Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Bruistablette vir die lewe
Bruistablette vir die lewe
Bruistablette vir die lewe
Ebook755 pages10 hours

Bruistablette vir die lewe

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die geliefde skrywer en motiveringspreker Susan Coetzer nooi jou saam op 'n jaar lange geselsreis na groter lewensvreugde, egtheid en diepte in jou lewe as kind van die Here. Met 'n kort boodskap vir elke dag, gebaseer op 'n teksvers en aangevul met 'n gebed, bied Bruistablette vir die lewe inspirasie en hoop aan die moderne vrou. Dit is geskryf met humor, insig en deernis, soos net Susan Coetzer kan. Dit is 'n aansporing om elke dag voluit te leef as gelowige te midde van die oppe en awwe van ons alledaagse werklikheid.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJul 18, 2018
ISBN9780796320506
Bruistablette vir die lewe
Author

Susan Coetzer

Susan Coetzer is landswyd bekend as aktrise, motiveringspreker en skrywer. Haar topverkoperroman, ​Oros vir die siel​, het meer as 30 000 eksemplare verkoop. Sy woon in Johannesburg en het een seun. ​Selma en Louise​ is haar eerste roman by H&R.

Read more from Susan Coetzer

Related to Bruistablette vir die lewe

Related ebooks

Related articles

Reviews for Bruistablette vir die lewe

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Bruistablette vir die lewe - Susan Coetzer

    Susan Coetzer

    Lux Verbi

    Vir my half-dogtertjie, Ena.

    Inleiding

    Hoekom Bruistablette vir die lewe?

    Ons leef in ’n spanningsvolle en gejaagde tyd wat ons energie – en soms selfs ons geloof – tap en laat kwyn. Ons vinnige, moderne, cut-throat, geldaangedrewe samelewing bied soveel meer uitdagings as dié van jare gelede. Baie mense, ook gelowiges, sukkel om die pas vol te hou, om by te bly, om elke dag vol energie, blymoedig en bruisend te wees. Die druk van die klein en groot jakkalse is net te veel.

    Ek glo dit is die rede hoekom daar gereeld nuwe poeiers, pille en bruisdrankies ontwikkel en in die media geadverteer word. Dit moet vir ons meer liggaamlike, emosionele en verstandelike krag gee om met al die stres in ons lewe te cope.

    Ek onthou hoe ek jare gelede altyd ’n Berocca-bruistablet afgesluk het voordat ek as aktrise op die verhoog gegaan het. Net om my ’n bietjie te boost vir die taak.

    Op my reis deur die lewe het ek egter ontdek ’n Berocca in ’n glasie water opgelos, is nie genoeg om al my uitdagings mee te trotseer nie, veral nie my uitdagings as gelowige nie. Ek het gevind ek het elke dag ’n doelgerigte en veel sterker innerlike bruistablet benodig om my gemoed te lig en my positief en staande te hou te midde van die werklikhede van elke dag.

    Dit is waar die idee vir Bruistablette vir die lewe begin het. Ek was op soek na bruistablette met vitamiene wat my nie net ’n paar uur lank woema sou gee nie, maar my elke dag sterker en standvastiger sou kon maak, juis wanneer uitdagings, teleurstellings en ontnugterings oor my pad kom.

    In hierdie praktiese en hands-on dagboek is daar vir jou ’n nuwe vitamiengevulde bruistablet vir elke dag. Lees dit wanneer jy eenkant alleen gaan sit, drink dit in, absorbeer dit en gaan leef dit uit. Dit sal jou as mens innerlik versterk.

    Met hierdie boek nooi ek jou om elke dag saam met my te reis na groter egtheid en diepte in ons lewe as kinders van die Here, om nuwe krag te kry, om beter bed-side manners en uiterlike gedrag te vestig – sodat ons meer kan bruis en minder kan brul terwyl ons die lewe met al sy uitdagings aanpak.

    Daar is ook elke dag ’n bruisgebed om te bid, om deur die dag heen oor na te dink en jou eie te maak in die praktyk vol uitdagings en uiteenlopende situasies en mense.

    Mag hierdie bruistablette jou diep aanraak en bemagtig om as Christen kragtiger en bruisender te leef en te groei in jou verhoudings, jou geloof, jou leefstyl en jou optrede na buite as Jesus se ligdraer hier op aarde.

    Mag jy lekker bruis!

    Susan Coetzer

    Vitamien W

    Woorde

    So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

    – Jakobus 3:5

    Woorde is gratis bruistablette met groot krag. Woorde het die potensiaal om mense te inspireer en op te bou. Woorde kan hoop bring aan dié wat op die rand van die lewe beland het. Dit kan ’n trooskombersie word vir dié wat ’n ysige winter beleef. Dit kan lig bring op ’n maanlose nag.

