Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Goudmyn
Goudmyn
Goudmyn
Ebook364 pages4 hours

Goudmyn

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Toe Jak Stapelberg die pos van hoofbestuurder van die Sonderkloof-goudmyn aangebied word, weet hy dis te goed om waar te wees. Hy is te jonk en boonop beskik hy nie oor die nodige kwalifikasies nie. Sy vermoede word bevestig toe Manfred Steyner sy voorwaarde stel: Jak moet doen wat hy vra, sonder teenspraak. En Jak stem in, want dié kans gaan nie gou weer verbykom nie. As hy net eers die werk het, kan hy Manfred se opdrag mos weier. Nie Jak óf Manfred het rekening gehou met die eintlike magte wat Jak se aanstelling bewerk het nie. Terwyl dié magte planne smee om die grootste goudmyne te vernietig en die ekonomie omver te werp, is Jak se aandag verdeel. Dit blyk dat ’n sindikaat gouderts uit die myn steel. En dan is daar Tess, Manfred se beeldskone maar gefrustreerde vrou, wat ongeoorloofde begeertes in Jak wakker maak . . .Mag, gierigheid, wraak en begeerte vier hoogty op die goudvelde van die 1960’s in dié Afrikaanse vertaling van Wilbur Smith se gewilde Gold Mine.
LanguageAfrikaans
PublisherAdamastor
Release dateNov 1, 2017
ISBN9780795708220
Goudmyn
Author

Wilbur Smith

Described by Stephen King as “the best historical novelist,” WILBUR SMITH made his debut in 1964 with When the Lion Feeds and has since sold more than 125 million copies of his books worldwide and been translated into twenty-six different languages. Born in Central Africa in 1933, he now lives in London.

Related to Goudmyn

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Goudmyn

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Goudmyn - Wilbur Smith

    GOUDMYN

    Wilbur Smith

    vertaal deur Zirk van den Berg

    Adamastor

    Hierdie boek is vir my vrou

    MOKHINISO

    die beste iets wat ooit met my gebeur het

    1

    Dit het begin in die tyd toe die wêreld nog jonk was, in die tyd voor die mensdom, in die tyd voordat lewe op die planeet ontstaan het.

    Die aardkors was nog dun en sag, verrinneweer en verwring deur die geweldige magte van binne.

    Wat nou die plat, saamgeperste kors van die vasteland van Afrika is, stabiel en onveranderlik, was toentertyd ’n warboel bergspitse. Dit was bergreeks op bergreeks, opgestoot deur magma uit die dieptes, en weer afgetakel deur swaartekrag. Dit was berge soos wat g’n mens al ooit gesien het nie, dit sou die Himalajas verdwerg het, stapels stomende klip met gesmelte magma wat uit die skeure en gapende wonde sypel.

    Dit het van die aarde se kern af gekom, al met die krake en swakplekke in die kors langs, borrelend en kokend, en het gaandeweg afgekoel hoe nader dit aan die oppervlak kom, sodat die minerale wat eerste solied word dieper neerslaan, en dié met ’n laer smeltpunt nader aan die oppervlak opstu.

    Iewers in die matelose verloop van tyd het ’n klomp krake in een van die naamlose bergreekse oopgegaan, en daaruit het ’n rivier van gesmelte goud voortgevloei. Wisselinge in temperatuur en chemie het tot ’n natuurfrats gelei – ’n kru, maar effektiewe raffineerproses tydens die lang tog van die aardkern af. Die konsentrasie van goud in die grondmassa was hoog, en dit het by die oppervlak afgekoel en solied geraak.

    Dis nie net die berge van daardie tyd wat so groot was dat dit die verstand te bowe gaan nie; die reën- en windstorms wat rondom hulle gewoed het, was ewe onvoorstelbaar.

    Dit was ’n hel-landskap waarin die goudveld ontstaan het: skerpgepunte berge wat strak en steil na die wolke reik, wolkbanke swaar van swawelgasse uit die borrelende aarde, so dig dat sonstrale nie daardeur kon dring nie.

