Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Nuwe stories van Rivierplaas
Nuwe stories van Rivierplaas
Nuwe stories van Rivierplaas
Ebook174 pages2 hours

Nuwe stories van Rivierplaas

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Alba Bouwer se plaasstories is klassiek in Afrikaans. Baie lesers dink met heimweë terug aan die lees van die avonture van Alie en Lulu op Rivierplaas in die Vrystaat. Een van die ander sentrale karakters is ongetwyfeld ou-Melitie, wat altyd geduldig na Alie se stories luister en wyshede kwytraak (en nie skroom om haar tereg te wys nie!), en Sanna en klein-Melitie met wie Alie en Lulu so lekker speel.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJul 17, 2016
ISBN9780624078067
Nuwe stories van Rivierplaas
Author

Alba Bouwer

Albertha Magdalena (Alba) Bouwer is op 16 Maart 1920 op ’n plaas naby Vredefort in die Vrystaat gebore. Ná die dood van haar pa keer die gesin terug na haar ma se familieplaas in Klein Drakenstein, naby die Paarl. Alba matrikuleer aan Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Ná ’n paar jaar as onderwyser begin sy by die SAUK in Kaapstad werk as samesteller en aanbieder van kinderprogramme voordat sy haar in 1950 aansluit by die redaksie van die Sarie Marais, waar sy dertien jaar assistant-redakteur is. Later jare woon sy op Riversdal en Somerset-Wes. Sy is in 2015 oorlede.

Read more from Alba Bouwer

Related to Nuwe stories van Rivierplaas

Related ebooks

Related articles

Reviews for Nuwe stories van Rivierplaas

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Nuwe stories van Rivierplaas - Alba Bouwer

    Alba Bouwer

    Nuwe stories van Rivierplaas

    Met die oorspronklike illustrasies deur Katrine Harries

    Tafelberg

    Vir Hendrik

    Voorwoordjie

    UIT DIE gewone moederaarde onder ons voete word gehaal die gekristalliseerde edelstene. Eg en skoon, is hulle tot voortdurende plesier vir die mense, een geslag ná die ander.

    Uit die gewone daelikse lewe, uit die omgang onder mense – ouer met kind, maat met maat, vriend met vriend, huismense met diensmense – kom onse lafenisse, onse vreugdes, en onse voordeel. Daar is van ons wat sulke vreugdes en lafenisse weer kan ophaal uit die verlede, gekristalliseer, eg en skoon, vir almal tot voortdurende plesier.

    So ’n plesier vind ek en baie ander in hierdie stories van onse eie mense se daelikse lewe, op Rivierplaas.

    M. E. R.

    Swellendam

    Desember 1954

    Die groot beesslag

    ELKE JAAR gaan ou-Melitie en Aron met klein-Melitie en Sanna na Die Land toe. Dit beteken hulle gaan vir hul mense in Basoeto-land kuier. Dan werk Emily van ou Hoppies vir tant Lenie. Emily bring soggens Alie se koffie en Emily was saans Alie se voete, en dis nie lekker nie, want Emily dra nie ’n plat blikkie snuif in haar kopdoek nie en Emily se voorskoot ruik nie so lekker na strooisrook en boerseep nie en Emily het nooit tyd vir stories maak nie. As dit skooltyd is, is dit goed, maar as die vakansie kom, is dit vir Alie niks lekker sonder ou-Melitie nie. Dan is die vakansie net soos wanneer ’n mens by die soetkoekblik kom en jy maak dit oop en dit ruik pure na pitjie-soetkoek, maar daar is nie eens een koekie in nie. Net so is die vakansie as ou-Melitie nie daar is nie.

    Dan kom die dae wanneer dit soggens skemerdonker is al is die groen blinding op, en wanneer Alie haar voete onder haar invou van pure koud kry, sodat die riempiesmat sulke blokkies op haar bene maak as sy soggens haar pap sit en eet. Dan sê oom Jan: Vanjaar gaan die winter kwaai wees. Kyk hoe lê die misbank oor die rivier.

    En op ’n aand as Alie langs tant Lenie voor die stoof staan en luister hoe maak die vet in die pan so sjee-sjee-sjirts-sjirts soos die vleis bak, en die hele kombuis voel soos ’n warm kombers wat om jou vou maar nêrens aan jou raak nie, op so ’n aand kom daar ’n tok-tok-tok aan die agterdeur. Kyk bietjie wie’s daar, Alie, roep oom Jan.

    Stadig, Alie, sê tant Lenie, moenie dat die kers doodwaai nie.

    Alie draai die knop van die bodeur so keplarts oop en trek die deur mooi stadig by haar kop en die kers in haar hand verby – sê nou dis die tokkelos wat saam met die donker uit die rivier opgekruip het om haar vinnig te gryp. En sê nou –

    Lumela, nonwe Alie, hoekom jy stan so ver by die deur? sê die donker anderkant die deur, en die dun ligstokkie van die kers val op die blink gespe van Aron se lyfband.