    Woorde kan soos ’n knetterende vuurtjie warmte in iemand se troebel dag uitstraal. Dit kan ’n glimlag op ’n hartseer gesig sit. Dit kan salf wees vir ’n stukkende hart. Dit kan die eensames omhels en aan die verdwaaldes rigting gee. Dit kan die uitgeworpenes geliefd en aanvaar laat voel.

    My en jou woorde het die krag om ander te seën – om lewe in die woestyn te bring.

    Maar, ons woorde het ook die krag om te kwes, te verwond, te kritiseer, leuens te versprei, te vervloek, te beskinder en karaktermoord te pleeg. Ons woorde het die potensiaal om ’n vernietigende brand te stig en lewens in puin te lê. Ons woorde kan ander se selfbeeld afbreek, hulle menswaardigheid aftakel, hulle aan hulleself laat twyfel. Ons woorde kan mense mislei, verhoudings ondermyn en harte breek. Ons woorde het die mag om haat, spanning, donkerte, wanhoop en onmin te saai.

    Kies daarom om jou woorde eers in jou kies rond te rol en voor die Here neer te lê vir sy goedkeuring voordat jy dit oor jou lippe laat vloei.

    Bruisgebed vir babbelbekke: Here, help my om goed te dink oor die impak van my woorde voordat ek hulle sê.

    Vitamien S

    Stilte

    Wees stil en weet Ek is God!

    – Psalm 46:11

    Die lewe is besiger as ooit. Die trapmeul waarop ons elke dag as verantwoordelike landsburgers klim, beweeg al vinniger. Dit vra al meer van ons om by te hou – om al die spreekwoordelike balle in die lug te hou. Ons moet afsprake nakom, sperdatums haal, rekeninge betaal en met familie en vriende connect. Ons moet oorleef.

    Daar is elke dag al meer roepstemme wat om jou aandag meeding – stemme in jou brein, hart en gedagtes wat jy nie afgeskakel kry nie. Dan is daar ook nog tegnologie – Facebook, e-posse, WhatsApp-boodskappe wat soos bondels wasgoed net nooit einde kry nie.

    Mense staan in rye by apteke op soek na tonikums of bruistablette om hulle energie te boost. Mense gaan al meer dokter toe met siektes wat met uitbranding verband hou. Meer mense besoek sielkundiges, terapeute of spa’s in die hoop dat hulle hulle lewenslus sal kan herwin.

    Ek het egter ’n gratis bruistablet ontdek wat my energie aanvul vir al die uitdagings op my lewensbord: stilte. As deel van my lewensberoep reis ek die land vol en tree gereeld as spreker op. Dit tap my energie. Ek het gevind as ek nie genoeg tyd in stilte deurbring nie, ek geïrriteerd en sonder sprankel raak.

    In stilte by die Here herlaai ek my mensbattery en kry ek ware en diep rus vir my liggaam, gees, denke en emosies. Dit is ook in hierdie stilte dat die Here my snoei en onderrig, waar ek leiding en insig kry, waar ek antwoorde op my probleme ontdek, waar ek vernuwe word en waar ek my gawes en talente kan ontgin.

    Bruisgebed vir energie: Dankie, Here, dat ek in u stilte kan herlaai en my energietenk kan vol maak.

    Vitamien D

    Dankbaarheid

    Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

    – 1 Tessalonisense 5:18

    Elke nou en dan tref die blues my soos ’n onverwagte klap deur die gesig. Ek voel angstig, oorweldig, terneergedruk of moedeloos – of sommer al vier. Die beste bruistablet as teenvoeter vir hierdie onaangename gaste in my lewe is dankbaarheid. Wanneer ek dankbaarheid innooi, verdryf dit die blues – nes Jik die vlekke uit my afdroogdoeke haal.

    Ek begin fokus op alles waarvoor ek dankbaar kan wees. Ek tel letterlik my seëninge – van klein tot groot. Ek maak vir my ’n heerlike koppie sterk filterkoffie, gooi suiker en melk by en dink met al groter bewustheid aan al my voorregte.

    Ek is bevoorreg om my koffie in die sonnetjie te kan geniet. Ek is bevoorreg om soveel dinge te hê wat ek dikwels as vanselfsprekend aanvaar. Ek kyk met nuwe, dankbare oë na my tuin en verlustig my in die kleurvolle kreatiewe meesterskildery. Ek luister met nuwe ore na die CD met die klank van voëltjies en die briesie wat deur die bome waai.

    Ek maak ’n mental note van alles waarvoor ek dankie kan sê: al my sintuie wat werk, my gesondheid, my huis, my motor, my kaste vol kos en klere. Ek raak bewus van die Here se daaglikse voorsiening in my lewe op soveel ontelbare maniere. Ek dink aan my familie en hartsvriende en my worshond se liefde, ondersteuning en vriendskap. Ek dink aan die talente en genadegawes wat ek ontvang het en wat Hy seën.

    En wanneer ek weer sien, bruis my innerlike mens van dankbaarheid.

