Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Selma en Louise
Selma en Louise
Selma en Louise
Ebook551 pages10 hours

Selma en Louise

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

“Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek,” fluister Selma aan die man agter die toonbank in Flight Centre. “Waarnatoe?” vra hy en kyk op. “Geen idee nie,” sê Selma en lek oor haar droë lippe. “Solank dit baie ver van Johannesburg is.” Selma Barnard se hele lewe het soos ’n kaartehuis inmekaargetuimel. Eers verloor sy haar man, toe haar kinders, en nou is haar hart van nuuts af gebreek deur ’n sogenaamde ridder op ’n wit perd. Hoe kon sy haar so misgis het? En waar was Louise, haar hartsvriendin van veertig jaar? Hoekom het sý haar nie gewaarsku nie. Indië toe, dis waarheen sy sal vlug, besluit Selma. Sy sal al haar durf en moed bymekaarskraap, vrou-alleen op die vliegtuig klim Mumbai toe, en ’n nuwe mens terugkom. Solank sy net daai stemmetjie binne haar kan ignoreer wat sê Alles is nie pluis nie…
LanguageAfrikaans
Release dateApr 20, 2018
ISBN9780798176576
Selma en Louise
Author

Susan Coetzer

Susan Coetzer is landswyd bekend as aktrise, motiveringspreker en skrywer. Haar topverkoperroman, ​Oros vir die siel​, het meer as 30 000 eksemplare verkoop. Sy woon in Johannesburg en het een seun. ​Selma en Louise​ is haar eerste roman by H&R.

Read more from Susan Coetzer

Related to Selma en Louise

Related ebooks

Related articles

Reviews for Selma en Louise

Rating: 4.5 out of 5 stars
4.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Selma en Louise - Susan Coetzer

    Susan Coetzer

    title.jpg

    ’n Reisroman met ’n byt

    Human & Rousseau

    Aan my eerste kleinkind,

    Frankie Opperman die vierde

    Sometimes you win

    Sometimes you learn.

    – John C Maxwell

    Hoofstuk 1

    Nothing ever goes away until it has

    taught us what we need to know.

    – Pema Chödrön

    3 JANUARIE 2017

    Selma parkeer haar wit Duitse motor in Rosebank Mall se boonste parkeerterrein. Sy sit ’n oomblik besluiteloos met haar kop op die stuurwiel. Wat moet sy doen? Waarheen kan sy vlug waar niemand haar ken nie? As sy net die afgelope jaar kan uitwis met ’n uitveër.

    Sy krap in haar motor rond en druk ’n CD van Abba in die klank­sisteem. The winner takes it all – dit kan jy weer sê, dink sy terwyl sy na die woorde luister. The loser standing small. Of eerder: the loser lê planloos en pateties op haar stuurwiel in ’n parkeerterrein.

    Sy skakel die motor af, maak die deur oop en klim stadig uit. Sy staan ’n oomblik stil en verken haar omgewing asof sy pas op ’n maanlandskap aangekom het. Dan begin sy in sirkels deur die parkeerterrein beweeg.

    Are you all right, lady? vra die sekuriteitswag met ’n mee­lewende gesig.

    Yes. I’m just looking for a travel agent . . . sê sy en knip haar oë asof die lig haar verblind.

    Die sekuriteitsman stap ’n entjie saam met haar en beduie dan in watter rigting sy moet loop.

    You sure you are all right?

    Selma knik haar kop. Yes.

    Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek, fluister Selma vir die man agter die toonbank van Flight Centre in Rosebank. Sy kyk na die naambordjie wat soos ’n padteken voor haar uitgestal is op die lessenaar. Eshel Naidoo – Flight Centre Attendant.

    Die man lig sy wenkbroue en hou hulle in ronde vraag­tekens op haar gerig. Selma voel hoe angs in klam vlekke onder haar armholtes uitslaan. Haar mond is droog van die kalmeerpil wat vir haar voor­geskryf is.

    Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek . . . probeer sy weer die woorde met moeite van haar tong aflaai.

    Would you mind repeating that in English? vra Eshel Naidoo apologeties. I’m very, very sorry, but my Afrikaans is very, very bad. Sy oë is twee koppies swart koffie waarin diep, opregte berou ingeroer is.

    I want to book a ticket, sê Selma met wat sy voel moontlik haar heel laaste asem is. Can you advise me . . .

    No problem. Take a seat. Eshel ontbloot twee rye gejikte tande. Sy lang oogtande gee hom ’n effense weerwolfgrynslag.

    Do take a seat, sê hy weer en beduie na die leerstoel voor sy lessenaar. Selma sak in die stoel neer en staar na sy naels. Hulle is wit, nes sy tande, met ’n effense blou skynsel op die halfmane.

    So? vra hy. Sy hare laat Selma dink aan die swart politoer waar­mee sy altyd haar skoolskoene blink gevryf het – met ’n tikkie navy, die kleur van haar ouma se gunstelingkerkrok, daarby ingemeng.

    Yes? Hy lig weer sy wenkbroue. Die fyn, netjiese snorretjie om sy mond het dieselfde swartblou skakering. Dit lyk of ’n kind dit met ’n koki geteken het.

    Excuse me? vra sy.

    So where exactly would you like to go? To which destination exactly? Selma kyk na haar weerkaatsing in sy hare.

    Anywhere, fluister sy skaars hoorbaar.

    Anywhere? Hy pluk sy wenkbroue op tot teen sy kuif. How do you mean anywhere? You most certainly mean somewhere, am I right?

    No. Just book me a single ticket to any place . . . far away from . . . here.

    Sy kan haar onderdrukte emosies nie langer aan ’n leiband terug­hou nie. ’n Rou kreet beur op teen haar ribbekas en beland in haar mond. Die geluid wat oor haar lippe ontsnap, is dié van ’n wilde beer wat in Flight Centre losgelaat is.