    Die atmosfeer was swaar van die vog wat later see sou word, so swaar dat dit die rotsgebergte met ’n ononderbroke wind- en reënstorm gekasty het. Die water het in stoom van die warm klip af opgeslaan net om later terug te val.

    Met die verloop van miljoene jare het die wind en reën die naamlose gebergte met sy goudbeslag verweer, die ryk erts losgewerk en dit in stroompies en riviere en grondstortings afgevoer in die vallei tussen die een berg en die ander.

    Namate die klip afgekoel het, het die water langer en langer bly lê voordat dit verdamp, en het dit in die vallei opgedam en ’n meer gevorm, ’n binnelandse see.

    Die stormwater van die goue berge af het in hierdie meer gestroom, met klein spikkels van die geel metaal daarin wat saam met sand en kwartsgruis op die bodem neergeslaan het, waar dit tot ’n soliede plaat saamgepers is.

    Oor duisende jare heen is die goud van die berge af geskuur, weggevoer en op die meerbodem neergelê.

    Toe, soos wat elke tienmiljoen jaar of wat gebeur, het die aarde ’n tydperk van geweldige seismiese woelinge ondergaan. Die grond het geskud en gekantel soos wat die een geweldige aardbewing ná die ander dit teister.

    Een verskriklike slag het die meerbodem van kant tot kant laat kraak. Dit het leeggeloop en die sedimentvlakke het verbrokkel. Fragmente daarvan is herwaarts en derwaarts gevoer, en massiewe klipvlakke van baie kilometer wyd het op hulle rante gekantel.

    Weer en weer het aardbewings die grond getakel en geskud. Die berge het gekantel en inmekaargestort. Hulle het die vallei waar die meer eens was, gevul en die plate vol goud begrawe onder swaar rots wat alles onder hulle verbrysel.

    Daardie siklus van seismiese onstuimigheid het verbygegaan, en derduisende jare het verloop. Die vloede en groot droogtes het gekom en gegaan. Die wonderbaarlike vonk van lewe het ontspring en bly brand deur die tyd van die monsteragtige reptiele, deur tallose vertakkinge van evolusie tot digby die middel van die Pleistoseen-tydvak, toe ’n aapmens – Australopithecus – ’n buffel se dybeen langs ’n rotsuitstulping oplig en dit as ’n wapen gebruik, ’n stuk gereedskap.

    Australopithecus het in die middel van die plat, songebakte plato gestaan wat agthonderd kilometer in alle rigtings strek tot by die see, want die berge en mere is al lankal weer platgevee en begrawe.

    Agthonderdduisend jaar later het een van Australopithecus se verlangse, maar direkte afstammelinge op presies dieselfde plek gestaan met ’n stuk gereedskap in sy hand. Die man se naam was Harrison en die werktuig was meer gesofistikeerd as sy voorsaat s’n – dit was ’n prospekteerder se pik van hout en metaal.

    Harrison het gebuk en gekap aan die uitstulping van rots wat bo die droë, bruin grond van Afrika uitsteek. Hy het ’n stukkie klip losgewikkel en orent gekom met die fragment in sy hand. Hy het dit boontoe gehou om die son te vang en het teleurgesteld gebrom. Dit was ’n oninteressante stuk konglomeraat met swart en grys are. Sonder veel hoop het hy dit voor sy mond gehou en daaraan gelek, voordat hy die nat oppervlak weer teen die son gehou het – ’n ou prospekteerkunsie om die metaal in die erts beter te laat vertoon. Sy oë het geskreef van verbasing toe klein goue vlekkies in die klip vir hom vonkel.

    Die geskiedenis onthou net sy naam, nie sy ouderdom of herkoms nie, nie die kleur van sy oë of hoe hy gesterf het nie, want binne ’n maand het hy sy kleim vir tien pond verkoop en verdwyn, vermoedelik op soek na iets wat hy as ’n werklik noemenswaardige vonds beskou het.