    Bruisgebed vir die blues: Here, help my om my fokus te verskuif na alles wat ek het om voor dankbaar te wees.

    Vitamien G

    Glimlag

    Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: Wees bly!

    – Filippense 4:4

    Geloof en gebed het baie krag, maar moenie die krag van blydskap en ’n opregte glimlag onderskat nie. Dit is meer aansteeklik as masels – toets dit gerus op ’n onvriendelike gesig! En die wonder is, daar is nie nadele aan verbonde om blydskap te versprei nie. Dit lig die gemoed van die gewer én die ontvanger.

    Ek het ’n rukkie gelede ’n baie insiggewende artikel oor depressie gelees. Een van die gratis teenvoeters vir depressie, volgens hierdie artikel, is om te leer glimlag – selfs al voel jy glad nie op daardie oomblik lus om te glimlag nie. Fake it till you make it.

    Daar is bevind dat jou serotonienvlak styg wanneer jy glimlag. Jy kry ’n gratis lift wanneer jy jou mondhoeke opwaarts laat krul in plaas van afwaarts. Selfs al kan jy aanvanklik net een tand wys, en nie al twee en dertig nie, sal selfs ’n piepklein glimlag jou gemoed ligter laat voel.

    Het jy al vandag geglimlag? Of is jou mond in ’n dun en onversetlike potlootstrepie getrek? Dalk is dit dan tyd om ’n tand te wys. As gelowiges het ons die opdrag ontvang om bly te wees omdat ons aan die Here behoort. Hierdie opdrag word selfs herhaal sodat ons dit ernstig sal opneem.

    Dink net aan die impak wat jy met jou glimlag op ons land kan hê. As ons elkeen net kan leer om een ander mens elke dag met ’n blye glimlag van die Here te groet, kan dit ’n hele land vol bruisende sonskynmense tot gevolg hê!

    Bruisgebed vir ’n ligter gemoed: Here, help my om elke dag bewustelik te glimlag tot eer van u Naam.

    Vitamien L

    Leerbaarheid

    Julle weet dat mense wat baie van hulleself dink, terwyl hulle niks is nie, hulleself bedrieg.

    – Galasiërs 6:3

    Wat my opval tydens my reis deur die lewe, is hoe opgepof en alwetend mense soms kan wees. Hulle weet alles oor braaivleis, politiek, rugby, musiek, maar veral oor geloofskwessies. Hierdie alwetendheid veroorsaak hewige konflik, rusie en skeuring in gemeenskappe, kerke en tussen medegelowiges.

    Soms verskeur alwetende mense mekaar soos ’n trop wildehonde, sommer oor beuselagtighede. En elkeen wat alwetend is, glo hy of sy is reg en verdedig sy of haar siening met skuim om die mond. Meestal vind hierdie gesprekke totaal sonder die Here se liefde en sagmoedigheid plaas, met slegs ’n koppige en ekkerige karperd voor elke wa.

    ’n Alwetende gesindheid kan gevaarlik en selfs misleidend wees. Sulke mense kan maklik die pot van genade mis sit. Ek sien gereeld hoe alwetende mense twis oor God se Woord en dit aanhaal asof hulle geestelike tennis teen mekaar speel. Hierdie mededingende geestelike aanslag kan vermink en verwond en verskeur. Dit kan lei tot geestelike hoogmoed, veroordeling, hartsverset – die teenoorgestelde van Jesus se voorbeeld van liefde en genade.

    Ek neem nie deel aan die kampioenskap van die alwetendes nie. Ek glo net God is alwetend. Hy is die alwetende, allesomvattende en almagtige God. Hy ken ten volle. Die mens, met ons blindekolle en stowwerige lense en gebrekkige insig, ken slegs ten dele.

    Op my knieë in nederigheid voor Hom, as ’n feilbare mens, ’n gebreekte skulpie, ’n nederige nie-alwetende leerder, kry ek die bruistablet wat my gees laat sing.

    Bruisgebed vir geestelike groei: Here, ek lê my alwetendheid neer en kies om leerbaar en ’n ewige student van U, die Leermeester, te bly.

    Vitamien K

    Kompliment

    ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

    – Matteus 12:35

    Dit kikker my gemoed op wanneer iemand vir my ’n opregte kompliment vanuit ’n goeie hart gee. As ’n skrywer wat in isolasie werk, is dit vir my ’n wonderlike aansporing wanneer lesers my laat weet dat hulle ’n boek van my geniet het en dat dit vir hulle iets beteken het. Dit is wind onder my vlerke om aan te hou skryf en my gawes en talente te ontwikkel.

    Ook as aktrise en spreker is dit vir my waardevol wanneer mense aan my bevestiging en erkenning gee. Dit is boustene wat my innerlike mens voed en opbou. ’n Opregte kompliment bou ’n mens op en voeg waarde by jou dag.

