Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Alles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog
Alles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog
Alles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog
Ebook419 pages6 hours

Alles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Dis 1934. Poppie Nienaber is 22 jaar oud, en sy werk in die Haberdashery-afdeling in Mr Cristal se algemene handelaar op Bethlehem. Saam met haar ouer sussie, Anna, woon hulle in tant Nelie se losieshuis in die straat af, en haar broer Jannie kom kuier gereeld op ’n Sondagmiddag, sedeprekies en al. Poppie weet daar is geheime in die familie waarvan sy niks weet nie, en dat Sussie Anna dinge van haar weghou. Party goed onthou sy vaagweg, soos haar ma wat staan en strykwerk doen, die skroeireuk van ’n stryklaken wat hang in die lug. Dis wanneer Poppie besluit om haar eie potjie te gaan krap op Senekal dat dinge stadig in plek begin val. En dis hier waar sy die spoorwegklerk Frikkie Bredenkamp ontmoet . . . Alles begin met Anna is losweg gebaseer op die skrywer se eie familiegeskiedenis. Die roman vertel ’n roerende verhaal oor drie geslagte heen, van voor die Anglo-Boereoorlog tot die aanloop en gebeure van die Tweede Wêreldoorlog. Bowenal vertel dit die verhaal van Coetser se eie ouers Poppie en Frikkie, en waar sý, die skrywer, vandaan kom. Meesleurend én toeganklik – hoogs leesbare historiese roman in dieselfde trant as Vuur op die horizon.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 5, 2017
ISBN9780798176187
Alles begin met Anna: 'n Familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog
Author

Annemari Coetser

Annemari Coetser se debuutroman Oop kaarte is in 2006 gepubliseer. Die boek was ’n finalis in Sanlam en Insig se Groot Romanwedstryd. Daarna het Langverlof (2008) en Aan die windkant (2009) gevolg. Vlis met vlerke, ’n jeugroman, verskyn in 2010 en Die kamer langsaan in 2012. Annemari skryf ook graag kortverhale en kinderverse.

Read more from Annemari Coetser

Related to Alles begin met Anna

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Alles begin met Anna

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Alles begin met Anna - Annemari Coetser

    Annemari Coetser

    Alles begin met

    Anna

    ’n Familiesage van voor die

    Anglo-Boereoorlog

    Human & Rousseau

    Vir almal wat nooit ’n ouma geken het nie.

    En vir diegene wat weens die gemis

    ’n ouma moet verbeel.

    Skrywersnota

    Hierdie boek is gebaseer op mense wat werklik geleef het, maar sommige karakters is fiktief. Ek het byvoorbeeld nie my groot­ouers geken nie. Sekere dele wat oor hul lewe handel, is histories waar, maar die res is uit die duim gesuig. Ook vir my ouers en ander fami­lie­­lede het ek ter wille van die storie karaktereienskappe versin.

    Beskou dit dus as ’n verdraaiing van die waarheid en moet niks wat hier vertel word teen enigeen van die karakters hou nie!

    tree.jpg

    Anna en Poppie se leefwêreld: Die Oranje-Vrystaat

    Oranje_Vrystaat_2A.jpg

    Proloog

    27 Maart 1942

    Poppie rek haar nek en staan op die punte van haar tone om te sien of die trein uit Natal al om die draai kom. Dis veronderstel om nou-nou op die leë spoor langs die perron in te stoom. Sy haal diep asem. Hou, hart, hou!

    Rook en stoom dwarrel onderdeur die trein wat op die tweede spoor staan. Twee dogtertjies met identiese fringes en rooi linte in hulle blonde hare wuif deur die oop venster van ’n passasierswa vir haar. Môre, tante!

    Sy lig haar hand om terug te groet. Tante? Sy voel nie soos ’n tante nie, al is sy seker lankal een. ’n Nege-en-twintigjarige vrou. Wel, byna. ’n Oujongnooi. Jongedogter van die gemeente wat ’n paar weke gelede dalk die onnoselste besluit van haar lewe geneem het …

    Frikkie moet hier op Germistonstasie oorklim om die trein na Johannesburg te haal. Sy kán nog van plan verander, want hy verwag haar nie hier nie. Sy het hom kom verras, eintlik kom voorlê.

    Sy sluk, haar tong ’n skurwe gedoente in haar mond. Sal sy ooit één woord uitgewurg kry?

    ’n Portier met ’n boggelrug kom staan langs haar. Sal die juffrou hulp nodig hê, netnou met die bagasie?

    Sy skud haar kop en druk haar regterhand se naels in haar linkerhand se palm, so senuagtig dat sy iets kan oorkom.