    Dit sou hom gebaat het om eerder aan daardie kleim vas te hou.

    In die tagtig jaar van toe af tot hier in die laat 1960’s is ’n geraamde vyfhonderdmiljoen onse fyngoud uit die goudvelde van die Transvaal en Oranje-Vrystaat gedelf. Dis maar ’n fraksie van wat onder die grond oorbly, en wat eendag nog wel uit die aarde gehaal sal word. Want die manne wat op die Suid-Afrikaanse goudvelde delf, is die geduldigste, mees toegewyde, vindingrykste en hardkoppigste van die vuurgod se hele gebroedsel.

    Hierdie massa edelmetaal is die grondslag waarop ’n lewenskragtige jong nasie van agttienmiljoen mense se rykdom gebou is.

    Tog bly die aarde traag om sy skatte prys te gee – mense moet dit met gesukkel en geweld van hom afrokkel.

    2

    Selfs met die elektriese waaier wat ’n orkaan uit die hoek uit blaas, is dit snikwarm in Jak Stapelberg se kantoor. Hy steek sy hand uit na die termosfles vol yswater op sy lessenaar se rand, maar vries toe die fles begin beweeg voordat sy vingers daaraan raak. Die metaalfles wikkeldans oor die gepoleerde houtoppervlak; die lessenaar self skud só dat die papiere daarop ritsel.

    Die vertrek se mure vibreer en die vensters klater in die rame. Vier sekondes lank hou die skudding aan, en dan is dit weer stil.

    Liewe hemel, swets Jak en gryp een van die drie telefone op sy lessenaar. Dis die ondergrondbestuurder hierso. Gee my die rotsmeganikus se laboratorium, en maak gou, ’seblief.

    Hy trommel ongeduldig met sy vingers op die houtblad terwyl hy wag om deurgesit te word. Sy kantoor se middeldeur gaan oop en Dimitri loer om die kosyn.

    Het jy daai een gevoel, Jak? Dit was ’n bielie.

    Ek het, ja. Dan krys die telefoon in sy oor.

    Doktor Wessels hier.

    Pieter, dis Jak. Het jy daai een gemeet?

    Ek het nog nie ’n finale syfer nie … hou net bietjie aan.

    Jip. Jak bedwing sy ongeduld. Hy weet Pieter Wessels is die enigste een wat kop of stert kan uitmaak van die hoop ingewikkelde elektroniese toerusting in sy laboratorium. Die laboratorium is ’n gesamentlike navorsingsprojek, befonds deur vier van die grootste goudmynmaatskappye. Saam het hulle ’n kwartmiljoen rand ingesit om navorsing te doen oor klipstrukture en seismiese aktiwiteit onder groot druk. Hulle het die Sonderkloof Goudmynmaatskappy se terrein as die ligging vir die laboratorium gekies. Nou het Pieter Wessels sy mikrofone honderde meter onder die aarde opgestel, en sy opnemers en wysters is gereed om enige ondergrondse woeling neer te pen.

    Nog ’n minuut tik verby. Jak draai op sy stoel en staar deur die venster na die nommer 1-skagtoring, tien verdiepings hoog.

    Komaan, Pieter, komaan, por hy. Ek het twaalfduisend man daar onder.

    Met die telefoon nog steeds teen sy oor gedruk, kyk hy op sy horlosie.

    Halfdrie, brom hy. Die slegste tyd denkbaar. Hulle sal nog in die werkgang wees.

    Hy hoor hoedat die gehoorbuis aan die ander kant opgetel word, en Pieter Wessels se stem is amper verskonend. Jak?

    Ja.

    Ek’s jammer, Jak, jy het ’n drukbars van mag-sewe op drieduisend meter gehad, in sektor Sierra sewe Charlie twee.

    Verdomp! roep Jak uit en plak die gehoorstuk neer. Hy spring op, sy gesig verbete.