    Tog kies so baie mense om eerder hulle monde soos beursies toe te zip en komplimente van ander te weerhou. Hulle swyg soos die graf en gee nooit positiewe terugvoering nie – selfs al hou hulle van iets.

    Dan is daar die derde groep wat verkies om eerder die kritiese lens uit hulle sak en hart te haal. Hierdie klakouse is uit gewoonte alewig op soek na iets in ander wat hulle kan afskiet en kritiseer – al is dit net die kleur van ’n rok of ’n neusring wat hulle nie geval nie.

    Aan watter groep behoort jy? Opregte komplimente is gratis bruistablette wat ons as ’n lig en seën kan gebruik. Dit laat mense bruikbaar, menswaardig en geliefd voel. Moenie snoep wees nie – gee vandag nog ’n mooi kompliment weg.

    Bruisgebed vir beter verhoudings: Here, gee dat ek elke dag sal kies om mense te komplimenteer en op te bou – tot eer van u Naam.

    Vitamien H

    Herinneringe

    Bo alles, wees versigtig met wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.

    – Spreuke 4:23

    Herinneringe is die innerlike foto’s wat jy kies om saam met jou die toekoms in te neem en in jou hart te bewaar. Party foto’s wat ons koester, is mooi. Dit vertel van goeie tye met goeie vriende en dierbare familie. Dit getuig van oorwinnings en seën. Ander is minder mooi en vertroebel jou gemoed wanneer jy daaraan dink. Die grys in-betweens stoor ons om die een of ander rede nie in ons harte nie.

    Maak seker watter herinneringe jy kies om te vergroot, te raam en in jou hart se stoorkamer op te hang. Laat dit jou innerlik bruis? Of het dit die uitwerking van geestelike arseen?

    Ek het baie jare lank swaar aan donker herinneringe in my hart gedra. Vandag, deur die Here se genade, raak ek vinnig ontslae van emosionele rommel wat my wil vergiftig. Ek het geleer ’n lewensalbum met vergrotings van negatiewe foto’s is nie nuttig op my lewenspad nie. Dit dien nie ’n goeie doel nie. Dit beroof my van my sprankel.

    Vandag is die herinneringe wat ek in my hart saamdra baie ligter as ’n paar jaar gelede. Die woede, bitterheid en pyn is vervang deur die Here se genade, liefde en deernis.

    Bekyk ’n slag jou hart se inhoud goed. Maak seker die herinneringe wat jy gereeld uithaal en na kyk, is bruistablette vir jou gees – en nie gifpille wat jou pad na ’n mooi toekoms sal versper nie.

    Want dit wat jy in jou hart saamneem, bepaal jou belewenis van jou reis.

    Bruisgebed vir geluk: Help my, Here, om die mooi herinneringe te vergroot en te raam en die res te laat gaan.

    Vitamien O

    Oorspronklikheid

    Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik.

    – Romeine 12:6

    Is jy oorspronklik? Of gebruik jy gewoonlik ander mense se aanhalings, slagspreuke, pittige sêgoed of Bybelverse wat jy in grootmaat ontvang en aanstuur?

    Ons almal leen soms by mekaar – ’n koppie suiker, ’n boek, ’n hot tray vir ’n spesiale geleentheid. Ek doen dit ook. En ek leen ook soms woorde en geestelike inspirasie.

    Ons almal is nie skrywers van formaat nie, en ons hoef ook nie te wees nie. Maar ons almal is oorspronklike, handgemaakte skeppings uit die Vaderhand. Individue met ’n oorspronklike hart en ’n oorspronklike persoonlikheid waaruit iets oorspronklik kan vloei as deel van die liggaam van Christus hier op aarde.

    Soms kry ek op dieselfde dag tot ses keer dieselfde slagspreuk of inspirerende aanhaling op my foon of per e-pos. Dit word dikwels ondeurdag geforward soos ’n kettingbrief of trend. Grootmaatstyl soos McDonald’s se take aways.

    Ek moet bely, dié fabriektendens is nie altyd ’n bruistablet vir my siel nie; soms irriteer dit my selfs.

    Iemand wat egter moeite doen om vir my één sinnetjie te stuur wat hulle self uitgedink het, laat my gees bruis. Dit hoef nie ’n meestermanuskrip te wees nie. Hoe gaan dit met jou, Susan? is goed genoeg vir my. Die ware omgee is die boodskap wat deurkom.

    Om gedurig net tweedehandse sêgoed te sirkuleer, laat ons geestelik afstomp. Wees oorspronklik. Raak stil by die Here, dink aan iemand wat swaarkry, en gee iets uit jóú hart se oortuiging volgens jóú vermoë.

    Bruisgebed vir geestelike groei: Vader, help my om ander mense met my eie opregte woorde uit my hart te bemoedig.

    Vitamien I

    Invloed

    Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.