    Ander portiers staan by hulle bagasietrollies en rook. Sy sien hoe hulle onderlangs na die jong meisies op die perron kyk. Daar is ook ’n paar ouer vroue in die skare. Sou hulle hier wees om hul geliefdes terug uit die Noorde te verwelkom? Moet wees, want daar is ’n brui­sing van opwinding in die lug.

    Sommige van die vroue rook ook. As sý dit maar kon regkry. Dit help glo om die senuwees te kalmeer. Boonop lyk dit gesofistikeerd. Maar elke keer as sy probeer, gaan sy hewig aan die hoes. Seker ook maar beter so, want sover sy weet, rook Frikkie nie.

    Germistonstasie is altyd besig, maar vandag is hier selfs meer mense as gewoonlik. Sy stel haar voor hoe dit uit die lug moet lyk met die spore wat in koeksisterdraaie oor mekaar vleg. Al die hoofspoorlyne kom hier byeen. Dis ’n harwar van passasiers wat heen en weer loop en op ander treine klim om hul reise voort te sit.

    Heelwat trokke is na die sylyne gerangeer. Sommige is met seile toe­gemaak, ander staan leeg. S.A.S. & H. is in wit verf op die kante geverf. Die Spoorweë is vir Frikkie ’n bekende omgewing, maar dis ’n wêreld waarvan sy niks weet nie, behalwe as gereelde passasier.

    Sy het vroeër ook niks van oorlog geweet nie …

    Sy haal ’n sakdoek uit haar klein koeverthandsak, vee haar natgeswete palms daaraan af en druk die handsak weer onder haar arm in. Dis swart, soos haar nuwe skoene – wat haar nou só druk dat dit kompleet voel of haar tone oor mekaar klim om deur die voorste opening om hulp te skree.

    Die liewe Frikkie, allemansvriend. Dalk herken hy haar nie eens nie; hy het net een kiekie van haar saamgeneem Noorde toe. Sy stryk oor haar heupe. Sy het rietskraal geword van die afgelope maande se spanning. Gelukkig vlei die nuwe roomkleurige rok met die fyn beltjie haar figuur. Netnou, voor die spieël, het sy gedink sy lyk nogal elegant met die swart nethoedjie en die pelsstola wat sy by Sussie Anna geleen het.

    Sou hy nog so aantreklik wees? Oorlog trek lyne op mense se gesigte, diep groewe wat hulle gelaatstrekke vir altyd verander. Haar ouers het só gelyk destyds ná die Tweede Vryheidsoorlog, het sy op die kiekies gesien.

    Die blerrie Engelse! Sy kan hulle nou nog nie verdra nie, al het Mammie dikwels gesê daar is ook goeie Engelsmanne. Gelukkig is Frikkie ’n man met ’n vrolike hart. Maar wat van al die dinge wat hy in die oorlog beleef het? Het hy sy menslikheid behou, sy liefde vir kinders?

    Sy weet eintlik boggherol van hom af. Einde Februarie is ’n telegram vir haar by die hospitaal afgelewer: Veilig aan land love always Frikkie.

    Marius het nooit sy liefde aan haar verklaar nie, maar sy het sommer net geweet. En nou? Binnekort sien sy vir Frikkie, die man wat sê dat hy haar vir altyd met Engelse liefde bemin. Doen sy oplaas die regte ding? Sy móét hom eenvoudig van aangesig tot aangesig sien voor sy die nuus oordra.

    Die portiers kry skielik lewe en die skare druk nader aan die kant van die perron. Nou kan sy ook die tjoef-tjaf van die stoomenjin bo die ander lawaai hoor. In die stil herfslug trek ’n streep rook agter die lokomotief uit en bly in bolle bokant die spoor hang.

    Daar kom hy …

    Haar hart bons so geweldig dat dit vir haar voel dit hou tyd met die trein se stamp-dreun. Kan daar nie net iets gebeur dat die ding in vadersnaam nie om die draai kom nie? Nie ’n botsing nie, maar ’n onafwendbare oponthoud.

    Of moet sy dalk voor Frikkie haar sien deur die malende klomp mense skuur en verdwyn? Verby die kaartjieskantoor, die sinjaal­kamer en die stasiemeester se kantoor hardloop. Regdeur die stasiegebou, verby die lang ry huurmotors wat in die straat staan en wag.

    Sy was van lotjie getik om te dink dat dinge vir hulle twee sou uitwerk! Sy is die versigtigste van mense, so pessimisties oor haar kanse op geluk dat sy nooit eens by die kerkbasaar raai hoeveel boontjies in die bottel is nie, al is die prys ook hoe aanloklik. Hoekom moes sý nou juis die dêssitse besluit neem? Dis so goed soos dobbel. Dis onregverdig van hom om dit te verwag, en dit met hierdie swaar ding wat op haar gewete lê!

    Maar dis nou te laat om van plan te verander. Die koeël is deur die kerk.