    Eshel Naidoo deins verskrik terug in sy stoel met die wieletjies. Fine, fine! Hy flits weer sy tande om haar op ’n veilige afstand te probeer hou. Just tell me where you want to go, lady.

    I told you I don’t know! gil Selma soos ’n getraumatiseerde karakter uit ’n Lorca-teaterstuk. ’n Groter, growwer grom ontsnap uit haar borskas. Sy trommel met haar hande op die toonbank asof dit ’n Afrikatrom is. Just book me a ticket. Right NOW!

    Eshel Naidoo se kollegas en die kliënte by die ander toonbanke kyk toe soos slagoffers in ’n rillerfliek. Shall I call security? vra ’n ouer dame met ’n opgekamde gryspers byekorfhaarstyl. Sy het ’n lang veel­kleurige Josefskleed-kaftan aan. Maybe she has a gun in her hand­bag. You never know these days. Criminals are so damn creative.

    I don’t have a gun! skree Selma. I am not a criminal. I am a victim. Sy keer haar handsak om as bewys. Haar beursie, pilhouertjie, Revlon ColorStay-lipstiffie, sleutels en ID rol tot langs Eshel Naidoo se naambordjie en laat dit soos ’n dominostuk omkantel.

    Sorry, sê Selma en kyk na die omstanders. Almal gee ’n tree terug. I think I’m having a nervous breakdown. It’s very, very, very long overdue . . .

    Maybe she needs a doctor, sê die byekorf-vrou en skud haar kop. She seems very highly strung.

    Ek dink eerder ’n shrink, sê ’n man in ’n kortbroek en Bok­hemp. Dat ’n mens nou so ’n spektakel van jouself kan maak in ’n openbare plek. Hy skud sy kop met duidelike minagting en lek aan sy draairoomys wat op die brosjure begin drup.

    Selma beloer die man. Sy gesig is rond en deurskynend met gla­sige oë en ’n plat neus sonder enige definisie. ’n Jellievis in ’n Boktrui, besluit sy. Sy vrou, wat ook besig is om aan ’n draairoomys te lek, het dieselfde jellievisbloudruk. So ook die opgeskote Little Lotta-dogter.

    Is sy nie die tannie op TV wat daai reisprogram aanbied nie? vra Little Lotta. Sy pomp haar ma met die elmboog in haar sagte maag­vleis. Die drie jellievisse bekyk Selma met nuwe belangstelling.

    Sorry vir my uitbarsting, sê Selma weer. Sy strek haar arms uit soos een wat gekruisig word en gaan lê op die inhoud van haar handsak.

    Maar sê my net gou: ís jy die een op TV? vra die ma-jellievis met ’n lekkende pienk tong. Want dan wil ek ’n photie neem saam met jou. Sy dra ’n pienk broekpak om by haar tong te pas. Die pienk hemp het baie patrone, merk Selma deur haar trane. Dit herinner haar aan die Where’s Willy?-kinderboeke. As sy net geweet het wat van Sélma geword het.

    Selma draai haar gesig weg. Die vrou se besige hemp laat haar al hoe meer gedisoriënteerd voel. Is sy die vrou op TV? wonder sy. Is dit haar identiteit? Wie ís sy? Wie kan haar help om die ware Selma-­Suzette Barnard te vind?

    Sy kyk na die persoonlike inhoud van haar handsak wat om haar gestrooi lê op die lessenaar. Sy tel haar ID op en loer vlugtig daarna. Sy is vyftig en lyk soos ’n krimineel wat gesoek word op Police File. Is dít haar ware identiteit? ’n Onbeheerste huilbui oorval haar.

    Ek is seker dis sy, hoor sy die pienk broekpak hard aan haar man fluister. Die vrou loer onderlangs na Selma terwyl sy by Flight Centre uitstap met ’n hand vol gratis brosjures. Sy knik vir haar man. Jip, is sy daai.

    Die jellievisman kyk vir oulaas om na Selma en skud sy kop. Ek is nie so seker nie, sê hy. Dié een is baie leliker as die een op TV.

    Dit kan jy weer sê, dink Selma. Sy gaan lê weer op Eshel se lessenaar en gee haar oor aan ’n nuwe vlaag trane.

    You okay, eh . . . Mrs – I didn’t get your name? vra Eshel. Hy lyk ontsenu.

    Selma . . . Suzette . . . Barnard, kry sy haar naam tussen snikke uit.

    Eshel Naidoo kyk verbouereerd na haar asof sy die wrak van ’n skip is wat op sy lessenaar uitgespoel het. Do you have some tissues, Adesha? vra hy en ry op sy wieletjiestoel na sy buurwerker. Hy beduie met gespanne oë dat Adesha eerder die situasie moet hanteer.

    Adesha Nazeer is ’n tingerige jong vrou met lang arms en lang bene en raafswart hare. Haar geheimsinnige donker oë neem die grootste deel van haar gesig in beslag. Dit lyk of sy Eshel se suster kan wees. Adesha kruip met spinnekopbewegings uit haar stoel en begin dan met die erns van ’n noodhulpwerker in haar laai rondgrawe.

    I don’t have any tissues, but this should do. Sy bring twee Wimpy-­­servette te voorskyn en sit dit voor Selma neer. Can I bring you some tea with sugar? It will calm you down.

    Thank you. I’m so sorry, sê Selma en droog haar oë af. I hardly ever cry . . . specially in a public place. Sy snuit haar neus hard in die servet.

    No problem. Sometimes a good cry is like good medicine – a fresh river that cleans the soul, sê Adesha.

    Okay, I will take over again, sê Eshel. Looks like she has stopped crying.

    Adesha gee Eshel ’n betekenisvolle kyk en dan ’n speelse stampie. You can’t book the lady a ticket when she is in this state, Eshel. You first have to look at her heart before you choose a destination. Move to my seat. Let me handle this.

    Eshel sluip weg met sy stert tussen sy bene en groet die paartjie wat voor Adesha se lessenaar sit.

    How can I assist you?

