook maar goed, want so het ons sy guns gewen. Hy het vir ons alles vertel wat ons wou weet oor die trougebruike van sy mense. Hy was een van die min wat kon Engels praat. Hy het gesê hy sou die volgende oggend iemand na ons toe stuur wat die troue sal reël en ’n plek sal aanwys waar George sy hut kon bou en ’n veekraal en ’n ploegland kon begin. Natuurlik ná hy die bogadie betaal het.

    Na ’n paar keer se e Ra, e Ra (ja, Mineer, ja, Mineer) is ons weer weg by die hoofman. Maar George wou eers vir sy Ruth gaan nagsê.

    Die volgende dag het ’n ouma en ’n jong man ons kom sien. Die ngosi het hulle gestuur om die troue aanmekaar te sit. Die man het gekom om te tolk. Die ouma wou nie hê dat Ruth enigiets met die reëlings te doen het nie.

    George het eers ’n lys gemaak van alles wat nodig was. Daarna het hy die goeters vir die bogadie in sy sakboekie opgeskryf. Ruth se mense wou tot ’n ekstra driebeenpot, brandewyn en twak hê. Toe het die jong man vir George die prys van elke ding gegee.

    Ek weet nie meer presies hoeveel nie, maar dit was na aan die honderd pond. Hy moes dit die volgende oggend by die bank in Vryburg gaan trek. Na hy die aand by Ruth was, het hy kom sê sy gaan een van haar rra mogolo, grootooms, vra om saam met ons en die twee trou-aanmekaarsitters na die ngosi te gaan om die geld te oorhandig.

    Die volgende oggend het ons in Vryburg sit en wag vir die Barclays Bank se deure om oop te gaan. Die deure was net oop toe skreeu iemand: Hey, Corporal Lewis, I want to see you!

    George het op aandag gespring en gesê: At your service, Sir. Hy loop toe na die man met sy duur klere. Ek het George hoor sê: I will be glad, Sir.

    Die man het ’n sakboekie uitgehaal, iets opgeskryf, die velletjie uitgeskeur en vir George gegee.

    Hy het my nie gesê waaroor dit gaan nie, maar ek kon sien hy was diep ingedagte. Hy het die geld by die bank getrek. Daardie middag is ons vyf na die ngosi toe om dit te oorhandig. Ons het weer ’n bottel brandewyn uit Vryburg vir die hoofman saamgevat, en dit was nie lank nie of ons almal voel tevrede. En hulle het nooit ophou sê hoe ’n gelukkige meisie Ruth is nie.

    Ruth se mense het gesê dit sal ten minste nog een volmaan vat voordat die twee kan trou. George het gesê dit maak nie saak nie, solank hy net naby Ruth, sy natsi, liefling, is.

    Eers na Ruth die volgende dag vir ons ons middagete gebring het, het George van die papiertjie onthou. Dit was van sy company-commander, Captain John Walker, het hy gesê. Hy was nou die director van ’n diamant-company en hy wou graag hê mense soos George moet vir hom werk. Mense van home af, soos hulle Engeland genoem het. Die captain was ook ’n dorpsraadslid in ’n plek met die naam Du Toitspan. As George werk wou hê, moes hy hom so gou moontlik kom sien.

    George het die papier in die lug gehou en gesê: Here is the address of his office.

    Nou laat ons skoonmaak en jou army-captain gaan sien, het ek gesê. Ons moet werk hê want ons moet leef.

    Die middag het ons aangeklop by die kantoor waarop net J. Walker gestaan het. Hulle het mekaar hand gegee en altwee het geglimlag. George het my voorgestel as een van die Queen se getroue Cape-boys, waarop die captain gesê het: War brothers.

    George het op aandag gespring en gesê: Yes, Sir.

    Toe sê die captain: We will have no more of that, Mister Lewis. Remember, we’re civilians now. I am Du Toitspan’s personnel councillor.

    Hy moes kyk dat die werksvolk goeie behandeling kry en dat hulle hulle werk behoorlik doen. Dit was Vrydag en hy het gesê ons moet hom Dinsdag weer kom sien: By then I’ll know where to push you two in.

    George het weer op aandag gespring en gesê: Thank you, Sir.

    Ek het ook my hakke teenmekaar geklap en gesê: Thank you, Sir.

    Die captain het gelag. Ons is haastig na die naaste kroeg om ’n thank-you-God te loop drink.

    Dinsdagoggend het ons gesit en wag dat Du Toitspan se dorpsraadskantore oopgaan. Toe die captain ons sien, sê hy: Good day, you two, come in.

    Daar het twee stoele voor sy lessenaar gestaan en hy het ons genooi om te sit. Ek het eerste gaan sit want George het gemeen dit is nie goeie maniere om in die geselskap van sy regiment-officer te sit nie. Die captain moes herhaal: Sit, George. I’ll start with

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1