    In sy voorlaaste brief, uit Durban gepos, het Frikkie haar gevra om te trou. As sy instem, moet sy hulle gebooie by die predikant gaan opgee sodat hulle op 3 April tydens die laaste dae van sy siekverlof kan trou. Hy sal by haar in Heilbron kom hoor wat sy besluit het.

    Toe die trein met ’n lang gefluit om die draai kom, begin sy reeds wuif met haar blommetjiesakdoek, al sien sy hom nie by ’n venster uitleun nie.

    Hulle het mekaar ’n jaar en vier maande laas gesien. Bepaal sy hier en nou deur haar gewuif hoe die res van haar lewe gaan verloop? Want – en die hemel help haar – hulle derde gebod loop Sondag! Vandag oor ’n week staan hulle voor die kansel.

    As hy haar nie onmiddellik die trekpas gee wanneer hy haar geheim hoor nie.

    Anna Nienaber se begin

    5 Julie 1873

    Anna is die vrou wat so belangrik is dat alles in hierdie verhaal by haar begin. Soms moet ’n mens egter eers die paar feite wat jy het op die tafel lê voordat jy met die storie wegval. Hoe het haar lewenspad geloop tot hier by haar laaste rusplek?

    Dié is nie sigbaar vanaf Memoriamweg in Bloemfontein nie. Maar die ogiesdraadheining blink in die son, en in die skadu van hoë denne­bome lê rye grafstene, krom en skeef deur die tyd verweer. Die lug is ’n diep blou met lang repe skaapwolletjies daarteen gestreep.

    Nr. 608, Blok Q, Memoriam Begraafplaas. Dis haar laaste aardse adres. Anna Maria Hendrina Elizabeth Nienaber, so het sy geheet. Gebore Van der Walt, op 5 Julie 1873. Voorheen die weduwee Steenkamp. Later die weduwee Nienaber. Sterfdatum 27 September 1932. Dis sý, Anna. Bly te kenne, sou sy gesê het, en met daardie priemende blik van haar probeer vasstel het waar sy aan of af is met jou.

    Ses voet bokant haar beendere is net ’n dakkie van kweekgras. Geen grafsteen nie. Sy lê neffens ’n grondpad wat deur die verskillende seksies van die begraafplaas kronkel. Weerskante van hierdie pad is ’n dennelaning waar die wind sag en vredig deur die dennenaalde ruis, soos dit die wind in ’n kerkhof betaam.

    Om meer presies te wees, sy is twee grafte links van Martha van Vuuren, maar dit sal bra moeilik wees om Martha te kry, want haar graf het ook nie ’n steen nie. Gee jy vier groot spronge van Anna se bêreplek na regs, land jy op ’n porsie kweek langs die skewe grafsteen van Francina Bredenkamp, ’n dogter wat op vyftienjarige ouderdom gesterf het. Interessant nogal, dié Bredenkamp-buurvroutjie van Anna, maar dit word wel later duidelik. Digby hou ’n stokou peperboom wyd­arm wag oor hierdie paar grafte.

    Die name van mnr. en mev. De Villiers aan Anna se linkerkant is op hulle grafsteen te lees. Dié twee is vir altyd in die dood verenig. Nie soos Anna en Jan, Poppie se pa, wat byna 140 myl weg van mekaar rus nie. Langs elke De Villiers waak die beeld van ’n engel. ’n Mens sou hoop dat hulle terselfdertyd ’n wakende oog oor Anna se graf sou hou, maar skynbaar nie, want die potysternommer aan haar voeten­ent makeer.

    By ’n klompie grafte rondom Anna dien groot klippe pleks van graf­stene as merkers. As sy kon weet dat sy sonder grafsteenkopkussing of klippieskwilt gebêre is, sou sy haar kinders daaroor verkwalik? In die lewe was sy nie juis daar vir hulle nie. Poppie, haar jongste, onthou net trane en ellende.

    Anna sou waarskynlik nie verwag het dat haar lewe geboekstaaf sou word nie, hartseer soos dit begin en geëindig het. Moontlik het sy geen behoefte gehad om soos ’n vlieg haar merk te maak deur ’n miskolletjie teen Vader Tyd se muur te tjorts nie.

    Dis haar nageslag wat wonder: Wie was hierdie weggeraapte ma, hierdie immer verbeelde ouma werklik?

    HOOFSTUK 1

    ’n Regte ou droëntydsvoëltjie

    Bethlehem, Mei 1935

    By wie leer ’n mens dan om lief te hê as jy nie ouers het nie? Faan lig ’n rooiblonde wenkbrou. Hy haal die pyp uit sy mond en wuif met die steel in Poppie se rigting.