    Dimitri, blaf hy vir sy assistent wat nog by die deur rondhang, ons gaan nie wag dat hulle ons bel nie, dis ’n noodgeval. Daar was ’n mag-sewe-skudding, met sy middelpunt reg in die middel van die oostelike langfront op vlak 95.

    Moeder Maria, hyg Dimitri en koes in sy kantoor in. Hy buk met sy glansende swart krulkop oor die telefoon en Jak hoor hoedat hy die eerste van die nodige reeks oproepe begin maak: na die mynhospitaal, noodspan, hoof-ventilasiebeampte en hoofbestuurder se kantoor.

    Jak draai en sien sy buitedeur oopgaan.

    Jimmy Paterson, sy elektriese ingenieur, kom in. Ek het hom gevoel, Jak. Hoe lyk dit?

    Sleg, antwoord hy, en dan bondel die ander lynbestuurders ook in sy kantoor in. Hulle praat onderlangs, steek sigarette aan, kug en skuif hulle voete rond, maar almal hou die wit telefoon op sy lessenaar dop. Die minute kruip verby soos afbeen-insekte.

    Dimitri! roep Jak om die spanning te verbreek. Het jy ’n hyser by die skagopening?

    Hulle hou die dienshyser vir ons.

    Ek het vyf man wat die hoëspanningskabel op vlak 95 vir ons dophou, sê Jimmy Paterson.

    Hulle ignoreer hom. Almal se aandag bly op die wit telefoon.

    Het jy al die baas opgespoor, Dimitri? Jak tree op en af voor sy lessenaar. Dis net wanneer hy naby ander mans staan dat ’n mens sien hoe lank hy is.

    Hy’s ondergronds, hy’t om halfeen afgegaan.

    Sit ’n alle-stasies-berig in dat hy my hier moet kontak.

    Ek het dit klaar gedoen.

    Die wit telefoon lui. Net een keer, ’n skril noot wat op Jak se senupunte skraap. Dan het hy die gehoorbuis teen sy oor. Ondergrondbestuurder, sê hy. Daar is ’n lang stilte en hy kan die man aan die ander kant hoor asemhaal. Praat, man, wat is dit?

    Die hele duiwelse ding het ingestort, sê die stem. Dis hees, grof van vrees en stof.

    Waarvandaan bel jy? vra Jak.

    Hulle is nog daar binne, sê die stem. Hulle gil daar binne. Onder die klip. Hulle skree.

    Wat’s jou stasie? Jak maak sy stem kil en hard, hy probeer deur die man se skok dring.

    Die hele werkgang het op hulle ingeval. Die hele duiwelse ding.

    Verdomp! Jou bliksemse idioot! bulder Jak. Sê my wat’s jou stasie!

    Daar heers ’n oomblik van geskokte stilte. Dan kom die man se stem weer, nou meer beheers, vies oor die belediging. Vlak 95, hoofvervoerweg. Seksie 43. Oostelike langfront.

    Ons kom. Jak sit die foon neer en tel sy geel glasveselhelm en lamp van die lessenaar af op.

    Seksie 43. Die rotsdak het ingestort, sê hy vir Dimitri.

    Enigiemand dood? vra die klein Griek.

    Vir seker. Ons het kermgatte onder die klippe.

    Jak plak sy hoed op sy kop.

    Vat oor hier bo, Dimitri.

    3

    Jak maak nog sy wit oorpak se knope vas toe hy by die skagopening kom. Onwillekeurig lees hy die teken bokant die ingang: Bly waaksaam. Bly lewe. Met jou samewerking het hierdie myn 16 dae sonder ongeval gewerk.

    Ons sal daardie getal weer moet verander, dink Jak wrang.

    Die dienshyser is gereed vir hulle. Die noodhulpspan en noodspan drom saam in die hyshok met sy maasdraadkante. Die dienshyser is die een waarmee personeel op en af in die mynskag vervoer word. Daar is twee groter hyshokke wat elk 120 man kan vat, terwyl die dienshyser maar veertig hou. Maar dis genoeg vir nou.