    Ons wil Perth toe gaan, sê die man en vrou gelyk. Albei het ’n underbite en matching Trafalgar-keppies, merk Selma.

    Could you repeat that in English, please? vra Eshel. I don’t follow Afrikaans. Hy roep iets in ’n onverstaanbare taal na Adesha wat hom terugantwoord.

    Ai tog, sê die man deur ’n gleufie in sy baard in Selma se rigting. Al hoe minder mense wat jou in Afrikaans kan help in jou eie land.

    Adesha sit ’n koppie tee en ’n Lemon Cream voor Selma neer. I added three sugars, sê sy vriendelik. So how can I be of help? Where would you like to go? Europe, Asia, North America? Eastern Europe?

    Selma staar verwilderd na die tee en Lemon Cream. So baie lande op een aardbol. Sy begin die maskara onder haar oë afvee met die tweede Wimpy-servet. I really don’t know.

    Maybe China . . . or Japan? An exotic island destination like the Seychelles? vra Adesha hoopvol.

    I don’t know.

    Are you in trauma? Adesha se steenkool oë delf diep in hare asof sy brokkies inligting probeer uitgrawe. Did you lose someone close to your heart?

    Yes. Selma byt aan die Lemon Cream. But I lost more than that. I lost something I believed in. I lost my faith in the goodness of man­kind. Sy kou die Lemon Cream met vinnige bewegings.

    That is very bad, sê Adesha. I have also been there . . .

    So which destination would you recommend to one who has been completely disillusioned? Which journey will restore the soul that has been betrayed, raped and beaten up by somebody posing as a lover and a friend in Christ?

    Die underbites draai onthuts om toe hulle die woorde raped en Christ hoor. Adesha maak ’n simpatieke klikgeluid met haar tong.

    Nie almal van ons is so nie, sê die man en druk aan sy Trafalgar-­kep. Ons is nog ouskool.

    Selma glimlag floutjies. Sy haat dit om in die openbaar so ’n melo­dramatiese spektakel van haarself te maak. Sy hoop maar hulle emi­greer na Perth.

    Hoe moet Adesha voel om in haar twee droewige grys oë sonder geloof of hoop te staar? Hoe pateties kan een vrou wees?

    Dalk moet sy maar die pad na haar finale bestemming oorweeg, eerder as om ’n enkelkaartjie na nêrens te koop. Baie minder geld en moeite. Dalk moet sy haarself sommer net skiet en klaarkry, dink sy terwyl sy aan die suurlemoenversiersel tussen die twee beskuitjies lek. Probleem is net: sy besit geen wapen nie en sy gril vir bloed.

    Dan maar eerder van ’n gebou afspring – maar sy ly aan hoog­te­vrees en ken ook nie baie hoë geboue sonder sekuriteitshekke nie. Om na die Ponte-toring buite Hillbrow te ry is ’n hoë risiko in vandag se politieke klimaat. Sy mag dalk beroof of vermoor word op pad daarheen.

    Beste opsie is seker maar om ’n hand vol slaappille af te sluk met ’n dubbel-gin en tonic. Maar sy besit niks sterkers as Disprins in haar noodhulpkassie nie. Haar kalmeerpille is feitlik op. Sy sal eers weer ’n voorskrif iewers moet aanvra . . . En wat as sy daarna steeds wakker word? Volgens navorsing is die drink van ’n oordosis slaap­pille meer ’n noodkreet as om werklik koebaai te wil sê vir die lewe. Dit sal haar tot die dood toe verneder as sy dit moet oorleef.

    Sorry for wasting your time. Selma snuit weer haar neus en from­mel die servet op. Thank you for the tea. And the Lemon Cream. Sy pak die inhoud van haar handsak terug asof sy haar verlore varkies probeer terugpak in haar skedel.

    Baai, sê sy en knik vir Eshel. Geniet Perth, sê sy vir die Trafalgar-­keppies terwyl sy uitstap.

    Kon die klomp hier jou darem verwys na ’n mooi plek wat jou ’n bietjie kan opbeur? vra die vrou. Haar underbite is vol afwagting.

    Watter bestemming sou jý aanbeveel vir ’n Afrikaanse vrou wat totaal ontnugter is? vra Selma.

    Ag, Mauritius kan dalk lekker wees. Daar is gelukkig baie Suid-­Afrikaners om jou geselskap te hou as jy dalk lonely raak.

    Nee, ek soek nie geselskap nie. Juis nie. Ek het ’n alleenreis nodig. Selma trek haar skouers terug en stap deur die glasskuifdeur van Flight Centre.

    Ons geniet jou op TV! roep die vrou. Dit is mos jy, nè?

    Nee, lieg Selma. Baie mense verwar my met haar.

    ’n Dun seekat-arm trek haar terug in die Flight Centre-kantoor. Wait! sê Adesha. I have the right destination for you. One that will change you forever. One that will restore what has been lost.

    Where is this destination?

    India.

    India? You want to send me to a country of chaos to restore order in my soul?

    Yes.

    All by myself?

    Selma sien in haar verbeelding hoe sy in die bloedige hitte haar pad probeer oopveg deur ’n veelkleurige see van mense, bokke, beeste, olifante en ape in die oorbevolkte strate van Indië sonder om ’n woord Hindi of Marathi te verstaan. Mauritius klink ewe skielik glad nie na so ’n slegte keuse nie. En dis net vier ure per vliegtuig.

    I will organise a special guide for you. My very own cousin, Mohamed Singh. Very respected man.

    Mohamed Singh? vra Selma. Die naam lui ’n dowwe klokkie iewers in haar geheue.

    Yes, Mohamed Singh. He takes only very small, selected groups into the heart of India. Let me speak to him and I will give you a call later.

    * * *

    Selma sit geskok haar selfoon op die marmerkoffietafel neer. Sy stap op en af deur haar luuks gemeubileerde sitkamer in Saxonwold. Sy skink ’n glas pinotage en gaan sit op die sagte roomkleurige bank om tot verhaal te kom. Haar twee beagles, Boelie en Bella, kom lê by haar voete. Sy het albei se onverdeelde aandag.