    Poppie antwoord nie. Sy sit, knieë opgetrek, met haar rug teen ’n boom. Faan se baadjie hang aan ’n tak bokant haar. Kort-kort roer ’n ligte wind deur die boom en waai die baadjiemoue rond asof ’n onsig­bare persoon onhoorbare musiek dirigeer. Dis irriterend, nes Faan se pogings om haar te ontleed.

    Wat sal hy doen as sy dit met hóm doen? Kyk hoe sit-lê hy op sy een elmboog, sy lang bene op die reiskombers uitgestrek. Kyk hoe maer is hy, ’n regte ou droëntydsvoëltjie. En dink hy dalk sy yl snorre­tjie onderstreep die belangrikheid van sy aristokratiese neus? Eendag gaan sy hom dit nog vra.

    Poppie?

    Hmm?

    Ek het ge-…

    O ja, die liefde. Ek weet tog nie, Faan. Eeue van nou af sal arge­oloë miskien op my geraamte afkom. Dan kan hulle dit ontleed om te sien watter invloed ’n gebrek aan liefde op ’n mens se beendere het.

    Hy glimlag net en skud sy kop.

    Ag, man! sê sy. Mens leer seker maar by ander mense? My eerste aand in die weeshuis toe ek vreemd en bang was, het ’n dogtertjie met haar koue voete by my in die bed kom klim en my ’n storie vertel. My ousus pamperlang en piep my op. Sy probeer steeds om my ordentlik groot te maak. My een broer probeer my die hemel in preek. Die ander een wys niks, maar … Sy trek haar skouers op. Miskien werk dit nie. Ek is nie juis liefdevol nie.

    Hoekom stel hy enigsins in haar of haar kinderjare belang? Hy is net ’n vriend. ’n Gawe maat weliswaar, maar sy het hom skaars twee maande gelede by die Christelike Strewersunie ontmoet. En tog, sy het hom pas vertel hoe oom Louis van Rooyen hulle een koue oggend by die Charlotte Theron Kinderhuis hier op die einste Bethlehem kom aflaai het.

    Was daar dan nie ander familie na wie julle kon gaan nie? por hy verder. Ek dog dan ons Afrikaners sorg vir ons eie mense.

    Weet jy wat het Dog gemaak? vra sy snipperig, en kry dadelik spyt. My ma het net een broer gehad en sy was vervreemd van hom en ook van haar pa, verduidelik sy. Ons grootouers aan my pa se kant van die familie was al dood.

    Sy en Faan was vanoggend kerk toe en hou nou piekniek in Pretoriuskloof. Die Jordaanrivier kabbel gesellig oor die klippe en dis ’n sonnige herfsmiddag. ’n Dag vir sit en twak praat. Sy wil op die reisdeken afskuif tot op haar rug. Met die son op haar gesig, arms onder haar kop, wil sy suutjies wegdommel.

    Maar Faan het die manier om in jou nersderm te krap tot hy alles uit jou getrek het. Hy is negentien, terwyl sy pas twee-en-twintig geword het. ’n Nat-agter-die-ore-kêreltjie met sproetgesig en rooiblonde hare; dis net die pyp wat ’n sekere waardigheid aan hom verleen. Tog laat sy indringende vrae en soort-van-wysheid hom ouer as sy jare voorkom.

    Is jou storie nou klaar? vra hy.

    Dis nie ’n storie nie, hoor! Alles wat ek jou tot dusver vertel het, is die heilige waarheid.

    ’n Rooigetinte herfsblaar wapper van die boom af en land op die reisdeken langs haar. Sy rol dit in ’n stywe rolletjie op, maak dit weer oop en stryk dit glad. Sy is seker onregverdig teenoor Faan. Hy is skyn­baar een van daardie rare wesens wat meer daarvan hou om te luister as om te praat.

    Miskien moet sy hom maar van haar grootwordjare vertel. Dit sal dalk goed wees om weer vir haarself die feite agtermekaar te kry, want daar is gate in die verhaal. Sy sweer Sussie Anna steek iets vir haar weg. Maar as sy uitvra, lag haar suster dit altyd weg.

    Sy trek die piekniekmandjie nader en maak dit oop. Faan se ma het ’n bottel gemmerbier ingepak. Sy sukkel om dit oop te kry.

    Gee vir my, sê hy.

    Hy draai die prop los, vou ’n bordedoek oop en haal twee glase uit. Die gemmerbier bruis en stoot op toe hy vir hulle skink.

    Sy proe daaraan en smak haar lippe. Heerlik. Weet jy hoe gelukkig jy is? Eintlik is jy ’n bedorwe brokkie, Stefanus! Jou ma maak seker elke dag jou bed op, nè? En ek wed as jy saans tuiskom, sit jy net aan en eet jou trommeldik.