    Laat ons weg wees, sê Jak terwyl hy in die hyshok klim, en die skagwagter klap die staaldeure toe. Die klok lui een, twee keer, dan begin die hyshok vinnig afsak. Jak se maag druk teen sy ribbes. Hulle daal met een lang, aanhoudende geruis in die duisternis af. Die hyshok stamp en raas, die lug se reuk en smaak verander, dit raak chemies en geprosesseer, en die temperatuur styg vinnig.

    Jak staan kromgetrek teen die metaalrooster en leun. Die hok is net ses voet drie hoog, en met sy helm is hy langer as dit. Vandag kry ons dus nóg ’n slagtersrekening, dink hy gebelg.

    Hy is altyd kwaad as die aarde sy loon in verminkte vlees en geknakte beendere eis. Al die mens se vindingrykheid en die ondervinding van sestig jaar van diep delf aan die Witwatersrand, word ingespan om die bloedprys so laag moontlik te hou. Maar as jy in die geweldige dieptes onder 2 500 meter afsak, en uit daardie dieptes haal jy elke maand ’n kwartmiljoen ton se rots, as jy teen ’n steil rifvlak delf en ’n enorme, lae kamer oopmaak wat etlike honderde meter wyd strek, dan moet jy betaal, want druk bou in die klip op totdat dit breekpunt bereik en meegee. Dit is wanneer mense doodgaan.

    Jak se knieë knak onder hom toe die hyshok rem en dan bokspringend tot stilstand kom by die helderverligte stasie op vlak 66.

    Hier moet hulle oorskuif na die subhoofskag toe. Die deur klater oop en Jak klim uit, stap met ferm tred in die hoofvervoerweg af. Dis so groot soos ’n treintonnel, met beton uitgevoer en witgeverf, verlig met gloeilampe wat gaandeweg teen die rotsdak wegsterwe.

    Die noodspan volg hom. Hulle hardloop nie, hulle loop met die onderdrukte, gespanne energie van manne wat gevaar tegemoet gaan. Jak lei hulle na die subhoofskag toe.

    Daar’s ’n perk aan hoe ver jy ’n skag in die aarde kan maak en dit dan kan toerus om manne in ’n hyshok aan ’n staalkabel te dra – omtrent tweeduisend meter. Op daardie diepte moet jy weer begin, ’n kamer vir ’n ander skagtoring uit die klip oopskiet en daar ’n nuwe skag maak – die subhoofskag.

    Daardie skag se dienshyshok wag vir hulle, en Jak lei die manne daarin. Hulle staan skouer aan skouer, die deur klater toe en weer kom die val in die donker in wat jou maag laat omdop.

    Af, af, af.

    Jak skakel sy koplamp aan. Nou is daar fyn stoffies in die lug, nadat dit tot dusver suiwer en steriel was.

    Stof! Een van ’n mynwerker se grootste vyande. Stof van die barsslag af. Die ventilasiestelsel kon dit nog nie opklaar nie.

    Eindeloos val hulle in die donker in, en dis nou baie warm, die humiditeit bou op, sodat die gesigte langs hom, wit en swart, in die lig van die koplamp blink van die sweet.

    Die stof raak nou digter, en iemand hoes. Die helderverligte stasies flits by hulle verby – 76, 77, 78 – af, af. Die stof is nou ’n fyn mis. 85, 86, 87. Niemand het nog ’n woord gesê vandat hulle in die hyshok geklim het nie. 93, 94, 95. Die hyser begin rem, en stop.

    Die deur klater oop. Hulle is 2 900 meter onder die aardoppervlak.

    Komaan, sê Jak.

    4

    Manne drom in die voorste deel van stasie 95 saam, honderd-en-vyftig, dalk tweehonderd van hulle. Hulle is nog vuil van hulle werk in die werkgang, hulle klere deurweek van sweet. Hulle lag en gesels met die lighartigheid van manne wat pas aan geweldige gevaar ontkom het.