    Ek dink ek het hom reeds ontmoet . . . die toergids wat Adesha aan­beveel . . . ’n jaar gelede op ’n vlug terug van Kaapstad. Kan julle glo? Ek onthou sy Hush Puppies-oë, nes julle twee s’n.

    Selma neem ’n sluk rooiwyn en voel hoe dit die koue binne-in haar effens verdryf. Is hierdie reis na Indië dalk reeds vooraf beplan deur ’n Hoër Hand? Dit kan tog sekerlik nie toeval wees nie? Sy wens sy kon die saak in diepte met iemand bespreek.

    Sy besluit om haar kinders in Thailand te whatsapp.

    Hoe gaan dit? Hou julle nog lekker vakansie? Ek oorweeg ’n alleenreis na Indië saam met ’n toergids. Hoe voel julle daaroor as ek nie in Johannesburg is wanneer julle van Thailand terugkeer nie?

    Jacques antwoord eerste. Dis cool, Ma. Ons is mos darem al lankal uit die huis. Ons gaan anyway besig wees met ons studies.

    Tania vra meer besorg uit. Is Ma okay? Ons is einde Januarie terug . . . Moet ek Mamma gou bel met ’n whatsapp call?

    Selma se hart klop in haar borskas. Sy het nie die moed om hulle te bel nie. Netnou bars sy in trane uit as sy hulle stemme hoor. Beter om te whatsapp. Nee, dis glad nie nodig nie, Tania. Ek is okay dankie. En ek is nog nie eers seker of ek wel Indië toe gaan nie. Ek dink nog daaroor. Sy tik ’n Smiling_Face_Emoji_large.jpg .

    Sy het nou afstand nodig. Sy het nie die emosionele stamina om hulle in te laat in die skokkende gebeure nie. En sy wil nie hulle pret in Thailand bederf nie. Hulle is al deur genoeg.

    Go for it! laat Jacques van hom hoor. Daar is ’n thumbs_up.jpg . Tania stuur colouredhearts.jpg EmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg .

    Dankie. Geniet die res van julle vakansie. Hou julle op hoogte. Selma tik twee EmojiKiss.jpg EmojiKiss.jpg by.

    Sy skink nog ’n glas pinotage.

    Ek wens ek kon Louise se opinie kry, sê sy vir Boelie en Bella. Die honde sug en gaan lê terneergedruk met hul koppe op hulle pote. Okay, ek weet die vriendskap gaan deur ’n dip . . . maar sy wás darem veertig jaar lank my beste vriendin.

    Selma besluit om Louise ook eerder nie te bel nie, maar te whats­app. Hulle het mekaar twee weke gelede soos katwyfies oor die lyn tussen Johannesburg en Kaapstad verskreeu. Nie een kon ’n behoor­like sin inkry nie. Sy het die foon in Louise se oor neergeplak en haar foon vir dae afgesit. Sedertdien hang daar ’n swaar stilte tussen hulle.

    Net gedink ek laat weet jou – ek oorweeg ’n alleentrip na Indië met die toergids Mohamed Singh wat ek ’n jaar gelede op ’n vlug van Kaapstad ontmoet het. Ek het jou van hom vertel. Indië sal my hopelik help om die afgelope ruk se ontwrigtende gebeure te verwerk.

    Die pinotage-bottel is leeg toe Louise uiteindelik van haar laat hoor.

    Jy is fokken mal, Selma.

    5 JANUARIE 2017

    Selma parkeer weer haar motor in Rosebank Mall se parkeerter­rein en luister weer met toe oë na Abba wat deur haar klanksisteem weerklink. The winner takes it all . . . Haar hande bewe liggies op die stuurwiel.

    Sy stap weer by dieselfde Flight Centre in Rosebank in. Hierdie keer het sy nie ’n Wimpy-servet nodig vir haar trane nie.

    Good to see you, sê Adesha en beduie sy moet sit. I have already looked at flights.

    Adesha se vingers dartel oor die klawerbord van haar rekenaar asof sy een van Mozart se klavierconcerto’s uitvoer.

    Don’t book my ticket . . . just yet, sê Selma met ’n droë mond. Haar hart bons soos ’n vasgekeerde budjie rond in haar ribbekas. I am still thinking about it.

    Adesha stop haar Mozart-uitvoering summier. Haar hande bly hang soos kraaie in vlug bo die klawerbord.

    What is there to think about? vra sy, haar groot donker oë nog groter oopgerek. I sent you the number of Mohamed Singh, my cousin who is a guide for small groups . . .

    Yes.

    And you phoned him and discovered that you two had met before.

    Yes. On a flight back from Cape Town a year ago.

    Adesha laat rus haar twee kraaie op die klawerbord. Do you think that was a coincidence or divine timing? vra sy.

    I’m not sure, antwoord Selma. It just feels so crazy, so . . . unsafe to go to India, on my own as a female . . .

    Don’t think too much. Just do it like you would bungy jump.

    I wouldn’t bungy jump. I have a fear of heights, sê Selma en vee die haartjies op haar arm plat met haar voorvinger.

    You will have a safe landing. Mohamed will be at Mumbai Airport to meet you.

    Selma voel hoe die budjie in haar ribbekas rondspartel om lug te kry. Sy weet nie of sy die moed het om op daardie vliegtuig te klim nie. Selfdood voel skielik weer na ’n beter opsie as om op haar eie Mumbai toe te vlieg en haar aan die genade van ’n onbekende toer­gids oor te laat om haar deur die land te vergesel.

    Wat as die man ’n kroek is? Of erger nog – ’n psigopaat wat hom voordoen as ’n weldoener? Sy sal nie nóg ’n aanslag van geestelike terreur oorleef nie.

    Okay, you’re booked. Check the times. Leaving from Oliver Tambo the afternoon of 15th January 2017, arriving in Mumbai early the next morning, 16th January 2017. That gives you ten days to get your visa approved. It normally takes less than a week – you can do it online. Just go to Travelstart Blog, sê Adesha met ’n breë glimlag.