    Hy breek ’n ligte windjie op. Skuus tog. My geboorte was maar net ’n gelukkige toeval, hoor. Maar ek sal elke dag ’n minuut lank ’n ge­wyde stilte hou, as jy wil. Uit medelye vir jou.

    Ja, ou Slim Jannie Smuts. Tel net ten minste elke dag jou seëninge.

    Hy lig haar hand van die kombers op en hou dit vas, vat om die beurt aan elke vinger. Só tel ek my seëninge: Nommer 1, jy. Nommer 2, my ma se kos. Nommer 3, my kamer. Nommer 4, jy. Nommer 5, jy.

    Ag, jy’s stuitig. Sy trek haar hand uit syne. Haar maag knor; die oggenddiens was lank. Dis tyd om kos in jou mond te kry, dat jy kan ophou twak praat.

    Faan moet tog nie dink sy gee hom aanleiding nie. Dis die laaste ding wat sy wil doen. In die groot geheel van wat sy met haar lewe wil doen, pas Faan nie in nie. Ook geen ander man nie. Nie nou nie, en miskien nooit. Altemit word sy nog soos Sussie Anna: onafhanklik, sterk, ’n bekwame vrou. Haar suster het nie ’n man in haar lewe nodig nie, so lyk dit.

    Sy haal ’n geruite tafeldoekie uit die mandjie en sprei dit op die kombers oop. Toe, skuif op dat ek kan skep. Anders sit jy netnou binne-in die bak aartappelslaai.

    Hy spring rats orent en kom sit kruisbeen langs haar. Dít kan ons nie toelaat nie.

    Sy pak die ander kos ook op die tafeldoek uit: ’n glasbak met kerrie­frikkadelle, nog ’n bak met gevulde eiers, tamatietoebroodjies in waspapier toegedraai.

    Die diens was lank, nè, sê sy, met Nagmaal en alles? Dominee het twintig minute lank gebid! Daar behoort ’n wet daarteen te wees. Ek is nou so honger ek kan ’n perd opeet.

    Dan tref jy dit gelukkig. Hoekom dink jy het my ma die frikka­delle gekerrie? Dis om die soet smaak van perdevleis te verdoesel.

    Sy lag en gooi hom met ’n vadoek.

    Hulle eet verder in stilte. Toe al die bakke leeg is, pak sy die tafeldoek, bordegoed en eetgerei terug in die mandjie. Sê asseblief vir jou ma dankie vir die lekker kos en veral vir die perdefrikkadelle.

    Ek sal so maak.

    Hy skuif op tot hy langbeen met sy rug teen die boom sit, klop sy pyp teen die stam uit en stop dit tydsaam. Toe die rook om sy kop begin warrel, druk hy liggies met sy voet aan haar. Ek brand om verder te hoor.

    Ek sien so.

    Sy waai die rook weg en gaan sit langs hom teen die boom. Ek onthou feitlik niks, verstaan jy? Dis mos net die traumatiese goed of die baie lekker dinge wat in ’n kind se geheue bly vassteek, soos …

    Ja? Soos wat?

    Sy trek haar oë op skrefies. Probeer jy net poliets wees of wat?

    Allermins. Ek het ’n pragtige swartkopvriendin wat rondloop met goed wat haar pla. En toe dink ek: Miskien sal dit help as sy dit met iemand deel. Hy tik op sy bors. Iemand soos ek.

    Sy sug effens. Jong, my verhaal is nie uniek nie. Baie mense het destyds swaargekry. My ma was ’n hartlyer en sy was dikwels siek. Sy het mense se wasgoed gedoen. Een dag gewas, een dag gestryk, een dag klere reggemaak. Flenters heelmaak, so het sy dit genoem. Dít, en die bietjie huurgeld uit die smidswinkel, was ons enigste inkomste. Wanneer sy te siek was om te werk, het Sussie Anna, wat reeds heel­dag as huisbediende gewerk het, saans oorgevat.

    Dis nou op … ?

    Steynsrust, sommer hier naby.

    Haar sterkste herinnering aan haar ma is hoe sy by ’n kombuisstoel kniel en hardop bid en huil. Sussie Anna het gesê dis oor hulle pa dood is en oor hulle so arm is. Partykeer het Sussie Anna die predi­kant gevra om besoek af te lê by Mammie. Die pastoriedogters was maats met haar en Poppie en hulle twee het dikwels daar gaan kuier. Die pastorie was in Burnett Adamsstraat, dieselfde straat waar haar pa se ander erf was, en so twee blokke weg van hulle huis.

    Uit die bloute kom ’n herinnering, en sy vertel dit vir Faan.