    Jôna whê, nonwe Alie, lumela. Hoekom jy’s bang? sê ’n ander stukkie van die donker en ’n armband maak trienge-rienge-trienge.

    Ou-Melitie! Ou-Melitie! Mammie, dis ou-Melitie en Aron, skree Alie, en sy spring een lang spring oor die kliptrappie dat die kersvlammetjie sê foeps en net ’n slag oor ou-Melitie se blink wit tande waai voordat die donker dit insluk.

    Jôna whê, nonwe Alie, sê ou-Melitie, en Alie voel ou-Melitie se harige kombers teen haar arm. Jy’t banja by my gadenk?

    Alie se keel voel so styf soos wanneer sy baie koud kry, maar sy dans net op en af op een beentjie en hou die harige kombers vas en sê: Ou-Melitie! Ou Melitie!

    My op dees aarde, Aron, is dit tog nie julle nie? sê tant Lenie. Alie, maar si’ jy die kers hier bring dat ek kan lig maak. Naand, ou-Melitie.

    Naand, mevrou, naand, meneer Jaan, sê Aron en hy druk sy ou bruin wolmussie onder sy arm.

    Goeiste, Aron, is dit julle? Naand, ou-Melitie, sê oom Jan, en hy hou die olielampie van die spens met die haarnaald wat oor die glas hang om te keer dat dit bars, hoog op sodat die lig deur die deur en tot in die donker val.

    Naand, meneer Jaan, naand, mevrou, sê ou-Melitie en sy wikkel haar arm uit onder die rooi kombers wat om haar skouers hang en vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die klein plat blikkie snuif bêre.

    Meneer Jaan sy’s goed en die mevrou ok sy’s goed? vra ou Aron.

    Ja, dankie, Aron, sê oom Jan. Dit gaan met almal nog goed. Het julle goed geloop?

    Ons het goed galoop. Ja-a, meneer Jaan, sê Aron en hy kyk af op die stoeptrappie. Almal hier by Rivierplaas ok sy’t goed galoop? en hy kyk weer op.

    Ja dankie, Aron, sê oom Jan. Is klein-Melitie en Sanna ook terug en gesond?

    Klein-Melitie en Sanna, selle es ok goed. Ja-a, meneer Jaan, sê Aron en hy kyk weer af op die stoeptrappie, totdat oom Jan met hom begin praat oor die mielies en die trapmasjien en die nuwe weikampie.

    Hedetjie, ou-Melitie, sê tant Lenie, jy kom of jy geroep is, ou mens. Ons wil môremiddag bees slag en vark slag, en ek het net gister gesê, ek weet nie wat maak ek sonder jou nie.

    Ou-Melitie staan nou vorentoe, sodat die geel lig van die spenslampie aan haar kop raak.

    Jô, sê sy, ons sal hom die bees slag, môre?

    Ja, môre moet ons brandasem werk. Julle moet maar goed rus vannag. Wag, vat gou hier ’n stukkie brood en ’n bietjie vet, en ek dink hier is nog ’n stukkie rib vir julle, sê tant Lenie. Ou-Melitie wikkel haar rooi kombers agtertoe en vee haar kaal voete aan die stoeptrappie af. Dan stap sy tot binne-in die warm kombuis se geel ligkol en maak al twee haar hande bak vorentoe vir die skotteltjie kos wat tant Lenie haar gee.

    Tanki, sê sy, en sy sit die skotteltjie op haar kop en wikkel die rooi kombers met haar skouers vorentoe.

    Hoekom nonwe Alie sy prat neks? sê ou-Melitie. Sy het nie banja by my gadenk nie?

    Ou-Melitie, sê Alie, juffrou Barnard dra nou ’n blou rek wat soos ’n valletjie lyk bo-om haar kous en dit het ’n pienk laprosie op. Lulu se groot suster sê dis ’n fensiegart. Ons het gesien toe juffrou Barnard buk om die inkbottel uit die kas uit te haal. En ek het gister die karsweep een slag net so hard soos Sammie geklap, regtig. Ek sal jou môre wys.

    Jô, sê ou-Melitie, nonwe Alie sy’s grot nou. Jy’t ok gakry die kiewietnes by die bossietjies?

    Kyk, Alie, ou-Melitie is moeg. Sy’t nie nou tyd vir redekawel nie. Bly jy nou maar môre by die stroois, Melitie, dan kom jy so teen die middag werf toe. Ons sal nie voor vieruur se kant slag nie. Nou ja, nag dan, ou-Melitie.

    E, mevrou, sê ou-Melitie. Nag, mevrou, nag, meneer Jaan, nag, nonwe Alie.

    Nag, meneer Jaan, nag, mevrou, nag, nonwe Alie, sê ou Aron.

    Nag, Aron, sê tant Lenie.

    Nag, Aron, nag, Melitie, sê oom Jan.