    In ten days? No, I need more time . . . sê Selma. Dit voel of die budjie enige oomblik uit haar borskas gaan ontsnap en die twee kraaie op die klawerbord se vere gaan uitpik.

    To do what? Adesha kyk verontwaardig op. Mohamed might not be available if you wait too long. He is in big demand.

    I just need to gather my thoughts . . . to think about all that happened to me to bring me to this specific point in my life.

    But that is exactly what you will be doing in India, sê Adesha vies. You will gather your thoughts and get a new perspective as you journey with Mohamed.

    You are right, sê Selma. Sy stoot haar kredietkaart met ’n bewende vinger oor die tafel. Let’s do it.

    Adesha tel die kaart behendig op en voltooi die Mozart-concerto met nuwe uitbundigheid.

    Selma stap verdwaas terug na haar motor. Haar hele lyf bewe asof dit winter is. Sy krap haar selfoon uit haar handsak. My enkelkaartjie na Mumbai is geboek. Ek vertrek 15 Januarie.

    Hierdie keer antwoord Louise glad nie.

    Hoofstuk 2

    Man’s creative struggle, his search for wisdom

    and truth, is a love story.

    – Iris Murdoch

    ’N JAAR GELEDE: 12 JANUARIE 2016

    Selma bekyk haar gesig in die badkamerspieël. Hoe het sy hier beland – op die rand van die lewe waar sy desperaat met haar French tips aan ’n klein sprietjie lewe vasklou om nie oor die afgrond te stort nie?

    Haar vel bly die kleur van pannekoekdeeg ná Zander se verlies. Hoe lank is dit nou al? ’n Volle vyf jaar? Als is nog so vars in haar geheue – ’n olieverfskildery waarvan die verf nog nat is.

    Dis al weer die begin van ’n splinternuwe jaar en sy voel steeds gedisoriënteerd soos ’n kar wat sonder brandstof op ’n verlate pad gaan staan het.

    Is dit omdat sy oor haar skouer bly kyk dat sy soos Lot se vrou versteen het? Sy wens sy kon Shell toe ry en die joggie vra om haar tenk vol te maak met 93 unleaded, en sommer haar water, bande en olie ook na te gaan, sodat haar lewe weer op koers kan kom.

    Sy was die afgelope vyf jaar by verskeie dokters en talle terapeute. Die chaotiese tuimeldroërgevoel binne haar is egter nie weg nie. Daar is steeds dag en nag duisende nuwe vlermuise wat haar gedagtes binnedring en haar denke vaskoek. Sy sukkel om saans tot rus te kom. En om soggens op te staan. Sy bly moeg, asof sy baie ver gehardloop het sonder om te stop vir ’n lemoenkwart of ’n slukkie water.

    Is sy oorwerk? Uitgebrand? Of steeds depressief? Moet sy net meer spinasie versap en meer magnesium inneem om die huppel weer terug te sit in haar stap?

    Of ly sy (steeds) vyf jaar later aan posttraumatiese stressindroom? Hoe lank kan een vrou se lewe in die lug hang oor iets wat so lank terug gebeur het? Hoe lank duur die impak van ’n onverwagse kis­hou in jou wind? Is dit soos die Hiroshima-bom – die omvang van die skade begin eintlik eers later inskop en hou dekades daarna steeds aan om jou te misvorm?

    Sy moet eenvoudig, soos haar vriende aanbeveel, ’n wilsbesluit neem om te herstel. Sy moet weer terugklim in die saal. Dit wat verby is, agter haar plaas en haar balans herwin. Sy was nog nooit ’n smart­vraat nie, sy was van kleins af ’n superballetjie wat onmiddellik terug­bons ná ’n nederlaag. Maar ná Zander se verlies voel sy on­her­roep­lik beskadig – ’n opblaasbal met ’n reuse-skeur in.

    Sy kyk weer na die beige pannekoekdeeg in die spieël. Vir die res van die samelewing gaan die lewe aan teen sy gewone pas. Sy sal moet opstaan uit die as, of sy gaan vir altyd agterbly.

    Haar eerste instink toe sy wakker word, was om alle afsprake te kanselleer en terug te klim in die bed saam met Boelie en Bella. Sy sal haarself egter uitsleep en wel opdaag vir die blind date wat Lana met soveel moeite vir haar gereël het, besluit sy.

    Selma verf sagte roosblos op haar wangbene en wend dan ’n effens dieper wynpienk lipstiffie aan – die tipe wat tien uur lank aanbly volgens die lugwaardin-model op die TV-advertensie. Nie dat sy die onbekende Ronald met wie sy ’n koffie-afspraak het, wil beïndruk nie. Sy het bloot ingestem omdat Lana haar dag en nag verpes.

    Sy kyk weer in die spieël. Haar oë kort gelukkig nie veel nie – die vals wimpers waarvoor Lana die vorige week ten duurste betaal het, skep die indruk van glans. Selfs die illusie van lewenslus.

    Sy swiep haar kastaiingbruin hare met moeë arms op. Die haar­styl herinner haar aan ’n skewe doughnut in ’n bakkery. Sy probeer dit platter druk en beter posisioneer.

    Die enkele strepie om elke oog is meer as genoeg grimering vir ’n man wat sy nog nie ontmoet het nie, besluit sy. Dit aksentueer die amandelvorm van haar grys oë. Hy verdien nie meer as ’n strepie nie. Dis nie asof sy beplan om in sy oë te staar nie. Sy het beter dinge om te doen, al weet sy nie presies wát nie.

    Selma staan terug en bestudeer haar ontwerpersjeans en wit linne­bloes. Sy’t op ’n subtiele uitrusting besluit – een wat nie pleit om aandag nie, maar wat haar ook nie onmiddellik as ’n non klassifiseer nie. Sy wonder of dit haar ma se goedkeuring sou weggedra het as sy nog geleef het. Seker nie.