    – Kolossense 1:29

    Ek het al twee keer die magtige Vaalrivier in volle vloed by my huis buite Parys in die Vrystaat ervaar. Ek het gesien hoe die rivier sy walle oorstroom, hoe die water oor die grasperk en swembad kruip en al met die paadjie langs en met die trappies op na die voordeur aanrol. Dis vreesaanjaend.

    Inwoners van die natuurreservaat is aangeraai om die landgoed, wat tussen twee vertakkings van die rivier lê, te verlaat, anders sou hulle dalk ’n tyd lank afgesny kon word. Die brug oor die rivier, waaronder ’n dubbeldekkerbus gewoonlik pas, is deur die watermassa toegespoel.

    Ek het angstig na die stygende watermassa gekyk en gegryp na die enigste life jacket wat ek ken – die Een wat riviere en hemel en aarde gemaak het. ’n Kalmte het onmiddellik my innerlike gevul.

    Ek dink vandag aan mense in geteisterde rampgebiede van die wêreld. In die droë woestyngebiede. Die slagoffers van siklone, tifone, aardbewings of emosionele of liggaamlike geweld. Mense wie se lewe in puin lê – mense sonder hoop.

    En skielik sien ek die Vaalrivier se vloed met nuwe oë. Ek besef die nodigheid van ons goddelike IN-vloed om oor ander se pynlike landskappe te vloei.

    Mag God se sagte Gees van genade jou hart se keerwalle oopbreek en jou wese met sy goedheid oorstroom. Mag dit jou beweeg om ’n bruisende en genesende rivier te wees – oral waar jy invloed in ons land het.

    Bruisgebed vir oorvloed: Help my, Vader, om elke dag bewustelik te kies om ’n goeie invloed op ander mense te hê.

    Vitamien N

    Nederigheid

    Selfverheffing bring vernedering; wie nederig is, het wysheid.

    – Spreuke 11:2

    Nederigheid beteken nie om ’n swak selfbeeld of geen selfrespek te hê nie. Dit beteken nie dat jy gedurig koponderstebo deur die lewe sluip soos ’n straathond nie. Dit beteken nie om niks van jouself te dink en ’n ek is minderwaardig-naambordjie om jou nek te hang nie. Nederigheid is ook nie om jouself laer as ander te ag of om jouself as die stert in plaas van die kop te beskou nie.

    Inteendeel.

    Ek glo nederige mense het ’n gesonde selfbeeld en is bewus van hulle potensiaal en talente en ontgin dit deur harde werk. Maar nederige mense is baie bewus daarvan dat alles genadegawes van God is, wat binne ’n oogwink weggeneem kan word. Daarom kyk werklik nederige mense nooit af na ander wat minder voorregte ontvang het nie. Hulle kyk op in nederige afhanklikheid.

    Selfaangedrewe presteerders se hooffokus is die eie ek. Hulle is so beïndruk met hulleself – hulle pogings, harde werk, dryfkrag, geld en voorspoedige lewe. Dit kan lei tot selfvoldaanheid en meerderwaardigheid. Sulke presteerders vergeet maklik om vir die Here dankie te sê vir sy hand van guns.

    Hoe meer seën ek in my lewe ontvang, hoe minder selfvoldaan raak ek. Ek is baie bewus daarvan dat ek nie beter is as ’n verslaafde, ’n alkoholis, ’n minder gegoede mens of iemand van ’n ander kultuur of seksuele oriëntering nie. Ek is ook nie beter as iemand met ’n laer IK of minder kennis nie.

    Al my voorregte het ek deur God se genade ontvang.

    Bruisgebed vir nederigheid: Here, help my om nooit selfvoldaan te wees nie, maar altyd nederig en afhanklik van U te bly – tot eer van u Naam.

    Vitamien W

    Wysheid

    Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig.

    – Spreuke 2:6

    Wat dink jy is wysheid? En wie dink jy het wysheid? In die diereryk kry ons baie voorbeelde van wysheid. Eekhorings is wys – hulle versamel kos in die somer en berg dit sodat hulle genoeg het in die dorre wintermaande. Die mier is wys – hy werk getrou sonder dat ’n baas hom opcheck of aanspoor.

    Wysheid is nie jou verstandelike vermoëns nie. ’n Slim mens is nie noodwendig wys nie. En wyse mense het nie noodwendig ’n buitengewoon hoë IK nie, maar eerder ’n hoë EI (emosionele intelligensie).

    Wysheid is goddelike verstandigheid. Dit is die vermoë om ’n verskeidenheid uiteenlopende situasies en persoonlikhede op te som en op so ’n manier op elkeen te reageer dat die uiteindelike uitkoms goed is.

    Wyse mense weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Wyse mense kan luister, ook na teregwysings. Hulle is leergierig en hou by hulle beloftes. Hulle kan aanspreeklik gehou word vir die foute wat hulle maak.