    Nag, Aron, nag, ou-Melitie, roep Alie oor die onderdeur. Jy moet vroeg kom, ou-Melitie.

    Dan sluk die donker Aron en ou-Melitie met die skotteltjie op die kop in en Alie maak die bodeur keplarts toe. Nou voel die warm kombuis vir Alie net soos die oggende wanneer sy in die kapkar wakker skrik en sy het gedink hulle ry nog op die lang pad tussen die baie koppies en plase deur dorp toe, en hier maak sy nou haar oë oop en hulle is al op die dorp.

    Net so voel die warm kombuis nou vandat die spenslampie se lig weer aan ou-Melitie se kop geraak het.

    Die dag van die beesslag en die varkslag is vir Alie amper so lekker soos ’n hele Nagmaalnaweek op die dorp. Die middag van die slagdag kook tant Lenie altyd ’n groot pot boontjiesop, so groot dat daar sommer vir die aand ook vir almal ’n skeppie is. Boontjiesop met ’n varksooltjie in en daarby patat-in-sy-rokkie, van die patats wat tant Magriet uit die Boland stuur. As hulle klaar geëet het en oom Jan het sy stoel so vinnig onder die tafel ingestoot, dan, dink Alie, dan begin die eintlike middag van die slag. Hoppies! skree oom Jan oor die onderdeur, maak mooi leeg die waenhuis en kyk of die bees al in die kraal is. Draai die rieme mooi op oor die balke. Ek wil nie weer bloedspatsels op my rieme sien nie. Stoot die kar goed terug en sê Jantjies moet jou help om die planktafel van die solder af te bring.

    Emily, sê tant Lenie, maak nou ’n mooi vuur onder die groot seeppot, hoor. Sorg dat hy mooi uit die trek uit staan net anderkant die slypsteen langs die waenhuis, nie weer soos verlede jaar toe die wind kort-kort die vuur doodgewaai het nie. Ons sal die vark sommer daar krap. Ai, ek hoop dis dié keer nie ’n maselvark nie. En jy weet vanaand moet jy die skaap se afval ook krap. Ou-Melitie kan die derms krap en die wors help stop. Sy sal seker nou kom.

    In die kamer hoor Alie iets sê klieks-klieks en sy voel ’n koue straaltjie langs haar nek afloop, maar die straaltjie jaag haar vorentoe tot in die kamerdeur, waar oom Jan sy geweer agter die wakis in die hoek uitgehaal het en dit staan en opvryf nadat hy dit gelaai en klieks-klieks oorgehaal het. Dan sit hy dit bo-op die hangkas neer en haal onder uit die wakis die lang, skerp varkslagmes; hy vryf dit op en sit dit ook op die kas neer, mooi hoog waar niemand kan bykom nie.

    Dit is soos ’n storieboek met baie blaaie, hierdie middag van die beesslag, maar Alie is altyd bly as sy die eerste blad omgeblaai het, dis daardie klieks-klieks in die kamer as oom Jan die geweer laai en regsit. Nou kan sy waenhuis toe gaan, waar ou Hoppies en Jantjies die rieme oor die balke gooi en Sammie en Diek die kapkar agtertoe stoot. Jôna-nana-joe-soe! maak Diek en dan sê Sammie: Jô-la, en as hulle sê la, dan stoot hulle die kar agtertoe. Jôna-nana-joe-soe en Jô-la maak hulle en kwirr sê die karwiele. Dit het hulle gehoor by Aron as hy rieme brei en hy draai die bos styf vas en los dit dan.

    Nou gaan Alie na die plek langs die slypsteen waar Emily onder die groot seeppot die vuur aan die brand steek. Die vuur in die swart stoof lyk vir Alie altyd soos ’n ou swartbekhond met baie rooi tonge wat wil buitekant toe lek en nie kan nie. Maar die vuur onder die swart seeppot is soos ’n swerm swaels met rooigeel vlerke wat wil opvlieg en nie kan nie. Wipper-wipper slaan die warm vlerke teen die seeppot se ronde maag en om sy skerp swart pootjies.

    Nonwe Alie, jy sal die hand brand by darrie pot, sê Emily, en sy steek ’n bondeltjie fynhout dwarsdeur die rooigeel swaelvlerke. Kyk by ou-Melitie, sy kom nou.

    Nou is daar nog een plek waar Alie kan gaan kyk en dis die kraal, waar die slagbees in die een hoek staan en die slagskaap vasgemaak in die ander hoek. Maar sy het nog net een keer daarnatoe gegaan, net een keer, en toe het die bees sy kop opgelig en haar reg in die oog gekyk net toe sy haar kop oor die kraalmuur stoot. Daardie kyk was net soos die groot oog wat boaan die prent van Ouma se Breë en Smalle Weg is en wat al agter jou aan kyk, net waar jy staan. Nee, sy sal nooit weer kraal toe gaan op die slagdag nie.

    Net toe oom Jan met

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1