    Agter die pastorie, in die koelte, het ’n paar streepsakke mielies vir die hoenders gelê. Sy en haar maat maak ’n speletjie daarvan om op die sakke te spring. Trek dit weg van mekaar en kyk wie die verste kan spring. Maar Poppie misgis haar, val die sak mielies skoon mis en land met haar neus op ’n klip. Dit bloei vir die vale hel. Sy skreeu so hard dat Mevrou Dominee en Sussie Anna by die agterdeur uitgestorm kom.

    Mevrou druk ’n spierwit sakdoek oor haar neus en sê sy moet haar kop agteroor hou. Toe loop die bloed in haar keel af en sy raak naar en begin braak. Sussie Anna kom staan agter haar en hou haar vas totdat haar skouers ophou ruk. Sy gaan sit en tel Poppie op haar skoot, rol twee punte van die sakdoek in stywe rolletjies en druk dit in haar neusgate. Nou lyk jy soos ’n bul, sê sy en wieg Poppie heen en weer op haar skoot. ’n Bul met rooi horings.

    Poppie se beste maatjie in Steynsrust is Lenie. ’n Ander dogtertjie het eendag vir hulle elkeen ’n potlood gekoop omdat hulle die skool se armste kinders was. By die herinnering vlam haar wange van skaamte, maar sy kan onthou hoe trots sy destyds daarop was dat sy en Lenie die heel armstes in die skool was.

    Hoe sou Sussie Anna dit verdra het dat sy altyd oral agter haar aan­stert? Mammie was so moedeloos met haar rondlopery dat sy haar eendag aan die tafelpoot vasgemaak het. Sy het aanhou huil, totdat Mammie later langs haar op die vloer kom sit het. Mammie het oor haar rug gevryf en saggies geneurie tot sy aan die slaap geraak het.

    Sy vertel dit vir Faan, en lag. Die eienaardigste goed darem wat ’n mens onthou.

    Ek sou jou ook aan ’n tafelpoot vasgemaak het as jy my kind was, spot hy. Jy was seker onmoontlik. Hy tel ’n stokkie op en gooi dit in haar rigting. Jy’s nou nog so half wild.

    Hoe weet jy daai episode het my nie vir ewig geknou nie?

    Ek kan sien dit het nie.

    Eenkeer het ek …

    Ja?

    Jy probeer my net … Jy wil tog nie regtig weet nie, of hoe?

    Jy onderskat my, sê hy rustig. Vertel.

    Sy maak haar oë toe en haal diep asem. Ek was maar klein toe my pa dood is. Ek het ’n maand ná sy dood twee geword. Die ander drie was al in die skool.

    Nou kom dit bietjie vir bietjie terug hoe dit in daardie tyd ná haar pa se dood met hulle gegaan het. Dit was altyd die een ding of die ander met Mammie. As sy nie siek was van haar hart nie, was dit die asma wat haar opkeil.

    Wanneer Mammie by mense se huise moes gaan strykwerk doen, het Poppie saamgegaan, want daar was niemand tuis om na haar om te sien nie. Een so ’n oggend onthou sy goed, want dit was gesellig en warm in die kombuis waar Mammie staan en stryk het. Sy het met haar lappop by Mammie se voete gespeel. Die pop was van ’n ou laken gemaak en haar gesig, arms en bene was spierwit. Die pop se gesiggie, wat Mammie met ’n inkpotlood geteken het, was nog net ’n pers vlek, maar sy het nie omgegee nie. Die lappop met haar vet bene en arms was al speelding wat sy gehad het.

    Vettieboemstieks, noem Poppie haar kind. Sy druk haar baba teen haar bors en sing ’n liedjie wat sy self uitgedink het. Die vrou van die huis kom in, gaan sit langs die tafel en begin gesels met Mammie. Die skroeireuk van die stryklaken op die strykkombers is in Poppie se neusgate en sy voel veilig en gelukkig. Sy kyk hoe Mammie die yster wat koud geword het op die stoof neersit en ’n ander een optel. Tjits! maak dit wanneer sy met ’n nat vinger toets of die yster warm ge­noeg is.

    Maar opeens is daar ’n groot kommosie. Die tante gly van haar stoel af tot op die vloer. Sy lê reg langs Poppie terwyl haar hele lyf ruk en skuim by haar mond uitloop. Haar oë dop om en haar lyf buig agter­oor. Mammie stoot Poppie eenkant toe. Sy het ’n lepel in haar hand wat sy steelkant eerste tussen die tante se tande indruk terwyl sy haar tong vorentoe trek.

    Poppie gaan staan in die verste hoekie van die kombuis met Vettieboemstieks in haar arms vasgeklem, so ver weg as moontlik van die rukkende lyf en aaklige roggelgeluide. So sag is die skrik in haar keel dat sy eers agterkom sy huil toe sy haar trane op haar pop se kop sien val.

    Poppie, gaan roep gou vir tant Sarie! skree Mammie.