    Wyse mense kan konflik goed hanteer. Hulle hanteer ’n probleem sonder om iemand se karakter aan te val. Hulle besef wanneer konfrontasie dreig en kan vinnig onderskei of ’n gesprek sinvol sal wees en of hulle eerder moet terugstaan van ’n sinlose ego battle met ’n onwyse mens.

    Wyse mense het geleer om nie net op hulle eie beperkte insigte staat te maak nie, maar om die Here se raad te volg in al hulle battles en besluitnemings.

    Bruisgebed vir wysheid: Maak my leergierig, Vader. Ek wil wysheid aanleer deur Spreuke te bestudeer en uit te leef én Jesus se lering te volg. Tot eer van u Naam.

    Vitamien K

    Klere

    Daarom moet julle die volgende klere aantrek: liefdevolle deernis, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld.

    – Kolossense 3:12

    Watter vrou hou nie van mooi klere nie! Die meeste van ons hou van shop as ons begroting dit toelaat en om volgens die nuutste stylvolle modes aan te trek. Ek self gee baie aandag aan my klere. Toe my seun getrou het, het ek na baie, baie rokke gekyk voordat ek met my dress code tevrede was.

    Maar, soos die vere nie die voël maak nie, maak ons klere ook nie die vrou nie. Die oorheersende fokus op ons uiterlike lei dikwels daartoe dat ons ander mense op hulle (stylvolle en duur) baadjie takseer. Dat ons soms selfs ’n bietjie neus in die lug is wanneer hulle uiterlike nie aan ons voorgeskrewe voorkeure, smake en brands voldoen nie.

    Namate die jare aanstap, besef ek al meer die waarde van mooi innerlike klere wanneer iemand in my geselskap is. Ons innerlike klere het die manier om ons uiterlike klere te oorskadu en die grootste blywende indruk by ander agter te laat. Dit kan óf ’n bruistablet vir die mense in jou geselskap wees óf ’n downer.

    Deesdae is vroue wat hulleself aantrek met ’n bruisende persoonlikheid waaruit liefdevolle deernis, nederigheid en vriendelikheid straal vir my die heel mooiste. As ek moet kies met wie ek my ruimte moet deel – ’n vriendelike vrou in ’n sweetpak of ’n ysprinses in ’n ontwerperspakkie – kies ek beslis eersgenoemde. ’n Warm en innemende mens klee die mense om haar met haar lieflike innerlike uitrusting.

    Bruisgebed vir mooi klere: Help my, Vader, om heel eerste ’n hart aan te trek wat opregte liefde, deernis en vriendelikheid uitstraal. Tot eer van u Naam.

    Vitamien W

    Werk

    Harde werk bring beloning.

    – Spreuke 14:23

    Die woord werk het vir baie van ons ’n negatiewe konnotasie. Dit voel nie soos pret nie, maar eerder soos sweet en moeite. Iets wat ons onder dwang móét doen, in plaas van iets lekkers wat ons vrywillig wíl doen.

    Ek het egter geleer om ’n kopskuif oor werk te maak. Sedertdien is werk vir my ’n bruistablet eerder as tronkstraf. Dit gee aan my ’n gevoel van menswaardigheid. Dit maak my ’n bruikbare en diensbare mens met ’n doel in die lewe – eerder as ’n rigtinglose mens sonder enige uitdagings.

    Dit is vir my ’n voorreg om te kan werk. Daar is soveel mense wat werkloos is en wat alles sou gee om in ’n posisie aangestel te word waar hulle geld kan verdien en hulle passie kan uitleef.

    Ek werk nie vir ’n werkgewer nie, maar vir myself. Ek het baie vryheid. Ek kan elke dag self kies of ek wil stokkiesdraai of produktief wil wees. Daar is nie ’n baas wat my aantree of opcheck nie. Ek is aan myself oorgelaat.

    Aanvanklik was dit vir my moeilik om ’n vaste werkroetine en die nodige selfdissipline aan te leer sonder ’n CEO wat vir my opdragte gee. Dit was vir my moeilik om op my pos te wees – sonder ’n vaste pos.

    Maar deurlopende harde werk en die ontginning van jou potensiaal bring ’n eie beloning. Die Here sien dit raak. Ek werk lankal nie meer met hangvlerkies nie, maar met opwinding. Want wat ek ook al doen, doen ek vir Hom, die ware CEO. Hy beloon die harde werk en die arbeider wat blymoedig opdaag.

    Bruistablet vir werkers: Vader, help my om al my werk met geesdrif en getrouheid te doen, tot eer van u Naam.

    Vitamien G

    Gesindheid

    Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar.

    – Efesiërs 4:32

    Hoe lyk jou gesindheid? Hoe groet en hanteer jy die mense wat oor jou pad kom? Met watter gesindheid praat jy met jou familie, jou werkgewer, jou personeel, jou huishulp, jou kollegas, die man wat brandstof in jou motor gooi, die persoon wat jou in die winkel bedien? Wat is jou gesindheid wanneer jy in ’n lang ry moet wag in die bank of by SARS, of wanneer jy in ’n verkeersknoop beland?