    Haar ma het haar opvoeding op ’n verskeidenheid etiketboeke vir dames en die Bybel geskoei. Sy is van kleins af afgerig om ordent­lik te wees: om met skuins, toe beentjies te sit, haar eetgerei van buite na binne te gebruik, klein, vroulike happies te neem, toemond te kou en so min moontlik vrae te vra of uitbundig in geselskap te lag.

    Selma se ma is al geruime tyd oorlede, maar haar stem leef voort in haar kop. ’n Man hou van ’n goed versorgde, kuis vrou wat kan huishou. Sorg dat jy altyd mooi netjies lyk, Selma-Suzette. Wees bedees en onderdanig. Dis die pad na ’n man se hart.

    Die resep het nie gewerk nie, Ma, sê Selma vir die spieël. Ek het dit op Zander probeer, maar dit het geflop.

    Louise, haar beste vriendin sedert hulle laerskooljare op Moorrees­burg, het haar arm in ’n ander rigting probeer druk. Tydens oor­slaapkuiers op Louise-hulle se plaas het sy dit haar missie gemaak om Selma te leer stroomop swem. Om kaalvoet te loop, wydsbeen te sit, oopmond te kou, te fantaseer, verbode woorde te gebruik en uitheemse klere te dra.

    Jy moet leer om jý te wees, nie ’n mini-weergawe van jou ma of Betsie Verwoerd nie. Kom ek leer jou nog ’n paar nuwe vloekwoorde. Al gebruik jy dit nie, is dit goed om ’n paar te ken. Dis soos ’n geheime woordeboek agter jou rug.

    Selma wonder of haar less-is-more-uitrusting Louise se stempel van goedkeuring sou kry. Seker ook nie. Sy verlang na haar boheemse vriendin wat altyd haar gemoed kan lig. Sy wens Louise het nog steeds in die Noorde gewoon. Sy sien haar darem nog gereeld wanneer sy vir werk afvlieg Kaap toe.

    Haar gelaat lyk beter vandat sy dit ’n bietjie ingekleur het, besluit Selma ’n tikkie meer opgewek. Sy wonder wat sy nodig het om weer passie vir die lewe te ontwikkel. Dalk moet sy tog meer gereeld begin uitgaan, of aansluit by ’n boekklub of iets wat haar meer in aan­ra­king bring met nuwe mense.

    * * *

    Buzz 9 in Melville wemel soos gewoonlik van ’n bonte mengelmoes mense van verskillende kulture en tale. Selma se oë beweeg oor die oes van mans in die gewilde koffiekroeg. Sy het geen idee hoe haar date lyk nie, behalwe dat hy ’n kunstenaar is. Lana wou niks verklap nie, en Selma ken al die geslote uitdrukking in die gebotoxde oë – dit was ’n doodloopstraat.

    Ek wil hê hy moet ’n surprise wees, was haar laaste woorde oor ’n lang G&T. Gaan met ’n oop gemoed en ’n oop rokkie en geniet die man soos ’n lucky dip.

    Sy het teen ’n kaal rokkie besluit. Vir wat moet sy haarself soos ’n takeaway op ’n skinkbord aanbied? Seks is die afgelope vyf jaar die laaste ding op haar inkopielys.

    Eintlik behoort sy saam met priesters en monnike met lang wit baarde en rokke in ’n tempel tee te drink, eerder as om in koffie­kroeë met oor-die-wal- geskeide mans uit te hang.

    Sy loer weer in Buzz 9 rond op soek na haar date. Haar mond val ’n paar sentimeter oop van skok. ’n Man wat haar aan ’n rugbybal herinner, wink haar nader. Hy is nie veel langer as ’n graad 1-seun nie. Hy wapper sy handjies soos atletiekvlaggies om haar aandag te trek.

    Sy stap stadig nader. ’n Wit woede oorval haar nog voor sy die man amptelik ontmoet. Hoekom het die bleddie Lana nie gesê sy wil haar afsmeer aan ’n halfjackbottel met twee skape in sy pens nie?

    Hallo, jy moet Selma wees, sê die koddige man vol bravade. Lana het gesê jy is lank en slank.

    Wel, sy het nie gesê jy is so . . .

    . . . so ’n shorty nie? Hy gooi sy kop agtertoe en lag hartlik vir sy eie grap.

    Nee, sy het nie. Ek sou nie my hoë wighakke aangetrek het as ek geweet het jy’s korter as ek nie. Eintlik sou sy glad nie opgedaag het nie, dink sy. So, jy is dan seker Ronald? vra sy suur.

    Ja, maar darem nie Ronald Reagan nie.

    Selma troon soos ’n wolkekrabber bo hom uit. Sy ruik die goedkoop naskeermiddel en wonder skielik of dit nodig is om tyd te mors op ’n koffie saam met die man.

    Relax. Hoogte intimideer my glad nie. Ek het ’n baie goeie selfbeeld.

    Ek sien so, sê Selma.

    Kom sit nou, Selmatjie, sê hy en trek galant die stoel vir haar uit. Sy gaan sit stram asof haar lyf in gips is.

    Ek glo all good things come in small packages. Dink maar aan Sophia Loren met die kort Ponti aan haar sy.

    Selma bestudeer hom onderlangs. Sy neus regeer as meerderheids­party. Die res van sy gelaatstrekke is terloopse garnering wat nie die aandag wil aftrek van die hoofgereg nie.

    Nou nie dat ek sê ALS aan my is klein nie. Hy lag en knipoog vir haar asof hulle ’n intieme geheim deel. My neus is baie groot, en my maag en my . . .

    Sy ignoreer sy suggestiewe grappie en tel die spyskaart op. Ek gaan ’n espresso neem. En jy?

    Selfde vir my. Kort en sterk nes ek – maar ek is darem nie swart nie. Hy lag weer vir sy eie grap. Ek gaan gou ’n kelner kry, sê hy en staan op. Selma se oog vang sy blinkleerskoene toe hy terugstap. Die neuse is lang, skerp Oosterse dolke.