    Sy hardloop by die deur uit na tant Sarie se huis langsaan. Tant Sarie sit op die stoep en brei en staan verskrik op toe sy Poppie se gesig sien.

    Kom gou! hyg sy. Die tante …

    Tant Sarie sit haar breiwerk op die rottangtafeltjie neer. Toemaar, my kind, jou ma sal weet wat om te doen, die aanval is altyd gou verby, troos sy. Kyk hoe lyk jy, skoon asvaal van die skrik. Kom sit in die kamer op die koos, dan bring ek vir jou suikerwater.

    Poppie het nie geweet hoe lank sy daar op die kamerpot moes bly sit vir die asvaal om weg te gaan en om weer pienk te word nie. Toe bly sit sy maar tot hulle haar roep. In die buurtante se kombuis het Mammie, tant Sarie en die tante wat so vreeslik geruk het rustig sit en tee drink.

    Nie lank daarna nie het die vallende siekte tog die tante se dood gekos, vertel sy vir Faan. Sy het by die tafel gestaan en stryk toe sy weer ’n aanval kry en neerslaan – ongelukkig met haar kop teen die tafel, toe breek sy haar nek.

    Siestog, sê hy. Sy moes die strykwerk liewer vir jou ma gelos het.

    Poppie staan op en rek haar uit. Kom ons gaan stap eers ’n entjie, toe. Ek is nou skoon styf gesit.

    Terwyl hulle langs die rivier af stap, vryf sy oor haar boarms.

    Kry jy koud? vra hy.

    Nee wat, dankie. Sy gaan staan onder ’n boom en kyk op. Die takke is al feitlik blaarloos.

    Nou toe, vertel verder. Ek hou van jou stories. Ek kan die prentjies voor my oë sien. Waar het julle gebly?

    My pa het drie erwe in Steynsrust gehad. Al wat ek van ons huis onthou, was dat die dak aan die voorkant hoog was en agter plat. Die kleinhuisie was in die agterjaart. Pa se smidswinkel was regoor die kerk. Dit was toe nog nie ’n regte kerk nie, net ’n kerksaal met harde banke. Toe ons daar weg is in 1922, was daar ’n dominee Alheit. Die dominee wat my pa begrawe het, was ’n Van Rensburg, het Mammie gesê. Ek het altyd gedink hy moes alleen die gat grawe, my pa daarin laat afsak én boonop lees en bid. Ek het so sleg gevoel oor die gatgrawery en hom vreeslik jammer gekry.

    Faan lag uitbundig.

    Dis nie snaaks nie. Maar sy grinnik ook ’n bietjie.

    Kom, resies tot by die boom. Een, twee … ! Hy trek weg nog voor hy by drie is.

    Jy kroek! skree sy, maar begin ook hardloop.

    Hy het ’n voorsprong van ’n paar treë, maar sy haal hom maklik in. Toe hulle die piekniekplek bereik, is sy ’n kortkoppie voor. Hulle val laggend op die reisdeken neer en bly ’n lang ruk so lê.

    Faan staan op en soek ’n dennebol in die gras. Mejuffrou Niena­ber, namens die reëlingskomitee van die Atletiekbond van die Unie van Suid-Afrika oorhandig ek graag hierdie goue medalje aan u. Hy oorhandig dit aan haar en hulle skud plegtig blad.

    Jy het my aspres laat wen, beskuldig sy, maar sit dit nietemin versigtig langs die piekniekmandjie neer. Moenie dink ek weet dit nie.

    Vertel nou verder. Die wedervarings van die vier armsalige wesies is nogal opwindend, veral dié van die aanvallige jongste dogter.

    Gaan bars, man. Dis hoekom ek nie daaroor wil praat nie.

    Met haar wysvinger teken sy op die kombers langs haar: ’n vierkantige huisie met ’n driehoekige dak, ’n voordeur en twee vensters weerskante, tuinpaadjie wat na die voordeur lei. Sy is seker te fyn van nerf, maar hoe sal Faan ooit verstaan hoe dit voel om soos ’n klein hondjie van die een mens na die ander aangegee te word?

    Moet liewer niks sê van die dag toe hulle van hul vierkantige huisie moes weggaan nie. Hoekom dit gebeur het en waarheen haar ma geneem is, weet sy tot vandag toe nie. Sy verkies om nooit daaroor te dink nie. Al wat sy weet is, is dat Boet Jannie eendag gesê het oom Louis en tant Grieta van Rooyen het hulle vier ingeneem sodat hulle nie moes doodgaan van die honger nie. Maar die Van Rooyens se geld ‒ of dalk hul geduld met die Nienabertjies ‒ het ná ’n maand opgeraak.