    In ’n oopte in die middel lê vyf draagbare, en by twee daarvan is die helderrooi komberse oor die mans daarop se gesigte getrek. Die ander drie mans se gesigte lyk asof dit met meel bestuif is.

    Twee, brom Jak. Tot dusver.

    Die stasie is ’n deurmekaarspul van manne wat doelloos rondmaal. Elke nou en dan kom nog van hulle met die vervoerweë langs, namate hulle onttrek word uit die onbeskadigde werkgange wat nou ook as potensieel gevaarlik beskou word.

    Jak kyk vinnig om hom heen, en herken een van sy mynkapteins.

    McGee, roep hy, vat oor hier. Laat hulle in rye sit, gereed om gelaai te word. Ons begin dadelik hierdie skof boontoe vat. Gaan na die hyskamer toe en sê vir hulle ek wil die draagbaargevalle eerste uit hê.

    Hy wag lank genoeg om te sien dat McGee beheer oorvat, en kyk op sy horlosie. Vier minute voor drie. Hy besef verbaas dat daar net 26 minute verbygegaan het sedert hy die drukbars in sy kantoor gevoel het.

    McGee skep ’n mate van orde op die stasie. Hy skree in die hyskamertelefoon, en op grond van Jak se gesag eis hy voorrang om stasie 95 te ontruim.

    Reg, sê Jak. Komaan. En hy vat die voortou in die vervoerweg in.

    Die stof is dig. Hy hoes. Die rotsdak is laer hier. Toe hy weer begin loop, dink hy daaraan dat daar miljoene tonne rots bokant hulle hang.

    Die vervoerweg vertak en sonder huiwering kies Jak die regterkant. Hy het ’n akkurate driedimensionale kaart van die ganse myn in sy kop, die 283 kilometer se tonnels wat Sonderkloof se operasionele gebied uitmaak. Die vervoerweg kom by ’n T-aansluiting; die sywaartse arms is laer en nouer. Regs na seksie 42, links na 43. Die stof is nou so dig dat jy skaars drie meter ver kan sien. Dit hang swaar in die lug en sink byna onmerkbaar na benede.

    Ventilasie is uitgeskakel hier, roep hy oor sy skouer. Van den Bergh!

    Ja, meneer. Die noodspan se leier kom tot by hom.

    Ek wil lug in hierdie strekgang hê. Kry dit aan die gang. Gebruik seilpyp as jy moet.

    Reg so.

    Dan wil ek druk op die waterslange hê om hierdie stof te laat neerslaan.

    Reg.

    Jak draai in die tonnel in. Hier is die vloer ongelyk en hulle vorder stadiger. Hulle kom op ’n ry koekepanne vol gouderts af wat in die middel van die strekgang agtergelaat is.

    Kry hierdie goed uit die pad uit, gelas Jak en loop verder.

    Vyftig tree later steek hy vas. Hy voel hoe die hare op sy voorarms orent staan. Hy kon nog nooit aan die geluid gewoond raak nie, dit maak nie saak hoeveel keer hy dit al gehoor het nie.

    Dis die geluid van ’n uitgegroeide man, met sy bene vergruis onder honderde ton klip, sy ruggraat dalk gebreek, stof wat hom versmoor, en ’n kop wat uitgehaak het oor die doodsangs van die omstandighede waarin hy vasgevang is, wat roep om hulp, wat sy God aanroep, wat roep na sy vrou, sy kinders, of sy ma.

    In die mynwerkers se doelbewus onverskillige taal noem hulle hulle kermgatte.

    Jak begin weer vorentoe beweeg, en die geluid raak harder, angswekkend, skaars menslik. Dit snik en brabbel en raak dan stil, net om weer met ’n bloedstollende kreet te begin.

    Meteens is daar mense in die tonnel voor Jak, donker figure wat in die stofmis skuifel. Hulle koplampe gooi strepe geel lig, grotesk en verwronge.

    Wie’s daar? roep hy.

    Hulle herken sy stem. Dankie Vader, dank Vader dat jy gekom het, meneer Stapelberg.

    Wie’s julle?