    Ek sien jy like my skoene? sê hy in sy noppies. Ek like hulle ook kwaai.

    Wel, dis beslis veeldoelig, sê sy diskreet. Die punte kan baie goeie selfverdedigingswapens wees in ’n gevaarlike stad soos Johannesburg.

    Dis die eerste ding waarna ek kyk wanneer ek ’n vrou ontmoet: haar skoene. Dadelik jou wedgies gesien.

    O, jy het? Selma loer na haar Nine West-skoene onder die tafel. Haar voete is netjies teenmekaar geparkeer soos haar ma haar geleer het.

    Ja . . . Kyk, ek is eintlik meer ’n fan van fyn, hoë hakkies. Ronald skandeer die koffiekroeg met sy oë. Soos daai jong dingetjie met die ferm, gespierde kuitjies. Kyk hoe mooi loop sy op haar dun hakkies. Dit maak my sommer klaar warm agter my kraag, net van kyk.

    Sy het mooi beentjies, sê Selma gul.

    Jy kan sekerlik nie meer op jou ouderdom daardie tipe hakke dra nie. Veels te riskant vir ’n ouer vrou. As julle val en iets breek, groei dit mos nie sommer weer aan nie. Hy gooi weer sy kop agteroor en verloor byna sy balans gedurende die lagbui.

    Selma voel hoe sy ’n diep, donker gly in Ronald vang. Sy kan nie glo hy is so onsensitief om haar as ’n ouer vrou te klassifiseer wat net kwalifiseer vir wighakke, en seker Crocs en Green Cross-gesond­heidskoene nie.

    Jou kort vetgat, dink sy by haarself en plak ’n glimlag op haar mond.

    So, Lana sê jy is ’n skrywer, sê hy. Wat skryf jy als?

    Ek skryf meestal reisverhale, sê sy uit die hoogte.

    O, soos oor trips wildtuin toe?

    Nee, soos oor eksotiese reise na plekke oorsee. Was jy al ooit landuit, Ronald? vra sy ysig.

    Net in Namibië en Botswana. Ek was ’n recce in my army-dae.

    So geraai, sê sy net-net hoorbaar.

    Ek skryf ook, sê hy en trek sy selfoon nader. Dis als hier op my foon. Meestal gedigte. Ek wil dit vir ’n uitgewer stuur dat hulle dit publiseer. Lees bietjie hier. Ronald druk die foon onder haar neus. Seker jy gaan dié een baie waardeer. Ek het dit nou die aand op my facebook gepost en die girls is mal daaroor. Soveel likes gekry.

    Lees jy dit maar voor. Ek sien jy het reeds jou bril op – ek is nie nou lus om myne in my handsak te soek nie.

    Ronald laat hom nie twee keer nooi nie. Hy begin sy gedig passie­vol voorlees. Selma neem nie veel in nie. Haar aandag is by die bruin bobbejaanspinnekop-oë aan weerskante van die massiewe neus. Oë wat te na aan mekaar sit, was nog nooit vir haar ’n goeie teken nie.

    Diep, nè, sê hy toe hy klaar is. Ek is ’n diep mens, Selma.

    Self, sê sy.

    Weet jy hoeveel keer het ek al seergekry in die liefde?

    Self.

    Ek wil regtig nooit weer ’n vaste verhouding hê nie, net vriend­skap. Ronald kry ’n trek van pyn om sy mondhoeke asof hy pas deur ’n koeël getref is.

    Self.

    Ronald se gesig helder op. Hy sink sy vingers in die sagte vleis van haar boarm. Regtig? Just friends – with maybe a few benefits? Hy knipoog.

    Ongelukkig met min byvoordele, Ronald. Ek soek glad nie ’n sek­suele verhouding nie. Ek is al vyf jaar selibaat en baie gelukkig sonder ’n man in my bed.

    Jy speel seker, sê Ronald onkant betrap.

    Met my hand op my hart.

    Hoe refreshing is jy nie, Selmatjie. Al die single vroue wat Lana aan my voorstel, is . . . hoe sal ek dit stel?

    Agter jou lyf aan?

    Jip. Ek het my hande vol met vroumense. Hulle maak of hulle vriendskap soek, maar eintlik soek hulle baie meer. Hulle raak verlief op my en stalk my op facebook. Seker maar oor my digkuns en naakte beeldhouwerk tot hul diepste, stoutste gedagtes spreek . . .

    Seker maar, sê Selma. Maar jy kan ontspan, Ronald. Ek soek regtig niks van jou nie.

    Dis goed om te weet. Want ek wil niemand seermaak nie. Hy gooi sy kop agtertoe en blaas dan ’n oordrewe sug van verligting uit. Selma kyk hoe die twee skape in sy pens onder sy T-hemp beweeg.

    U2 se With or without you speel in die agtergrond. Dit was haar en Zander se liedjie. Sy is skielik haastig om uit Buzz 9 te kom.

    Sal ons die rekening kry? vra sy.

    Seker. Ronald maak sy beursie oop en dan weer toe. Ek het ongelukkig net R20 by my. Skuus, man.

    Dan moet jy maar met jou kaart betaal. Verskoon my, ek moet wikkel – ek het ’n ander afspraak. Sy voel sy oë op haar wighakke brand toe sy uitstap. Sy stap vinniger en vinniger. Die lirieke volg haar soos ’n donker skaduwee tot by haar motor. With or without you . . . With or without you. I can’t live . . .

    * * *

    Selma hou met haar BMW voor Lana se spoghuis in Rivonia stil. Sy druk die interkomknoppie asof dit Lana se oog is wat sy probeer uitdruk, wag ongeduldig dat die hekke van die paleis oopskuif en ry dan stomend in.

    Die blonde Lana kom die ene glimlaggies en kuiltjies uitgesweef oor die grasperk wat byna die grootte van ’n gholfbaan is. Sy dra ’n koel Peppermint Crisp-groen linnepak.