    Faan sak weer langs haar op die reisdeken neer. Komaan! Ek terg net. As jy nie nou dadelik vertel nie, vat ek jou goue medalje terug.

    Sy glimlag. Waag dit net.

    Maar sy blik is so opreg belangstellend dat sy verder vertel.

    Jy moet weet, niemand het my iets van my moeder vertel nie, behalwe dat sy siek en in die hospitaal was. Oom Louis en tant Grieta van Rooyen het ons by hulle in die huis geneem en een oggend sê hy ons moet almal sitkamer toe kom. Ons het so ingeryg op die rusbank gesit, toe sê hy hy’s baie jammer, maar ons moet weeshuis toe. Net so. Want Ma is nou te siek om vir ons te sorg en sy sal nie beter word nie. En dominee Alheit dink Sussie Anna moet haar werk los en weer skoolgaan, want sy’s te slim om vir altyd huisbediende te wees. Toe begin sy huil en ons ander drie tjank natuurlik saam.

    Sy kyk na Faan, haar arms wyd oop, handpalms na bo. Miskien het ek party goed onderdruk, maar die datum waarop ons weeshuis toe is, sal ek vir altyd onthou: 3 Junie 1922. Ek was nege jaar oud. Ons is op die spaaider saam met oom Louis weg uit Steynsrust. Daar was nie plek vir tant Grieta om saam te kom nie. Ek tjank heelpad soontoe en Sussie Anna probeer my troos. Sy was sestien.

    Die herinneringe is so werklik asof dit weer daardie dag is, maar sy deel nie alles met Faan nie. Sy wil nie hê hy moet dink sy is self­bejammerend nie, maar dís hoe sy gevoel het, en dis die reine waarheid: Niemand wil haar hê nie, sy is net goed om aangepass te word. Niks loop ooit reg vir hulle Nienabers nie en só sal dit wees vir altyd en altyd tot die perde horings kry op die Knersvlakte van Mesopotamië, soos hulle altyd in die kinderhuis gesê het.

    Sy was bitter hartseer oor haar ma wat so siek was dat sy nie meer vir hulle kon sorg nie, en vrees vir die onbekende wou haar keel laat toe­trek. Maar haar sterkste herinnering is dié van fatalistiese leedvermaak: sy wat so sleg voel dat sy eintlik lekker voel.

    Smartlap se moses, dit was sy.

    Dis elfuur die oggend toe hulle by die weeshuis in Bethlehem aankom, vertel sy verder vir Faan. Die huismoeder sê hulle moet eers in die eetsaal kom tee drink. Oom Louis staan met die huisouers en praat, sy hand vriendelik op Nic se nek, maar Nic kriewel om onder die hand uit te kom. Die huismoeder en oom Louis praat oor Jannie, want die oom wys na hom. Jannie is veertien, sy stem breek al. Hy is gebreklik gebore, met ’n snaakse voet en ’n arm en hand wat ook nie werk soos dit moet nie.

    Die volgende oomblik storm ’n spul kinders die eetsaal binne, hulle kaal voete soos galoppende perde op die plankvloer. Sy skrik en gaan skuil agter Sussie Anna. Die kinders gryp elkeen ’n blikbeker en gaan staan in twee lang rye, seuns en meisiekinders apart.

    Dis speeltyd by die skool, sê Sussie Anna.

    ’n Paar kinders kom staan by hulle, maar die huismoeder raas: Skoert, julle agies!

    Poppie hoor sy gaan saam met die ander laerskooldogters in Bulkdraai slaap, en hulle eetsaal is in Muisnes – seuns en dogters apart. Sulke snaakse name vir blyplekke, hoe gaan sy dit ooit onthou?

    Oom Louis groet haar broers met die hand, maar soengroet vir haar en Sussie Anna. By die eetsaal se deur draai hy om en wuif vir hulle. Trane blink in sy oë.

    Dit help nie hy maak asof hy jammer is nie, sê Poppie en skop na ’n eetkamerstoel. Gelukkig mis, anders was haar toon blou.

    Jy weet ons kon nie langer by hulle bly nie, Vlooi. Sussie Anna vryf oor haar hare, maar sy ruk haar kop weg.

    Hoor net hoe skree die huismoeder op die kinders! Ek gaan dit nooit hier uithou nie, ek weet dit sommer. Ek sal wegloop, ek sweer.

    Jy mag nie sweer nie, sê Jannie die wysneus. Sweer is sonde.

    En as ’n sweer op jou been sweer? Is dit ook sonde?

    Jy’s nie snaaks nie, Poppie. Die Jirre hoor wat jy sê.

    Sy rol haar oë en steek vir hom tong uit.

    In die dormitory pak sy haar klere in die kas wat aan haar toe­gewys is. Amper die hele saal se dogters kom staan om haar bed toe sy daarop gaan sit.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1