    Of dink jy nie juis hieroor nie? Vat jy dit maar brom-brom soos dit kom?

    Die Here verwag van sy kinders om in alle omstandighede goedgesind en hartlik te probeer wees – nie net by dié mense van wie jy hou nie, maar juis by die high-maintenance mense wat jou bloeddruk opjaag.

    Ek moes onlangs my bestuurslisensie laat hernu. Daar was ’n laaaaang ry mense. Dit het ons twee uur gekos om teen ’n slakkepas met die trap op te kruip tot by die kantoor waar die oogtoetse en uitreikings gedoen word.

    In so ’n situasie word jou ware goddelike karakter en gesindheid getoets. Veral wanneer die beampte voor jou lusteloos sit en kougom kou en jou met ’n blafgeluid naderroep, sonder om oogkontak te maak.

    Dis dán dat ’n innemende gesindheid die negatief gelaaide atmosfeer kan help ontlont. Ek maak altyd ’n punt daarvan om enigiemand met ’n nors gesig hartlik en met ’n smile te groet: How was your day so far? You look tired.

    So ’n aanslag werk nie soos ’n bom nie, maar soos ’n bruistablet.

    Bruistablet vir ’n goeie gesindheid: Vader, help my om as u verteenwoordiger doelbewus alle mense oral met u goeie gesindheid te hanteer. Tot eer van u Naam.

    Vitamien L

    Lig

    Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie.

    – Matteus 5:14

    Wanneer daar ’n kragonderbreking by my huis in Johannesburg is, is ek opnuut bewus van die belangrikheid van lig. Ek voel oorweldig en angstig – totdat ek ’n vuurhoutjie trek en ’n kers aansteek. Dan voel ek onmiddellik beter, asof ’n sonnetjie in my donker huis opgekom het.

    Sonder lig kan ons die pad vorentoe nie sien nie. Sonder lig loop ons teen voorwerpe vas. Sonder lig verdwaal ons, is ons rigtingloos en gedisoriënteer.

    Net so kan jou innerlike liggie ’n donker en hooplose situasie ophelder en verligting bring. As gelowiges het ons die opdrag om die lig vir die donker wêreld te wees. Nie net vir jou familie, jou vriende, jou selgroep of jou gemeente nie, maar vir die hele wêreld – waar jy ook al gaan.

    Vir my beteken hierdie opdrag om ’n innerlike vlammetjie van hoop, genade en deernis met my saam te dra. Om ’n sonnetjie te wees vir dié wat op ’n wintersdag verstote voel. Of ’n vuurvliegie in iemand se donker uur van nood. Om Jesus se lig te wees vir dié wat verdwaal het.

    Om ’n ligdraer te wees beteken nie noodwendig om te preek nie. Jy kan Jesus se lig versprei deur ’n kombers te gee, ’n koppie tee te maak, ’n hug te gee, ’n fish paste-broodjie vir ’n kind te maak, ’n onveroordelende oor te wees vir iemand wat verwerp voel.

    Dink net aan al die kreatiewe maniere waarop jy elke dag Jesus se lig in die wêreld vol nood kan wees.

    Bruisgebed vir ligdraers: Vader, gee dat ek elke dag u vlam van hoop in my sal uitleef – tot eer van u Naam.

    Vitamien W

    Wortels

    Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

    – Hebreërs 12:15

    As kinders is daar vir ons vertel geelwortels is gesond. Ons is geleer dat die voedingstowwe en vitamiene in wortels vir ons blink oë en blink hare gee. Jare later eet ek steeds getrou my wortels, soos ’n soet kind.

    In die biologieklas het ons geleer van die belangrike rol wat wortels by plante speel. Elke plant is toegerus met ’n unieke wortelstelsel wat die beste voedingstowwe vir groei en oorlewing in die verskillende klimaatstreke van ons land waarborg.

    By die tandarts moes ek hoor hoe belangrik gesonde wortels vir gesonde tande is. As die wortels vrot is, versprei die verrotting en die hele tand raak vrot. In so ’n geval moet die tand uitgetrek word. Of die wortelkanaal moet skoongemaak word. Soms haal hulle selfs die senuwees in die tand uit. Hierdie proses is baie pynlik. Ek weet, want ek is al daardeur.

    Net so leer die Woord ons hoe geweldig belangrik gesonde geestelike en emosionele wortels vir ons as mense is. Ons innerlike wortels is ons voedingskanaal. As ons ons gedagtes gedurig voed met die bitter en slegte dinge wat in ons verlede gebeur het, sal die bitterheid uitspruit en oral in ons lewe sigbaar wees. Die Woord sê mense met bitter wortels sal ander besmet en die lewe vir hulle moeilik maak.

    Maar as ons gesonde innerlike wortels het, sal ons genesing kan laat uitspruit na ander, na ons verhoudings en na die wêreld.