    Selma wonder of sy haar uitrusting doelbewus gekies het om by die gras te pas. Lana was sedert hul laerskooldae op Moorreesburg altyd die beauty queen – dun soos ’n breipen en vars soos die groen blaartjie wat die duif teruggebring het na Noag se ark. Lana is steeds nie ’n groot eter nie en verkies om haar kalorieë te spaar vir haar kwota gin en tonic per dag.

    En? vra Lana en steier effens op haar ingevoerde lemmetjie­groen stiletto’s. Het ons ’n match?

    Wat besiel jou om my uit te lewer aan die moroon? Is dit jou idee van ’n Aprilgrap? Selma gooi die motordeur met ’n kragtige be­weging toe.

    Jy weet dis my eerste date in vyf jaar sedert Zander se . . . Sy byt haar woorde af asof sy ’n deurstop voor haar mond geplaas het. Dan onthou sy weer hoe kwaad sy is. "Was daar niks beter nie? Nie eers by Zoo Lake se dieretuin nie? Ek dink ’n gorilla sou beter datemateriaal gewees het as jou Ronald."

    Sjoe, jy is deesdae so touchy wat mans betref, sê Lana bedees. Stap saam met my patio toe en chill ’n oomblik. Ek sal vir Grace vra om vir ons rooibos-ystee te maak. Met ’n knertsie gin.

    Laat ek net eers my gesig gaan afspoel, sê Selma en stap verby haar na die gastebadkamer.

    Sy betrag haarself in die spieël met die swaar goue renaissance-­raam. Haar gesig is weer dieselfde uitgestresde deegbeige van vroeër die dag. Die rosige blos en wynrooi lipstiffie het als afgesmelt in die hitte. Of was dit Ronald wat haar kleur binne ’n oogwink laat vervaag het?

    Sy probeer haar gedagtes saam met haar hare herrangskik. Die doughnut, merk sy, het afgesak en die vorm van ’n pizza aangeneem. Sy wend vars lipstiffie aan en probeer haarself transformeer tot iets wat beter by haar vriendin se vyfster-omgewing pas.

    Lana wag in twee skrapse mentblaartjies onder ’n sonsambreel. Sy skink met ’n kennershand twee lang glase gin. ’n Rapsie ystee word by die alkohol gegooi – soos ’n mens ’n lekkie melk by koffie sou voeg.

    Cheers! Ek is regtig jammer. Ron het baie nice gelyk op sy facebook, sê Lana met oppervlakkige berou.

    So jy’t hom nog nie persoonlik ontmoet nie? Selma soek Lana se blou oë agter die enorme sonbril.

    Wel, net op kuber . . . Almal maak maar hulself bietjie mooier en jonger en langer op hul profile pics. Sy maak ’n verskonende gebaar met een van haar rotsbelaaide hande.

    En jy kon nie agterkom hy skiet tekort nie? Letterlik en figuurlik? Die man is nie veel langer as Nakkie die Nar nie. En sy maag is die grootte van Leeukop.

    Dis ’n pity, sê Lana en tel haar Siamese kat op haar skoot. Sy liefkoos die pels met egalige handbewegings en vroetel dan aan sy verminkte oor. Maar looks is nie als nie, hè Samuel? purr sy. Ons is maar almal ná vyftig tweedehandse motors vol stampe en stote. Ons markwaarde daal elke jaar.

    Lyk nie of jóú markwaarde daal in jou man se opinie nie. Dis mos nuwe oorbelle daai, of hoe? vra Selma. En sekerlik egte diamante?

    Natuurlik is dit eg. Lana vat aan haar oorlob. Martin koop vir my net die beste. Maar ek sien hom nooit. Hy’s die grootste deel van die jaar oorsee. My kat hou my geselskap. En my kubervriende. En natuurlik my G&T en uppers. Lana neem ’n teug van haar drankie. Jy en Louise is lucky om kids te hê . . .

    Ons het elkeen ’n kruis om te dra, sê Selma.

    True. Lana haal twee antidepressante uit ’n pilhouertjie en sluk dit af met haar gin. Wil jy een hê om jou te lig? Dis ’n upper.

    Nee dankie. Ek is al ’n paar maande af van alle antidepressante. Ek wil weer self leer cope.

    Nie ek nie. Lana staar afgetrokke na die gemanikuurde tuin vol blomme. So hoe is Ronald se persoonlikheid? Die vrouens op sy face­book vrek oor hom. Sy druk haar wang teen die kat se pels asof dit Ronald is.

    Kortmansindroom. Hengse ego. Moet my asseblief NOOIT weer op ’n date stuur met een van jou facebookvriende nie.

    Skuus. Ek wou net help . . . Hoekom kom jy nie Saterdagaand na die braai by Belinda-hulle nie? Daar gaan ’n baie nice geskeide man wees, hoor ek. En by the way, daai vals lashes pas jou regtig goed. Gee jou oë ’n sparkle.

    Dankie, sê Selma. Maar nee dankie vir die braai. Ek gaan ongelukkig nie my lashes kom wys nie.

    Dis nie ’n facebook-ou nie, sê Lana, meer vir die kat as vir Selma. Belinda sê dis ’n teddie van ’n man. Sy vrou was glo die bitch in die verhaal.

    Ek het daai een al tevore gehoor, sê Selma sinies. Nee dankie. Voer hom maar vir een van jou ander single pelle. Ek vlieg oormôre Kaap toe vir werk.

    Gaan jy vir Louise sien? vra Lana met ’n geligte wenkbrou.

    Jip.

    Sê groete vir haar, sê sy sonder die nodige geesdrif.

    Ek maak so, sê Selma.

    Hoofstuk 3

    Your relationship with yourself

    sets the tone for every other relationship you have.

    – Robert Holden

    16 JANUARIE 2016

    Selma bind haar lang donker hare vas en stap oor die teerpad na Bloubergstrand. Sy het vir haar ’n seefrontkamer by die Blue Peter

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1