    Barnard. Seksie 43 se skofbaas.

    Wat’s die skade?

    Die werkgang se hele rotsdak het ingefoeter.

    Hoeveel man het daar gewerk?

    Twee-en-veertig.

    Hoeveel is nog binne?

    Sover het ons sestien ongedeerd uitgekry, twaalf met ligte beserings, drie draagbaargevalle en twee dooies.

    Die kermgat begin weer, maar sy stem is nou baie swakker.

    En hy? vra Jak.

    Hy het twintig ton klip op sy heupe. Ek het hom twee dosisse morfien gegee, maar dit hou hom nie stil nie.

    Kan mens in die werkgang inkom?

    Ja, daar’s ’n plek waar jy kan deurkruip. Barnard skyn sy lamp oor die hoop gebreekte blou kwartsiet wat die strekgang blokkeer, soos ’n tuinmuur wat omgeval het. Aan die bokant is ’n opening groot genoeg vir ’n foksterriër om deur te hardloop. Ligstrale skyn in die gat, en van die ander kant af kom die skuurgeluide van voete oor los klip en mans se gedempte stemme.

    Hoeveel man het jy wat daar binne werk, Barnard?

    Ek … Barnard huiwer. Ek dink omtrent tien of twaalf.

    Jak kry die man se oorpak beet en ruk hom byna van sy voete af.

    Jy dínk! In die koplamp is sy gesig wit van woede. Jy’t manne daar laat ingaan sonder om te tel hoeveel daar is? Jy het twaalf van my manne ingestuur om nege te probeer red? Met inspanning lig Jak die skofbaas skoon van die grond af op, swaai hom teen die strekgang se muur en druk hom daar vas.

    Jou vreksel, jy weet goed die meeste van daardie nege is al moer toe. Jy weet daai werkgang is ’n doodsakker, en jy stuur nog twaalf in om ook te vrek, en jy tel nie eens hoeveel daar is nie! Hoe de hel sal ons ooit weet na wie ons moet soek as die rotsdak weer inval?

    Hy laat los die skofbaas en staan agteruit. Kry hulle daar uit, ontruim die werkgang.

    Maar, meneer Stapelberg, die hoofbestuurder is daar binne, meneer Lemmer is daar binne. Hy het die werkgang kom inspekteer.

    Vir ’n oomblik is Jak uit die veld geslaan, dan snou hy die man toe: Ek gee nie ’n hel om of die staatspresident daar binne is, kry almal uit die werkgang uit. Ons gaan van voor af begin, en hierdie keer doen ons dit behoorlik.

    Binne minute is die reddingspan teruggeroep, hulle kom deur die opening gepeul, wit van die stof soos larwes wat uit vrot kaas borrel.

    Reg, sê Jak. Ek sal vier man op ’n slag waag.

    Vinnig kies hy vier van die meelwit figure, onder meer ’n enorme kêrel met ’n spanleier se bronskenteken op sy regterskouer.

    Grootbul, is dit jy? Jak praat in Fanagalo, die omgangstaal wat mans van ’n dosyn volkere in staat stel om in die myne te kommunikeer.

    Ek is hier, antwoord Grootbul.

    Wil jy nog toekennings hê? ’n Maand tevore is Grootbul omtrent sestig meter ver met ’n tou in ’n vertikale ertsglybaan af laat sak om ’n mynwerker se lyk te gaan haal. Die maatskappy se beloning vir sy dapperheid het honderd rand beloop.

    Wie praat nou van toekennings as die aarde mense se vlees gevreet het? berispe Grootbul hom sag. Maar vandag is sommer kinderspeletjies. Kom die grootbaas in die werkgang in? Dis ’n uitdaging.

    Jak se plek is nie onder in die werkgang nie. Hy is die organiseerder, die koördineerder. Tog kan hy nie die uitdaging ignoreer nie, geen werker sal glo dat dit enigiets behalwe vrees is wat hom laat terugstaan terwyl hy ander manne instuur om

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1