    Het jy bitter wortels? Dan is dit dalk tyd dat jy by die groot Geneesheer vir ’n wortelkanaalbehandeling aanmeld. Laat Hy die bitterheid verwyder sodat jy deur jou wortels net die goeie dinge in die lewe kan opneem en versprei.

    Bruisgebed vir gesonde wortels: Vader, bevry my van elke bitter wortel wat my gees vergiftig. Tot eer van u Naam.

    Vitamien H

    Hart

    Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.

    – Esegiël 36:26

    Hoe lyk jou hart?

    Jou liggaamlike hart is ’n belangrike orgaan wat ’n deurslaggewende rol in jou liggaamlike welstand speel. Dit het dieselfde funksie as die enjin van ’n motor. Jou hart pomp bloed met suurstof, en ander belangrike stowwe wat jy benodig, na al die dele van jou liggaam.

    ’n Gesonde hart het kleppe wat goed sluit en ontsluit. Die inkomende en uitgaande are is nie vernou met harde cholesterolneerslae nie. Die pas van ’n gesonde hart is reëlmatig. Nie te stadig soos harmansdrup nie, nie te vinnig soos ’n wegholperd nie en nie te wispelturig soos die weer nie.

    Wat my bring by jou geestelike hart. Hoe lyk hierdie hart van jou as jy ’n foto daarvan sou kon neem? Is dit ’n sagte, vlesige, gesonde hart? Of is jou geestelike hart se are en kleppe geblokkeer en kliphard? Watter soort emosies vloei die maklikste en gereeldste deur jou hart se are? Liefde, blydskap, vrede, nederigheid, vriendelikheid, geduld, goedhartigheid, getrouheid, selfbeheersing?

    Of voel jy oorwegend haat, woede, afsydigheid, jaloesie, afguns, bitterheid, nyd, negatiwiteit, norsheid en kritiek deur jou hart pomp? As jy ’n emosionele verharding in jou hart opmerk, gaan gerus vir ’n hartsondersoek by die groot Geneesheer.

    Die Here wil vir jou ’n nuwe, sagte hart gee – vir jou emosionele, liggaamlike en geestelike welstand. Hy wil die harde emosies en skeidsmure in jou hart afbreek deur die werk van sy Gees sodat jy ’n nuwe en intiemer hartsverhouding met Hom – en ander mense – kan hê.

    Bruisgebed vir ’n gesonde hart: Vader, ek vra U, die Geneesheer, om die klipharde stukke in my geestelike hart te verwyder en dit met u hart se genesende eienskappe te vervang.

    Vitamien V

    Vriende

    Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.

    – Spreuke 18:24

    Kennisse is volop, soos McDonald’s se wegneemkos. Hulle kom en gaan en het min voedingswaarde en blywende voordele. Dieselfde geld vir mooiweersvriende. Hulle kuier graag saam met jou in die somerseisoene, maar wanneer die uitdagings van die winter kom, sprei hulle hulle vlerke en vertrek vinnig na waar die klimaat gunstiger is.

    Dit is hoekom opregte vriendskappe so belangrik is. Vriende wat die toets van die tyd kan deurstaan en wat deur veranderlikes heen by ons bly staan. Sulke hartsvriende is skaars. Hulle is ’n kosbare belegging en raar soos antiques. Jy kan hulle nie met geld koop of omkoop nie. Jy moet hulle uitsnuffel.

    Ek het ’n paar sulke vriende gevind. Ons voed mekaar en ons voed mekaar op. Ons versterk mekaar. Ons is betroubaar, lojaal, deernisvol, eerlik en nie afgunstig nie. Ons deel in mekaar se pyn en vreugde.

    By ware vriende hoef jy nie ’n gesiggie op te sit om aanvaar te word nie. Jy kan maar net jou ware (en soms nare) self wees. Opregte vriende leen nie hulle ore uit aan die vyande nie. Ook nie hulle tonge nie.

    My klein Gideonsbende is vir my onvervangbaar kosbaar, soos my geliefde flennie-nighty met die paar motgaatjies wat aan my oorlede ouma behoort het. Ware vriende aanvaar die paar gaatjies in ons stoffasie. Hulle groter fokus val op die kosbare lap van vriendskap.

    Wil jy groei in opregte vriendskap? Kyk dan na die Man van genade se voorbeeld. Hy kyk met liefde, deernis en verdraagsaamheid verby al die motgaatjies. Sy vriendskap is gister, vandag en môre standvastig soos rots.

    Bruisgebed vir goeie vriendskappe: Here Jesus, help my om by U te leer hoe om ’n deernisvolle, lojale en opregte vriend te wees, deur dik en dun. Tot eer van u Naam.

    Vitamien O

    Ouers

    Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.

    – Eksodus 20:12

    Ons almal het ouers. Ons kom nie in hierdie wêreld in sonder ’n biologiese ma en ’n

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1